Kategorie: Algemeen
Indien jy sukkel om die getal langsaan kontakgroepe in Skooler te laat verdwyn nadat jy gelees het, volg gerus die volgende stappe:
Rol op na die vorige boodskappe in die spesifieke kontakgroep en soek vir die volgende:
-
- Boodskappe wat vra dat jy dit moet “confirm”. Kliek om te bevestig dat jy dit gelees het.
- Boodskappe wat ‘n SHOW FORM skakel het – dit is Skoolervorms wat onderwysers soms aanheg. Indien jy nie die vorm oopmaak en een van die opsies kies nie, gaan die boodskap “ongelees” bly.
Skooler en Teams riglyne en wenke is ook op ons webtuiste onder myJvR, Vrae en Antwoorde beskikbaar. Kliek HIER vir die riglyneblad.
Wat om te doen as jy die sluitingsdatum gemis het:
- Besoek gerus Lunchbox Photography se webtuiste om te bestel.
- Wagwoord vir aanlyn bestellings: JVR2020
- Omdat bestellings reeds by die skool gesluit het, gaan jy self vir die aflewering moet betaal.
Week 3 van die akademiese kwartaal eindig vandag met ‘n lekker meevalletjie van ‘n langnaweek vanaf 27 April tot 01 Mei om na uit te sien. Dit sluit natuurlik twee belangrike openbare vakansiedae in, naamlik Vryheidsdag op 27 April en Werkersdag op 01 Mei. Op Vryheidsdag herdenk ons die land se eerste demokratiese verkiesing wat op dié dag in 1994 begin en die dag daarna geëindig het. Werkersdag word gevier om die werkers van ons land te huldig asook die soeke na regverdige indiensneming, die vestiging van menseregte en werkerregte in die werkplek. Deel gerus met jou kind/ers die rede waarom ons in Suid-Afrika die twee dae vier.
Ek wil graag al die ouers/voogde wat verlede week op 17 en 18 April so getrou die ouerafsprake met jul kind/ers se onderskeie onderwysers eerbiedig het, hartlik bedank vir jul betrokkenheid by jul kinders se leer en onderrig. Kinders voel meer geborge en het meer selfvertroue waar ouers/voogde moeite doen en tyd maak om by hul kinders se daaglikse doen en late betrokke te raak.
Op Donderdag, 20 April, het ons jaarlikse Kleiduifskietkompetisie by die Gun Valley Skietbaan te Agter-Paarl plaasgevind. Die gure weer het hard probeer om die gewilde kompetisie in die wiele te ry. Gelukkig het die reën opgeklaar en kon die skutte hul vaardighede ten toon stel. Die rukkerige wind het sake nie maklik gemaak nie, maar die deelnemers was almal eens dat dit ‘n hoogtepunt op Laerskool Jan van Riebeeck se kalender bly. Baie dankie aan Safari Outdoor wat jaarliks as die hoofborg optree. Groot dankie aan Stephanie le Roux en Ria Hertzog wat die gewilde dag vir die 3de agtereenvolgende jaar gereël het. Die geesdrif en samesyn het soos ‘n paal bo water uitgestaan. Baie geluk aan Albertus Marais se Kluisenaarspan wat die dag met 65 punte gewen het. Die dag word saam met Alive Foundation aangebied en die fondse geïn op die dag sal vir ons behoeftige leerders se nuwe skooldrag aangewend word.

Op Saterdag, 22 April, vind verseker die hoogtepunt op die leerders se kalender plaas met die aanbieding van die gewilde Kaperjolle. Daar was soveel aktiwiteite en speletjies vir die leerders om aan deel te neem. Deel van die pret was om ook sommer lekker in die reën rond te hardloop. Verskeie van ons ouers het aan die potjiekoskompetisie deelgeneem. Ek was nie ‘n beoordeelaar nie, maar as skoolhoof was ek lekker bederf om die smaaklike potjiekosdisse te kon proe. Die potjiekosdisse was hemels en die kompetise was baie sterk. Baie geluk aan Mark en Ronel Allewell se span wat met die louere weggeloop het. Alhoewel die weer baie triestig was met reënbuie wat kort-kort neerval, kon nie eers die koue weer die suksesvolle dag bederf nie. Die opkoms van ouers en kinders was verstommend en ‘n mens sou eerder verwag dat ons ouers nie hul neuse by die spreekwoordelike deure sou uitsteek as gevolg van die koue en reënerige herfsdag nie. Die opkoms en samesyn van ons ouers spreek egter boekdele van die karakter van ons skoolgemeenskap wanneer dit by die ondersteuning van skoolaktiwiteite kom. Ons is so bevoorreg dat ons ouers die skool in alle opsigte ondersteun en saam trots op ons puik skool is. Dit dra kollektief by dat ons skool net van krag-tot-krag gaan. Graag wil ek ons OOV-Voorsitter, Coreen Scholtz, en haar span asook al die ouers en personeel wat so hard gewerk het om die sukses van die Kaperjolle te verseker, hartlik bedank. Baie dankie ook aan die ouers wat kom help het om die volgende dag vanaf 09:00 te kom help opruim. Ons kon sommer vinnig die skool binne en buite opruim, want vele hande maak ligter werk.

Dit is dan my eer en voorreg om ons personeel hartlik geluk te wens met ons uitstekende 2022 sistemiese uitslae wat ons sopas ontvang het. Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) is die enigste provinsie in die land wat van sistemiese toetsing gebruik maak. Die toetsing geskied jaarliks gedurende Oktobermaand om die kennis en vaardighede van leerders in Taal en Wiskunde in slegs graad 3, 6 en 9 te assesseer. Die toetse verskaf data en inligting wat kan help om prestasie in Taal en Wiskunde te verbeter, wat die grondslag vir alle leer verskaf. Verder word die data deur die EXCO ontleed sodat ons dit kan gebruik om remediërende intervensies op alle vlakke te beplan, insluitend onderwysersopleiding en -ondersteuning, skoolleierskap- en bestuursondersteuning asook om planne ter verbetering vir ons skool saam te stel. Sien onder grafiese voorstelling van ons puik graad 3 en 6-sistemiese uitslae teenoor vergelykende skole en areas:
Sleutel:
- Kring 1: Daar is 10 kringe in ons distrik (Metro-Sentraal) en ons val onder kring 1
- Distrik: Metro-Sentraal
- Kwintiel 5 skole: Openbare skole wat skoolfooie vra en in soortgelyke sosio-ekonomiese omgewings geleë is




Dit gaan werklik baie goed met ons skool en Huppelland en daarom sluit af ek met die volgende stelling van dankbaarheid en ek wens vir julle ‘n wonderlike langnaweek toe. Reis asb. Veilig.
“Dankbaarheid gee sin aan gister,
gee vrede vir vandag
en skep ‘n droom vir môre.”
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Die buitemuurse- en skoolkalender is sedert die skole op Woensdag, 12 April, heropen het propvol pret aktiwiteite vir ons leerders. Op Vrydagmiddag het ons o.13A-seuns- en dogtershokkiespanne aan ‘n hokkietoernooi te LS Van Riebeeckstrand deelgeneem. Baie geluk aan die seuns wat gelykop teen Van Riebeeckstrand (1 elk) gespeel het. Hulle wen Curro Durbanville met 4 – 0. Ons dogterspan verloor in die doodsnikke van die wedstryd 0 – 1 teen Van Riebeeckstrand, maar wen Curro Durbanville 1 – 0. Baie geluk aan die onderskeie afrigters juf. Shahneé en mnr. Leon met die puik uitslae aan die begin van die seisoen.
Op Saterdag, 15 April 2023, het ons o.10-netbalspan aan die LS Durbanville se o.10A-netbaltoernooi deelgeneem. Ons o.10-dogters onder leiding van juff. Heidré en Izél het puik gevaar en hulle is as die beste span vir die dag op die spesifieke baan aangewys. Daar is met trots tydens die prysuitdeling van hul sportgees en sportmanskap melding gemaak. Dieselfde dag het ons o.11-hokkiespelers aan ‘n interne hokkiekliniek by die Conradieveld deelgeneem. Baie dankie juf. Helene vir hierdie inisiatief en puik reëlings.

Maandagaand het die Suidoosterredaksie span onder leiding van juff. Suzaan en Marlize ‘n pret middag-aand funksie gereël waartydens Marius Boonzaaier (redakteur van die APEX Motortydskrif) hulle rakende joernalistiek, redigering en verslaggewing kom toespreek het. Die hoogtepunt was egter dat die juffrouens saam met die dogters die aand in die biblioteek oornag het. Dit was groot pret en nie eers ‘Trudie’ het hulle uit die slaap gehou nie.
Graag deel ek met julle dat ek twee maal per week, soggens voor skool met die personeel vergader om te verseker dat skoolsake vlot verloop asook om na leerders en die personeel se welstand om te sien. Weekliks fokus ek op ‘n onderwerp om die personeel te inspireer wat dan weer deur filter na ons leerders. Die afgelope week is die fokus klasgebonde om konstruktiewe nuuskierigheid by die leerders in die verskillende leerareas aan te wakker. Ek glo dat konstruktiewe nuuskierigheid die vlammetjie van kreatiwitiet en leergierigheid is. Daarom moet ons kollektief aanhou om dit spreekwoordelik te stook. Konstruktiewe nuuskierigheid lei altyd tot meer gefokusde en gemotiveerder leerders. Hiermee wil ek ook vir ons onderwysers ’n pluimpie gee dat hulle alreeds die kopskuif gemaak het waar ons daagliks poog om ons leerders te leer om te dink en nie wat om te dink nie.
Môre vind die gewilde Kaperjolle vanaf 12:00 plaas en ‘n mens kon reeds die afgelope week al die opwinding aanvoel. Die leerders kan nie meer wag om aan al die speletjies en vermaak deel te neem nie. Baie dankie aan die OOV-voorsitter, Coreen Scholtz, haar OOV-span asook al die ouers/voogde wat ingespring het om te verseker dat dit weer ‘n reuse sukses sal wees. Kom geniet die kosbare samesyn en smaaklike disse wat te kope is. Ek sien baie uit om julle almal by die Kaperjolle te ontvang!
Baie dankie aan Michael du Plooy (’n ouer by ons) van Cipla wat vir elke personeellid ‘n immuunversterkerpakkie voorsien het om hul immuniteit op te bou vir die komende koue wintermaande wat voorlê.
Graag sluit af ek met die volgende bekende stelling deur Wayne Dyer en ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek en ‘n lekker kuier Kaperjolle toe:
“If you change the way you look at things
the things you look at, change.”
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
As gevolg van die heerlike langnaweek (27 April – 1 Mei) het ons besluit om die skool op Woensdag, 26 April, op gewone tyd te verdaag (13:15 – gr. 1, 13:32 – gr. 2, 13:40 – gr. 3, 14:10 – gr. 4 – 7) met netbal en rugby wat steeds sal plaasvind. Ons het egter besluit om die sport (gr. 1 – 7) tydens die skooldag te oefen sodat almal op die uitkomtye soos hier genoem kan verdaag.
Die tye en reëlings vir Woensdag, 26 April, is as volg:
- 13:15 (graad 1)
- 13:32 (graad 2)
- 13:40 (graad 3)
- 14:10 (graad 4 – 7)
- Netbal & rugby vind in skooltyd plaas.
- Leerders wat nie Woensdag sport beoefen nie, bly in klasse.
- Bus vertrek om 14:15
- Nasorg gaan voort soos normaal.
Hiermee ‘n hartlike welkom terug by die skool en ek glo almal is lekker uitgerus en slaggereed om die nuwe kwartaal aan te durf. Ek glo dat almal die ruskansie ten volle geniet het en ‘n geseënde tyd saam met familie en vriende, veral oor Paasnaweek, spandeer het. Ek is so dankbaar dat almal veilig terug is na die vakansie, veral wanneer die paaie buitengewoon besig oor die Paasnaweek was.
Die skool het skaars begin en sommer op dag een van die nuwe kwartaal skop ons af met opleiding van al ons onderwysers oor interaktiewe leer. Ons is baie opgewonde dat ons gr. 5-leerders vanaf kwartaal 2 amptelik begin met die beplande IKT-projek. Dit behels natuurlik dat elke graad 5-leerder ‘n skootrekenaar ontvang sodat ons tegnologie op ‘n daaglikse basis in hul leer en onderrig kan inkorporeer. Hierdie skootrekenaars gaan nie huis toe geneem word nie en 30% van hul onderrigtyd gaan daagliks d.m.v. die skootrekenaars (tegnologie) geskied. Dit beteken ook die rol van ons onderwysers verander na die van fasiliteerders en leerders raak meer aktief betrokke by hul eie leer. Navorsing het bewys dat die doeltreffende gebruik van tegnologie ‘n belangrike hulpmiddel in die klas kan wees veral vir leerders met leerhindernisse. Ons weet dat leerders op verskillende wyse leer en tegnologie maak dit soveel makliker om leerders met visuele, ouditiewe en kinetiese leerstyle te akkommodeer. Die gebruik van tegnologie stel ons in staat dat leer en onderrig op enige plek en enige tyd kan plaasvind met die verdere voordeel dat elke leerder teen sy/haar eie pas die werk kan baasraak.
Die week mag dalk kort wees, maar heelwat sportaktiwiteite vind plaas. Die winter buitemuurse program skop reeds op Donderdag, 13 April, af. WP-Netbalproewe het reeds op Donderdagmiddag, 13 April, by Curro Durbanville plaasgevind. Vanmiddag neem ons aan ‘n o.13-hokkietoernooi te Laerskool Van Riebeeckstrand deel. Op Saterdag, 15 April, neem ons o.10A-netbalspan aan ‘n netbaltoernooi te Laerskool Durbanville deel. Ek wens al ons spelers en afrigters sterkte toe en weet dat hulle dit saam met hul spanmaats en ouers sal geniet.
Dit is dan ook my voorreg om ons nuwe waardesembleem aan julle bekend te stel. Ek en Marinda het die voorreg gehad om saam met een van ons ouers, naamlik Annemarie Kemp aan die spesiale projek deel te neem. Annemarie is ‘n dinamiese vrou en uiters talentvol. Ons wil ons nuwe waardesembleem baie meer sigbaar maak en die kosbaarste van alles is dat die waardes se simbole ons asemrowende omgewing asook ons idilliese Fauna en Flora verteenwoordig. Dit laat ‘n mens weer opnuut besef in watter pragtige omgewing ons werk en leef. Baie dankie Annemarie vir die puik werk!
Ons verwelkom dan ook amptelik ons nuwe sportorganiseerder, Rashard Fuller, wat op Woensdag, 12 April, by ons aangesluit het en ons wens hom net die beste toe. Soos julle bewus is, het Benita Smit op 12 April amptelik as die Adjunkhoof by Laerskool De Hoop begin. Raché Turner neem dan as Hoof van die Grondslagfase in Benita se plek waar. Ons wens vir Raché ook alle voorspoed en sukses toe.
Volgende week (week 2) is ‘n besige week wat onder andere die volgende insluit:
- Maandag, 17 April: Ouerafsprake
- Dinsdag, 18 April: Ouerafsprake
- Woensdag, 19 April: Algemene Kennistoets (gr. 4 – 7)
- Donderdag, 20 April: Kleiduifskiet-kompetisie
- Saterdag, 22 April: Kaperjolle (Moet dit nie misloop nie!). Baie dankie Coreen en die OOV-span vir al die puik reëlings en harde werk om die sukses van die spesiale dag te verseker.
Ek glo dat almal die nuwe lyne vir op- en aflaai asook vir die parkeerareas aan die agterkant van die skool waargeneem het. Die verfwerk is die afgelope vakansie aangebring. Baie dankie Werner du Toit vir die borgskap van die verfwerk asook mnr. Leon vir al die reëlings in dié verband. Ons glo dit sal beslis help met die beter vloei van verkeer op die skoolterrein en indien almal hul samewerking gee en veral die stop en aflaai-areas eerbiedig, behoort daar heelwat minder frustrasie tydens die op- en aflaai van leerders ervaar te word.
Graag sluit af ek met die volgende stelling oor waardes deur Arsenio V Manalo en wens ek vir julle ‘n wonderlike naweek en ‘n voorspoedige kwartaal 2 toe:
“Good moral values are mostly molded from a place where
Love, Faith and Hope exists.’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF

Die tyd het aangebreek om die waardesembleem aan te pas nadat LS JvR gedurende 2016 ‘n waardegedrewe skool geword het. Ons wou al vier die waardes met kindervriendelike simbole uitbeeld terwyl ons die skool se unieke, warm kultuur vasvang. Huppelland se handelsmerk is gedurende 2022 vernuwe deur ‘n vars en moderne embleem te skep. Ons wou graag by Huppelland se nuwe identiteit aanpas aangesien ons almal deel van Laerskool Jan van Riebeeck is. Die dame wat verantwoordelik is vir die ontwikkeling van die embleme is Annemarie Kemp. Sy is ‘n graad 00 en 1-ouer van Huppelland en die Laerskool. Annemarie het dadelik ingestem om hande te vat om ons waardes nuwe lewe te gee. Haar proses was presies en met tyd is ‘n fantastiese eindproduk saamgestel wat al die veranderinge van ons skool saamvat. Ons is trots om te weet dat Annemarie ook SARIE se koekblik ontwerp het met Heleen Meyer (oud-ouer en voedselkonsultant) wat die koekieresep ontwikkel het. Ons is so trots op hierdie mamma en dankbaar dat sy tyd ingeruim het om ons te help.
Hiermee wil ons graag formeel ons skool se PYEI Assistente bekendstel: Lesley-Ann Pieters en Jody Louw

Hierdie is die 4de keer wat Laerskool Jan van Riebeeck deel is van die PYEI projek waarby jeug in die omliggende gebied ‘n geleentheid kry om by ‘n skool werkservaring op te doen. Lesley-Ann en Jody het op 1 Februarie by ons skool aangesluit en sal tot aan die einde van die 3de kwartaal (30 September) by ons werksaam wees. Hulle het al verskeie opleidingskursusse gedoen om hulle in staat te stel om die beste van die geleentheid te maak en sal deurlopend meer kurrikulum gefokusde opleiding ontvang. Hulle help tans in graad 3 uit, maar sal later ‘n geleentheid kry om by ander grade ervaring op te doen.
Die einde van kwartaal 1 het vinnig sy verskyning gemaak met 11 besige weke agter die rug. As skoolgemeenskap kan ons trots terugkyk op al die opwindende gebeure wat by die skool plaasgevind het. Uitnemendheid in alles wat ons doen, staan uit soos ‘n paal bo water en daarvoor is ek uiters trots en dankbaar. Hartlike dank spesiaal aan ons ouers en voogde wat ons so lojaal die afgelope kwartaal ondersteun het. Julle aktiewe betrokkenheid by die skool is instrumenteel in ons skool se algehele sukses.
Vandag ontvang elke leerder ook hul skoolrapport wat erkenning gee vir hul harde werk en toewyding die afgelope kwartaal. Dit was ‘n groot voorreg om elke rapport te kon teken met ‘n kort persoonlike boodskappie vir elke leerder. Graag wil ek vir al ons leerders en onderwysers spesiaal gelukwens en hartlik bedank vir die kollektiewe poging tot die suksesvolle akademiese-, kulturele- en sportprestasies van kwartaal 1. Laat my toe om mnr. Leon Hanekom uit te sonder deur hom hartlik te bedank wat bowenal al sy ander take ook die sport in die afwesigheid van ‘n sportorganiseerder uiters suksesvol die afgelope kwartaal bestuur het. Mnr. Leon, ons is jou baie dankbaar vir al die harde werk en entoesiasme om seker te maak dat elke Jannie ‘n geleentheid kry om sy/haar sport te kon beoefen. Ons sien natuurlik uit na die koms van mnr. Rashard Fuller, ons nuwe sportorganiseerder, wat vanaf kwartaal 2 by ons gaan aansluit.
Die laaste week van die kwartaal is tradisioneel altyd propvol aktiwiteite met die volgende wat geskied het:
- Gr. 1-uitstappie na Tafelberg op 27 Maart.
- Die bekende televisie-aanbieder en aktrise Chrystal-Donna Roberts het op Maandag, 27 Maart, om 11:00 met die 4-, 5 en 7 leerders kom gesels.
- Sportklinieke (netbal & rugby) is op Maandag, 27 Maart, vir al die grondslagfase leerders in skooltyd aangebied.
- ‘n Hokkiekliniek is vir die graad 1’s en 2’s op Dinsdag, 28 Maart, tydens skooltyd aangebied.
- Gr. 2 en 3-Musiekkonserte wat op Dinsdag, 28 Maart, in die saal tydens skooltyd plaasgevind het. Baie dankie aan al die ouers/voogde asook oumas en oupas wat die gewilde konserte kom ondersteun het. Dit is altyd kosbaar. Baie dankie aan Juff. Helecia, Estelle en mnr. Ben vir hulle aandeel in die verband.
- Die Hoërskool Jan van Riebeeck se ‘Paashase’ het saam met hul skoolhoof ons skool besoek en paaseiers aan ons leerders uitgedeel. Baie dankie aan mnr. Pieter Rademeyer en sy span vir die groot bederf. Die besoek het natuurlik baie opwinding onder die graad 1’s veroorsaak.
- Personeelopleiding in Outistiese Spektrum wat op Dinsdagmiddag, 28 Maart, vanaf 13:15 geskied het. Baie dankie dr. Hanneke Heyns, Pediater, (‘n ouer by ons) wat vir ons onderrigpersoneel bemagtig het deur ‘n puik aanbieding oor hoe om kinders met outisme of kinders wat op die spektrum is, beter in die klas te kan hanteer, te kom aanbied het.
- Gr. 6’e het vanaf 27 – 29 Maart te Wemmershoek hul jaarlikse kamp bygewoon. Die gr.6’e het dit terdeë geniet en die hoogtepunt was natuurlik toe juf. Lucia en mnr. André besluit het om ook die modderbad aan te durf. Dit is weereens ‘n bewys dat ons personeel altyd bereid is om die ekstra myl vir ons leerders te loop en ‘n verskil in ons leerders se lewens te maak.

- Die gr. 4s het op Woensdag, 29 Maart, ‘n heerlike uitstappie op die rooi bus (blou roete) geniet.
- Suid-Kaap sporttoervergadering is op Woensdagaand, 29 Maart, in die saal vanaf 17:30 – 18:00 gehou waar die ouers van die o.13A-rugby, -netbal en hokkiespanne asook die o.12A-netbalspan toestemming gegee het dat die toer vanaf 19 – 23 Junie na die Suid-Kaap kan plaasvind. Groot dankie aan mnr. Leon wat die toer organiseer.
- IKT-vergadering en demonstrasie met al die gr. 5-ouers is vanaf 18:00 – 19:00 ook op Woensdag, 29 Maart, in die saal aangebied. Die gebruik van die nuwe skootrekenaars wat die gr. 5’e vanaf kwartaal 2 gaan gebruik, is aan hul ouers gedemonstreer. Graag wil ek vir Marié Cruywagen (‘n ouer en BR-lid) uitsonder vir haar harde werk en kosbare tyd wat sy vir meer as ‘n jaar ingesit het om te verseker dat die IKT-Projek suksesvol sal wees. Dit het ure se navorsing en strategiese beplanning vereis voordat die projek uitgerol kon word. Baie dankie Marié dat jy die projek met soveel entoesiasme en passie bestuur wat ons instaat stel om redelik soomloos en effektief die gebruik van tegnologie by die kurrikulum te inkorporeer.
- Die leerderraad se ouers bederf die personeel met heerlike eetgoed op Woensdag, 29 Maart. Baie dankie aan Ronelle Allewell vir die organisasie.

- Markdag op Donderdag, 30 Maart 2023.
- Saterdag, 01 April 2023. Gr. 7’s vertrek op hul Oranjeriviertoer. Ons kan nie wag om die foto’s te sien nie. Geniet dit!
Vandag is daar ook ‘n bietjie hartseer by die skool aangesien ons vandag afskeid van juf. Benita Smit geneem het. Juf. Benita is vanaf 01 April 2023 bevorder tot adjunkhoof vir die grondslagfase by Laerskool De Hoop in Somerset-Wes. Ons wens haar alle sukses en voorspoed toe en ons weet sy sal altyd ‘n Jannie in hart en siel bly. Ons salueer juf. Benita vir al die puik werk wat sy by ons oor die afgelope 4 jaar verrig het. Ons gaan jou beslis mis!
Ons is saam met mnr. Erick opgewonde wat môre met sy sielsgenoot, Lana, trou. Ons wens vir hulle ‘n geseënde huwelik saam vol liefde en voorspoed toe.

Graag sluit af ek deur al ons personeel, die EXCO en die Beheerraad hartlik te bedank vir hul harde werk, toewyding en passie om te verseker dat Laerskool Jan van Riebeeck nie sal stagneer nie, maar aanhou sal groei van krag-tot-krag om in die proses sy leerders te bemagtig om die toekoms met selfvertroue aan te pak en hul volle potensiaal te bereik.
Geniet die komende vakansie, lekker rus en ek wens vir almal ‘n geseënde Paasfeestyd saam met familie en vriende toe. Wees veilig op die pad en mag almal se spreekwoordelike batterye herlaai word om kwartaal 2 behoorlik uitgerus aan te pak.
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Ouerbesoeke: Op 17 en 18 April vind daar ouerbesoeke plaas. 15 Minuut-afsprake sal met onderwysers gemaak kan word om oor jou kind(ers) se akademiese vordering of emosionele welstand te gesels. Volg hierdie stappe om ‘n afspraak te maak:
- Volg die skakel vir die Besprekingsbladsy.
- Kies die graad waarin jou kind is.
- Onder “Select Staff”, kies die onderwyser met wie jy ‘n afspraak wil maak.
- Op die kalender, gaan na April en kliek op 17 / 18 April.
- Kies die tydgleuf wat jou sal pas. Indien daar geen tydgleuwe meer beskikbaar is nie, stuur gerus ‘n boodskap op Skooler of per e-pos aan die betrokke onderwyser om ‘n alternatiewe tyd te reël.
- Rol af op die bladsy en vul jou naam, e-posadres, kind se naam en enige addisionele kommentaar in.
- Jy sal ‘n bevestiging van jou afspraak per e-pos ontvang.
- Indien jy die afspraak wil skuif of kanselleer, volg die stappe in die e-pos.
- Jy kan tot en met 24 uur voor ‘n afspraak nog bespreek, verander of kanselleer.
- Om te sien watter onderwyser bied watter vak aan, sien gerus die personeelblad op die webtuiste.
Die skool verdaag op 17 en 18 April vroeër: 12:45 (gr. 1-3) en 13:00 (gr. 4-7)
Die bus sal om 13:10 vertrek.
Leerders kan van hierdie week af foto’s bestel. Elke leerder wat op die onderskeie fotodae teenwoordig was, het ‘n koevert vir die verskeie bestellings ontvang.
- Laaste dag vir bestellings: Vrydag, 21 April 2023
- Vul asb. die koevertjie waarop bestel moet word, volledig in.
- Klasfoto’s en individuele foto’s word by die klasonderwyser bestel en betaal.
- Julle is ook welkom om aanlyn op Lunchbox Photography se webtuiste te bestel.
- Wagwoord vir aanlyn bestellings: JVR2020
Belangrike Datums
maart 2026
april 2026
mei 2026
junie 2026
julie 2026
augustus 2026
september 2026
oktober 2026
november 2026
desember 2026


