Die Laerskool Jan van Riebeeck Opvoedingstrust is in 2009 gestig as ’n trust sonder winsoogmerk tot voordeel van die Laerskool. Oor die jare is daar heelwat skenkings aan die trust gemaak en fondse is onder andere aangewend om die Huppelland fasiliteit te help staanmaak, nuwe bussies vir die skool aan te koop, die skool te restoureer, om by te staan met die kontantvloei van die skool in tye waar dit druk gegaan het en vele ander projekte.

Die huidige trustees is Merwe Scholtz, LJ le Roux, Cobus Loubser en Izelle Venter.

Die trust ondersteun uitsluitlik die Laerskool en deel doelbewus identiese waardes:

  • die gebruik van Afrikaans as voertaal in ‘n uitsluitlik enkelmedium openbare skool;
  • die onderneem van die bestuur van die skool op ‘n grondslag versoenbaar met Christelike waardes, met dien verstande dat die etos van die skool nie uitsluitlik op een geloof of denkwyse (ter uitsluiting van enige ander geloof of denkwyse) gegrond word nie, en dat geloofskwessies terselfdertyd sensitief sonder diskriminerende uitsluiting hanteer word;
  • die handhawing van akademiese uitnemendheid in ‘n milieu waar klem geplaas word op die totale ontwikkeling en breë opvoeding van die kind;
  • die bedryf/handhawing van ’n inklusiewe gemeenskapskool met akkommodering van alle leerders wat hulle met bogenoemde kernwaardes vereenselwig.

Vanaf 2017 word die jaarlikse veilingopbrengs aan die trust bewillig, juis sodat daar verseker word dat die fondse so ingesamel nie aangewend word vir die dag tot dag behoeftes van die skool nie, maar vir die verbetering van die skool en sy kurrikulum. Daar is dan ook ‘n ooreenkoms dat minstens 50% van die fondse in die daaropvolgende jaar spandeer sal word. Die balans akkumuleer tot voordeel van groter kapitaalprojekte en langer termyn beplanning van die skool. Prioriteite word in oorlegpleging met die beheerliggaam bepaal.

Enkele voorbeelde van onlangse projekte:

  1. ‘n Nuwe 35-sitplek Isuzu bus, “Steyntjie”, is aangekoop
  2. Leerderbeurse is toegeken onder ‘n diversiteitsprogram vir leerders in die Laerskool
  3. Opknap van badkamers, verhoog, snoepie-area en teel van gange
  4. Verhitting van swembad
  5. Tennisbaanoppervlaktes
  6. Boorgate

Die trust, in oorlegpleging met die beheerliggaam, is in proses met ‘n 5-jaar plan om projekte vir uitnemendheid te prioritiseer. So oorweeg ons tans onder andere die sportfasiliteite, algemene toestand van die terrein, voldoende onderrigkamers vir ‘n breë akademiese aanbieding (onder meer Engels Huistaal as keusevak) en behuising vir onderrigpersoneel. As deel van hierdie projek sal ons die insae van die ouers en onderwysers van die skool vra.

Ter afsluiting: Die trust se doel is ’n nog beter Laerskool Jan van Riebeeck tot voordeel van al ons kinders.

Vir enige verdere navrae (of donasies), kontak asb. vir Merwe Scholtz: mscholtz@genfin.co.za