Kategorie: Algemeen
Maak skoon, maak leeg en skenk als vir Hoërskool Jan van Riebeeck se Plezier Markt wat vir 23 September beplan word!
Ons versoek dat ouers enige van die onderstaande produkte wat in ‘n goeie toestand is, vir die Hoërskool sal skenk. Produkte wat ons ontvang, sal gedurende die mark ten bate van die Hoërskool by hul Thrifting-stalletjie verkoop word.
meubels
juweliersware
handsakke / sakke
klere (volwassenes en kinders)
boeke
legkaarte
lap
wol
Enige produkte wat ons nie verkoop nie, sal aan ander liefdadigheidsorganisasies geskenk word. Alle skenkings kan by die Hoërskool se sekuriteit afgelaai word. Indien enige items by u opgelaai moet word, kontak asseblief vir Jana Rademeyer (navonjane@gmail.com of 083 459 9965) om reëlings te tref. Dankie by voorbaat vir u ondersteuning!
Die Damesontbyt (Saterdag, 2 Sept.) word ongelukkig uitgestel na ‘n ander datum a.g.v. Welgemoed sportdag. Indien jy reeds ‘n kaartjie gekoop het, Liesel sal jou Karri-betaling aan jou terugbetaal in jou Karri-beursie sodat jy dit vir iets anders kan gebruik. Ons sal so gou moontlik ‘n alternatiewe datum bekendstel.
Die afgelope week is soveel mense, skole en besighede in ons Moederstad en Kaapse Metropool ontwrig as gevolg van die geweldadige taxi-stakings. Ons dink veral aan die mense wat hul lewens verloor het en ons bid dat God hul geliefdes tydens die moelike tyd sal vertroos. Die onderwysdistrik waarbinne ons skool val, is die ergste getref in terme van leerder- en personeelafwesighede asook skade aan skoolgeboue. Gelukkig het dit ons skool nie so erg geaffekteer nie, aangesien van ons terreinpersoneel op die skoolgronde woonagtig is en ons die skool relatief skoon en netjies kon hou. Die impak van die staking op skole is skokkend. Net om julle ‘n idee te gee dat op Dinsdag, 08 Augustus, moes 92 skole sluit terwyl 852 259 leerders en 17 725 personeellede indiens van die WKOD afwesig was of nie by die skool kon uitkom nie. Ons hou styf duimvas dat die situasie vinnig en vreedsaam opgelos sal word.
Op Saterdag, 05 Augustus, het ons skool ‘n baie suksesvolle mini-sportdag by die skool aangebied. Verskeie skole se o.7- en o.8-netbal- en rugbspanne het deelgeneem en die leerders het saam met hul afrigters en ouers die mini-sportdag terdeë geniet. Vroegoggend het die weer hard probeer om die dag te versuur, maar gelukkig het die mis vinnig opgeklaar en in ‘n pragtige sonskyndag verander met Tafelberg, Leeukop en Seinheuwel wat die sportverrigtinge fyn dopgehou het. Dit was wonderlik om soveel besoekende leerders, afrigters en hul ouers by ons te ontvang. Baie dankie aan die personeel wat met ‘n glimlag tydens die dag gewerk het om die sukses van die mini-sportdag te verseker. Ons beplan om in die toekoms meer sportdae aan te bied.
Die EXCO (skoolbestuur) het vanaf 07 – 08 Augustus hul jaarlikse strategiese beplanningsessie suksesvol afgelê. Hierdie sessie is uiters belangrik om seker te maak ons trotse skool is strategies op die spreekwoordelike regte pad om ons skool na nog hoër hoogtes saam met die Beheerraad te neem.
Ek glo almal het die spesiale vakansiedag, naamlik Vrouedag op Woensdag, 09 Augustus, saam met hul gesinne geniet. Hierdie was nie sommer net nog ‘n publieke vakansiedag nie, maar ‘n baie spesiale dag waartydens ons die belangrike rol van vrouens in ons samelewing vier. Graag wil ek van die geleentheid gebruik maak om al ons vrouens in ons skoolgemeenskap hartlik te bedank vir die belangrike rol wat hulle speel. Vrouedag moet gevier word om hulde te bring aan vrouens wat groot bydraes tot vroueregte in Suid-Afrika gemaak het. Ek glo vrouens is die spreekwoordelike sout van die aarde asook die gom wat gesinne en families bymekaar hou. Baie dankie dat julle as skoolgemeenskap al ons vrouens wil vereer vir hoe wonderlik en merkwaardig hulle is!
Mag almal wat vanaand aan die jaarlikse Quiz-aand deelneem hul gate uit geniet. Moenie jou algemene kennis-hoed vergeet nie en geniet ‘n heerlike aand van samesyn. Baie dankie aan Karien Zulch wat die spesiale aand reël. Verder wil ek graag ‘n beroep op ons ouers/voogde doen om asseblief ons Akademiese Week vanaf 25 Augustus – 01 September by die skool te ondersteun. Die idee met vanjaar se Akademiese Week is nie noodwendig om iets nuut na afloop van die week by die skool te implementeer nie, maar eerder om Akademie met verskillende leerareas rondom die woord KUNS te integreer. Om daardeur ons skoolgemeenskap te verryk en verder te bou aan die unieke, besondere kultuur wat Laerskool Jan van Riebeeck van ander skole onderskei. Die balans waarna ons skool jaarliks streef, word hiermee gevier, want dit verg ‘n spesiale KUNS om ‘n Laerskool Jan van Riebeecker te wees! Ons rig ‘n ope uitnodiging aan jou om betrokke te raak by hierdie week se program – as toeskouer, deelnemer of selfs aanbieder. Hou asb. hierdie ruimte dop, want daar sal weekliks verdere inligting rondom al die bedrywighede van die week geplaas word. Baie dankie en sterkte aan Marinda wat vir ons die spesiale week reël.

Graag sluit ek af met die volgende anonieme stelling en ek wens vir almal ‘n wonderlike naweek saam met jul gesinne toe.
“Always pray to have eyes that see the best in people,
a heart that forgives the worst,
a mind that forgets the bad,
and a soul that never loses faith.’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Vriendskappe en interaksie met maats is ‘n bron van ondersteuning en dra by tot jou kind se gevoel van eiewaarde aanleer van sosiale vaardighede. Die Engelse akroniem “THINK” is ’n lekker praktiese riglyn om jou kind leiding te gee oor hoe om ‘n goeie maat te wees:
T – Is it true?
H – Is it helpful?
I – Is it inspiring?
N – Is it necessary?
K – Is it kind?
Marike Badenhorst: Opvoedkundige Sielkundige
Om jou kind te dissiplineer, bly ‘n moeilike taak, veral as hy of sy aanhoudend die grense toets en op ‘n onaanvaarbare manier met jou praat. Hier volg ‘n paar voorstelle wat jy as ouer kan probeer om binne ‘n konfliksituasie duidelike grense te stel:
- “Jy mág kwaad raak, maar dit gee jou nie ‘n rede om goed te sê wat my seermaak nie…”
- “Ek kan hoor jy is kwaad en ontsteld, maar dit gee jou nie die reg om só met my te praat nie…”
- “Kan jy bietjie sagter praat dat ek beter kan verstaan wat jy probeer sê…”
- “Kan jy probeer om dit op ‘n ander manier te sê?”
- “Dit klink vir my of jy ‘n bietjie op jou eie wil wees. Ons kan hieroor praat wanneer jy beter voel en nie nodig het om op my te skree nie…”
- “Kom ons stop nou dadelik om hieroor te praat, dan gesels ons later as ons altwee beter voel…”
Marike Badenhorst : Opvoedkundige Sielkundige
Moeder natuur het haar spreekwoordelike winterkloue behoorlik vir die Wes-Kaap en veral vir ons pragtige Moederstad ingeslaan. Selfs die weervoorspelling-toeps se akkuraatheid word die afgelope tyd bevraagteken, want dit voorspel nie reën nie, maar tog word ons geseën. Presies 5 jaar gelede het ons almal gedink Dag Zero gaan aanbreek aangesien ons damme en reservoirs dolleeg was. Ons mag beslis nie weer oor al die wonderlike reën wat aanhoudend oor die stad val, kla nie. Die ongure weer beïnvloed beslis al ons buitemuurse aktiwiteite. Daarom is ons en ander skole in die stad se sport verlede naweek afgestel. Die watertafel van beide die Conradieveld en die junior veld (agter die skool) het met al die baie reën die afgelope tyd baie gestyg en maak dit selfs moeilik om te oefen. Ons vra vir begrip indien oefeninge ook nie kan plaasvind nie.
Beide ons junior en senior kore het op Dinsdagaand, 01 Augustus, saam met die bekende sanger, Jak de Priester, by die ikoniese Groote Kerk opgetree. Die merkwaardige kerk is Suid-Afrika se oudste plek van Christelike aanbidding, gebou deur Herman Schuette in 1841. Ons kore het hulle puik van hul taak gekwyt en het ons baie trots gemaak. Baie dankie juf. Helecia en mnr. Ben vir hul leeue-aandeel in die verband asook juf. Heidré vir die toesig. Graag wil ek al ons ouers/voogde bedank wat die spesiale optrede bygewoon het om ons kore te ondersteun en in die dieselfde asem wil ek Hoërskool Jan van Riebeeck gelukwens met die puik reëlings en ‘n baie suksesvolle aand saam met Jak de Priester.
Groen Vrydag wat op 28 Julie by die skool plaasgevind het, is georganiseer om die afskop van die Vroue Netbal Wêreldbeker te vier. Dit was ‘n reuse sukses. Ons leerders en personeel het lekker geesgevang deur groen en goud aan te trek om ons nasionale netbalspan vir die toernooi, wat op ons voorstoep plaasvind, te ondersteun. Volg hierdie skakel vir ‘n video van die doelgooikompetisie. Ek doen ‘n beroep dat ons as skoolgemeenskap aanhou om die Proteas te ondersteun. Hulle gelykop telling teen New Zealand op Woensdagaand, 02 Augustus, was beslis ‘n hoogtepunt vir ons nasie. Kom ons hou styf duimvas dat hulle goed sal vaar in die res van die toernooi en 5de sal eindig.

Graag sluit ek af met die volgende stelling deur Joel Randymar oor die lewe en wens ek vir al die mini-sportspanne (o.7 & 0.8-netbal en rugby) wat môreoggend aan ons eie mini-rugby en -netbaldag gaan deelneem, sterkte toe. Mag almal ‘n wonderlike naweek saam met jul gesinne geniet.
“Life is not about having everything
It is about finding meaning in everything.’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Die einde van week 2 het so skielik sy verskyning gemaak en laat ‘n mens weereens besef hoe vinnig tyd verby snel. Dit voel skaars of die skool na die lekker wintervakansie heropen het, en hier staan ons aan die einde van week 2. Die anderkant van die munt is dat tyd nog vinniger verby gaan wanneer jy pret het, en dit is presies wat by ons wonderlike skool gebeur. Ons jannies leer, speel sport en beoefen kultuur terwyl hulle pret het om net hulself te wees. Baie dankie aan al die personeel wat help dat ons die spesiale etos en kultuur by ons skool omhels sodat ons in die proses seker maak dat ons Jannies hul skoollewe terdeë geniet.
Verlede naweek het ons o.10 – o.13-hokkiespanne (seuns en dogters) suksesvol aan die LS Stellenbosch se hokkietoernooi deelgeneem. Die week begin die netbal-, hokkie- en rugby ligawedstryde. Die sportkalendar vir die kwartaal is vol gepak met sportwedstryde, toernooie asook die jaarlikse interskole wat weg teen LS Dirkie Uys te Moorreesburg vanaf 18 – 19 Augustus plaasvind. Ek versoek dus die ouers/voogde om gereeld ons kalender te raadpleeg om sodoende nie op die opwindende sport- en kultuuraktiwiteite uit te mis nie.
Gisteroggend met die aanvang van die skooldag het ek die voorreg gehad om na die senior koor te luister terwyl hulle oefen vir hul optrede saam met Jak de Priester op Dinsdagaand, 01 Augustus, by die Groote Kerk. Hulle het ongelooflik mooi gesing en my dag kon nie op ‘n beter noot begin het nie. Baie dankie en geluk aan juf. Helecia en mnr. Ben met die kore wat dag-na-dag net beter en beter sing soos hulle meer gereeld oefen en optree. Maak dus seker dat julle nie die spesiale optrede volgende week mis nie.
Op Vrydag, 21 Julie, het Stephanie le Roux gereël dat 13 van ons behoeftige leerders se oë by Tomlinson Oogkundiges getoets word. Esna van der Walt en Suna Karsten (almal oud-ouers) het die oogtoetse behartig. Ons was baie verbaas om te hoor hoeveel van die leerders ‘n brilvoorskrif benodig – 9 van die 13 leerders benodig ‘n bril. Party van die leerders het regtig hoë brilvoorskrifte nodig en ons hoop om ‘n verbetering in hul skoolwerk te sien. Tomlinson oogkundiges spesialiseer in kindervisie en doen jaarliks oogsiftingstoetse by verskeie skole in Kaapstad. Hiemee wil ons vir Esna en Suna vir die oogtoetse asook Stephanie wat al die rame en lense gerëel het, hartlik bedank vir die pragtige gebaar om ons behoeftige leerders te help.
Vandag is dit Groendag by die skool, ons vier die afskop van die Vroue Netbal Wêreldbeker wat in die Moederstad plaasvind. Hiermee wil ons, ons nasionale netbalspan voluit vir die hele toernooi ondersteun. Ons ondersteun ook graag die Bokke wat môre teen Argentinië in Johannesburg rugby speel. Daarom nooi ons ons ouers/voogde/au pairs uit om vandag Groen te dra ter ondersteuning van ons nasionale netbal- en rugbyspanne en sommer in die proses lekker gees te vang en nasie te bou!
Laat my ook toe om onderskeidelik vir Beulah (Snoepiebestuurder) en haar man Andrew Magerman hartlik geluk te wens met hul troue wat op 08 Julie plaasgevind het asook Suzaan en Gerrit wat verlede naweek verloof geraak het. Ons beste wense en ‘n wonderlike toekoms saam vergesel hulle.
Graag sluit ek dan af met die volgende stelling oor dankbaarheid en wens vir al die sportspanne wat oor die naweek gaan deelneem sterkte toe. Mag almal ‘n wonderlike naweek saam met jul gesinne geniet.
“Dankbaarheid is die kortste weg na Geluk.’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Dit is dan my groot eer en voorreg om ons leerders, ouers/voogde en personeel hartlik terug by die skool na ‘n heerlike wintervakansie te verwelkom. Ek glo dat almal die 3 weke van lekker rus behoorlik gebruik het om die spreekwoordelike battery sommer ten volle te herlaai en is slaggereed vir nog ‘n opwindende kwartaal propvol aktiwiteite wat voorlê. Daar is heelwat sport, kultuur (Koor & Eisteddfod) en akademiese aktiwiteite om na uit te sien, veral die interskole wat weg tydens die naweek van 18 en 19 Augustus te Moorreesburg plaasvind asook die akademiese week vanaf 25 Augustus tot 02 September. Meer inligting sal binnekort volg.
Die Suid-Kaap Sporttoer vanaf 19 – 23 Junie 2023 was ‘n reuse sukses en die leerders wat die toer meegemaak het, kan nie ophou praat oor die wonderlike ervaring om teen skole buite ons area te speel asook die ongelooflike besienswaardighede wat hulle besoek het nie. Ons het nie toegelaat dat die leerders hulle selfone saam op toer neem nie. Hulle het saans na die sportwedstryde bordspeletjies gespeel en lekker met mekaar gesels. Dit is juis die samesyn, sosialisering en kameraadskap wat die leerders vir ‘n baie lang tyd gaan onthou en waardeer. Weereens baie dankie aan die onderwysers (Leon, Ischké, Shahneé, Sharon, Erick, Suné Swanepoel en Rashard) wat die leerders op toer vergesel het en so mooi na hulle omgesien het. Mnr. Leon, baie dankie en geluk met die reël van die puik sporttoer. Hierdie Suid-Kaap Sporttoer vir die o.13A-Netbal-, o.13A-Rugby-, o.13A-Hokkie- (seuns en dogters) asook die o.12A-Netbalspan word nou ‘n jaarlikse instelling en daar word reeds aan die 2024 sporttoer beplan.
Op Dinsdag, 18 Julie, het al ons Jannies en onderwysers terug skool toe gekeer. Die eerste dag van kwartaal 3 is tradisioneel met ‘n saalbyeenkoms begin waartydens ek almal amptelik na die heerlike vakansie kon verwelkom. Die saalboodskap is deur ons 2023 Hoofseun en Hoofdogter gelewer. Jan-Willem Silvis en Mieke Huysamen het hul puik van hul taak gekwyt met hul eerste amptelik optrede as die nuwe hoofseun en –dogter. Baie dankie aan Jan en Karlien Silvis (Jan-Willem se ouers) en André en Tanya Huysamen (Mieke se ouers) wat die simboliese aansteek van die hoofleierbalkies behartig het. Verder het ons ook saam met die res van die wêreld Nelson Mandela Internasionale Dag gevier. Ek verwys graag na een van Madiba se legendariese stellings wat so gepas is vir onderwys, naamlik “Education is the most powerful weapon which you can use to change the world’’.

Dit is dan ook my eer en voorreg om met julle te deel dat juf. Ischké (netbalhoof) gedurende die Junie-vakansie haar Protea-kleure as nasionale netbalskeidsregter verwerf het. Welgedaan Ischké! Ons is baie trots op jou en dankbaar vir alles wat jy vir netbal by ons skool tot voordeel van ons netbaldogters doen.
Die buitemuurse program het ook die week volstoom afgeskop terwyl die gure weer vir ons verskeie uitdagings gebied het om met die sportoefeninge voort te gaan. Sterkte aan die o.9 – o.13 hokkiespanne wat vanaf vanmiddag en môre aan Laerskool Stellenbosch se hokkietoernooi deelneem.
Graag sluit ek dan af met die volgende stelling van Andy Andrews rakende die lewe en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe.
“Life itself is a privilege
But to live life to the fullest, well that is a choice.’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
So breek die einde van ‘n lang en besige, maar opwindende kwartaal aan. Vandag ontvang elke leerder sy/haar rapport om erkenning te ontvang vir hul harde werk, toewyding en deursettingsvermoë die afgelope kwartaal. Ek wil graag die leerders gelukwens en komplimenteer met hul spograpporte. Ons is saam met julle as ouers/voogde baie trots op jul kinders se akademiese vordering en –prestasies. Geniet nou die welverdiende vakansie om sommer alles te doen wat jy die afgelope tyd as gevolg van die eksamen nie voor tyd gehad het nie.
Ons sporttoerspanne het op Maandag, 19 Junie, so net na 08:00 op ‘n luukse bus na die Suid-Kaap vir ‘n weeklange sporttoer vertrek. Die eerste stop en wedstryde het op dieselfde dag teen LS Swellendam geskied waar die hokkiespanne hul eerste toerwedstryde gespeel het. Die o.13A-seunshokkiespan het ongelukkig 1 – 2 verloor, maar die o.13A-dogterspan het daarvoor opgemaak en 1 – 0 gewen. Die toer het dus op ‘n goeie noot afgeskop en nie eers die gure weer kon hul geesdrif demp nie.

Laat my asseblief toe om ons personeel hartlik te bedank vir hul harde werk en toewyding die afgelope kwartaal om te verseker dat ons Jannies hul volle potensiaal bereik. Dit was ‘n besige kwartaal vol sportaktiwiteite en lekker geleenthede soos die kleiduifskiet, kaperjolle en die suksesvolle veiling. Indien jy refleksie rakende die afgelope kwartaal sou wou neem, staan daar een ding soos die spreekwoordelike paal bo water uit en dit is SUKSES. Daarvoor is ons baie dankbaar en wil graag ons dinamiese Beheerraad hartlik bedank vir hul effektiewe leiding en kosbare tyd om saam met die EXCO (bestuurspan) Laerskool Jan van Riebeeck na hoër hoogtes te lei sodat ons trotse skool as een van die voortreflikste skole in die land kan vestig. ‘n Skool kan slegs suksesvol wees indien sy ouers/voogde aktief betrokke is, en dit is waarvoor ons skool staan – betrokke ouers/voogde wat net die beste vir hul kinders en die skoolgemeenskap wil hê. Mag ons die spesiale etos by die skool asook die unieke band tussen leerders, ouers/voogde en personeel vir nog baie lank koester! Solank ons onsself kan wees, sal die Laerskool Jan van Riebeeck van krag-tot-krag gaan. Laastens, maar nie die minste nie, baie dankie aan Louise en haar wonderlike span by Huppelland wat ongelooflike werk doen om die Huppellanders so mooi vir die laerskool voor te berei.
Baie dankie aan die musiekdepartement (Helecia, Ben en Estelle) vir die pragtige musiekkonserte wat op Dinsdag, 20 Junie, in skooltyd aangebied is. Baie dankie en geluk aan die musiekleerders wat ons met hul talente trakteer het. Julle maak ons baie trots! Baie dankie ook aan die ouers/voogde asook oumas en oupas wat die geleentheid kom ondersteun het.
Graag sluit ek af met die volgende stelling van Arianna Huffington rakende dankbaarheid en wens vir julle ‘n wonderlike en welverdiende vakansie toe. Wees veilig. Ons kan nie wag om al die Jannies op 18 Julie terug by die skool te verwelkom nie:
“Living in a state of gratitude is
the gate way to grace.’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Die Hoër- en Laerskool Jan van Riebeeck word hierdie jaar omtrent bederf met ‘n eerste. Adrian en Mieke Huysamen verteenwoordig hul gesin deur hierdie jaar elkeen ‘n hoofleierrol in hul onderskeie skole te vertolk. Adrian, die Hoofseun vir 2023 (HS JvR), en sy sussie, Mieke, as Hoofdogter vir 2023 (LS JvR). Hoe kosbaar is dit nie vir ons Jan van Riebeeck-span om dit saam met die Huysamen-gesin te vier nie!
So kom die 2de laaste week van die kwartaal asook die eksamen tot ‘n einde. Ek glo dat heelwat ouers/voogde saam met hul kinders ‘n sug van verligting gegee het toe die laaste vak op Woensdag, 14 Junie, geskryf is. Die antwoordstelle is amper klaar gemerk, deeglike moderering geskied en punte word verwerk sodat ons op Vrydag, 23 Junie, die dag wat die skole sluit, vir elke leerder sy/haar rapport kan gee.
Graag wil ek spesifiek die leerders bedank en gelukwens met hul deeglike voorbereiding vir die eksamen asook die besonderse werketiek wat hulle dwarsdeur die jaar handhaaf. Hartlike dank aan ons ouers/voogde wat hul kinders so mooi en lojaal die afgelope twee weke tydens die eksamen/assessering ondersteun het om net hul beste te doen.
Vanaf Maandag, 05 Junie, het die interim buitemuurse sportprogram in skooltyd, net na die aflê van die daaglikse eksamens plaasgevind. Die doel om nog steeds met sportoefeninge gedurende die eksamentyd voort te gaan, was tweeledig: eerstens geniet die leerders dit terdeë om direk na ‘n lang eksamensessie uit die klas te kom, die vars lug te geniet en aktief te wees wat sommer ook help met hul algemene geestelike welsyn. Tweedens help die program om hulle fiks te hou asook om hul spelpeil langer te handhaaf veral met ‘n welverdiende 3 weke-vakansie wat voorlê. Daar is die afgelope kwartaal so hard gewerk om fiksheidsvlakke te verbeter, effektiewe spelpatrone te implementeer en indien ons sportoefeninge vanaf die begin van die eksamens sou stop plus die vakansie wat voorlê, beteken dit dat daar amper 7 weke van geen oefeninge sou plaasvind nie. Dit is vir my belangrik dat ons leerders veral tydens die eksamen aktief bly, want dit hou hulle besig en neem hul aandag weg van die stres en angstigheid wat tydens formele assesserings ervaar word.
Op Dinsdag, 13 Junie, het die gr. 4’s Engels Eerste Addisionele Taal geskryf en om sommer ‘n bietjie pret te hê en die eksamenangs in bedwang te hou, kon die leerders soos hul gunsteling Roald Dahl-karakter aantrek en op die dag eksamen skryf. Hulle het pragtig gelyk en die Engelse vraestel sommer maklik kaf gedraf.

Op Donderdag, 15 Junie, is die sportklere vir die Suid-Kaap Sporttoer in die saal oorhandig. Groot was die verrassing toe Scarra Ntubeni (Stormers rugbyspeler) die toerklere aan die toerspelers kom oorhandig het. Dit het die geleentheid baie spesiaal gemaak. Verder het die o.12A-Netbalspan wat ook die toer gaan mee maak hul eie gelukbringer vir die toer bekend gestel, naamlik Janneke. Baie dankie aan Ria Hertzog wat die spesiale gelukbringer se klere in ‘n japtrap aan mekaar geslaan het. Die toergroep is baie opgewonde oor die 5-dae toer na die Suid-Kaap. Hulle vertrek Maandag, 19 Junie, en keer op Vrydag, 23 Junie, terug. Baie dankie aan die toerorganiseerder, Leon Hanekom, wat die fantastiese toer beplan en gereël het. Die toer sluit ook die besoek aan heelwat bekende toeriste-attraksies in die Suid-Kaap in. Verseker gaan ons leerders hul gate uit geniet. Ek wens vir hulle ‘n voorspoedige en genotvolle toer toe.

Dit is dan my voorreg om die 2023 Hoofdogter en Hoofseun bekend te maak na afloop van die verkiesing op Woensdag, 14 Junie. Baie geluk aan Mieke Huysamen en Jan-Willem Silvis.
Graag sluit ek af met die volgende ware stelling van Henri Frederic Amiel rakende dankbaarheid en wens vir julle ‘n wonderlike langnaweek toe.
“Thankfulness is the beginning of gratitude.
Gratitude is the completion of thankfulness.
Thankfulness may consist merely of words.
Gratitude is shown in acts.”
Vriendelike groete
Naas Beets
- Markdag vind Donderdag, 22 Junie, plaas.
- Dit is die grondslagfase se beurt vir verkope.
- Tafelbesprekings sluit Dinsdag om 13:00.
- Geen kontant word aanvaar vir die bespreek van tafels nie, betalings kan slegs op die Karri-toep gemaak word.
- Markdag sal van 11:30 – 12:15 geskied.
- Geen klappers of lewende hawe mag verkoop word nie.
Belangrike Datums
maart 2026
april 2026
mei 2026
junie 2026
julie 2026
augustus 2026
september 2026
oktober 2026
november 2026
desember 2026
