Die einde van kwartaal 1 het vinnig sy verskyning gemaak met 11 besige weke agter die rug. As skoolgemeenskap kan ons trots terugkyk op al die opwindende gebeure wat by die skool plaasgevind het. Uitnemendheid in alles wat ons doen, staan uit soos ‘n paal bo water en daarvoor is ek uiters trots en dankbaar. Hartlike dank spesiaal aan ons ouers en voogde wat ons so lojaal die afgelope kwartaal ondersteun het. Julle aktiewe betrokkenheid by die skool is instrumenteel in ons skool se algehele sukses.

Vandag ontvang elke leerder ook hul skoolrapport wat erkenning gee vir hul harde werk en toewyding die afgelope kwartaal. Dit was ‘n groot voorreg om elke rapport te kon teken met ‘n kort persoonlike boodskappie vir elke leerder. Graag wil ek vir al ons leerders en onderwysers spesiaal gelukwens en hartlik bedank vir die kollektiewe poging tot die suksesvolle akademiese-, kulturele- en sportprestasies van kwartaal 1. Laat my toe om mnr. Leon Hanekom uit te sonder deur hom hartlik te bedank wat bowenal al sy ander take ook die sport in die afwesigheid van ‘n sportorganiseerder uiters suksesvol die afgelope kwartaal bestuur het. Mnr. Leon, ons is jou baie dankbaar vir al die harde werk en entoesiasme om seker te maak dat elke Jannie ‘n geleentheid kry om sy/haar sport te kon beoefen. Ons sien natuurlik uit na die koms van mnr. Rashard Fuller, ons nuwe sportorganiseerder, wat vanaf kwartaal 2 by ons gaan aansluit.

Die laaste week van die kwartaal is tradisioneel altyd propvol aktiwiteite met die volgende wat geskied het:

  • Gr. 1-uitstappie na Tafelberg op 27 Maart.
  • Die bekende televisie-aanbieder en aktrise Chrystal-Donna Roberts het op Maandag, 27 Maart, om 11:00 met die 4-, 5 en 7 leerders kom gesels.
  • Sportklinieke (netbal & rugby) is op Maandag, 27 Maart, vir al die grondslagfase leerders in skooltyd aangebied.
  • ‘n Hokkiekliniek is vir die graad 1’s en 2’s op Dinsdag, 28 Maart, tydens skooltyd aangebied.
  • Gr. 2 en 3-Musiekkonserte wat op Dinsdag, 28 Maart, in die saal tydens skooltyd plaasgevind het. Baie dankie aan al die ouers/voogde asook oumas en oupas wat die gewilde konserte kom ondersteun het. Dit is altyd kosbaar. Baie dankie aan Juff. Helecia, Estelle en mnr. Ben vir hulle aandeel in die verband.
  • Die Hoërskool Jan van Riebeeck se ‘Paashase’ het saam met hul skoolhoof ons skool besoek en paaseiers aan ons leerders uitgedeel. Baie dankie aan mnr. Pieter Rademeyer en sy span vir die groot bederf. Die besoek het natuurlik baie opwinding onder die graad 1’s veroorsaak.
  • Personeelopleiding in Outistiese Spektrum wat op Dinsdagmiddag, 28 Maart, vanaf 13:15 geskied het. Baie dankie dr. Hanneke Heyns, Pediater, (‘n ouer by ons) wat vir ons onderrigpersoneel bemagtig het deur ‘n puik aanbieding oor hoe om kinders met outisme of kinders wat op die spektrum is, beter in die klas te kan hanteer, te kom aanbied het.
  • Gr. 6’e het vanaf 27 – 29 Maart te Wemmershoek hul jaarlikse kamp bygewoon. Die gr.6’e het dit terdeë geniet en die hoogtepunt was natuurlik toe juf. Lucia en mnr. André besluit het om ook die modderbad aan te durf. Dit is weereens ‘n bewys dat ons personeel altyd bereid is om die ekstra myl vir ons leerders te loop en ‘n verskil in ons leerders se lewens te maak.

  • Die gr. 4s het op Woensdag, 29 Maart, ‘n heerlike uitstappie op die rooi bus (blou roete) geniet.
  • Suid-Kaap sporttoervergadering is op Woensdagaand, 29 Maart, in die saal vanaf 17:30 – 18:00 gehou waar die ouers van die o.13A-rugby, -netbal en hokkiespanne asook die o.12A-netbalspan toestemming gegee het dat die toer vanaf 19 – 23 Junie na die Suid-Kaap kan plaasvind. Groot dankie aan mnr. Leon wat die toer organiseer.
  • IKT-vergadering en demonstrasie met al die gr. 5-ouers is vanaf 18:00 – 19:00 ook op Woensdag, 29 Maart, in die saal aangebied. Die gebruik van die nuwe skootrekenaars wat die gr. 5’e vanaf kwartaal 2 gaan gebruik, is aan hul ouers gedemonstreer. Graag wil ek vir Marié Cruywagen (‘n ouer en BR-lid) uitsonder vir haar harde werk en kosbare tyd wat sy vir meer as ‘n jaar ingesit het om te verseker dat die IKT-Projek suksesvol sal wees. Dit het ure se navorsing en strategiese beplanning vereis voordat die projek uitgerol kon word. Baie dankie Marié dat jy die projek met soveel entoesiasme en passie bestuur wat ons instaat stel om redelik soomloos en effektief die gebruik van tegnologie by die kurrikulum te inkorporeer.
  • Die leerderraad se ouers bederf die personeel met heerlike eetgoed op Woensdag, 29 Maart. Baie dankie aan Ronelle Allewell vir die organisasie.

  • Markdag op Donderdag, 30 Maart 2023.
  • Saterdag, 01 April 2023. Gr. 7’s vertrek op hul Oranjeriviertoer. Ons kan nie wag om die foto’s te sien nie. Geniet dit!

Vandag is daar ook ‘n bietjie hartseer by die skool aangesien ons vandag afskeid van juf. Benita Smit geneem het. Juf. Benita is vanaf 01 April 2023 bevorder tot adjunkhoof vir die grondslagfase by Laerskool De Hoop in Somerset-Wes. Ons wens haar alle sukses en voorspoed toe en ons weet sy sal altyd ‘n Jannie in hart en siel bly. Ons salueer juf. Benita vir al die puik werk wat sy by ons oor die afgelope 4 jaar verrig het. Ons gaan jou beslis mis!

Ons is saam met mnr. Erick opgewonde wat môre met sy sielsgenoot, Lana, trou. Ons wens vir hulle ‘n geseënde huwelik saam vol liefde en voorspoed toe.

Graag sluit af ek deur al ons personeel, die EXCO en die Beheerraad hartlik te bedank vir hul harde werk, toewyding en passie om te verseker dat Laerskool Jan van Riebeeck nie sal stagneer nie, maar aanhou sal groei van krag-tot-krag om in die proses sy leerders te bemagtig om die toekoms met selfvertroue aan te pak en hul volle potensiaal te bereik.

Geniet die komende vakansie, lekker rus en ek wens vir almal ‘n geseënde Paasfeestyd saam met familie en vriende toe. Wees veilig op die pad en mag almal se spreekwoordelike batterye herlaai word om kwartaal 2 behoorlik uitgerus aan te pak.

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF