Die afgelope week is soveel mense, skole en besighede in ons Moederstad en Kaapse Metropool ontwrig as gevolg van die geweldadige taxi-stakings. Ons dink veral aan die mense wat hul lewens verloor het en ons bid dat God hul geliefdes tydens die moelike tyd sal vertroos. Die onderwysdistrik waarbinne ons skool val, is die ergste getref in terme van leerder- en personeelafwesighede asook skade aan skoolgeboue. Gelukkig het dit ons skool nie so erg geaffekteer nie, aangesien van ons terreinpersoneel op die skoolgronde woonagtig is en ons die skool relatief skoon en netjies kon hou. Die impak van die staking op skole is skokkend. Net om julle ‘n idee te gee dat op Dinsdag, 08 Augustus, moes 92 skole sluit terwyl 852 259 leerders en 17 725 personeellede indiens van die WKOD afwesig was of nie by die skool kon uitkom nie. Ons hou styf duimvas dat die situasie vinnig en vreedsaam opgelos sal word.

Op Saterdag, 05 Augustus, het ons skool ‘n baie suksesvolle mini-sportdag by die skool aangebied. Verskeie skole se o.7- en o.8-netbal- en rugbspanne het deelgeneem en die leerders het saam met hul afrigters en ouers die mini-sportdag terdeë geniet. Vroegoggend het die weer hard probeer om die dag te versuur, maar gelukkig het die mis vinnig opgeklaar en in ‘n pragtige sonskyndag verander met Tafelberg, Leeukop en Seinheuwel wat die sportverrigtinge fyn dopgehou het. Dit was wonderlik om soveel besoekende leerders, afrigters en hul ouers by ons te ontvang. Baie dankie aan die personeel wat met ‘n glimlag tydens die dag gewerk het om die sukses van die mini-sportdag te verseker. Ons beplan om in die toekoms meer sportdae aan te bied.

Die EXCO (skoolbestuur) het vanaf 07 – 08 Augustus hul jaarlikse strategiese beplanningsessie suksesvol afgelê. Hierdie sessie is uiters belangrik om seker te maak ons trotse skool is strategies op die spreekwoordelike regte pad om ons skool na nog hoër hoogtes saam met die Beheerraad te neem.

Ek glo almal het die spesiale vakansiedag, naamlik Vrouedag op Woensdag, 09 Augustus, saam met hul gesinne geniet. Hierdie was nie sommer net nog ‘n publieke vakansiedag nie, maar ‘n baie spesiale dag waartydens ons die belangrike rol van vrouens in ons samelewing vier. Graag wil ek van die geleentheid gebruik maak om al ons vrouens in ons skoolgemeenskap hartlik te bedank vir die belangrike rol wat hulle speel. Vrouedag moet gevier word om hulde te bring aan vrouens wat groot bydraes tot vroueregte in Suid-Afrika gemaak het. Ek glo vrouens is die spreekwoordelike sout van die aarde asook die gom wat gesinne en families bymekaar hou. Baie dankie dat julle as skoolgemeenskap al ons vrouens wil vereer vir hoe wonderlik en merkwaardig hulle is!

Mag almal wat vanaand aan die jaarlikse Quiz-aand deelneem hul gate uit geniet. Moenie jou algemene kennis-hoed vergeet nie en geniet ‘n heerlike aand van samesyn. Baie dankie aan Karien Zulch wat die spesiale aand reël. Verder wil ek graag ‘n beroep op ons ouers/voogde doen om asseblief ons Akademiese Week vanaf 25 Augustus – 01 September by die skool te ondersteun. Die idee met vanjaar se Akademiese Week is nie noodwendig om iets nuut na afloop van die week by die skool te implementeer nie, maar eerder om Akademie met verskillende leerareas rondom die woord KUNS te integreer. Om daardeur ons skoolgemeenskap te verryk en verder te bou aan die unieke, besondere kultuur wat Laerskool Jan van Riebeeck van ander skole onderskei. Die balans waarna ons skool jaarliks streef, word hiermee gevier, want dit verg ‘n spesiale KUNS om ‘n Laerskool Jan van Riebeecker te wees! Ons rig ‘n ope uitnodiging aan jou om betrokke te raak by hierdie week se program – as toeskouer, deelnemer of selfs aanbieder. Hou asb. hierdie ruimte dop, want daar sal weekliks verdere inligting rondom al die bedrywighede van die week geplaas word. Baie dankie en sterkte aan Marinda wat vir ons die spesiale week reël.

Graag sluit ek af met die volgende anonieme stelling en ek wens vir almal ‘n wonderlike naweek saam met jul gesinne toe.

“Always pray to have eyes that see the best in people,
a heart that forgives the worst,
a mind that forgets the bad,
and a soul that never loses faith.’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF