Vandag heers daar groot opwinding by die skool, aangesien skole vandag in die Wes-Kaap vir ‘n kort, maar welverdiende vakansie sluit. Kwartaal 1 was propvol verskeie sport-, kultuur- en pretaktiwiteite geskeduleer. Vir die eerste keer in 2 jaar kon ons Jannies weer aan somersportwedstryde, byeenkomste, galas en konserte deelneem waar ouers, voogde, oumas en oupas teenwoordig kon wees. Ons kernbesigheid, naamlik Akademie, het beslis nie stil gestaan nie en daar is sommer hard in die klasse gewerk om die nodige doelwitte vir die kwartaal te bereik. Vandag ontvang al ons leerders ‘n rapport waarin daar erkenning vir hul harde werk en toewyding gegee word. Graag wil ek al die Jannies en die opvoeders wat onderskeidelik so getrou en hard gewerk het, hartlik gelukwens met die puik akademiese uitslae. Ek is so trots en ‘n dankbare skoolhoof van die puik skool!

Laat my dan ook toe om die volgende Gr.7-leerders (alfabeties) hartlik geluk te wens met die aankondiging van die Top Tien Akademiese Presteerders vir kwartaal 1 tydens vanoggend se saalbyeenkoms:

  • Lara Basson
  • Lea Basson
  • Liza Hitge
  • Adelé Holtzhausen
  • Luja Marx
  • Kate Mouton
  • Elsabé Scholtz
  • Cara Swanepoel
  • Nell von Lieres
  • Owen Wiese

Ahoewel die laaste week van die kwartaal slegs 4 dae lank was, het daar die volgende klompie pretaktiwiteite plaasgevind:

  • Op Dinsdag, 22 Maart 2022, het die grondslagfase leerders ons heerlik in die saal tydens die Gr. 1 – 3 musiekkonsert vermaak. Baie dankie aan al die ouers, voogde en grootouers wat hul kosbare tyd afgestaan het om hul kinders/kleinkinders tydens die vrolike musiekkonsert te ondersteun. Ons leerders is so talentvol, vol selfvertroue en nie eers die groot verhoog en gehoor kon hulle intimideer nie.

  • Op Woensdag, 23 Maart 2022, het ons Graad 1’s die ikoniese Tafelberg besoek en hul gate uit geniet terwyl hulle en die opvoeders die pragtige uitsig van bo-op die berg oor ons pragtige Moederstad aanskou het.
  • Op Donderdag, 24 Maart 2022, was dit weer die kwartaallikse markdag en kon leerders hul entrepreneurskapvaardighede gebruik terwyl daar aan heerlike eetgoed gesmul is.
  • Wintersportvaardigheidsklinieke: Is vanaf 22 – 24 Maart in skooltyd aangebied. Die leerders het dit terdeë geniet.

Verlede Donderdagaand, 17 Maart, kon die Gr. 5 – 7-leerders ook vir die eerste keer na ‘n lang tyd weer ‘n sokkie in ons skoolsaal bywoon. Ons Jannies het omtrent uitgehaal met hul kleredrag en het spoggerig by die skool opgedaag, gereed vir die groot partytjie.

Graag wil ek die personeel hartlik bedank vir hul harde werk, passie en toewyding die afgelope kwartaal. Kwartaal 1 word gekenmerk as ‘n baie besige kwartaal wat dan ook die modus operandi vir die res van die jaar bepaal. Baie dankie dat julle altyd bereid is om die spreekwoordelike ekstra myl te loop tot voordeel van ons Jannies. Suksesvolle skole word gekenmerk deur aktiewe ouerbetrokkenheid en ‘n effektiewe Beheerraad. Dus wil ek vir julle as ouers/voogde hartlik bedank dat julle altyd die belange van ons skool op die hart dra. Groot dankie aan Merwe Schotz (Voorsitter van die Beheerraad) en die Beheerraadslede vir hul kosbare tyd en insiggewende insette tydens die kwartaal om te verseker dat Laerskool Jan van Riebeeck van krag-tot-krag gaan.

Ek sluit af en hiermee wens ek vir julle ‘n lekker ontspanne vakansie toe en indien jullie reis, wees asseblief veilig. Ek sien uit om almal weer op Dinsdag, 5 April, terug te verwelkom wanneer die skool vir kwartaal 2 heropen.

My aanhaling vir die vakansie deur Eleanor Browne:
“Rus en selfversorging is so belangrik. As jy tyd neem om jou gees aan te vul, kan jy ander met oorloop bedien. Jy kan nie uit ‘n leë houer dien nie.”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF