So breek die einde van ‘n lang en besige, maar opwindende kwartaal aan. Vandag ontvang elke leerder sy/haar rapport om erkenning te ontvang vir hul harde werk, toewyding en deursettingsvermoë die afgelope kwartaal. Ek wil graag die leerders gelukwens en komplimenteer met hul spograpporte. Ons is saam met julle as ouers/voogde baie trots op jul kinders se akademiese vordering en –prestasies. Geniet nou die welverdiende vakansie om sommer alles te doen wat jy die afgelope tyd as gevolg van die eksamen nie voor tyd gehad het nie.

Ons sporttoerspanne het op Maandag, 19 Junie, so net na 08:00 op ‘n luukse bus na die Suid-Kaap vir ‘n weeklange sporttoer vertrek. Die eerste stop en wedstryde het op dieselfde dag teen LS Swellendam geskied waar die hokkiespanne hul eerste toerwedstryde gespeel het. Die o.13A-seunshokkiespan het ongelukkig 1 – 2 verloor, maar die o.13A-dogterspan het daarvoor opgemaak en 1 – 0 gewen. Die toer het dus op ‘n goeie noot afgeskop en nie eers die gure weer kon hul geesdrif demp nie.

Laat my asseblief toe om ons personeel hartlik te bedank vir hul harde werk en toewyding die afgelope kwartaal om te verseker dat ons Jannies hul volle potensiaal bereik. Dit was ‘n besige kwartaal vol sportaktiwiteite en lekker geleenthede soos die kleiduifskiet, kaperjolle en die suksesvolle veiling. Indien jy refleksie rakende die afgelope kwartaal sou wou neem, staan daar een ding soos die spreekwoordelike paal bo water uit en dit is SUKSES. Daarvoor is ons baie dankbaar en wil graag ons dinamiese Beheerraad hartlik bedank vir hul effektiewe leiding en kosbare tyd om saam met die EXCO (bestuurspan) Laerskool Jan van Riebeeck na hoër hoogtes te lei sodat ons trotse skool as een van die voortreflikste skole in die land kan vestig. ‘n Skool kan slegs suksesvol wees indien sy ouers/voogde aktief betrokke is, en dit is waarvoor ons skool staan – betrokke ouers/voogde wat net die beste vir hul kinders en die skoolgemeenskap wil hê. Mag ons die spesiale etos by die skool asook die unieke band tussen leerders, ouers/voogde en personeel vir nog baie lank koester! Solank ons onsself kan wees, sal die Laerskool Jan van Riebeeck van krag-tot-krag gaan. Laastens, maar nie die minste nie, baie dankie aan Louise en haar wonderlike span by Huppelland wat ongelooflike werk doen om die Huppellanders so mooi vir die laerskool voor te berei.

Baie dankie aan die musiekdepartement (Helecia, Ben en Estelle) vir die pragtige musiekkonserte wat op Dinsdag, 20 Junie, in skooltyd aangebied is. Baie dankie en geluk aan die musiekleerders wat ons met hul talente trakteer het. Julle maak ons baie trots! Baie dankie ook aan die ouers/voogde asook oumas en oupas wat die geleentheid kom ondersteun het.

Graag sluit ek af met die volgende stelling van Arianna Huffington rakende dankbaarheid en wens vir julle ‘n wonderlike en welverdiende vakansie toe. Wees veilig. Ons kan nie wag om al die Jannies op 18 Julie terug by die skool te verwelkom nie:

“Living in a state of gratitude is
the gate way to grace.’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF