Kategorie: Algemeen
Ek glo almal het ‘n heerlike Paasnaweek geniet en in die proses sommer ook lekker gerus en kwaliteit tyd saam met jul gesinne spandeer. ‘n Langnaweek is altyd ‘n lekker meevallertjie om die spreekwoordelike batterye ten volle te herlaai en ‘dinge’ te doen waarvoor ‘n mens normaalweg nie tyd voor kry nie. Die goeie nuus is dat daar binnekort nog ‘n langnaweek voorlê, maar of die Suid-Afrikaanse ekonomie dit op die stadium van die geveg nog verwelkom, is ‘n ander vraag.
Volgende week op 27 April 2022 vier ons Vryheidsdag. Hierdie openbare vakansiedag word jaarliks op 27 April herdenk ter herinnering aan ons pragtige land se eerste demokratiese nie-rassige verkiesing wat in 1994 plaasgevind het. Ons vier dus ons land se demokrasie op die spesiale dag. Baie gesinne braai dalk op die dag, ander vier dit met kunste en feeste. Sommige besoek interessante plekke wat die stryd teen demokrasie in Suid-Afrika eer, byvoorbeeld die besoek aan Robbeneiland, waar die ikoon Nelson Mandela gevange gehou was. Hoe ook al jy Vryheidsdag gaan vier, kom ons daag mekaar uit tot gemeenskaplike lojailteit teenoor ons land. Kom ons reik meer uit, gee meer om, het meer empatie en wees meer dankbaar. So dikwels is dit net lippetaal, maar ons vergeet dat die mag om dit te kan verander binne ons vermoë lê om ‘n verskil in mense se lewens te maak.
Op Donderdag, 21 April, het ons eerste hokkie-ligawedstryde vir die kwartaal plaasgevind en op Maandag, 25 April, vind die eerste liga-wedsryde vir netbal plaas. Ons wag nog egter vir die WP Rugby Unie om vir ons die rugbywedstryde se datumlys vir hierdie kwartaal te voorsien. Die jaarlikse kleiduif-skietkompetisie het ook op Donderdag, 21 April 2022, by die Valley Gun Club te Agter Paarl plaasgevind. Baie dankie aan ons hoofborg, naamlik Safari Outdoor (LJ le Roux), wat die dag moontlik maak. Graag wil ek vir Stephanie le Roux en Ria Hertzog hartlik bedank wat die gesogte dag reël. Reëlings was puik en die deelnemers het hul gate uit geniet. Sommige van ons het gou besef dat hierdie sportkode spesiale vaardighede en vernuf vereis wat jy nie sommer oornag kan aanleer nie.

Graag herinner ek julle aan môre se Kaperjolle wat vanaf 12:00 by die skool plaasvind. Kom ondersteun asseblief die pretdag met baie aktiwiteite vir kinders en smaaklike lekkernye om aan te smul. Hierdie fondsinsamelingsprojek word deur Ria Hertzog en haar OOV-span gereël en dit bied ons skoolgemeenskap ‘n ideale geleentheid om sommer lekker saam te kuier. Covid-19 het ons vir so lank van heerlike samesyn beroof.
Ek sluit dan af met die volgende bekende aanhaling van Allanah Hunt rakende ons kernwaarde van die kwartaal, naamlik verantwoordelikheid:
“It is only when you take responsibility of your life, that you discover how powerful you are.”
Geniet ‘n wonderlike naweek en sien julle môre by die gewilde Kaperjolle.
Naas Beets
SKOOLHOOF
Die einde van die akademiese week bring ons by die begin van ‘n hele klompie opeenvolgende langnaweke wat ‘n heerlike meevallertjie is. Natuurlik is die komende langnaweek, Paasnaweek, en die afgelope weke het ons honderde paaseiers ingesamel wat ons aan die Lions Gemeenskapsorganisasie geskenk het om ‘n klein verskilletjie in die lewens van behoeftige kinders te maak. Net as jy gewonder het waar die gebruik van paaseiers vandaan kom, haal ek graag die volgende aan:
Paaseiers het ‘n baie lang geskiedenis en die gebruik het reeds voor die geboorte van Jesus begin. Eiers was nog altyd gesien as die simbool van ‘n nuwe lewe. Soos wat die Christendom versprei en gegroei het, is die eier al meer gesien as ‘n teken van Jesus se opstanding uit die graf. Die gebruik om eiers van sjokolade te maak, het in die 19e eeu in Frankryk en Duitsland begin. Die eerste sjokolade-eiers wat op groot skaal gemaak is, was deur Cadbury’s in Engeland. Gebruik gerus ‘n hol (leë) paaseier om vir jou kind te leer dat die graf leeg was, soos wat die eier binne leeg is, en dat Jesus lewe.
Die week het ons ook amptelik afgeskop met die wintersportprogram. Verlede Vrydag het ons o/13-hokkiespanne (seuns en dogters) aan ‘n toernooi te Laerskool Van Riebeeckstrand deelgeneem. Alhoewel die uitslae nie na wense was nie, het ons spelers dit vreeslik geniet. Op Saterdag, 9 April 2022, het ons o/10-netbalspan aan ‘n o/10-toernooi te Laerskool Durbanville deelgeneem. Ons dogters het die toernooi puik afgeskop en die eerste wedstryd teen Laerskool Vredekloof met ‘n telling van 13 -1 te wen. Die o/10-span het verder op die dag puik gevaar deur 3 van hul 4 wedstryde te wen. Baie geluk aan die spelers en die afrigters, naamlik Juffrouens Bibi en Suné wat hulle vergesel het.

Verder skop ons die week af met ‘n opwindende besoek deur Ivan Botha, bekende akteur, regisseur en skrywer op Maandag, 11 April. Hy het ‘n spesiale aanbieding vir die Graad 7’s in die saal gelewer wat hoofsaaklik oor Afrikaans en Drama gehandel het. Ivan is ook ‘n ouer by ons en het soveel moeite gedoen om vir die Graad 7’s te verduidelik wat die vermaakliksheidsbedryf behels asook die loopbaanmoontlikhede daaraan verbonde. Hy is ook ‘n groot voorstaander van lees en het ook hierdie spesifieke passie met hulle gedeel. Baie dankie, Ivan, vir jou kosbare tyd en die besonderse wyse van jou aanbieding om dit vir die Graad 7‘s interessant en relevant te maak. Baie dankie, Marinda, vir die wonderlike inisiatief en reëlings. Op hierdie manier streef ons daarna om akademie te verryk en word vakke graag geïntegreer om ‘n puik geleentheid vir leer te skep.

Week 2 sluit dan verder nog kultuuraktiwiteite in met die interne redenaarskompetisie vir Gr.2 – 7-leerders wat vanaf 11 – 13 April geskied het. Ons leerders is so talentvol en praat met die grootste gemak voor die gehoor om hul standpunt met verskeie argumente suksesvol te verdedig. Ek is nog steeds stom geslaan met ons leerders se puik redenaarsvermoë, die selfvertroue en die spitsvondigheid. Hou so vol! Ons is baie trots op julle en baie dankie, Juffrou Andri, vir die puik reëlings hieraan verbonde.

Graag wil ek ook vir Marc Jooste (Gr.1-ouer en argitek) wat my help met ‘n estetiese projek om die ingang van die skool (voorkant/voorportaal van die saal), langs die nasorg wat toegang gee tot die snoepie en saal te verfraai. Die beoogde kostes beloop ongeveer R60 000 en indien jy as ouer/voog ‘n finansiële bydrae tot die projek wil maak, kontak my gerus per e-pos (skoolhoof@jvrprim.co.za), by voorbaat dankie. Ons is baie trots op ons pragtige en historiese skoolgebou, maar vergeet dikwels dat dit 100 + 1 jaar oud is, wat dus gereelde onderhoud en opgradering vereis.
Ek sluit dan af met die volgende inligting rakende die Paasnaweek:
“Paasfees is een van die belangrikste gelowige feeste in die Christelike kerklike jaar. In die Christelike geloof vier dit die opstanding van Jesus Christus wat op die derde dag na Sy kruisiging uit die dood opgestaan het. Op hierdie grootste van Christenfeeste, vind daar verskeie oorlewerings van antieke seremonies plaas. Paasfees, die paashaas en paaseiers is eeue ouer as die Christendom oor na jou hart.”
Geniet ‘n wonderlike en geseënde Paasnaweek en indien julle reis, wees asseblief veilig.
Naas Beets
SKOOLHOOF
Hierdie kwartaal behandel ons die waarde Verantwoordelikheid en die kleur is groen.
Die simbool vir Verantwoordelikheid is ‘n spekboom.
Ons fokus op drie afdelings:
- Ek is verantwoordelik vir my skoolwerk (myself)
- Ek is verantwoordelik vir sekere take by die huis
- Ek/ons is verantwoordelik vir die aarde/my omgewing

Sien hier onder die proses wat met verlore goedere by die skool gevolg word. Die skool kan ongelukkig nie vir swak-, verkeerdelik of ongemerkte items verantwoordelik gehou word nie. Ons poog wel om gemerkte verlore goedere, so spoedig moontlik aan hul eienaars terug te besorg.
Proses:
- In die eerste periode op ‘n Woensdag en Donderdag word gemerkte verlore items (wat op die tafel beland het) aan leerders terugbesorg.
- Alle items wat nie gemerk is nie, word in die kaste gepak.
- Aan die einde van die kwartaal, word alle swak / verkeerdelik gemerkte / ongemerkte items wat in die kaste is, by die verlore goedere-uitstalling beskikbaar gestel.
- Alle items wat nie op die dag van die uitstalling geëis word nie, word geskenk.
Ongelukkig hoop verlore goedere vanaf Donderdagoggende na Woensdagoggende op. Indien die verlore item nie in die kaste of op die verlore goedere tafel is nie, is ouers welkom om ‘n e-pos na biblioteek@jvrprim.co.za te stuur.
Op Dinsdag, 5 April, het alle publieke skole in die Wes-Kaap hul deure vir kwartaal 2 heropen. Ek het die wonderlike voorreg gehad om al die leerders die oggend om 07:45 in die saal by die skool te verwelkom en ‘n boodskap oor die kernwaarde vir kwartaal 2 naamlik verantwoordelikheid met hulle te deel asook om vir hulle ‘n wonderlike en voorspoedige kwartaal toe te wens.
Dit is werklik ‘n riem onder die hart om te sien en te ervaar dat ons leerders skool gemis het en hulle werklik bly is om terug te wees, want hulle geniet die skool in al sy fasette. Hulle kon nie wag om die wonderlike vakansie-ervarings met my en hul opvoeders te deel nie. Die graad 7’s het vanaf 29 Maart tot 3 April tydens die jaarlikse Maart/April-vakansie op die Oranjerivier roeitoer gegaan en hulle kan nie ophou praat oor die fantasiese en leersame ervaring saam met hul ouers nie. Dit gee ook die geleentheid vir ouers om mekaar beter te leer ken. Ek doen ‘n beroep op al die huidige Graad 6-ouers om dit ernstig te oorweeg om in 2023 vir die onvergeetlike ekskursie saam met jou kind/ers in te skryf.
Kwartaal 2 is ook die begin van die wintersport en ons kan nie wag om aan wedstryde en toernooie deel te neem nie. Ons wag vir die onderskeie WP Unies om die wintersport datumlyste beskikbaar te stel. Sportdae en toernooie is reeds op die skoolkalender geplaas. Graag verwelkom ons die afkondiging van President Ramaphosa dat die Covid-19 siftingproses vir eers opgehef is en dat maskers slegs binnenshuis gedra moet word. Hopelik is die dra van maskers ook binnekort iets van die verlede.
Kwartaal 2 word ook tradisoneel gekenmerk met ‘n assesseringstydperk vir graad R – 3 en ‘n eksamen vir graad 4 – 7. Wees verseker dat ons voorsiening tref om ons leerders behoorlik vir die assesserings en eksamens voor te berei. Ons opvoeders is gereed om die ekstra myl te loop om ons Jannies betyds toe te rus, ‘n kalm en rustige leeromgewing te skep om die spreekwoordelike ‘eksamen-bul’ by die horings te pak. Die afgelope week (6 & 7 April) het julle ook die geleentheid gekry om ‘n afspraak met jou kind/ers se opvoeder tydens die belangrike ouerafsprake te maak. Graag wil ek julle as ouers/voogde bedank wat so getrou die ouerafsprake bygewoon het. Verder wil ek julle asseblief uitnooi om aktief by jul kind/ers se akademie betrokke te bly deur gereeld deur hul werkboeke te blaai en gereelde kontak met die spesifieke klasopvoeder te behou. Leerders se leer en onderrig is ‘n spanpoging en kollektief wil ons saam met julle jul kinders se potensiaal maksimaal ontgin.
Kwartaal 2 sluit dan ook twee belangrike fondsinsamelingsprojekte in naamlik die Veiling op Saterdag, 4 Junie, en die Kaperjolle op Saterdag, 23 April. By voorbaat baie dankie vir die ondersteuning en groot dankie aan Coreen Scholtz en Esna Boshoff wat vir ons die veiling hanteer asook Ria Hertzog en die OOV wat die Kaperjolle hanteer. Verder geskied die kleiduif-kompetisie op Donderdag, 21 April 2022, en baie dankie aan Stephanie le Roux en Ria Hertzog wat dit reël. Ons sien almal uit na die opwindende geleenthede!
Ek sluit dan af met die volgende aanhaling rakende verantwoordelikheid:
“Jy alleen is in beheer van jou eie geluk. Geen mens op die aarde kan daarvoor verantwoordelik gehou word nie. Geluk en tevredenheid begin in jou gedagtes en spoel oor na jou hart.”
Geniet ‘n wonderlike naweek. Sterkte aan ons o/13-hokkiespelers wat vandag aan ‘n toernooi te Laerskool Van Riebeeckstrand deelneem asook die o/10-netbalspan wat môre te Laerskool Durbanville deelneem.
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Beste Ouers/Voogde
Met die einde van 2021 se dolheid, het ons nooit die strategiese vraelys se opsomming aan julle kommunikeer nie. Baie dankie vir julle deelname – dit is lekker om sulke gemoedelike en oop kommunikasie met ouers te hê.
Hier is dit nou: Ons is vreeslik bly om te kan sê ons kinders is steeds gelukkig in die skool en dat ons ouers veral tevrede was met hoe die pandemie hanteer is. Dit is veral verblydend dat ouers nie bekommerd is oor hul kinders se akademiese vordering nie – ten spyte van die pandemie.
Daar is egter ‘n paar kwessies wat die skoolbestuur se aandag getrek het en waaraan die skoolbestuur reeds aandag gee:
- Die skoolroosterkompleksiteite verhoed dat daar meer tyd gewy kan word aan isiXhosa – nietemin gaan ‘n nuwe aksieplan geloods word. Ander vakke soos kodering, kuns en drama word ook afgeskeep – dit word ook in ag geneem.
- Diversiteit en geloofsblootstelling aan ander gelowe is volgens heelwat ouers problematies. Ten spyte van goeie vordering wat meer diverse personeel-aanstellings betref, het die pandemie ander inisiatiewe gekortwiek. Daar is planne vir die komende jaar en ouers wat by sulke inisiatiewe betrokke wil raak, moet asseblief hul hand opsteek om deel te word van die diversiteitskomitee – kommunikasie sal eersdaags via die nuusbrief versprei word. Tegelykertyd is ons vrywillige en buite-skoolure groep Jannies vir Jesus weer volstoom aan die gang.
- Ouers het aangedui dat kommunikasie rondom nie-akademiese probleme soms moeilik is. Registeronderwysers bly die eerste kontakpunt. As jy steeds nie tevrede is nie, kontak asseblief ons skoolhoof Naas Beets.
- Sommige ouers blyk verward te wees rondom presies watter aktiwiteite die skool aanbied. Alles is in die ouerhandleiding, die nuusbrief asook die webwerf beskikbaar. Kontak asseblief die registeronderwyser as jy in die donker is.
- Boeliegedrag is vir die skoolbestuur ‘n netelige kwessie omdat daar reeds goeie sisteme in plek is om dit so bes moontlik te hanteer. Sien asseblief ons boeliebeleid op die webwerf. Ons wil ouers aanmoedig om dadelik kontak te maak met hul klasonderwysers sodra daar enige boeliegedrag bespeur word.
- Die gebruik van Google Classroom was tydens die pandemie ‘n lewensredder, maar deesdae is ouers verward oor hoe dit gebruik moet word. Graadhoofde sal met elke graad kommunikeer presies oor hoe die tegnologie gebruik word en hoe dit leerders raak.
- Onderwysers is van nuuts af versoek om huiwerige leerders aan te moedig om te kom gesels as hul nie werk verstaan nie. Daar is ook sowat twee jaar gelede besluit om sekere vakke se vraestelle (Afrikaans, Engels en Wiskunde) vanaf Graad 4 vir ouers huis toe te stuur (dit geld vir toetse en die Junie-eksamens). Hierdie antwoordstelle moet deur ‘n ouer/voog onderteken word en dan weer terug skool toe gestuur word. Alle ander vraestelle kan by oueraande besigtig word en ouers is uiteraard welkom om enige tyd onderwysers te kontak as hul onraad vermoed. Ouers/voogde moet tegelykertyd vrymoedigheid neem om te eniger tyd met onderwysers te skakel.
- Wat infrastruktuur betref, bly die op-en-aflaai ‘n beslommernis. Ouers moet asseblief onthou om so gou moontlik deur die area te beweeg en stadig te ry. Infrastruktuur is hoog op die bestuur se agenda. Ons sal deurlopend daaroor kommunikeer.
- Kliek HIER vir die opsomming van die strategiese vraelys.
Ons sien uit na ‘n goeie verdere 2022 saam met julle!
Beste wense,
Die Skoolbestuur
Vandag heers daar groot opwinding by die skool, aangesien skole vandag in die Wes-Kaap vir ‘n kort, maar welverdiende vakansie sluit. Kwartaal 1 was propvol verskeie sport-, kultuur- en pretaktiwiteite geskeduleer. Vir die eerste keer in 2 jaar kon ons Jannies weer aan somersportwedstryde, byeenkomste, galas en konserte deelneem waar ouers, voogde, oumas en oupas teenwoordig kon wees. Ons kernbesigheid, naamlik Akademie, het beslis nie stil gestaan nie en daar is sommer hard in die klasse gewerk om die nodige doelwitte vir die kwartaal te bereik. Vandag ontvang al ons leerders ‘n rapport waarin daar erkenning vir hul harde werk en toewyding gegee word. Graag wil ek al die Jannies en die opvoeders wat onderskeidelik so getrou en hard gewerk het, hartlik gelukwens met die puik akademiese uitslae. Ek is so trots en ‘n dankbare skoolhoof van die puik skool!
Laat my dan ook toe om die volgende Gr.7-leerders (alfabeties) hartlik geluk te wens met die aankondiging van die Top Tien Akademiese Presteerders vir kwartaal 1 tydens vanoggend se saalbyeenkoms:
- Lara Basson
- Lea Basson
- Liza Hitge
- Adelé Holtzhausen
- Luja Marx
- Kate Mouton
- Elsabé Scholtz
- Cara Swanepoel
- Nell von Lieres
- Owen Wiese

Ahoewel die laaste week van die kwartaal slegs 4 dae lank was, het daar die volgende klompie pretaktiwiteite plaasgevind:
- Op Dinsdag, 22 Maart 2022, het die grondslagfase leerders ons heerlik in die saal tydens die Gr. 1 – 3 musiekkonsert vermaak. Baie dankie aan al die ouers, voogde en grootouers wat hul kosbare tyd afgestaan het om hul kinders/kleinkinders tydens die vrolike musiekkonsert te ondersteun. Ons leerders is so talentvol, vol selfvertroue en nie eers die groot verhoog en gehoor kon hulle intimideer nie.

- Op Woensdag, 23 Maart 2022, het ons Graad 1’s die ikoniese Tafelberg besoek en hul gate uit geniet terwyl hulle en die opvoeders die pragtige uitsig van bo-op die berg oor ons pragtige Moederstad aanskou het.
- Op Donderdag, 24 Maart 2022, was dit weer die kwartaallikse markdag en kon leerders hul entrepreneurskapvaardighede gebruik terwyl daar aan heerlike eetgoed gesmul is.
- Wintersportvaardigheidsklinieke: Is vanaf 22 – 24 Maart in skooltyd aangebied. Die leerders het dit terdeë geniet.
Verlede Donderdagaand, 17 Maart, kon die Gr. 5 – 7-leerders ook vir die eerste keer na ‘n lang tyd weer ‘n sokkie in ons skoolsaal bywoon. Ons Jannies het omtrent uitgehaal met hul kleredrag en het spoggerig by die skool opgedaag, gereed vir die groot partytjie.

Graag wil ek die personeel hartlik bedank vir hul harde werk, passie en toewyding die afgelope kwartaal. Kwartaal 1 word gekenmerk as ‘n baie besige kwartaal wat dan ook die modus operandi vir die res van die jaar bepaal. Baie dankie dat julle altyd bereid is om die spreekwoordelike ekstra myl te loop tot voordeel van ons Jannies. Suksesvolle skole word gekenmerk deur aktiewe ouerbetrokkenheid en ‘n effektiewe Beheerraad. Dus wil ek vir julle as ouers/voogde hartlik bedank dat julle altyd die belange van ons skool op die hart dra. Groot dankie aan Merwe Schotz (Voorsitter van die Beheerraad) en die Beheerraadslede vir hul kosbare tyd en insiggewende insette tydens die kwartaal om te verseker dat Laerskool Jan van Riebeeck van krag-tot-krag gaan.
Ek sluit af en hiermee wens ek vir julle ‘n lekker ontspanne vakansie toe en indien jullie reis, wees asseblief veilig. Ek sien uit om almal weer op Dinsdag, 5 April, terug te verwelkom wanneer die skool vir kwartaal 2 heropen.
My aanhaling vir die vakansie deur Eleanor Browne:
“Rus en selfversorging is so belangrik. As jy tyd neem om jou gees aan te vul, kan jy ander met oorloop bedien. Jy kan nie uit ‘n leë houer dien nie.”
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
- Die leerders het reeds hul fotokoeverte ontvang.
- Vul asb. alle besonderhede op die koevert in en stuur dit terug skool toe.
- Leerders kan die koevert(e) inhandig by hul registeronderwyser.
- Foto’s kan nog nie aanlyn bestel word nie. Verdere inliging hieroor sal later deurgegee word.
- Laaste dag vir fotobestellings d.m.v. die koevert is Donderdag, 21 April.
Ons wil julle graag aanmoedig om die advertensies aan die onderkant van die nuusbrief dop te hou. Daar is weekliks nuwe advertensies en sluit gereeld privaat buitemuurse sportaktiwiteite of kultuurgebeurtenisse in.
Persone wat graag iets in die nuusbrief wil adverteer, kan ‘n e-pos stuur aan suzaan@jvrprim.co.za .Dit kos R150 om ‘n advertensie vir ‘n week op ons webtuiste te laai en een keer in die nuusbrief te laat verskyn.
Neem kennis van die volgende:
- Maandag – vakansiedag
- Dinsdag – skool verdaag vroeër
12:45 (Gr.1 – 3)
13:00 (Gr.4 – 7)
- Woensdag – normale skooldag
- Donderdag – skool verdaag vroeër (+ sivvies)
13:00 (Gr.1 – 3)
13:15 (Gr.4 – 7)
- Vrydag – skool sluit (+ sivvies)
10:30 (Gr.1 – 3)
10:45 (Gr.4 – 7)
* Die bus vertrek altyd 5 minute na graad 4 – 7 verdaag word.
Johan Symington het onlangs aan hierdie jaar se eerste Wes-Kaap .22 SA Precision Rifle kompetisie in Atlantis deelgeneem en uitstekend gevaar. Gedurede die kompetisie skiet deelnemers met .22 kaliber gewere vanaf verskeie praktiese posisies na “gongs” op afstande wat wissel tussen 40m en 200m.
Hy het nie net die hoogste telling van die jong skutte behaal nie, maar ook die algehele hoogste telling van die sowat 62 skutte op die dag geskiet – selfs beter as sy eie pa!
Baie geluk, Johan!
Belangrike Datums
februarie 2026
maart 2026
april 2026
mei 2026
junie 2026
julie 2026
augustus 2026
september 2026
oktober 2026
november 2026
desember 2026

Alle Graad 6-ouers/voogde
