Die einde van week 2 het so skielik sy verskyning gemaak en laat ‘n mens weereens besef hoe vinnig tyd verby snel. Dit voel skaars of die skool na die lekker wintervakansie heropen het, en hier staan ons aan die einde van week 2. Die anderkant van die munt is dat tyd nog vinniger verby gaan wanneer jy pret het, en dit is presies wat by ons wonderlike skool gebeur. Ons jannies leer, speel sport en beoefen kultuur terwyl hulle pret het om net hulself te wees. Baie dankie aan al die personeel wat help dat ons die spesiale etos en kultuur by ons skool omhels sodat ons in die proses seker maak dat ons Jannies hul skoollewe terdeë geniet.

Verlede naweek het ons o.10 – o.13-hokkiespanne (seuns en dogters) suksesvol aan die LS Stellenbosch se hokkietoernooi deelgeneem. Die week begin die netbal-, hokkie- en rugby ligawedstryde. Die sportkalendar vir die kwartaal is vol gepak met sportwedstryde, toernooie asook die jaarlikse interskole wat weg teen LS Dirkie Uys te Moorreesburg vanaf 18 – 19 Augustus plaasvind. Ek versoek dus die ouers/voogde om gereeld ons kalender te raadpleeg om sodoende nie op die opwindende sport- en kultuuraktiwiteite uit te mis nie.

Gisteroggend met die aanvang van die skooldag het ek die voorreg gehad om na die senior koor te luister terwyl hulle oefen vir hul optrede saam met Jak de Priester op Dinsdagaand, 01 Augustus, by die Groote Kerk. Hulle het ongelooflik mooi gesing en my dag kon nie op ‘n beter noot begin het nie. Baie dankie en geluk aan juf. Helecia en mnr. Ben met die kore wat dag-na-dag net beter en beter sing soos hulle meer gereeld oefen en optree. Maak dus seker dat julle nie die spesiale optrede volgende week mis nie.

Op Vrydag, 21 Julie, het Stephanie le Roux gereël dat 13 van ons behoeftige leerders se oë by Tomlinson Oogkundiges getoets word. Esna van der Walt en Suna Karsten (almal oud-ouers) het die oogtoetse behartig. Ons was baie verbaas om te hoor hoeveel van die leerders ‘n brilvoorskrif benodig – 9 van die 13 leerders benodig ‘n bril. Party van die leerders het regtig hoë brilvoorskrifte nodig en ons hoop om ‘n verbetering in hul skoolwerk te sien. Tomlinson oogkundiges spesialiseer in kindervisie en doen jaarliks oogsiftingstoetse by verskeie skole in Kaapstad. Hiemee wil ons vir Esna en Suna vir die oogtoetse asook Stephanie wat al die rame en lense gerëel het, hartlik bedank vir die pragtige gebaar om ons behoeftige leerders te help.

Vandag is dit Groendag by die skool, ons vier die afskop van die Vroue Netbal Wêreldbeker wat in die Moederstad plaasvind. Hiermee wil ons, ons nasionale netbalspan voluit vir die hele toernooi ondersteun. Ons ondersteun ook graag die Bokke wat môre teen Argentinië in Johannesburg rugby speel. Daarom nooi ons ons ouers/voogde/au pairs uit om vandag Groen te dra ter ondersteuning van ons nasionale netbal- en rugbyspanne en sommer in die proses lekker gees te vang en nasie te bou!

Laat my ook toe om onderskeidelik vir Beulah (Snoepiebestuurder) en haar man Andrew Magerman hartlik geluk te wens met hul troue wat op 08 Julie plaasgevind het asook Suzaan en Gerrit wat verlede naweek verloof geraak het. Ons beste wense en ‘n wonderlike toekoms saam vergesel hulle.

Graag sluit ek dan af met die volgende stelling oor dankbaarheid en wens vir al die sportspanne wat oor die naweek gaan deelneem sterkte toe. Mag almal ‘n wonderlike naweek saam met jul gesinne geniet.

“Dankbaarheid is die kortste weg na Geluk.’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF