Ek kan nie glo hoe vinnig die eerste week van die nuwe kwartaal verby gesnel het nie. Ek hoop en vertrou julle het ‘n wonderlike Moedersdag op Sondag, 9 Mei, saam met jul familie en / of gesin geniet. Mag ons nooit die belangrike rol wat moeders vertolk, vergeet nie. Ek glo moeders is die gom wat alle huishoudings bymekaar hou; moeders is die kompas wat die gesinne se kernwaardes op koers hou. Baie dankie dat julle aan die waardes bou, want dit skep geborgenheid en standvastigheid vir ons kinders.

Op Donderdag, 6 Mei, het ons Trust ‘n baie suksesvolle kleiduifskietdag by die ‘’Gun Valley Clay Target Club’’ aangebied. Kleiduifskietery behels klein (oranje) teikens wat deur die lug geskiet word om voëljag te stimuleer. 65 Persone waarvan die meeste aspirante skutte was, het aan die gewilde dag deelgeneem. Ons hoofborg vir die dag was Safari Outdoor. Baie dankie aan Stephanie le Roux, Ria Hertzog en LJ le Roux wat hard agter die skerms gewerk het om die unieke geleentheid moontlik te maak. Dankie ook aan Pieter Janse van Vuuren wat met soveel entoesiasme betrokke was. Die dag is afgesluit met ‘n klein, intieme veiling waartydens R141 000 onder die bekwame leiding van ons uitstekende afslaer, MC du Toit (ouer by Huppelland), ten bate van welwillenheid ingesamel is. Ek wil graag soos tydens my toespraak ons ouers hartlik bedank vir die feit dat hul beursies vir welwillendheid wawyd oop staan. Gelde geïn gaan direk aangewend word om twee gebalanseerde etes per dag vanuit die snoepie aan ons behoeftige leerders te voorsien. Ek het self die voorreg gehad om ook deel te neem en vinnig besef hierdie sport vereis ‘n ander vaardigheid as om bloot statiese teikens raak te skiet. Die ‘kleiduiwe’ vlieg vrek vinnig in verskillende rigtings en ek moet bieg ‘n mens ervaar emosies soos geen ander en kan ek verstaan dat dit ‘n baie self-verslawende sport kan word. Dit was lekker om te sien dat heelwat van ons mammas ook deelgeneem het en in die proses die meeste van ons pappas op hul neuse laat kyk het. Baie geluk aan Coreen Scholtz wat as die beste dames skut aangewys is.

Gisteroggend het ons die skooldag met ‘n kort vrywillige saalbyeenkoms begin om Hemelvaart te vier. Hemelvaartsdag val altyd op die 40ste dag gereken vanaf die eerste Paasdag. Op Hemelvaartsdag vier Christene wêreldwyd dat Jesus na Sy kruisiging en opstanding in die hemel opgevaar het en alomteenwoordig deur Sy gees is. Ons wens ons Christen-gemeenskap ‘n geseënde Pinkster toe.

Graag wil ons ook ons Moslem-ouers en breër Moslem-gemeenskap wat vandag die einde van Ramadan vier, ‘n geseënde dag van Eid Mubarak toewens. Mag julle as gesinne en/of families hierdie spesiale dag geniet.

Graag sluit ek af met hemelvaart, Ramadan en ons waarde vir die maand ingedagte met die volgende aanhaling: “Jy sal niks verloor deur nederig te wees nie, want ‘n nederige persoon wen die harte van mense.”