Week 3 van die akademiese kwartaal eindig vandag met ‘n lekker meevalletjie van ‘n langnaweek vanaf 27 April tot 01 Mei om na uit te sien. Dit sluit natuurlik twee belangrike openbare vakansiedae in, naamlik Vryheidsdag op 27 April en Werkersdag op 01 Mei. Op Vryheidsdag herdenk ons die land se eerste demokratiese verkiesing wat op dié dag in 1994 begin en die dag daarna geëindig het. Werkersdag word gevier om die werkers van ons land te huldig asook die soeke na regverdige indiensneming, die vestiging van menseregte en werkerregte in die werkplek. Deel gerus met jou kind/ers die rede waarom ons in Suid-Afrika die twee dae vier. 

Ek wil graag al die ouers/voogde wat verlede week op 17 en 18 April so getrou die ouerafsprake met jul kind/ers se onderskeie onderwysers eerbiedig het, hartlik bedank vir jul betrokkenheid by jul kinders se leer en onderrig. Kinders voel meer geborge en het meer selfvertroue waar ouers/voogde moeite doen en tyd maak om by hul kinders se daaglikse doen en late betrokke te raak. 

Op Donderdag, 20 April, het ons jaarlikse Kleiduifskietkompetisie by die Gun Valley Skietbaan te Agter-Paarl plaasgevind. Die gure weer het hard probeer om die gewilde kompetisie in die wiele te ry. Gelukkig het die reën opgeklaar en kon die skutte hul vaardighede ten toon stel. Die rukkerige wind het sake nie maklik gemaak nie, maar die deelnemers was almal eens dat dit ‘n hoogtepunt op Laerskool Jan van Riebeeck se kalender bly. Baie dankie aan Safari Outdoor wat jaarliks as die hoofborg optree. Groot dankie aan Stephanie le Roux en Ria Hertzog wat die gewilde dag vir die 3de agtereenvolgende jaar gereël het. Die geesdrif en samesyn het soos ‘n paal bo water uitgestaan. Baie geluk aan Albertus Marais se Kluisenaarspan wat die dag met 65 punte gewen het. Die dag word saam met Alive Foundation aangebied en die fondse geïn op die dag sal vir ons behoeftige leerders se nuwe skooldrag aangewend word.

Op Saterdag, 22 April, vind verseker die hoogtepunt op die leerders se kalender plaas met die aanbieding van die gewilde Kaperjolle. Daar was soveel aktiwiteite en speletjies vir die leerders om aan deel te neem. Deel van die pret was om ook sommer lekker in die reën rond te hardloop. Verskeie van ons ouers het aan die potjiekoskompetisie deelgeneem. Ek was nie ‘n beoordeelaar nie, maar as skoolhoof was ek lekker bederf om die smaaklike potjiekosdisse te kon proe. Die potjiekosdisse was hemels en die kompetise was baie sterk. Baie geluk aan Mark en Ronel Allewell se span wat met die louere weggeloop het. Alhoewel die weer baie triestig was met reënbuie wat kort-kort neerval, kon nie eers die koue weer die suksesvolle dag bederf nie. Die opkoms van ouers en kinders was verstommend en ‘n mens sou eerder verwag dat ons ouers nie hul neuse by die spreekwoordelike deure sou uitsteek as gevolg van die koue en reënerige herfsdag nie. Die opkoms en samesyn van ons ouers spreek egter boekdele van die karakter van ons skoolgemeenskap wanneer dit by die ondersteuning van skoolaktiwiteite kom. Ons is so bevoorreg dat ons ouers die skool in alle opsigte ondersteun en saam trots op ons puik skool is. Dit dra kollektief by dat ons skool net van krag-tot-krag gaan. Graag wil ek ons OOV-Voorsitter, Coreen Scholtz, en haar span asook al die ouers en personeel wat so hard gewerk het om die sukses van die Kaperjolle te verseker, hartlik bedank. Baie dankie ook aan die ouers wat kom help het om die volgende dag vanaf 09:00 te kom help opruim. Ons kon sommer vinnig die skool binne en buite opruim, want vele hande maak ligter werk. 

Dit is dan my eer en voorreg om ons personeel hartlik geluk te wens met ons uitstekende 2022 sistemiese uitslae wat ons sopas ontvang het.  Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) is die enigste provinsie in die land wat van sistemiese toetsing gebruik maak.  Die toetsing geskied jaarliks gedurende Oktobermaand om die kennis en vaardighede van leerders in Taal en Wiskunde in slegs graad 3, 6 en 9 te assesseer.  Die toetse verskaf data en inligting wat kan help om prestasie in Taal en Wiskunde te verbeter, wat die grondslag vir alle leer verskaf.  Verder word die data deur die EXCO ontleed sodat ons dit kan gebruik om remediërende intervensies op alle vlakke te beplan, insluitend onderwysersopleiding en -ondersteuning, skoolleierskap- en bestuursondersteuning asook om planne ter verbetering vir ons skool saam te stel. Sien onder grafiese voorstelling van ons puik graad 3 en 6-sistemiese uitslae teenoor vergelykende skole en areas: 

Sleutel: 

  • Kring 1: Daar is 10 kringe in ons distrik (Metro-Sentraal) en ons val onder kring 1 
  • Distrik: Metro-Sentraal 
  • Kwintiel 5 skole: Openbare skole wat skoolfooie vra en in soortgelyke sosio-ekonomiese omgewings geleë is 

Dit gaan werklik baie goed met ons skool en Huppelland en daarom sluit af ek met die volgende stelling van dankbaarheid en ek wens vir julle ‘n wonderlike langnaweek toe. Reis asb. Veilig. 

“Dankbaarheid gee sin aan gister, 
gee vrede vir vandag 
en skep ‘n droom vir môre.”

Vriendelike groete 

Naas Beets 
SKOOLHOOF