Die einde van die akademiese week bring ons by die begin van ‘n hele klompie opeenvolgende langnaweke wat ‘n heerlike meevallertjie is. Natuurlik is die komende langnaweek, Paasnaweek, en die afgelope weke het ons honderde paaseiers ingesamel wat ons aan die Lions Gemeenskapsorganisasie geskenk het om ‘n klein verskilletjie in die lewens van behoeftige kinders te maak. Net as jy gewonder het waar die gebruik van paaseiers vandaan kom, haal ek graag die volgende aan:

Paaseiers het ‘n baie lang geskiedenis en die gebruik het reeds voor die geboorte van Jesus begin. Eiers was nog altyd gesien as die simbool van ‘n nuwe lewe. Soos wat die Christendom versprei en gegroei het, is die eier al meer gesien as ‘n teken van Jesus se opstanding uit die graf. Die gebruik om eiers van sjokolade te maak, het in die 19e eeu in Frankryk en Duitsland begin. Die eerste sjokolade-eiers wat op groot skaal gemaak is, was deur Cadbury’s in Engeland. Gebruik gerus ‘n hol (leë) paaseier om vir jou kind te leer dat die graf leeg was, soos wat die eier binne leeg is, en dat Jesus lewe.

Die week het ons ook amptelik afgeskop met die wintersportprogram. Verlede Vrydag het ons o/13-hokkiespanne (seuns en dogters) aan ‘n toernooi te Laerskool Van Riebeeckstrand deelgeneem. Alhoewel die uitslae nie na wense was nie, het ons spelers dit vreeslik geniet. Op Saterdag, 9 April 2022, het ons o/10-netbalspan aan ‘n o/10-toernooi te Laerskool Durbanville deelgeneem. Ons dogters het die toernooi puik afgeskop en die eerste wedstryd teen Laerskool Vredekloof met ‘n telling van 13 -1 te wen. Die o/10-span het verder op die dag puik gevaar deur 3 van hul 4 wedstryde te wen. Baie geluk aan die spelers en die afrigters, naamlik Juffrouens Bibi en Suné wat hulle vergesel het.

Verder skop ons die week af met ‘n opwindende besoek deur Ivan Botha, bekende akteur, regisseur en skrywer op Maandag, 11 April. Hy het ‘n spesiale aanbieding vir die Graad 7’s in die saal gelewer wat hoofsaaklik oor Afrikaans en Drama gehandel het. Ivan is ook ‘n ouer by ons en het soveel moeite gedoen om vir die Graad 7’s te verduidelik wat die vermaakliksheidsbedryf behels asook die loopbaanmoontlikhede daaraan verbonde. Hy is ook ‘n groot voorstaander van lees en het ook hierdie spesifieke passie met hulle gedeel. Baie dankie, Ivan, vir jou kosbare tyd en die besonderse wyse van jou aanbieding om dit vir die Graad 7‘s interessant en relevant te maak. Baie dankie, Marinda, vir die wonderlike inisiatief en reëlings. Op hierdie manier streef ons daarna om akademie te verryk en word vakke graag geïntegreer om ‘n puik geleentheid vir leer te skep.

Week 2 sluit dan verder nog kultuuraktiwiteite in met die interne redenaarskompetisie vir Gr.2 – 7-leerders wat vanaf 11 – 13 April geskied het. Ons leerders is so talentvol en praat met die grootste gemak voor die gehoor om hul standpunt met verskeie argumente suksesvol te verdedig. Ek is nog steeds stom geslaan met ons leerders se puik redenaarsvermoë, die selfvertroue en die spitsvondigheid. Hou so vol! Ons is baie trots op julle en baie dankie, Juffrou Andri, vir die puik reëlings hieraan verbonde.

Graag wil ek ook vir Marc Jooste (Gr.1-ouer en argitek) wat my help met ‘n estetiese projek om die ingang van die skool (voorkant/voorportaal van die saal), langs die nasorg wat toegang gee tot die snoepie en saal te verfraai. Die beoogde kostes beloop ongeveer R60 000 en indien jy as ouer/voog ‘n finansiële bydrae tot die projek wil maak, kontak my gerus per e-pos (skoolhoof@jvrprim.co.za), by voorbaat dankie. Ons is baie trots op ons pragtige en historiese skoolgebou, maar vergeet dikwels dat dit 100 + 1 jaar oud is, wat dus gereelde onderhoud en opgradering vereis.

Ek sluit dan af met die volgende inligting rakende die Paasnaweek:

“Paasfees is een van die belangrikste gelowige feeste in die Christelike kerklike jaar. In die Christelike geloof vier dit die opstanding van Jesus Christus wat op die derde dag na Sy kruisiging uit die dood opgestaan het. Op hierdie grootste van Christenfeeste, vind daar verskeie oorlewerings van antieke seremonies plaas. Paasfees, die paashaas en paaseiers is eeue ouer as die Christendom oor na jou hart.”

Geniet ‘n wonderlike en geseënde Paasnaweek en indien julle reis, wees asseblief veilig.

Naas Beets
SKOOLHOOF