Ons kom aan die einde van nog ‘n suksesvolle week en ons skool is baie geseënd dat alles klopdisselboom verloop. Die enigste demper die week is die afkondiging deur die Nasionale Onderwysdepartement, asook WKOD, dat alle kontaksporte met onmiddellike effek afgestel moet word as ‘n voorsorgmaatreël om die impak van die 3de Covid-vlaag hok te slaan.

Julle wonder seker waar dit ons as skool t.o.v. die sportaktiwiteite laat wat die afgelope tyd so mooi in plek geval het? Graag deel ek dat ons met wintersportoefeninge tot verdere kennisgewing voortgaan, maar die formaat gaan verander en die fokus tydens oefeninge verskuif na vaardigheidsontwikkeling terwyl fisiese kontak totaal vermy word. Ek glo julle stem saam dat ons nie nou al die leerders se bietjie sportervaring net eenvoudig moet bederf nie, want dit is belangrik dat ons leerders aktief en fiks bly terwyl hulle ook die vars lug buite kan geniet. Om nie eers te praat van die sosiale interaksie en vaardighede wat met wintersport gepaardgaan nie. Ongelukkig sal daar tot verdere kennisgewing geen wedstryde of sportklinieke kan geskied nie. Ons gaan egter nie die beplande sportklinieke en wedstryde net eenvoudig afstel nie, maar bloot uitstel. Ek wil graag ‘n skoolkultuur skep waar ons slegs onder uiterste omstandighede sport en/of funksies sal kanselleer. Om net eenvoudig te kanselleer kan so maklik ‘n slegte gewoonte raak.

Soos julle, wonder ek ook of die 3de vlaag van die pandemie die Wes-Kaap en Suid-Afrika so hard gaan tref en wat is die plan van die regering om die ‘beloofde’ entstofprogram vinniger uit te rol. Ons moet egter nie te selfvoldaan raak en die erns van die 3de golf onderskat nie. Dus vra ek dat ons as JvR-familie waaksaam sal wees en ten alle tye Covid-protokol sal toepas om die veiligheid van ons skoolgemeenskap, provinsie en land te verseker. Wees verseker dat ons alles in ons vermoë sal doen om die veiligheid van ons leerders, personeel en ouers te verseker.

Graag versoek ek julle as ouers/voogde se hulp t.o.v. die volgende:

Die Covid-19 inperking het ons leerders genoodsaak om baie meer van die internet, aanlynonderrig, sosiale media en kommunikasie met maats gebruik te maak. Weens die feit dat leerders minder buitemuurse programme en sosiale geleenthede gehad het, is baie tyd dus deur sosiale media opgeneem en moontlik deel van hul daaglikse lewe geword. Ek versoek graag om ‘n bietjie te loer waarmee jou kind/ers op sosiale mediaruimtes besig is. Kinders besef nie die gevare van sosiale platforms nie en besef nog minder dat hulle as gevolg van groepsdruk (om “cool” te wees) dikwels kommentaar bewustelik en onbewustelik lewer wat onvanpas is. Sosiale media gebruik kan so maklik ‘n gewoonte raak en ook so maklik ‘n verslawing. Dit op sy beurt kan lei tot geestelike en emosionele skade. Baie dankie dat julle betrokke gaan raak en duidelike grense t.o.v. sosiale media gebruik sal stel. Wees asseblief vir jou kind/ers ‘n voorbeeld om sosiale media verantwoordelik te gebruik.

Graag sluit ek af met die volgende aanhaling om vir julle ‘n wonderlike en geseënde naweek saam met familie en vriende toe te wens: “Be like sunshine that gives life to others.”