Ek hoop en vertrou dat julle as gesinne die kort vakansie terdeë geniet het. Alhoewel die vakansie baie kort was, amper gevoel soos ‘n ‘laaang’ naweek, kon dit beslis nie op ‘n beter tydstip aangebreek het nie. Dit was ‘n lang eerste kwartaal en as ons dit aan prestasie sou koppel, het ons as skoolgemeenskap holities met vlieënde vaandels geslaag. Nou lê daar ‘n baie opwindende kwartaal 2 voor wat 10 weke en 49 skooldae insluit. Jammer vir die bietjie nuttelose inligting, maar dit is tog van belang wanneer dit kom by akademiese- en selfs persoonlike beplanning. Kwartaal 2 is die begin van wintersport en as die parmantige pandemie ons toelaat, sien ons baie uit om aan ‘n paar wedstryde of ‘n lekker sportdag deel te neem.

Op akademiese gebied, sluit kwartaal 2 ‘n assesseringsweek vir Gr. R – 3 asook die eksamen vir Graad 4 – 7 in. Wees verseker dat ons opvoeders die ekstra myl gaan loop om ons Jannies behoorlik voor te berei en toe te rus om die spreekwoordelike ‘eksamen-bul’ by die horings te pak. Die afgelope week het julle die geleentheid gehad om jou kind/ers se onderwysers te ontmoet asook hul kwartaal 1 akademiese vordering met die onderskeie opvoeders tydens ouerafsprake te bespreek. Ek is baie beïndruk met die hoeveelheid ouers wat die ouerafsprake eerbiedig het. Baie dankie dat jy kosbare tyd in jou kind se toekoms investeer. Laat my ook asseblief toe om ons bekwame opvoeders te bedank vir hul waardevolle insette tydens die belangrike ouerafsprake. Ek nooi julle as ouers/voogde uit om aktief by jou kind/ders se akademie betrokke te bly en behou gereelde kontak met hul onderskeie opvoeders.

Die veranderde Covid-maatreëls laat nou toe dat tot en met 250 persone binnenshuis mag vergader. Dit het vir ons die geleentheid gebied om op Dinsdag, 4 Mei, ‘n saalbyeenkoms vir die Graad 6- en 7-leerders te hou. Ons bekwame leerderraad het die saalbyeenkoms uitstekend gelei, ‘n verrykende boodskap gebring en dit was ongelooflik om hul in aksie te sien. Tydens die saalbyeenkoms is die Top 10 akademiese Gr. 7-leerders vir kwartaal 1 na vore geroep om erkenning vir hul harde werk en prestasie te ontvang. Ons beplan ook vir die komende weke om saalbyeenkomste vir die res van die grade te reël. Dit bied vir my die eerste keer as nuwe skoolhoof ‘n geleentheid om meer formeel met ons leerders in groter groepe te kommunikeer asook om ons leerderraad aan al ons leerders amptelik voor te stel. Covid het hierdie belangrike byeenkomste en funksies van ons vir ‘n baie lang tyd beroof.

Neem asseblief kennis dat ons waarde vir die maand ‘nederigheid’ is. Help ons asseblief as opvoeders om ons Jannies te leer om nederig te bly, nie te dink dat ons beter is as ander mense nie, maar wys genoeg om te weet dat ons mag anders wees. Ek glo natuurlik die beste manier om nederig te bly is om ander mense te dien. Graag sluit ek af met die volgende aanhaling van C.S. Lewis: “Nederigheid is nie om minder van jouself te dink nie; dit is om minder áán jousélf te dink.”