Ek glo almal het ‘n heerlike Paasnaweek geniet en in die proses sommer ook lekker gerus en kwaliteit tyd saam met jul gesinne spandeer. ‘n Langnaweek is altyd ‘n lekker meevallertjie om die spreekwoordelike batterye ten volle te herlaai en ‘dinge’ te doen waarvoor ‘n mens normaalweg nie tyd voor kry nie. Die goeie nuus is dat daar binnekort nog ‘n langnaweek voorlê, maar of die Suid-Afrikaanse ekonomie dit op die stadium van die geveg nog verwelkom, is ‘n ander vraag.

Volgende week op 27 April 2022 vier ons Vryheidsdag. Hierdie openbare vakansiedag word jaarliks op 27 April herdenk ter herinnering aan ons pragtige land se eerste demokratiese nie-rassige verkiesing wat in 1994 plaasgevind het. Ons vier dus ons land se demokrasie op die spesiale dag. Baie gesinne braai dalk op die dag, ander vier dit met kunste en feeste. Sommige besoek interessante plekke wat die stryd teen demokrasie in Suid-Afrika eer, byvoorbeeld die besoek aan Robbeneiland, waar die ikoon Nelson Mandela gevange gehou was. Hoe ook al jy Vryheidsdag gaan vier, kom ons daag mekaar uit tot gemeenskaplike lojailteit teenoor ons land. Kom ons reik meer uit, gee meer om, het meer empatie en wees meer dankbaar. So dikwels is dit net lippetaal, maar ons vergeet dat die mag om dit te kan verander binne ons vermoë lê om ‘n verskil in mense se lewens te maak.

Op Donderdag, 21 April, het ons eerste hokkie-ligawedstryde vir die kwartaal plaasgevind en op Maandag, 25 April, vind die eerste liga-wedsryde vir netbal plaas. Ons wag nog egter vir die WP Rugby Unie om vir ons die rugbywedstryde se datumlys vir hierdie kwartaal te voorsien. Die jaarlikse kleiduif-skietkompetisie het ook op Donderdag, 21 April 2022, by die Valley Gun Club te Agter Paarl plaasgevind. Baie dankie aan ons hoofborg, naamlik Safari Outdoor (LJ le Roux), wat die dag moontlik maak. Graag wil ek vir Stephanie le Roux en Ria Hertzog hartlik bedank wat die gesogte dag reël. Reëlings was puik en die deelnemers het hul gate uit geniet. Sommige van ons het gou besef dat hierdie sportkode spesiale vaardighede en vernuf vereis wat jy nie sommer oornag kan aanleer nie.

Graag herinner ek julle aan môre se Kaperjolle wat vanaf 12:00 by die skool plaasvind. Kom ondersteun asseblief die pretdag met baie aktiwiteite vir kinders en smaaklike lekkernye om aan te smul. Hierdie fondsinsamelingsprojek word deur Ria Hertzog en haar OOV-span gereël en dit bied ons skoolgemeenskap ‘n ideale geleentheid om sommer lekker saam te kuier. Covid-19 het ons vir so lank van heerlike samesyn beroof.

Ek sluit dan af met die volgende bekende aanhaling van Allanah Hunt rakende ons kernwaarde van die kwartaal, naamlik verantwoordelikheid:

“It is only when you take responsibility of your life, that you discover how powerful you are.”

Geniet ‘n wonderlike naweek en sien julle môre by die gewilde Kaperjolle.

Naas Beets
SKOOLHOOF