Kategorie: Algemeen
Ons hoop en vertrou dat almal ‘n heerlike wintervakansie geniet het en die spreekwoordelike batterye is herlaai sodat ons almal slaggereed is om die 3de kwartaal met ywer aan te pak. Hiermee dan reëlings vir jul kennisname rakende die heropening van skole:
- Heropening van Laerskool asook Huppelland: Geskied Maandag, 26 Julie, en normale skooltye is van toepassing.
- Voltooiing van eksamen: Die eksamenvak/leerarea wat vir Donderdag, 1 Julie, geskeduleer was, sal nou op Vrydag, 30 Julie, tydens die toetsperiode plaasvind.
Gr. 4 – Geskiedenis
Gr. 5 – Aardrykskunde
Gr. 6 – Aardrykskunde
Gr. 7 – SK: Kuns en Drama - Isolasie en eksamen/assesserings: Leerders wat eksamens/assesserings as gevolg van siekte/isolasie gemis het, sal dit vanaf Woensdag, 28 Julie, tot Dinsdag, 4 Augustus, aflê. Kommunikasie rakende watter vakke/leerareas op watter dae geskied, sal binnekort volg.
- Rapporte: Ons poog om dit op Vrydag, 6 Augustus, aan leerders uit te deel.
- Ouerafsprake: Geskied op Woensdag en Donderdag, 11 – 12 Augustus vanaf 13:30 – 17:00. Uitnodigings en program volg.
- Sport- en kooroefeninge by die skool: Geen buitemuurse aktiwiteite tot verdere kennisgewing.
- Snoepie: Alle kosbestellings gaan voort deur middel van die Karri-toep.
- Nasorg: Heropen vanaf Maandag, 26 Julie, soos normaal.
- Bestuur/EXCO: Die bestuurspan het reeds vanaf 22 Julie begin werk om te verseker dat die skool skoon, gereed en netjies is om effektiewe onderrig en leer te verseker.
Baie dankie vir jul dringende aandag. Ons sien baie uit om ons Jannies by die skool te ontvang en mag kwartaal 3 ‘n baie voorspoedige tydperk vir die skoolgemeenskap wees.
Bly asseblief veilig.
Vriendelike groete,
Naas Beets
SKOOLHOOF
Kan julle glo Junie-maand se raklewe is amper verstreke; die helfte van die jaar het verby gesnel! Die afgelope week het die res van die grade ook met eksamen / assesserings begin en sover verloop alles klopdisselboom.
Ons skoolgemeenskap se grootste uitdaging tans is die vinnige verspreiding van Covid-19 infeksies onder ons ouers en leerders. Ons het die afgelope tyd heelwat navrae ontvang rakende die protokol vir isolasie na Covid-19 blootstelling. Daarom het ek met die hulp van dr. Barbara Kemp op Woensdag, 23 Junie 2021, vir julle ‘n brief gestuur waarin ons almal vriendelik versoek om die voorgestelde isolasie-riglyne te volg sodat ons kan verseker dat ons leerders skool toe kan kom. Ek wil beslis nie voorskriftelik wees rakende jul sosiale lewe nie, maar laat my ook toe om julle te versoek om dit ernstig te oorweeg om liewer kinderpartytjies / verjaarsdagpartytjies / as gesinne saam te kuier moontlik uit te stel totdat die 3de vlaag van die pandemie onder beheer is. Baie dankie dat julle verstaan en die veiligheid van ons skoolgemeenskap eerste stel! Verder heers daar tans groot opwinding onder die personeel aangesien die WKOD se Covid-19 inentingsprogram gister afgeskop het en ses van ons personeellede gister suksesvol ingeënt is. Soos ek in my vorige nuusbrief genoem het, is daar lig aan die einde van die pandemie-tonnel m.a.w. daar is hoop!
Op Woensdagmiddag, 23 Junie, was ons onderwysers bevoorreg om na ‘n motiveringspraatjie van dr. Gillian Arendse, ‘n bekende gasspreker, motiveringspreker, mentor en tutor te luister. Dr. Arendse het die ongelooflike vermoë om tydens uitdagende tye soos ons tans met die 3de vlaag van die Covid-19 beleef, dinge weer vir ons as onderwyskorps in perspektief te plaas. Tydens die sessie het hy ons so geïnspireer dat al was jy met die aanvang van sy praatjie op moedverloor se vlakte, sou jy na die afloop van die sessie nie eers toelaat dat Berg Everest in jou pad staan nie. Hierdie talentvolle kernfisikus het ons gou die volgende laat besef en graag deel ek dit met julle:
- Wees altyd dankbaar- dit is nie geluk wat ons dankbaar maak nie, maar dankbaarheid wat ons gelukkig maak.
- Jou lewe is die resultaat van jou keuses, as jy nie daarvan hou nie is dit tyd om beter keuses te maak.
- Geluk en motivering kom van binne – dit is ‘n keuse en daarom kan jy nie ander blameer nie.
- ‘n Mens gebruik dieselfde hoeveelheid energie om jouself gelukkig of misrabel te maak.
- Wees die verandering wat jy graag wens om in die wêreld te sien.
- Middelmatigheid is voorspoed se grootste vyand en dit is onsigbaar totdat passie opdaag en dit blootstel.
- Leierskap is ‘n aksie en nie ‘n posisie nie.
- As iets jou nie uitdaag nie, sal dit jou nie verander nie.
Graag deel ek voorlopig met julle ‘n bietjie opwindende nuus in verband met die beoogde opgradering van die seuns- en dogtersbadkamers. Laat my ook toe om Stephanie le Roux en Ria Hertzog hartlik te bedank wat so instrumenteel is om fondse vir die projek in te samel. Ons is julle twee baie dank verskuldig. Meer inligting rakende die projek sal in my volgende nuusbrief volg.
Baie dankie aan Hoërskool Jan van Riebeeck wat vir elkeen van ons Graad 7’s ‘n pragtige skryfpen kom oorhandig het om vir hulle spesiaal sterkte met die eksamen toe te wens, ons het groot waardering!
Mag julle ‘n wonderlike naweek geniet, wees asseblief veilig. Graag sluit ek af met die volgende aanhaling van Zig Zagler: “You don’t have to be great to start, but you have to start to be great”.
Ek hoop regtig en vertrou dat dit met julle en julle gesinne goed gaan en dat almal veilig is, veral met die uitbreek van die 3de vlaag van die Covid-19 pandemie in ons ikoniese moederstad. Gister se statistieke toon dat daar 64 infeksies per 100 000 Suid-Afrikaners die laaste 7 dae plaasgevind het. Ons land se infeksiesyfers soos op 10 Junie staan op 1, 712 939 en 57 310 Suid-Afrikaners is sedert die begin van die pandemie oorlede.
Die vraag is: “Is daar rede tot kommer?”. Alhoewel daar ‘n toename in die aantal infeksies is, glo ek dat indien ons waaksaam bly en die nodige Covid-19 protokol eerbiedig ons binnekort hierdie aanslag ook sal oorwin. Verskeie van ons gesinne is die afgelope week erg geraak waar van die gesinslede positief vir die virus getoets is en hulle is in isolasie van 10 dae geplaas. Wees verseker dat indien leerders as gevolg van siekte nie skool kan bywoon nie, ons nog steeds ons leerders akademies sal ondersteun. Julle hoef glad nie bekommerd te wees in terme van assesserings nie; ons sal beslis ‘n plan maak! Graag wil ek julle as ouers bedank dat julle die skool se Covid-19 protokol eerbiedig deur nie jul kinders skool toe te stuur wanneer ‘n gesinslid siek is of as ‘n lid vir ‘n Covid-toets gaan. Baie dankie dat julle verstaan dat dit moeilik is om te onderskei tussen verkoue/griep-simptome en dié van Covid-19. Ons probeer almal se belange op die hart dra en ek verstaan dat dit logistiese uitdagings vir werkende ouers bied as kinders by die huis moet bly indien hulle verkoue of griep onderlede het.
Op ‘n meer positiewe noot: Verlede Vrydag het ons leerders en personeel ‘’funky’’ sokkies gedra om spesifiek hulde te bring aan alle gesondheidspersoneel dwarsoor ons pragtige land wat in die voorste linies baklei om Suid-Afrikaners se lewens te beskerm teen die aanslag van die pandemie. Ons leerders het baie “cool” gelyk en in die proses spesiale erkenning aan gesondheidswerkers gegee.
Cape Argus is tans besig met ‘n spesiale boekinsamelingsprojek vir minderbevoorregte kinders van die ‘’Home of Hope’’. Ek het gisteroggend die voorreg gehad om Rehana Rutii, wat die opvoedkundige projek lei, te ontmoet. Ek wil graag hê dat ons as skool saam met Laerskool Milnerton by hierdie projek betrokke moet raak. Ek wil graag ‘n versoek rig om indien daar Afrikaanse en/of Engelse leesboeke (ouderdomgepas 4 – 11 jaar) by die huis rondlê, vir hierdie projek te skenk. Die boeke kan sommer direk na ons skool se biblioteek geneem word. Hierdie is ‘n wonderlke geleentheid om uit te reik en instrumenteel te wees om die sosiale en opvoedkundige probleme in behoeftige areas aan te spreek.
Dit laat my weer onwillekeurig dink dat ons dikwels vergeet om dankbaar te wees vir soveel voorregte in ons lewens wat ons daagliks as vanselfsprekend aanvaar. Navorsing toon dat mense wat dankbaar is meer opgeruimd is, beter verhoudinge koester en minder gespanne is. Ek sluit dus af met die volgende anonieme aanhaling: “Wie elke sonstraal met dankbaarheid geniet, sal ook die in die skaduwee kan oorleef.”
Skielik het Junie-maand aangebreek en met die 3de vlaag van Covid-19 wat soos ‘n onwelkome gas opdaag, kondig die president ook aan dat die land na vlak 2 van die grendelperiode beweeg.
Ek is seker daarvan dat julle ook bewus is van die vlaag van tienerselfmoord wat die laaste paar weke in die Wes-Kaap sy kop uitgesteek het. Die pandemie met al sy drakoniese regulasies het nie net ‘n vernietigende effek op die ekonomie nie, maar ook ‘n geweldige sielkundige effek op die mensdom self. Ons kyk ons dalk vas in die sigbare en meetbare gevolge van die pandemie soos byvoorbeeld die sterftesyfer, maar die ‘verborge’ effek word dikwels nie raak gesien nie. Sommige mense wat die virus opdoen, sukkel met die stigma en is ook ‘n bydraende faktor wat tot swak geestesgesondheid lei. Sielkundiges waarsku al vir ‘n geruime tyd dat die grendelmaatreëls wat deur regerings wêreldwyd geïmplementeer is, met tyd sy tol sal eis. Dus het die ‘tikkende tydbom’ ontplof en die lewens van verskeie jong tieners in ons omgewing onnodig geëis. Ek besef dat ons net ‘n laerskool is, maar steeds wil ek ‘n ernstige beroep op julle as ouers/voogde doen om saam met ons waaksaam te wees en ons kwesbare leerders/kinders se emosionele gesondheid daagliks te monitor en by te staan waar nodig.
Op ‘n meer positiewe noot wil ek graag terugvoering gee rakende ons skool se suksesvolle gholfdag wat op 31 Mei te Pearl Valley Gholflandgoed plaasgevind het. 48 gholfspelers het aan die spesiale dag deelgeneem en was gereed om hul gholfvaardighede teen die gholfgode te toets, maar hulle moes ook die ongure winterweer trotseer. Ek was onder die indruk dat dit nie op ‘n gholfbaan reën nie, maar gelukkig was ek bevoorreg om saam met Cobus Loubser, Alet Loubser en Julia Ward die pragtige 18 putjies aan te durf en hul wonderlike geselskap terdeë te geniet. Daar is verseker nie ‘n beter plek om iemand beter te leer ken as op ‘n gholfbaan nie. Die beroemde gholfspeler, Bobby Jones, is bekend ook vir die volgende aanhaling en ek gaan dit in Engels aanhaal: “Golf is the closest game to the game we call life. You get bad breaks from good shots; you get good breaks from bad shots – but you have to play the ball where it lies.” Hierdie aanhaling is so gepas vandag met die al sy uitdagings wat die lewe asook die pandemie bied om ons daaglikse tot die uiterste te beproef. Laat my ook toe om Alet Loubser en Ria Hertzog hartlik te bedank wat die puik gholfdag gereël het. Baie geluk aan die gholfspan van Hoërskool Jan van Riebeeck wat die dag met 104 punte gewen het. Ons sien baie uit na die 2022 gholfdag waar ons beoog om heelwat meer spelers en ouers te betrek en die dag met ‘n veiling af te sluit.
Graag wil ek ook mnr. Pieter Rademeyer (Skoolhoof) en sy span van die hoërskool gelukwens en hartlik bedank dat hulle ons Woensdagaand, 2 Junie, by ‘n krieketfunksie in hul klubhuis betrek het. Die hoërskool het die dienste van die Cricket School of Excellence bekom en die eienaar, Ryan Maron, het ons krieketseuns, ouers en personeel toegespreek en sy visie om krieket in ons skoolomgewing te verbeter met ons gedeel. Ryan, ‘n voormalige WP-krieketspeler (paaltjiewagter), het vir meer as 6 jaar professionele krieket in Nederland en Denmarke gespeel. Hy was ook betrokke by internasionale krieketafrigting met die spanne van Wes-Indië en Afganistan. Keith Ingram, voormalige Lions krieketspeler (bouler) en een van die beste boulafrigters in die land, is ook deel van Ryan se afrigtingspan. Hy het ook sy agtergrond en ondervinding met ons gedeel. Keith was een van die belowenste jong boulers in die land, maar ‘n ernstige rugbesering het hom op ‘n jeugdige ouderdom van 20 jaar uit die sport gedwing. Ons is voorwaar bevoorreg dat ons hul dienste kan bekom tot voordeel van krieket by beide skole. Hierdie is weer ‘n bewys dat beide die Hoër- en Laerskool Jan van Riebeeck saam gaan werk tot voordeel van hul leerders en die breë skoolgemeenskap.
Verder wil ek ook noem dat aangesien die sportvaardighede vir die grondslagfase-leerders tydens die eksamen voortgaan, het die bestuur besluit dat graad 4 – 7-leerders ook tydens die eksamen (Maandae tot Donderdae) in skooltyd (12:00 – 12:45) sal voortgaan met sportvaardighede. ‘n Volledige program sal volg. Ek glo julle sal met my saamstem dat leerders na afloop van hul daaglikse eksamen ‘n bietjie oefening buite in die vars lug sal verwelkom. Leerders is dikwels angstig tydens eksamens en ek glo dat deur voort te gaan met basiese vaardigheidsoefeninge dit hulle sal help om die stresvlakke tydens eksamens te verlaag. Dit sal ook verder help om hul konstante aandag aan studies en eksamen tydelike weg te neem deur op iets anders te fokus.
Graag sluit ek af deur vir julle almal ‘n wonderlike en geseënde naweek toe te wens.
Ons hou eerskomende Vrydag ‘n baie spesiale sivviedag waartydens ons ons mediese personeel, spesifiek die dokters (dokkies), eer vir die werk wat hulle doen. Deur hierdie dag te vier trek ons snaakse, opwindende, prettige sokkies aan. Geen kostes is hieraan verbonde nie, want mediese personeel lewer ‘n kosbare diens en gee baie ekstra van hulself aan hul gemeenskap.
Respek is om bv. ander te behandel soos wat jy behandel wil word, aan ander se gevoelens te dink en verskillende mense se opinies in ag te neem. Kom ons moedig ons leerders aan om mooi te dink en praat van hulself, hul ouers en hul vriende, hul besittings op te pas en met respek teenoor ander mense op te tree.
Kliek op die video om te sien hoe twee van ons leerders verduidelik hoe hulle respek toon.
Kliek hieronder vir ‘n video van die leerderraad wat verduidelik hoe jy respek kan toon.
Terwyl Mei-maand einde se kant toe staan, is Moeder natuur hard aan die werk om die heerlike herfsweer stadig maar seker aan die genade van die winter oor te laat. Ons is so geseënd met die goeie reën die afgelope tyd en moontlik het ons gou vergeet dat ons pragtige moederstad aan die einde van Februarie 2018 ‘n baie ernstige waterkrisis beleef het en amper die gevreesde ‘’Dag Zero’’ bereik het.
Wie sou kon voorspel dat na afloop van die waterkrisis in Kaapstad en die beplande beurtkrag van ESKOM ons nog ‘n krisis in die gesig sou staar met die Covid-19 pandemie wat ons daaglikse bestaan en werkswyse drasties verander. Alles wat vanselfsprekend is, het in ‘n oogwink verander. Met die 3de vlaag van Covid-19 wat haas onafwendbaar is, wil ek vir julle die versekering gee dat ons alles in ons vermoë sal doen om die veiligheid van die leerders en die skoolgemeenskap te verseker. Nuwe regulasies het ons as skool reeds die afgelope week genoodsaak om die formaat van sportoefeninge te verander asook dat kooroefeninge vanaf 24 Mei slegs in graadverband sal geskied. Ons sal dan weekliks die sport- en kooroefeninge bestuur afhangend van die erns van die 3de Covid-vlaag. Dit is vir ons belangrik dat ons leerders so lank as moontlik aktief bly en met aangepaste sport- en kultuuraktiwiteite voortgaan totdat die erns van die pandemie vir ons anders wys. Die musiekkonsert van Woensdagaand, 26 Mei, is ook vir eers uitgestel tot latere kennisgewing. Ek is van mening dat indien ons met die konsert Woensdagaand sou voortgaan, dit beslis die verkeerde boodskap na buite sou stuur.
Die pandemie het nie net ‘n vernietigende impak op die ekonomie nie, maar lei tot lewensverlies. Die onlangse afsterwe van die bekende akteur, Ben Kruger, het my opnuut weer laat besef die geweldige emosionele skade van kommer, angs, hartseer en om dan nie eers van die onsekerheid van hoe lank ons nog gebukkend onder die die virus se impak sal wees, te praat nie. Graag versoek ek julle om ook gereeld met jul kinders te gesels oor hul ervaring van die pandemie. Hou asseblief hul gemoed dop, want soveel reëls en regulasie maak net eenvoudig nie sin nie. Die enigste normaal wat hulle nou ken, is verandering. Daarom doen ek ‘n ernstige beroep op die skoolgemeenskap dat ons positief sal bly en nie sal toelaat dat die 3de vlaag ons vrese sal verteenwoordig nie, maar eerder ons vermoë om nog ‘n krisis te oorwin.
Graag sluit ek af met die volgende aanhaling: “Staying positive does not mean that things will turn out okay. Rather it is knowing that you will be okay no matter how things turn out.”
Ons kom aan die einde van nog ‘n suksesvolle week en ons skool is baie geseënd dat alles klopdisselboom verloop. Die enigste demper die week is die afkondiging deur die Nasionale Onderwysdepartement, asook WKOD, dat alle kontaksporte met onmiddellike effek afgestel moet word as ‘n voorsorgmaatreël om die impak van die 3de Covid-vlaag hok te slaan.
Julle wonder seker waar dit ons as skool t.o.v. die sportaktiwiteite laat wat die afgelope tyd so mooi in plek geval het? Graag deel ek dat ons met wintersportoefeninge tot verdere kennisgewing voortgaan, maar die formaat gaan verander en die fokus tydens oefeninge verskuif na vaardigheidsontwikkeling terwyl fisiese kontak totaal vermy word. Ek glo julle stem saam dat ons nie nou al die leerders se bietjie sportervaring net eenvoudig moet bederf nie, want dit is belangrik dat ons leerders aktief en fiks bly terwyl hulle ook die vars lug buite kan geniet. Om nie eers te praat van die sosiale interaksie en vaardighede wat met wintersport gepaardgaan nie. Ongelukkig sal daar tot verdere kennisgewing geen wedstryde of sportklinieke kan geskied nie. Ons gaan egter nie die beplande sportklinieke en wedstryde net eenvoudig afstel nie, maar bloot uitstel. Ek wil graag ‘n skoolkultuur skep waar ons slegs onder uiterste omstandighede sport en/of funksies sal kanselleer. Om net eenvoudig te kanselleer kan so maklik ‘n slegte gewoonte raak.
Soos julle, wonder ek ook of die 3de vlaag van die pandemie die Wes-Kaap en Suid-Afrika so hard gaan tref en wat is die plan van die regering om die ‘beloofde’ entstofprogram vinniger uit te rol. Ons moet egter nie te selfvoldaan raak en die erns van die 3de golf onderskat nie. Dus vra ek dat ons as JvR-familie waaksaam sal wees en ten alle tye Covid-protokol sal toepas om die veiligheid van ons skoolgemeenskap, provinsie en land te verseker. Wees verseker dat ons alles in ons vermoë sal doen om die veiligheid van ons leerders, personeel en ouers te verseker.
Graag versoek ek julle as ouers/voogde se hulp t.o.v. die volgende:
Die Covid-19 inperking het ons leerders genoodsaak om baie meer van die internet, aanlynonderrig, sosiale media en kommunikasie met maats gebruik te maak. Weens die feit dat leerders minder buitemuurse programme en sosiale geleenthede gehad het, is baie tyd dus deur sosiale media opgeneem en moontlik deel van hul daaglikse lewe geword. Ek versoek graag om ‘n bietjie te loer waarmee jou kind/ers op sosiale mediaruimtes besig is. Kinders besef nie die gevare van sosiale platforms nie en besef nog minder dat hulle as gevolg van groepsdruk (om “cool” te wees) dikwels kommentaar bewustelik en onbewustelik lewer wat onvanpas is. Sosiale media gebruik kan so maklik ‘n gewoonte raak en ook so maklik ‘n verslawing. Dit op sy beurt kan lei tot geestelike en emosionele skade. Baie dankie dat julle betrokke gaan raak en duidelike grense t.o.v. sosiale media gebruik sal stel. Wees asseblief vir jou kind/ers ‘n voorbeeld om sosiale media verantwoordelik te gebruik.
Graag sluit ek af met die volgende aanhaling om vir julle ‘n wonderlike en geseënde naweek saam met familie en vriende toe te wens: “Be like sunshine that gives life to others.”
Ek kan nie glo hoe vinnig die eerste week van die nuwe kwartaal verby gesnel het nie. Ek hoop en vertrou julle het ‘n wonderlike Moedersdag op Sondag, 9 Mei, saam met jul familie en / of gesin geniet. Mag ons nooit die belangrike rol wat moeders vertolk, vergeet nie. Ek glo moeders is die gom wat alle huishoudings bymekaar hou; moeders is die kompas wat die gesinne se kernwaardes op koers hou. Baie dankie dat julle aan die waardes bou, want dit skep geborgenheid en standvastigheid vir ons kinders.
Op Donderdag, 6 Mei, het ons Trust ‘n baie suksesvolle kleiduifskietdag by die ‘’Gun Valley Clay Target Club’’ aangebied. Kleiduifskietery behels klein (oranje) teikens wat deur die lug geskiet word om voëljag te stimuleer. 65 Persone waarvan die meeste aspirante skutte was, het aan die gewilde dag deelgeneem. Ons hoofborg vir die dag was Safari Outdoor. Baie dankie aan Stephanie le Roux, Ria Hertzog en LJ le Roux wat hard agter die skerms gewerk het om die unieke geleentheid moontlik te maak. Dankie ook aan Pieter Janse van Vuuren wat met soveel entoesiasme betrokke was. Die dag is afgesluit met ‘n klein, intieme veiling waartydens R141 000 onder die bekwame leiding van ons uitstekende afslaer, MC du Toit (ouer by Huppelland), ten bate van welwillenheid ingesamel is. Ek wil graag soos tydens my toespraak ons ouers hartlik bedank vir die feit dat hul beursies vir welwillendheid wawyd oop staan. Gelde geïn gaan direk aangewend word om twee gebalanseerde etes per dag vanuit die snoepie aan ons behoeftige leerders te voorsien. Ek het self die voorreg gehad om ook deel te neem en vinnig besef hierdie sport vereis ‘n ander vaardigheid as om bloot statiese teikens raak te skiet. Die ‘kleiduiwe’ vlieg vrek vinnig in verskillende rigtings en ek moet bieg ‘n mens ervaar emosies soos geen ander en kan ek verstaan dat dit ‘n baie self-verslawende sport kan word. Dit was lekker om te sien dat heelwat van ons mammas ook deelgeneem het en in die proses die meeste van ons pappas op hul neuse laat kyk het. Baie geluk aan Coreen Scholtz wat as die beste dames skut aangewys is.
Gisteroggend het ons die skooldag met ‘n kort vrywillige saalbyeenkoms begin om Hemelvaart te vier. Hemelvaartsdag val altyd op die 40ste dag gereken vanaf die eerste Paasdag. Op Hemelvaartsdag vier Christene wêreldwyd dat Jesus na Sy kruisiging en opstanding in die hemel opgevaar het en alomteenwoordig deur Sy gees is. Ons wens ons Christen-gemeenskap ‘n geseënde Pinkster toe.
Graag wil ons ook ons Moslem-ouers en breër Moslem-gemeenskap wat vandag die einde van Ramadan vier, ‘n geseënde dag van Eid Mubarak toewens. Mag julle as gesinne en/of families hierdie spesiale dag geniet.
Graag sluit ek af met hemelvaart, Ramadan en ons waarde vir die maand ingedagte met die volgende aanhaling: “Jy sal niks verloor deur nederig te wees nie, want ‘n nederige persoon wen die harte van mense.”
Ek hoop en vertrou dat julle as gesinne die kort vakansie terdeë geniet het. Alhoewel die vakansie baie kort was, amper gevoel soos ‘n ‘laaang’ naweek, kon dit beslis nie op ‘n beter tydstip aangebreek het nie. Dit was ‘n lang eerste kwartaal en as ons dit aan prestasie sou koppel, het ons as skoolgemeenskap holities met vlieënde vaandels geslaag. Nou lê daar ‘n baie opwindende kwartaal 2 voor wat 10 weke en 49 skooldae insluit. Jammer vir die bietjie nuttelose inligting, maar dit is tog van belang wanneer dit kom by akademiese- en selfs persoonlike beplanning. Kwartaal 2 is die begin van wintersport en as die parmantige pandemie ons toelaat, sien ons baie uit om aan ‘n paar wedstryde of ‘n lekker sportdag deel te neem.
Op akademiese gebied, sluit kwartaal 2 ‘n assesseringsweek vir Gr. R – 3 asook die eksamen vir Graad 4 – 7 in. Wees verseker dat ons opvoeders die ekstra myl gaan loop om ons Jannies behoorlik voor te berei en toe te rus om die spreekwoordelike ‘eksamen-bul’ by die horings te pak. Die afgelope week het julle die geleentheid gehad om jou kind/ers se onderwysers te ontmoet asook hul kwartaal 1 akademiese vordering met die onderskeie opvoeders tydens ouerafsprake te bespreek. Ek is baie beïndruk met die hoeveelheid ouers wat die ouerafsprake eerbiedig het. Baie dankie dat jy kosbare tyd in jou kind se toekoms investeer. Laat my ook asseblief toe om ons bekwame opvoeders te bedank vir hul waardevolle insette tydens die belangrike ouerafsprake. Ek nooi julle as ouers/voogde uit om aktief by jou kind/ders se akademie betrokke te bly en behou gereelde kontak met hul onderskeie opvoeders.
Die veranderde Covid-maatreëls laat nou toe dat tot en met 250 persone binnenshuis mag vergader. Dit het vir ons die geleentheid gebied om op Dinsdag, 4 Mei, ‘n saalbyeenkoms vir die Graad 6- en 7-leerders te hou. Ons bekwame leerderraad het die saalbyeenkoms uitstekend gelei, ‘n verrykende boodskap gebring en dit was ongelooflik om hul in aksie te sien. Tydens die saalbyeenkoms is die Top 10 akademiese Gr. 7-leerders vir kwartaal 1 na vore geroep om erkenning vir hul harde werk en prestasie te ontvang. Ons beplan ook vir die komende weke om saalbyeenkomste vir die res van die grade te reël. Dit bied vir my die eerste keer as nuwe skoolhoof ‘n geleentheid om meer formeel met ons leerders in groter groepe te kommunikeer asook om ons leerderraad aan al ons leerders amptelik voor te stel. Covid het hierdie belangrike byeenkomste en funksies van ons vir ‘n baie lang tyd beroof.
Neem asseblief kennis dat ons waarde vir die maand ‘nederigheid’ is. Help ons asseblief as opvoeders om ons Jannies te leer om nederig te bly, nie te dink dat ons beter is as ander mense nie, maar wys genoeg om te weet dat ons mag anders wees. Ek glo natuurlik die beste manier om nederig te bly is om ander mense te dien. Graag sluit ek af met die volgende aanhaling van C.S. Lewis: “Nederigheid is nie om minder van jouself te dink nie; dit is om minder áán jousélf te dink.”
So sluit ons die eerste kwartaal op ‘n hoë noot af met ‘n baie besige, maar opwindende week agter die rug. Die enigste demper van die opwinding was die verwoestende bergbrande teen Tafelberg. Dit was hartseer om te sien hoe die genadelose vlamme die pragtige fynbos hektaar vir hektaar verslind terwyl honderde brandbestryders en die rampbestuurpersoneel die vlammeoorlog probeer beveg. Ek is so trots op ons skoolgemeenskap wat d.m.v. die Karri-toep R7 625 geskenk het waarmee Razelle, Maricqe, Beulah, Elana en Sanna etes uit die kafeteria voorberei en aan die plaaslike brandweerstasie in Roelandstraat geneem het. Dit is ‘n toonbeeld van ‘n omgee skoolgemeenskap om hul opregte dankbaarheid teenoor die nooddienspersoneel te toon wat onverskrokke die brande oor die afgelope dae sonder rus trotseer het.
Ek is so bly ons het die afgelope Maandag die Grondslagfase se pretatletiekbyeenkoms deurgevoer. Die magtige Suidooster het hard probeer om ons planne by die Conradie-sportvelde in die wiele te ry. Dit was so lekker om te sien hoe ons jong atlete hul gate uit geniet het, salig onbewus van die dreigende brand- en rookgevaar asook dat van ons ouers hul huise as gevolg van die dreigende brande moes ontruim. Ons is baie dankbaar dat ons ouers en hul eiendom ongeskonde gebly het.
Dinsdagoggend, 20 April, het ons Gr. 4 – 7-leerders aan die tweede dag van die pretatletiekbyeenkoms by die hoërskoolvelde deelgeneem. Die rook van die smeulende brande het sy uitdagings tydens die aanvang van die dag gebring, maar Jannies en die personeel laat hulle nie sommer onderkry nie. Gelukkig het die rook vinnig weggetrek en die dag het in ‘n pragtige sonkyndag getransformeer, waar ‘uitgehongerde’ leerders vir sportdeelname, in hul massas deelgeneem het. Die “sing songs” van die verskillende kleurgroepe het almal in ‘n vrolike luim gekry en die atlete die volle byeenkoms gemotiveer om hul beste te gee. Baie dankie aan al ons leerders wat ‘n skoon en netjiese pawiljoen agtergelaat het, ek is so trots op julle!
Baie dankie aan Ben, Helecia en Estelle wat Woensdagoggend vir ons Gr. 1-3-musiekleerders ‘n pragtige interne musiekkonsert gereël het. Dit was ‘n voorreg om ons Jannies se besondere musiektalent te aanskou, te bewonder en te geniet. Tydens die uitdeel van musiektalente, het ek die spreekwoordelike heel laaste in die ry gestaan, ek wens ek kon ‘n musiekinstrument bemeester soos wat ons musiekleerders doen.
Groot opgewondenheid het ook gister in die vierkant geheers met die kwartaalikse markdag. Ons leerders het soos ervare entrepreneurs hul produkte uitgestal, luideliks bemarking gedoen en verkoop aan menigte gewillige kopers. Ek het dit gewaag om tussen al die stalletjies rond te beweeg, net om te sien wat daar te koop is. Natuurlik het ek hopeloos te min kontant by my gehad, want elke verkoper het verwag dat die skoolhoof hulle ten minste sal ondersteun. Ons leerders het baie pret gehad met die mees interessante produkte wat te koop was.
Graag wil ek ook ‘n kort huldeblyk aan een van ons voormalige skoolhoofde, mnr. Francois Schreuder, lewer wat op Saterdag, 17 April, na ‘n lang siekbed afgesterf het. Mnr. Schreuder was skoolhoof vanaf 1973 – 1983 en was instrumenteel tot die sukses van ons skool. Hy het diep spore by JvR en onderwys in die algemeen getrap. Mnr. Schreuder het onder andere die swembad en tennisbane by ons skool laat aanlê. Hy het hoë aansien en respek by ander skoolhoofde afgedwing. Hy was beskou as baie beleefd en was uiters deursigtig teenoor leerders, personeel en ouers.
Mnr. Schreuder het ook op die sportveld presteer deur onder andere vir Boland, Griekwas en WP rugby te speel. Hy het ook kultuur by ons skool gemotiveer deur nou betrokke by die Kaapse Eisteddfod te wees en deelname daaraan sterk onder leerders aangemoedig. Ons dink met heimwee en waardering aan hom, hy was ‘n merkwaardige onderwysleier en mag sy nagedagtenis lank bly voortleef. Ons innige meegevoel aan sy vrou, Barbara, en die kinders. Ons beplan om binnekort ‘n meer volledige huldeblyk aan hom te skenk.
Vandag ontvang die leerders ook hul rapporte wat hul akademiese vordering vir die eerste kwartaal sal weerspieël. Baie geluk aan al die leerders met jul puik akademiese prestasies. Julle maak ons en jul ouers baie trots. Gun my dan ook die geleentheid om die personeel van ons skool en Huppelland hartlik te bedank vir hul harde werk en toegewydheid. Ons is baie geseënd met puik personeel wat nie net hard werk nie, maar werklik omgee vir die leerders. Baie dankie ook aan ons nuwe beheerraad onder leiding van Merwe wat kosbare tyd afstaan om te verseker dat JvR van krag-tot-krag gaan!
Ek wens vir al ons leerders, personeel, ouers en voogde ‘n welverdiende vakansie toe. Dit was ‘n lang kwartaal, lekker rus en indien julle reis, reis veilig en ek kan nie wag om julle almal weer op Maandag, 3 Mei, terug by die skool te verwelkom nie.


Belangrike Datums
februarie 2026
maart 2026
april 2026
mei 2026
junie 2026
julie 2026
augustus 2026
september 2026
oktober 2026
november 2026
desember 2026
Kom geniet ‘n prettige Jeugdag saam met jou Jannie-maats! Trek kleurvolle sivvies aan en doen iets GEK met jou hare!