So sluit ons die eerste kwartaal op ‘n hoë noot af met ‘n baie besige, maar opwindende week agter die rug. Die enigste demper van die opwinding was die verwoestende bergbrande teen Tafelberg. Dit was hartseer om te sien hoe die genadelose vlamme die pragtige fynbos hektaar vir hektaar verslind terwyl honderde brandbestryders en die rampbestuurpersoneel die vlammeoorlog probeer beveg. Ek is so trots op ons skoolgemeenskap wat d.m.v. die Karri-toep R7 625 geskenk het waarmee Razelle, Maricqe, Beulah, Elana en Sanna etes uit die kafeteria voorberei en aan die plaaslike brandweerstasie in Roelandstraat geneem het. Dit is ‘n toonbeeld van ‘n omgee skoolgemeenskap om hul opregte dankbaarheid teenoor die nooddienspersoneel te toon wat onverskrokke die brande oor die afgelope dae sonder rus trotseer het.

Ek is so bly ons het die afgelope Maandag die Grondslagfase se pretatletiekbyeenkoms deurgevoer. Die magtige Suidooster het hard probeer om ons planne by die Conradie-sportvelde in die wiele te ry. Dit was so lekker om te sien hoe ons jong atlete hul gate uit geniet het, salig onbewus van die dreigende brand- en rookgevaar asook dat van ons ouers hul huise as gevolg van die dreigende brande moes ontruim. Ons is baie dankbaar dat ons ouers en hul eiendom ongeskonde gebly het.

Dinsdagoggend, 20 April, het ons Gr. 4 – 7-leerders aan die tweede dag van die pretatletiekbyeenkoms by die hoërskoolvelde deelgeneem. Die rook van die smeulende brande het sy uitdagings tydens die aanvang van die dag gebring, maar Jannies en die personeel laat hulle nie sommer onderkry nie. Gelukkig het die rook vinnig weggetrek en die dag het in ‘n pragtige sonkyndag getransformeer, waar ‘uitgehongerde’ leerders vir sportdeelname, in hul massas deelgeneem het. Die “sing songs” van die verskillende kleurgroepe het almal in ‘n vrolike luim gekry en die atlete die volle byeenkoms gemotiveer om hul beste te gee. Baie dankie aan al ons leerders wat ‘n skoon en netjiese pawiljoen agtergelaat het, ek is so trots op julle!

Baie dankie aan Ben, Helecia en Estelle wat Woensdagoggend vir ons Gr. 1-3-musiekleerders ‘n pragtige interne musiekkonsert gereël het. Dit was ‘n voorreg om ons Jannies se besondere musiektalent te aanskou, te bewonder en te geniet. Tydens die uitdeel van musiektalente, het ek die spreekwoordelike heel laaste in die ry gestaan, ek wens ek kon ‘n musiekinstrument bemeester soos wat ons musiekleerders doen.

Groot opgewondenheid het ook gister in die vierkant geheers met die kwartaalikse markdag. Ons leerders het soos ervare entrepreneurs hul produkte uitgestal, luideliks bemarking gedoen en verkoop aan menigte gewillige kopers. Ek het dit gewaag om tussen al die stalletjies rond te beweeg, net om te sien wat daar te koop is. Natuurlik het ek hopeloos te min kontant by my gehad, want elke verkoper het verwag dat die skoolhoof hulle ten minste sal ondersteun. Ons leerders het baie pret gehad met die mees interessante produkte wat te koop was.

Graag wil ek ook ‘n kort huldeblyk aan een van ons voormalige skoolhoofde, mnr. Francois Schreuder, lewer wat op Saterdag, 17 April, na ‘n lang siekbed afgesterf het. Mnr. Schreuder was skoolhoof vanaf 1973 – 1983 en was instrumenteel tot die sukses van ons skool. Hy het diep spore by JvR en onderwys in die algemeen getrap. Mnr. Schreuder het onder andere die swembad en tennisbane by ons skool laat aanlê. Hy het hoë aansien en respek by ander skoolhoofde afgedwing. Hy was beskou as baie beleefd en was uiters deursigtig teenoor leerders, personeel en ouers.

Mnr. Schreuder het ook op die sportveld presteer deur onder andere vir Boland, Griekwas en WP rugby te speel. Hy het ook kultuur by ons skool gemotiveer deur nou betrokke by die Kaapse Eisteddfod te wees en deelname daaraan sterk onder leerders aangemoedig. Ons dink met heimwee en waardering aan hom, hy was ‘n merkwaardige onderwysleier en mag sy nagedagtenis lank bly voortleef. Ons innige meegevoel aan sy vrou, Barbara, en die kinders. Ons beplan om binnekort ‘n meer volledige huldeblyk aan hom te skenk.

Vandag ontvang die leerders ook hul rapporte wat hul akademiese vordering vir die eerste kwartaal sal weerspieël. Baie geluk aan al die leerders met jul puik akademiese prestasies. Julle maak ons en jul ouers baie trots. Gun my dan ook die geleentheid om die personeel van ons skool en Huppelland hartlik te bedank vir hul harde werk en toegewydheid. Ons is baie geseënd met puik personeel wat nie net hard werk nie, maar werklik omgee vir die leerders. Baie dankie ook aan ons nuwe beheerraad onder leiding van Merwe wat kosbare tyd afstaan om te verseker dat JvR van krag-tot-krag gaan!

Ek wens vir al ons leerders, personeel, ouers en voogde ‘n welverdiende vakansie toe. Dit was ‘n lang kwartaal, lekker rus en indien julle reis, reis veilig en ek kan nie wag om julle almal weer op Maandag, 3 Mei, terug by die skool te verwelkom nie.