Ontwikkelingsevaluering en Terapie

Die ontwikkeling van leerders word voortdurend deur ervare onderwysers geëvalueer. Indien nodig, sal aanbevelings met betrekking tot verwysing na ontwikkelingsterapeute gedoen word.

Leerontwikkelingkoördineerder

Marietjie de Kock bied ontwikkelingklasse vir graad 1 – 7 leerders aan.

Die leerontwikkeling koördineerder koördineer alle fasette van ondersteuning ten opsigte van emosionele-, gedrags- en skolastiese probleme. In samewerking met die SGOS-span word leerders na gelang van hulle probleme bespreek en na die nodige terapeute verwys. Leerders word soos volg ondersteun:

  • Daar word aandag gegee aan leerders se spesifieke leerbehoeftes: leesuitvalle, leesbegrip, leesontwikkeling, spelprobleme, getalbegrip en Wiskundige bewerkings. ‘n Skolastiese evaluasie word gedoen om vas te stel watter uitvalle leerders toon en waarin leerders ondersteuning benodig.
  • Tydens remediëring en leerontwikkeling word aandag gegee aan leerders se visuele, ouditiewe en ruimtelike oriëntasie. Indien leerders terapie benodig, word hulle na die onderskeie terapeute verwys.
  • Leerondersteuning bied ook verryking aan leerders deur middel van studiemetodes, leesontwikkeling en hulp met toetse en eksamens.

Die leerontwikkelingspan het een doel voor oë en dit is om ondersteuning te bied aan alle leerders van ons skool.

Marietjie de Kock
marietjie@jvrprim.co.za

Arbeidsterapeut

Laerskool Jan van Riebeeck beskik oor die voltydse dienste van Annet Wilke, ’n ervare arbeidsterapeut wat o.a. die volgende kan evalueer en behandel:–

  • sensoriese, motoriese en ontwikkelingsagterstande wat groot motoriese probleme soos swak balans en koördinasie, lompheid, lae spiertonus en ’n swak postuur by die lessenaar tot gevolg het;
  • fyn motoriese koördinasie wat swak potloodgreep, stadige werkspoed en handskrifprobleme tot gevolg het;
  • swak sensoriese modulasie wat swak konsentrasie en aandagafleibaarheid veroorsaak;
  • visuele perseptuele agterstande wat die vermoë om te leer lees, spel en wiskunde te kan doen, nadelig beïnvloed;
  • tasdefensiwiteit wat veroorsaak dat kinders sukkel om sekere klere en skoene te dra, sensitief is vir harde geluide, reuke en oorweldig word deur te veel visuele stimuli.
 

Opvoedkundige Sielkundige

Die skool beskik oor die dienste van ’n ervare opvoedkundige sielkundige, Marike Badenhorst.

Die rol van die opvoedkundige sielkundige is om ondersteuning aan onderwysers, leerders en ouers te bied. Alle verwysings moet deur Marinda Brink bekragtig word. Hierdie diens sal elke Dinsdag en Donderdag van 07:00 tot 14:00 beskikbaar wees.

Marike Badenhorst
badenhorstmarike@gmail.com

Spelterapie

Die skool beskik or die dienste van ‘n spelterapeut, Tina Fourie, wat elke Maandag beskikbaar is. Sy het ‘n honeursgraad in Sielkunde asook Maatskaplike Werk en het haar meestersgraad in Spelterapie verwerf. Sy kan direk gekontak word op 084 660 6664 of tfourie5@gmail.com

Spelterapie bied ‘n veilige omgewing vir kinders om uitdrukking aan hulle emosies te gee. Gedurende terapie leer kinders tegnieke aan om ‘n verandering in gevoelens, gedagtes en gedrag teweeg te bring. Daar word deur emosies gewerk met die hulp van speel as ‘n terapeutiese tegniek. Kinders leer probleemoplossing, konflikhantering, kommunikasievaardighede en selfkontrole. Verder word daar gewerk aan die bou van ‘n positiewe selfbeeld. Die kind word ook tydens terapie bewus gemaak van sy/haar emosies en hoe hy/sy emosies uitdruk, ten einde te poog om dit op ‘n sosiaal aanvaarbare manier te doen. Tegnieke word ook aangeleer om kinders te help om hulle emosies te reguleer.

Tydens die terapeutiese proses leer kinders respek en aanvaarding vir hulself en ook vir ander mense. Daar word geleer dat hulle emosies aanvaarbaar en toelaatbaar is, maar terselfdertyd hoe om verantwoordelikheid vir hulle gedrag en besluite te neem.

  • Die volgende is voorbeelde van situasies waar kinders kan baat vind by spelterapie:
  • Verlies as gevolg van die dood van ‘n familielid of troeteldier;
  • Kinders wat ‘n traumatiese gebeurtenis gesien of beleef het;
  • Kinders wat geboelie word;
  • Kinders wat ander kinders boelie;
  • Enige angstighede (insluitend skeidingsangs, psigosomatiese reaksies byvoorbeeld maagpyn of hoofpyn, eksamenstres);
  • Skoolaanpassingsprobleme;
  • Kinders wat sosiaal sukkel om maats te maak;
  • Enige tipe van mishandeling;
  • Sosiale, emosionele of gedragsprobleme;
  • Kinders in gesinne waar ouers skei;
  • Kinders met ‘n lae selfbeeld.
Tina Fourie
tfourie5@gmail.com

Taal- en Spraakterapie

Lilan Starker sal een keer per week as taalterapeut optree ter ondersteuning van die leerontwikkelingsentrum. Spraakterapie vind ook deeltyds op ‘n privaatbasis plaas. Haar rol is soos volg:

  • Spraak- en taalevaluasies
  • Spraak- en taalterapie
  • Vroeë identifikasie van taal- en spraakprobleme