Laerskool Jan van Riebeeck het op 31 Januarie 1921 in Kaapstad tot stand gekom en is die oudste en een van die bekendste Afrikaansmedium-laerskole in die Wes-Kaap.

As tuiste vir die skooltjie is ‘n gebou aangrensend tot Rosmeadstraat in twee klaskamers omskep. Dit was tot in daardie stadium ‘n stal. Op die eerste dag het 23 leerlinge, seuns en meisies, hulle hier ingeskryf, en die volgende dag nog een. Die medium van onderrig was Afrikaans en die skool het tot graad ses gestrek. Die eerste hoof was mej. Tiba le Roux, wat die hulp van nog ‘n onderwyser, mej. W. Seeliger, gehad het. ‘n Inspeksieverslag van dieselfde jaar meld: “The enrolment was small and did not justify the employment of two teachers but action will probably be unnecessary as the school ought to grow.” So het dit gebeur, want die volgende jaar was daar 36 inskrywings, twee jaar later 48 en drie jaar daarna, 160.

Huidige gebou

Die gebou langs die huis Rosmead het aan Vinestraat gegrens en so het dit die naam Vinestraat-Skool gekry. Die skool het so uitgebrei dat die “lugtige skoolkamers” spoedig te klein geraak het. In 1927 is ‘n nuwe gebou op die huidige terrein aan Kloofstraat gebou wat die vorige jaar uit die Vinestraat-Skool gegroei het. Op 15 Junie 1926 is op ‘n skoolraadsvergadering besluit om die skool te doop tot die Jan van Riebeeck Skool Kaapstad en dat die skool se kleure “oranje en groen met wit strepies vir afsitting” sal wees. By dieselfde geleentheid is tot die plegtige leuse “Wees uself” besluit. Twee jaar later is die kleure verander na oranje, wit en blou – die kleure van die Van Riebeeck-vlag, met oranje wat beskerming, wit reinheid en blou kalmte voorstel. Daar is ook tot ‘n skoolwapen met drie ringe besluit na aanleiding van die drie goue ringe teen ‘n rooi agtergrond op die volksplanter se wapen.

Skoolhoofde

Jan. 1921 – Des. 1921: Mej. T. le Roux (waarnemend)

Jan. 1922 – Des. 1934: Mej. G.H. de Waal

Jul. 1935 – Jun. 1960: Mnr. F.J. Retief

Jul. 1960 – Des. 1972: Mnr. J.H. du Preez

Jan. 1973 – Des. 1983: Mnr. F.J. Schreuder

Jan. 1984 – Des. 1993: Mnr. H. Bouwer

Jan. 1994 – Aug. 2020: Mnr. J.H. Oosthuizen

Aug. 2020 – Des. 2020: Marinda Brink (waarnemend)

Jan. 2021 tot op hede: Naas Beets

Pre-Primêr

Huppelland is in 1947 as die pre-primêre skool van Laerskool Jan van Riebeeck gevestig. Huppelland is in 2007 verskuif na die huidige skoolgebou in Varsityweg toe dit die vorige skoolgebou ontgroei het. Die pragtige nuwe pre-primêre skool is opgerig danksy ‘n kombinasie van skenkings en ouerdonasies. Huppelland huisves leerders vanaf 3- tot 6-jarige ouderdom en dien as voederskool vir Laerskool Jan van Riebeeck.