Kan julle glo Junie-maand se raklewe is amper verstreke; die helfte van die jaar het verby gesnel! Die afgelope week het die res van die grade ook met eksamen / assesserings begin en sover verloop alles klopdisselboom.

Ons skoolgemeenskap se grootste uitdaging tans is die vinnige verspreiding van Covid-19 infeksies onder ons ouers en leerders. Ons het die afgelope tyd heelwat navrae ontvang rakende die protokol vir isolasie na Covid-19 blootstelling. Daarom het ek met die hulp van dr. Barbara Kemp op Woensdag, 23 Junie 2021, vir julle ‘n brief gestuur waarin ons almal vriendelik versoek om die voorgestelde isolasie-riglyne te volg sodat ons kan verseker dat ons leerders skool toe kan kom. Ek wil beslis nie voorskriftelik wees rakende jul sosiale lewe nie, maar laat my ook toe om julle te versoek om dit ernstig te oorweeg om liewer kinderpartytjies / verjaarsdagpartytjies / as gesinne saam te kuier moontlik uit te stel totdat die 3de vlaag van die pandemie onder beheer is. Baie dankie dat julle verstaan en die veiligheid van ons skoolgemeenskap eerste stel! Verder heers daar tans groot opwinding onder die personeel aangesien die WKOD se Covid-19 inentingsprogram gister afgeskop het en ses van ons personeellede gister suksesvol ingeënt is. Soos ek in my vorige nuusbrief genoem het, is daar lig aan die einde van die pandemie-tonnel m.a.w. daar is hoop!

Op Woensdagmiddag, 23 Junie, was ons onderwysers bevoorreg om na ‘n motiveringspraatjie van dr. Gillian Arendse, ‘n bekende gasspreker, motiveringspreker, mentor en tutor te luister. Dr. Arendse het die ongelooflike vermoë om tydens uitdagende tye soos ons tans met die 3de vlaag van die Covid-19 beleef, dinge weer vir ons as onderwyskorps in perspektief te plaas. Tydens die sessie het hy ons so geïnspireer dat al was jy met die aanvang van sy praatjie op moedverloor se vlakte, sou jy na die afloop van die sessie nie eers toelaat dat Berg Everest in jou pad staan nie. Hierdie talentvolle kernfisikus het ons gou die volgende laat besef en graag deel ek dit met julle:

  • Wees altyd dankbaar- dit is nie geluk wat ons dankbaar maak nie, maar dankbaarheid wat ons gelukkig maak.
  • Jou lewe is die resultaat van jou keuses, as jy nie daarvan hou nie is dit tyd om beter keuses te maak.
  • Geluk en motivering kom van binne – dit is ‘n keuse en daarom kan jy nie ander blameer nie.
  • ‘n Mens gebruik dieselfde hoeveelheid energie om jouself gelukkig of misrabel te maak.
  • Wees die verandering wat jy graag wens om in die wêreld te sien.
  • Middelmatigheid is voorspoed se grootste vyand en dit is onsigbaar totdat passie opdaag en dit blootstel.
  • Leierskap is ‘n aksie en nie ‘n posisie nie.
  • As iets jou nie uitdaag nie, sal dit jou nie verander nie.

Graag deel ek voorlopig met julle ‘n bietjie opwindende nuus in verband met die beoogde opgradering van die seuns- en dogtersbadkamers. Laat my ook toe om Stephanie le Roux en Ria Hertzog hartlik te bedank wat so instrumenteel is om fondse vir die projek in te samel. Ons is julle twee baie dank verskuldig. Meer inligting rakende die projek sal in my volgende nuusbrief volg.

Baie dankie aan Hoërskool Jan van Riebeeck wat vir elkeen van ons Graad 7’s ‘n pragtige skryfpen kom oorhandig het om vir hulle spesiaal sterkte met die eksamen toe te wens, ons het groot waardering!

Mag julle ‘n wonderlike naweek geniet, wees asseblief veilig. Graag sluit ek af met die volgende aanhaling van Zig Zagler: “You don’t have to be great to start, but you have to start to be great”.