Skielik het Junie-maand aangebreek en met die 3de vlaag van Covid-19 wat soos ‘n onwelkome gas opdaag, kondig die president ook aan dat die land na vlak 2 van die grendelperiode beweeg.

Ek is seker daarvan dat julle ook bewus is van die vlaag van tienerselfmoord wat die laaste paar weke in die Wes-Kaap sy kop uitgesteek het. Die pandemie met al sy drakoniese regulasies het nie net ‘n vernietigende effek op die ekonomie nie, maar ook ‘n geweldige sielkundige effek op die mensdom self. Ons kyk ons dalk vas in die sigbare en meetbare gevolge van die pandemie soos byvoorbeeld die sterftesyfer, maar die ‘verborge’ effek word dikwels nie raak gesien nie. Sommige mense wat die virus opdoen, sukkel met die stigma en is ook ‘n bydraende faktor wat tot swak geestesgesondheid lei. Sielkundiges waarsku al vir ‘n geruime tyd dat die grendelmaatreëls wat deur regerings wêreldwyd geïmplementeer is, met tyd sy tol sal eis. Dus het die ‘tikkende tydbom’ ontplof en die lewens van verskeie jong tieners in ons omgewing onnodig geëis. Ek besef dat ons net ‘n laerskool is, maar steeds wil ek ‘n ernstige beroep op julle as ouers/voogde doen om saam met ons waaksaam te wees en ons kwesbare leerders/kinders se emosionele gesondheid daagliks te monitor en by te staan waar nodig.

Op ‘n meer positiewe noot wil ek graag terugvoering gee rakende ons skool se suksesvolle gholfdag wat op 31 Mei te Pearl Valley Gholflandgoed plaasgevind het. 48 gholfspelers het aan die spesiale dag deelgeneem en was gereed om hul gholfvaardighede teen die gholfgode te toets, maar hulle moes ook die ongure winterweer trotseer. Ek was onder die indruk dat dit nie op ‘n gholfbaan reën nie, maar gelukkig was ek bevoorreg om saam met Cobus Loubser, Alet Loubser en Julia Ward die pragtige 18 putjies aan te durf en hul wonderlike geselskap terdeë te geniet. Daar is verseker nie ‘n beter plek om iemand beter te leer ken as op ‘n gholfbaan nie. Die beroemde gholfspeler, Bobby Jones, is bekend ook vir die volgende aanhaling en ek gaan dit in Engels aanhaal: “Golf is the closest game to the game we call life. You get bad breaks from good shots; you get good breaks from bad shots – but you have to play the ball where it lies.” Hierdie aanhaling is so gepas vandag met die al sy uitdagings wat die lewe asook die pandemie bied om ons daaglikse tot die uiterste te beproef. Laat my ook toe om Alet Loubser en Ria Hertzog hartlik te bedank wat die puik gholfdag gereël het. Baie geluk aan die gholfspan van Hoërskool Jan van Riebeeck wat die dag met 104 punte gewen het. Ons sien baie uit na die 2022 gholfdag waar ons beoog om heelwat meer spelers en ouers te betrek en die dag met ‘n veiling af te sluit.

Graag wil ek ook mnr. Pieter Rademeyer (Skoolhoof) en sy span van die hoërskool gelukwens en hartlik bedank dat hulle ons Woensdagaand, 2 Junie, by ‘n krieketfunksie in hul klubhuis betrek het. Die hoërskool het die dienste van die Cricket School of Excellence bekom en die eienaar, Ryan Maron, het ons krieketseuns, ouers en personeel toegespreek en sy visie om krieket in ons skoolomgewing te verbeter met ons gedeel. Ryan, ‘n voormalige WP-krieketspeler (paaltjiewagter), het vir meer as 6 jaar professionele krieket in Nederland en Denmarke gespeel. Hy was ook betrokke by internasionale krieketafrigting met die spanne van Wes-Indië en Afganistan. Keith Ingram, voormalige Lions krieketspeler (bouler) en een van die beste boulafrigters in die land, is ook deel van Ryan se afrigtingspan. Hy het ook sy agtergrond en ondervinding met ons gedeel. Keith was een van die belowenste jong boulers in die land, maar ‘n ernstige rugbesering het hom op ‘n jeugdige ouderdom van 20 jaar uit die sport gedwing. Ons is voorwaar bevoorreg dat ons hul dienste kan bekom tot voordeel van krieket by beide skole. Hierdie is weer ‘n bewys dat beide die Hoër- en Laerskool Jan van Riebeeck saam gaan werk tot voordeel van hul leerders en die breë skoolgemeenskap.

Verder wil ek ook noem dat aangesien die sportvaardighede vir die grondslagfase-leerders tydens die eksamen voortgaan, het die bestuur besluit dat graad 4 – 7-leerders ook tydens die eksamen (Maandae tot Donderdae) in skooltyd (12:00 – 12:45) sal voortgaan met sportvaardighede. ‘n Volledige program sal volg. Ek glo julle sal met my saamstem dat leerders na afloop van hul daaglikse eksamen ‘n bietjie oefening buite in die vars lug sal verwelkom. Leerders is dikwels angstig tydens eksamens en ek glo dat deur voort te gaan met basiese vaardigheidsoefeninge dit hulle sal help om die stresvlakke tydens eksamens te verlaag. Dit sal ook verder help om hul konstante aandag aan studies en eksamen tydelike weg te neem deur op iets anders te fokus.

Graag sluit ek af deur vir julle almal ‘n wonderlike en geseënde naweek toe te wens.