Op Dinsdag, 5 April, het alle publieke skole in die Wes-Kaap hul deure vir kwartaal 2 heropen. Ek het die wonderlike voorreg gehad om al die leerders die oggend om 07:45 in die saal by die skool te verwelkom en ‘n boodskap oor die kernwaarde vir kwartaal 2 naamlik verantwoordelikheid met hulle te deel asook om vir hulle ‘n wonderlike en voorspoedige kwartaal toe te wens.

Dit is werklik ‘n riem onder die hart om te sien en te ervaar dat ons leerders skool gemis het en hulle werklik bly is om terug te wees, want hulle geniet die skool in al sy fasette. Hulle kon nie wag om die wonderlike vakansie-ervarings met my en hul opvoeders te deel nie. Die graad 7’s het vanaf 29 Maart tot 3 April tydens die jaarlikse Maart/April-vakansie op die Oranjerivier roeitoer gegaan en hulle kan nie ophou praat oor die fantasiese en leersame ervaring saam met hul ouers nie. Dit gee ook die geleentheid vir ouers om mekaar beter te leer ken. Ek doen ‘n beroep op al die huidige Graad 6-ouers om dit ernstig te oorweeg om in 2023 vir die onvergeetlike ekskursie saam met jou kind/ers in te skryf.

Kwartaal 2 is ook die begin van die wintersport en ons kan nie wag om aan wedstryde en toernooie deel te neem nie. Ons wag vir die onderskeie WP Unies om die wintersport datumlyste beskikbaar te stel. Sportdae en toernooie is reeds op die skoolkalender geplaas. Graag verwelkom ons die afkondiging van President Ramaphosa dat die Covid-19 siftingproses vir eers opgehef is en dat maskers slegs binnenshuis gedra moet word. Hopelik is die dra van maskers ook binnekort iets van die verlede.

Kwartaal 2 word ook tradisoneel gekenmerk met ‘n assesseringstydperk vir graad R – 3 en ‘n eksamen vir graad 4 – 7. Wees verseker dat ons voorsiening tref om ons leerders behoorlik vir die assesserings en eksamens voor te berei. Ons opvoeders is gereed om die ekstra myl te loop om ons Jannies betyds toe te rus, ‘n kalm en rustige leeromgewing te skep om die spreekwoordelike ‘eksamen-bul’ by die horings te pak. Die afgelope week (6 & 7 April) het julle ook die geleentheid gekry om ‘n afspraak met jou kind/ers se opvoeder tydens die belangrike ouerafsprake te maak. Graag wil ek julle as ouers/voogde bedank wat so getrou die ouerafsprake bygewoon het. Verder wil ek julle asseblief uitnooi om aktief by jul kind/ers se akademie betrokke te bly deur gereeld deur hul werkboeke te blaai en gereelde kontak met die spesifieke klasopvoeder te behou. Leerders se leer en onderrig is ‘n spanpoging en kollektief wil ons saam met julle jul kinders se potensiaal maksimaal ontgin.

Kwartaal 2 sluit dan ook twee belangrike fondsinsamelingsprojekte in naamlik die Veiling op Saterdag, 4 Junie, en die Kaperjolle op Saterdag, 23 April. By voorbaat baie dankie vir die ondersteuning en groot dankie aan Coreen Scholtz en Esna Boshoff wat vir ons die veiling hanteer asook Ria Hertzog en die OOV wat die Kaperjolle hanteer. Verder geskied die kleiduif-kompetisie op Donderdag, 21 April 2022, en baie dankie aan Stephanie le Roux en Ria Hertzog wat dit reël. Ons sien almal uit na die opwindende geleenthede!

Ek sluit dan af met die volgende aanhaling rakende verantwoordelikheid:

“Jy alleen is in beheer van jou eie geluk. Geen mens op die aarde kan daarvoor verantwoordelik gehou word nie. Geluk en tevredenheid begin in jou gedagtes en spoel oor na jou hart.”

Geniet ‘n wonderlike naweek. Sterkte aan ons o/13-hokkiespelers wat vandag aan ‘n toernooi te Laerskool Van Riebeeckstrand deelneem asook die o/10-netbalspan wat môre te Laerskool Durbanville deelneem.

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF