Ek hoop regtig en vertrou dat dit met julle en julle gesinne goed gaan en dat almal veilig is, veral met die uitbreek van die 3de vlaag van die Covid-19 pandemie in ons ikoniese moederstad. Gister se statistieke toon dat daar 64 infeksies per 100 000 Suid-Afrikaners die laaste 7 dae plaasgevind het. Ons land se infeksiesyfers soos op 10 Junie staan op 1, 712 939 en 57 310 Suid-Afrikaners is sedert die begin van die pandemie oorlede.

Die vraag is: “Is daar rede tot kommer?”. Alhoewel daar ‘n toename in die aantal infeksies is, glo ek dat indien ons waaksaam bly en die nodige Covid-19 protokol eerbiedig ons binnekort hierdie aanslag ook sal oorwin. Verskeie van ons gesinne is die afgelope week erg geraak waar van die gesinslede positief vir die virus getoets is en hulle is in isolasie van 10 dae geplaas. Wees verseker dat indien leerders as gevolg van siekte nie skool kan bywoon nie, ons nog steeds ons leerders akademies sal ondersteun. Julle hoef glad nie bekommerd te wees in terme van assesserings nie; ons sal beslis ‘n plan maak! Graag wil ek julle as ouers bedank dat julle die skool se Covid-19 protokol eerbiedig deur nie jul kinders skool toe te stuur wanneer ‘n gesinslid siek is of as ‘n lid vir ‘n Covid-toets gaan. Baie dankie dat julle verstaan dat dit moeilik is om te onderskei tussen verkoue/griep-simptome en dié van Covid-19. Ons probeer almal se belange op die hart dra en ek verstaan dat dit logistiese uitdagings vir werkende ouers bied as kinders by die huis moet bly indien hulle verkoue of griep onderlede het.

Op ‘n meer positiewe noot: Verlede Vrydag het ons leerders en personeel ‘’funky’’ sokkies gedra om spesifiek hulde te bring aan alle gesondheidspersoneel dwarsoor ons pragtige land wat in die voorste linies baklei om Suid-Afrikaners se lewens te beskerm teen die aanslag van die pandemie. Ons leerders het baie “cool” gelyk en in die proses spesiale erkenning aan gesondheidswerkers gegee.

Cape Argus is tans besig met ‘n spesiale boekinsamelingsprojek vir minderbevoorregte kinders van die ‘’Home of Hope’’. Ek het gisteroggend die voorreg gehad om Rehana Rutii, wat die opvoedkundige projek lei, te ontmoet. Ek wil graag hê dat ons as skool saam met Laerskool Milnerton by hierdie projek betrokke moet raak. Ek wil graag ‘n versoek rig om indien daar Afrikaanse en/of Engelse leesboeke (ouderdomgepas 4 – 11 jaar) by die huis rondlê, vir hierdie projek te skenk. Die boeke kan sommer direk na ons skool se biblioteek geneem word. Hierdie is ‘n wonderlke geleentheid om uit te reik en instrumenteel te wees om die sosiale en opvoedkundige probleme in behoeftige areas aan te spreek.

Dit laat my weer onwillekeurig dink dat ons dikwels vergeet om dankbaar te wees vir soveel voorregte in ons lewens wat ons daagliks as vanselfsprekend aanvaar. Navorsing toon dat mense wat dankbaar is meer opgeruimd is, beter verhoudinge koester en minder gespanne is. Ek sluit dus af met die volgende anonieme aanhaling: “Wie elke sonstraal met dankbaarheid geniet, sal ook die in die skaduwee kan oorleef.”