Beste Ouers/Voogde

Met die einde van 2021 se dolheid, het ons nooit die strategiese vraelys se opsomming aan julle kommunikeer nie. Baie dankie vir julle deelname – dit is lekker om sulke gemoedelike en oop kommunikasie met ouers te hê.

Hier is dit nou: Ons is vreeslik bly om te kan sê ons kinders is steeds gelukkig in die skool en dat ons ouers veral tevrede was met hoe die pandemie hanteer is. Dit is veral verblydend dat ouers nie bekommerd is oor hul kinders se akademiese vordering nie – ten spyte van die pandemie.

Daar is egter ‘n paar kwessies wat die skoolbestuur se aandag getrek het en waaraan die skoolbestuur reeds aandag gee:

  • Die skoolroosterkompleksiteite verhoed dat daar meer tyd gewy kan word aan isiXhosa – nietemin gaan ‘n nuwe aksieplan geloods word. Ander vakke soos kodering, kuns en drama word ook afgeskeep – dit word ook in ag geneem.
  • Diversiteit en geloofsblootstelling aan ander gelowe is volgens heelwat ouers problematies. Ten spyte van goeie vordering wat meer diverse personeel-aanstellings betref, het die pandemie ander inisiatiewe gekortwiek. Daar is planne vir die komende jaar en ouers wat by sulke inisiatiewe betrokke wil raak, moet asseblief hul hand opsteek om deel te word van die diversiteitskomitee – kommunikasie sal eersdaags via die nuusbrief versprei word. Tegelykertyd is ons vrywillige en buite-skoolure groep Jannies vir Jesus weer volstoom aan die gang.
  • Ouers het aangedui dat kommunikasie rondom nie-akademiese probleme soms moeilik is. Registeronderwysers bly die eerste kontakpunt. As jy steeds nie tevrede is nie, kontak asseblief ons skoolhoof Naas Beets.
  • Sommige ouers blyk verward te wees rondom presies watter aktiwiteite die skool aanbied. Alles is in die ouerhandleiding, die nuusbrief asook die webwerf beskikbaar. Kontak asseblief die registeronderwyser as jy in die donker is.
  • Boeliegedrag is vir die skoolbestuur ‘n netelige kwessie omdat daar reeds goeie sisteme in plek is om dit so bes moontlik te hanteer. Sien asseblief ons boeliebeleid op die webwerf. Ons wil ouers aanmoedig om dadelik kontak te maak met hul klasonderwysers sodra daar enige boeliegedrag bespeur word.
  • Die gebruik van Google Classroom was tydens die pandemie ‘n lewensredder, maar deesdae is ouers verward oor hoe dit gebruik moet word. Graadhoofde sal met elke graad kommunikeer presies oor hoe die tegnologie gebruik word en hoe dit leerders raak.
  • Onderwysers is van nuuts af versoek om huiwerige leerders aan te moedig om te kom gesels as hul nie werk verstaan nie. Daar is ook sowat twee jaar gelede besluit om sekere vakke se vraestelle (Afrikaans, Engels en Wiskunde) vanaf Graad 4 vir ouers huis toe te stuur (dit geld vir toetse en die Junie-eksamens). Hierdie antwoordstelle moet deur ‘n ouer/voog onderteken word en dan weer terug skool toe gestuur word. Alle ander vraestelle kan by oueraande besigtig word en ouers is uiteraard welkom om enige tyd onderwysers te kontak as hul onraad vermoed. Ouers/voogde moet tegelykertyd vrymoedigheid neem om te eniger tyd met onderwysers te skakel.
  • Wat infrastruktuur betref, bly die op-en-aflaai ‘n beslommernis. Ouers moet asseblief onthou om so gou moontlik deur die area te beweeg en stadig te ry. Infrastruktuur is hoog op die bestuur se agenda. Ons sal deurlopend daaroor kommunikeer.
  • Kliek HIER vir die opsomming van die strategiese vraelys.

Ons sien uit na ‘n goeie verdere 2022 saam met julle!

Beste wense,
Die Skoolbestuur