Die buitemuurse- en skoolkalender is sedert die skole op Woensdag, 12 April, heropen het propvol pret aktiwiteite vir ons leerders. Op Vrydagmiddag het ons o.13A-seuns- en dogtershokkiespanne aan ‘n hokkietoernooi te LS Van Riebeeckstrand deelgeneem. Baie geluk aan die seuns wat gelykop teen Van Riebeeckstrand (1 elk) gespeel het. Hulle wen Curro Durbanville met 4 – 0. Ons dogterspan verloor in die doodsnikke van die wedstryd 0 – 1 teen Van Riebeeckstrand, maar wen Curro Durbanville 1 – 0. Baie geluk aan die onderskeie afrigters juf. Shahneé en mnr. Leon met die puik uitslae aan die begin van die seisoen.

Op Saterdag, 15 April 2023, het ons o.10-netbalspan aan die LS Durbanville se o.10A-netbaltoernooi deelgeneem. Ons o.10-dogters onder leiding van juff. Heidré en Izél het puik gevaar en hulle is as die beste span vir die dag op die spesifieke baan aangewys. Daar is met trots tydens die prysuitdeling van hul sportgees en sportmanskap melding gemaak. Dieselfde dag het ons o.11-hokkiespelers aan ‘n interne hokkiekliniek by die Conradieveld deelgeneem. Baie dankie juf. Helene vir hierdie inisiatief en puik reëlings.

Maandagaand het die Suidoosterredaksie span onder leiding van juff. Suzaan en Marlize ‘n pret middag-aand funksie gereël waartydens Marius Boonzaaier (redakteur van die APEX Motortydskrif) hulle rakende joernalistiek, redigering en verslaggewing kom toespreek het. Die hoogtepunt was egter dat die juffrouens saam met die dogters die aand in die biblioteek oornag het. Dit was groot pret en nie eers ‘Trudie’ het hulle uit die slaap gehou nie.

Graag deel ek met julle dat ek twee maal per week, soggens voor skool met die personeel vergader om te verseker dat skoolsake vlot verloop asook om na leerders en die personeel se welstand om te sien. Weekliks fokus ek op ‘n onderwerp om die personeel te inspireer wat dan weer deur filter na ons leerders. Die afgelope week is die fokus klasgebonde om konstruktiewe nuuskierigheid by die leerders in die verskillende leerareas aan te wakker. Ek glo dat konstruktiewe nuuskierigheid die vlammetjie van kreatiwitiet en leergierigheid is. Daarom moet ons kollektief aanhou om dit spreekwoordelik te stook. Konstruktiewe nuuskierigheid lei altyd tot meer gefokusde en gemotiveerder leerders. Hiermee wil ek ook vir ons onderwysers ’n pluimpie gee dat hulle alreeds die kopskuif gemaak het waar ons daagliks poog om ons leerders te leer om te dink en nie wat om te dink nie.

Môre vind die gewilde Kaperjolle vanaf 12:00 plaas en ‘n mens kon reeds die afgelope week al die opwinding aanvoel. Die leerders kan nie meer wag om aan al die speletjies en vermaak deel te neem nie. Baie dankie aan die OOV-voorsitter, Coreen Scholtz, haar OOV-span asook al die ouers/voogde wat ingespring het om te verseker dat dit weer ‘n reuse sukses sal wees. Kom geniet die kosbare samesyn en smaaklike disse wat te kope is. Ek sien baie uit om julle almal by die Kaperjolle te ontvang!

Baie dankie aan Michael du Plooy (’n ouer by ons) van Cipla wat vir elke personeellid ‘n immuunversterkerpakkie voorsien het om hul immuniteit op te bou vir die komende koue wintermaande wat voorlê.

Graag sluit af ek met die volgende bekende stelling deur Wayne Dyer en ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek en ‘n lekker kuier Kaperjolle toe:

“If you change the way you look at things
the things you look at, change.”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF