Terwyl Mei-maand einde se kant toe staan, is Moeder natuur hard aan die werk om die heerlike herfsweer stadig maar seker aan die genade van die winter oor te laat. Ons is so geseënd met die goeie reën die afgelope tyd en moontlik het ons gou vergeet dat ons pragtige moederstad aan die einde van Februarie 2018 ‘n baie ernstige waterkrisis beleef het en amper die gevreesde ‘’Dag Zero’’ bereik het.

Wie sou kon voorspel dat na afloop van die waterkrisis in Kaapstad en die beplande beurtkrag van ESKOM ons nog ‘n krisis in die gesig sou staar met die Covid-19 pandemie wat ons daaglikse bestaan en werkswyse drasties verander. Alles wat vanselfsprekend is, het in ‘n oogwink verander. Met die 3de vlaag van Covid-19 wat haas onafwendbaar is, wil ek vir julle die versekering gee dat ons alles in ons vermoë sal doen om die veiligheid van die leerders en die skoolgemeenskap te verseker. Nuwe regulasies het ons as skool reeds die afgelope week genoodsaak om die formaat van sportoefeninge te verander asook dat kooroefeninge vanaf 24 Mei slegs in graadverband sal geskied. Ons sal dan weekliks die sport- en kooroefeninge bestuur afhangend van die erns van die 3de Covid-vlaag. Dit is vir ons belangrik dat ons leerders so lank as moontlik aktief bly en met aangepaste sport- en kultuuraktiwiteite voortgaan totdat die erns van die pandemie vir ons anders wys. Die musiekkonsert van Woensdagaand, 26 Mei, is ook vir eers uitgestel tot latere kennisgewing. Ek is van mening dat indien ons met die konsert Woensdagaand sou voortgaan, dit beslis die verkeerde boodskap na buite sou stuur.

Die pandemie het nie net ‘n vernietigende impak op die ekonomie nie, maar lei tot lewensverlies. Die onlangse afsterwe van die bekende akteur, Ben Kruger, het my opnuut weer laat besef die geweldige emosionele skade van kommer, angs, hartseer en om dan nie eers van die onsekerheid van hoe lank ons nog gebukkend onder die die virus se impak sal wees, te praat nie. Graag versoek ek julle om ook gereeld met jul kinders te gesels oor hul ervaring van die pandemie. Hou asseblief hul gemoed dop, want soveel reëls en regulasie maak net eenvoudig nie sin nie. Die enigste normaal wat hulle nou ken, is verandering. Daarom doen ek ‘n ernstige beroep op die skoolgemeenskap dat ons positief sal bly en nie sal toelaat dat die 3de vlaag ons vrese sal verteenwoordig nie, maar eerder ons vermoë om nog ‘n krisis te oorwin.

Graag sluit ek af met die volgende aanhaling: “Staying positive does not mean that things will turn out okay. Rather it is knowing that you will be okay no matter how things turn out.”