Hiermee ‘n hartlike welkom terug by die skool en ek glo almal is lekker uitgerus en slaggereed om die nuwe kwartaal aan te durf. Ek glo dat almal die ruskansie ten volle geniet het en ‘n geseënde tyd saam met familie en vriende, veral oor Paasnaweek, spandeer het. Ek is so dankbaar dat almal veilig terug is na die vakansie, veral wanneer die paaie buitengewoon besig oor die Paasnaweek was.

Die skool het skaars begin en sommer op dag een van die nuwe kwartaal skop ons af met opleiding van al ons onderwysers oor interaktiewe leer. Ons is baie opgewonde dat ons gr. 5-leerders vanaf kwartaal 2 amptelik begin met die beplande IKT-projek. Dit behels natuurlik dat elke graad 5-leerder ‘n skootrekenaar ontvang sodat ons tegnologie op ‘n daaglikse basis in hul leer en onderrig kan inkorporeer. Hierdie skootrekenaars gaan nie huis toe geneem word nie en 30% van hul onderrigtyd gaan daagliks d.m.v. die skootrekenaars (tegnologie) geskied. Dit beteken ook die rol van ons onderwysers verander na die van fasiliteerders en leerders raak meer aktief betrokke by hul eie leer. Navorsing het bewys dat die doeltreffende gebruik van tegnologie ‘n belangrike hulpmiddel in die klas kan wees veral vir leerders met leerhindernisse. Ons weet dat leerders op verskillende wyse leer en tegnologie maak dit soveel makliker om leerders met visuele, ouditiewe en kinetiese leerstyle te akkommodeer. Die gebruik van tegnologie stel ons in staat dat leer en onderrig op enige plek en enige tyd kan plaasvind met die verdere voordeel dat elke leerder teen sy/haar eie pas die werk kan baasraak.

Die week mag dalk kort wees, maar heelwat sportaktiwiteite vind plaas. Die winter buitemuurse program skop reeds op Donderdag, 13 April, af. WP-Netbalproewe het reeds op Donderdagmiddag, 13 April, by Curro Durbanville plaasgevind. Vanmiddag neem ons aan ‘n o.13-hokkietoernooi te Laerskool Van Riebeeckstrand deel. Op Saterdag, 15 April, neem ons o.10A-netbalspan aan ‘n netbaltoernooi te Laerskool Durbanville deel. Ek wens al ons spelers en afrigters sterkte toe en weet dat hulle dit saam met hul spanmaats en ouers sal geniet.

Dit is dan ook my voorreg om ons nuwe waardesembleem aan julle bekend te stel. Ek en Marinda het die voorreg gehad om saam met een van ons ouers, naamlik Annemarie Kemp aan die spesiale projek deel te neem. Annemarie is ‘n dinamiese vrou en uiters talentvol. Ons wil ons nuwe waardesembleem baie meer sigbaar maak en die kosbaarste van alles is dat die waardes se simbole ons asemrowende omgewing asook ons idilliese Fauna en Flora verteenwoordig. Dit laat ‘n mens weer opnuut besef in watter pragtige omgewing ons werk en leef. Baie dankie Annemarie vir die puik werk!

Ons verwelkom dan ook amptelik ons nuwe sportorganiseerder, Rashard Fuller, wat op Woensdag, 12 April, by ons aangesluit het en ons wens hom net die beste toe. Soos julle bewus is, het Benita Smit op 12 April amptelik as die Adjunkhoof by Laerskool De Hoop begin. Raché Turner neem dan as Hoof van die Grondslagfase in Benita se plek waar. Ons wens vir Raché ook alle voorspoed en sukses toe.

Volgende week (week 2) is ‘n besige week wat onder andere die volgende insluit:

  • Maandag, 17 April: Ouerafsprake
  • Dinsdag, 18 April: Ouerafsprake
  • Woensdag, 19 April: Algemene Kennistoets (gr. 4 – 7)
  • Donderdag, 20 April: Kleiduifskiet-kompetisie
  • Saterdag, 22 April: Kaperjolle (Moet dit nie misloop nie!). Baie dankie Coreen en die OOV-span vir al die puik reëlings en harde werk om die sukses van die spesiale dag te verseker.

Ek glo dat almal die nuwe lyne vir op- en aflaai asook vir die parkeerareas aan die agterkant van die skool waargeneem het. Die verfwerk is die afgelope vakansie aangebring. Baie dankie Werner du Toit vir die borgskap van die verfwerk asook mnr. Leon vir al die reëlings in dié verband. Ons glo dit sal beslis help met die beter vloei van verkeer op die skoolterrein en indien almal hul samewerking gee en veral die stop en aflaai-areas eerbiedig, behoort daar heelwat minder frustrasie tydens die op- en aflaai van leerders ervaar te word.

Graag sluit af ek met die volgende stelling oor waardes deur Arsenio V Manalo en wens ek vir julle ‘n wonderlike naweek en ‘n voorspoedige kwartaal 2 toe:

“Good moral values are mostly molded from a place where
Love, Faith and Hope exists.’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF