Welkom by Laerskool Jan van Riebeeck!

Die laerskool is die oudste Afrikaanse laerskool in die Kaap en het tans 476 leerders. Huppelland (200 leerders) en die Laerskool vorm ‘n eenheid wat saam fondse insamel, naskoolse geriewe en aktiwiteite bied en een bestuur deel. Ons professionele onderwysers het ‘n moderne benadering tot die oordra van kennis, lewensvaardighede, waardes en norme.

Die nuutste onderrigmetodes word toegepas in die opvoeding van alle leerders. Die skool bied Afrikaans as huistaal tot Gr. 7 aan. Engels as huistaal word aangebied vir Gr. 5 -7 leerders wie daarvoor kwalifiseer. Ruim voorsiening word gebied vir begaafde leerders asook leerderondersteuning.

Ons gee individuele musiekonderrig in verskeie instrumente, rig ‘n koor af, het ‘n goeie toegeruste biblioteek, gee kunsonderrig, beskik oor moderne rekenaargeriewe en gee professionele rekenaaronderrig.

Ons bied gereeld opvoedkundige uitstappies aan. Al ons leerders – nie net die uitblinkers nie – kry by die prysuitdeling erkenning vir hul besondere gawes.

Doelstelling

  • Om seker te maak dat elke leerder hom/haarself kan wees en die beste ondersteuning kry om hom/haar maksimaal voor te berei vir die volwasse lewe.
  • Om vir elke leerder die geleentheid te bied vir die optimale verwesenliking van sy/haar vermoëns en talente op al die terreine waarop die skool hom begeef.
  • Om aan elke leerder sekuriteit en geborgenheid te bied in die skoolgemeenskap en om die leerder te beskerm.
  • Om aan die leerders die beginsel van wedersydse respek en meegevoel te leer sodat hulle na mekaar se belange omsien in ‘n gees van samewerking en ondersteuning.
  • Om as skool en ouers in vennootskap saam te werk ten einde die beste aan elke leerder te bied.

Ons Waardes

Aan die begin van die tweede kwartaal 2016, het Laerskool Jan van Riebeeck omgeskakel na ‘n waardegedrewe skool. Die 3 pilare wat belangrik is vir die samestelling van die finale waardes was almal betrokke by die besluitnemingsproses nl. Onderwysers, Ouers en Leerders.

Onder leiding van van Dr. Jeanette De Klerk-Luttig, het die onderwysers ‘n volle dag gehad om te herkou aan die idee en daar is besluit op 4 waardes. Die ouers het ook ‘n vergadering gehad wat deur Dr. De Klerk-Luttig gefasiliteer het. Die waardes wat daar gekies is, het nogal heelwat ooreengestem met dié van die onderwysers. Die graad 7 – leerders is gebruik om te bepaal watter waardes hulle graag sou wou hê.

Aan die einde van die proses is daar besluit dat Laerskool Jan van Riebeeck die volgende waardes sal nastreef :

Respek
Eerlikheid
Verantwoordelikheid
Omgee

Hierdie waardes staan onder die sambreel van WEES JOUSELF. Ons erken en vier mekaar se uniekheid binne die raamwerk van die waardes wat uitgeleef word.

Daar is egter nie ‘n kitsresep om hierdie waardes ten volle te laat leef nie en daarom is daar besluit dat ons op een waarde per kwartaal sal fokus. Die waarde word dan weekliks in die saal bevorder sowel as in die klaskamers en op die sportterrein. Daar is ‘n oorkoepelende komitee wat die beplanning aan die begin van die kwartaal doen vir die kwartaal wat daarop volg.

Grondbeginsels van ons skool

  • die gebruik van Afrikaans as voertaal in ’n enkelmedium openbare skool;
  • die handhawing van akademiese uitnemendheid in ’n milieu waar klem geplaas word op die totale ontwikkeling en breë opvoeding van die kind;
  • die bestuur van die skool op ’n grondslag wat versoenbaar is met Christelike waardes, maar sonder dat die etos van die skool uitsluitlik op een geloof of denkwyse (ter uitsluiting van enige ander geloof of denkwyse) gegrond word, en waar geloofskwessies deurgaans sensitief hanteer word; iv. die bedryf van ’n inklusiewe en diverse gemeenskapskool met akkommodering van alle leerders en personeel wat hulle met bogenoemde kernwaardes vereenselwig.

Missie en Visie

Dit is ons doel om ons leerders se totale potensiaal as mense te herken, te ontgin en te ontwikkel. Ons fokus daarop om waardes en norme soos wedersydse respek en verdraagsaamheid te bevorder en poog om leerders deur kwaliteitonderrig in ’n georganiseerde milieu te begelei op hul pad van ontwikkeling tot afgeronde, verantwoordelike en selfstandige persone. Deur moedertaalonderrig in Afrikaans, streef ons daarna om ons leerders geestesweerbaar te maak en om hulle vaardighede en talente gebalanseerd te ontwikkel vir die eise van ons tyd.

MET BOGENOEMDE AS DOELSTELLING POOG ONS OM:

  • seker te maak dat elke leerder hom/haarself kan wees;
  • seker te maak dat die leerder die beste ondersteuning kry om hom/haar maksimaal voor te berei vir die volwasse lewe;
  • elke leerder die geleentheid te bied vir die optimale verwesenliking van sy/haar vermoëns en talente op al die terreine waarop die skool hom begeef;
  • elke leerder sekuriteit en geborgenheid te bied in die skoolgemeenskap en om die leerder te beskerm;
  • die leerders die beginsels van wedersydse respek en meegevoel te leer sodat hulle na mekaar se belange omsien in ’n gees van samewerking en ondersteuning;
  • as skool en ouers in vennootskap saam te werk ten einde die beste aan elke leerder te bied.

Dit is verder ons missie om die grootste mate van geluk vir almal wat by Laerskool Jan van Riebeeck betrokke is: leerders, onderwysers en ouers, te bied.

Ons beskik oor gehalte opvoeders en voldoende geriewe om leerders te lei in die ontwikkeling van hulle volle potensiaal.

Ons poog om vir ons leerders kwaliteitonderrig te bied binne ’n veilige milieu in vennootskap met die ouers, wat ’n integrale deel van die opvoedingspan vorm en om sodoende ons leerders te begelei om hul volle potensiaal te bereik en verantwoordelikheid te aanvaar vir hulle talente, regte en voorregte.

Skoollied

Waar Suidoos se spierwit pluime
oor ou Tafelberg afval,
en teen Vlaeberg se hange die
kanonskoot twaalfuur knal:

waar die see se blinkblou branders
teen ou Tafelbaai aanspoel,
staan ons skool, die Jan van
Riebeeck, met ‘n groot en edel doel.

Vas en stewig soos die berge is ons
moedertaal geplant,
liefde daarvoor sal ons uitdra oor
ons hele vaderland.

In ons werk en in ons lewe streef
ons al wat goed is na,
want ons skool sal van ons altyd net
die allerbeste vra.

Woorde: Alba Bouwer
Musiek: H. Pieter v.d. Westhuizen