Moeder natuur het haar spreekwoordelike winterkloue behoorlik vir die Wes-Kaap en veral vir ons pragtige Moederstad ingeslaan. Selfs die weervoorspelling-toeps se akkuraatheid word die afgelope tyd bevraagteken, want dit voorspel nie reën nie, maar tog word ons geseën. Presies 5 jaar gelede het ons almal gedink Dag Zero gaan aanbreek aangesien ons damme en reservoirs dolleeg was. Ons mag beslis nie weer oor al die wonderlike reën wat aanhoudend oor die stad val, kla nie. Die ongure weer beïnvloed beslis al ons buitemuurse aktiwiteite. Daarom is ons en ander skole in die stad se sport verlede naweek afgestel. Die watertafel van beide die Conradieveld en die junior veld (agter die skool) het met al die baie reën die afgelope tyd baie gestyg en maak dit selfs moeilik om te oefen. Ons vra vir begrip indien oefeninge ook nie kan plaasvind nie.

Beide ons junior en senior kore het op Dinsdagaand, 01 Augustus, saam met die bekende sanger, Jak de Priester, by die ikoniese Groote Kerk opgetree. Die merkwaardige kerk is Suid-Afrika se oudste plek van Christelike aanbidding, gebou deur Herman Schuette in 1841. Ons kore het hulle puik van hul taak gekwyt en het ons baie trots gemaak. Baie dankie juf. Helecia en mnr. Ben vir hul leeue-aandeel in die verband asook juf. Heidré vir die toesig. Graag wil ek al ons ouers/voogde bedank wat die spesiale optrede bygewoon het om ons kore te ondersteun en in die dieselfde asem wil ek Hoërskool Jan van Riebeeck gelukwens met die puik reëlings en ‘n baie suksesvolle aand saam met Jak de Priester.

Groen Vrydag wat op 28 Julie by die skool plaasgevind het, is georganiseer om die afskop van die Vroue Netbal Wêreldbeker te vier. Dit was ‘n reuse sukses. Ons leerders en personeel het lekker geesgevang deur groen en goud aan te trek om ons nasionale netbalspan vir die toernooi, wat op ons voorstoep plaasvind, te ondersteun. Volg hierdie skakel vir ‘n video van die doelgooikompetisie. Ek doen ‘n beroep dat ons as skoolgemeenskap aanhou om die Proteas te ondersteun. Hulle gelykop telling teen New Zealand op Woensdagaand, 02 Augustus, was beslis ‘n hoogtepunt vir ons nasie. Kom ons hou styf duimvas dat hulle goed sal vaar in die res van die toernooi en 5de sal eindig. 

Graag sluit ek af met die volgende stelling deur Joel Randymar oor die lewe en wens ek vir al die mini-sportspanne (o.7 & 0.8-netbal en rugby) wat môreoggend aan ons eie mini-rugby en -netbaldag gaan deelneem, sterkte toe. Mag almal ‘n wonderlike naweek saam met jul gesinne geniet.

“Life is not about having everything
It is about finding meaning in everything.’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF