Dit is dan my groot eer en voorreg om ons leerders, ouers/voogde en personeel hartlik terug by die skool na ‘n heerlike wintervakansie te verwelkom. Ek glo dat almal die 3 weke van lekker rus behoorlik gebruik het om die spreekwoordelike battery sommer ten volle te herlaai en is slaggereed vir nog ‘n opwindende kwartaal propvol aktiwiteite wat voorlê. Daar is heelwat sport, kultuur (Koor & Eisteddfod) en akademiese aktiwiteite om na uit te sien, veral die interskole wat weg tydens die naweek van 18 en 19 Augustus te Moorreesburg plaasvind asook die akademiese week vanaf 25 Augustus tot 02 September. Meer inligting sal binnekort volg.

Die Suid-Kaap Sporttoer vanaf 19 – 23 Junie 2023 was ‘n reuse sukses en die leerders wat die toer meegemaak het, kan nie ophou praat oor die wonderlike ervaring om teen skole buite ons area te speel asook die ongelooflike besienswaardighede wat hulle besoek het nie. Ons het nie toegelaat dat die leerders hulle selfone saam op toer neem nie. Hulle het saans na die sportwedstryde bordspeletjies gespeel en lekker met mekaar gesels. Dit is juis die samesyn, sosialisering en kameraadskap wat die leerders vir ‘n baie lang tyd gaan onthou en waardeer. Weereens baie dankie aan die onderwysers (Leon, Ischké, Shahneé, Sharon, Erick, Suné Swanepoel en Rashard) wat die leerders op toer vergesel het en so mooi na hulle omgesien het. Mnr. Leon, baie dankie en geluk met die reël van die puik sporttoer. Hierdie Suid-Kaap Sporttoer vir die o.13A-Netbal-, o.13A-Rugby-, o.13A-Hokkie- (seuns en dogters) asook die o.12A-Netbalspan word nou ‘n jaarlikse instelling en daar word reeds aan die 2024 sporttoer beplan.

Op Dinsdag, 18 Julie, het al ons Jannies en onderwysers terug skool toe gekeer. Die eerste dag van kwartaal 3 is tradisioneel met ‘n saalbyeenkoms begin waartydens ek almal amptelik na die heerlike vakansie kon verwelkom. Die saalboodskap is deur ons 2023 Hoofseun en Hoofdogter gelewer. Jan-Willem Silvis en Mieke Huysamen het hul puik van hul taak gekwyt met hul eerste amptelik optrede as die nuwe hoofseun en –dogter. Baie dankie aan Jan en Karlien Silvis (Jan-Willem se ouers) en André en Tanya Huysamen (Mieke se ouers) wat die simboliese aansteek van die hoofleierbalkies behartig het. Verder het ons ook saam met die res van die wêreld Nelson Mandela Internasionale Dag gevier. Ek verwys graag na een van Madiba se legendariese stellings wat so gepas is vir onderwys, naamlik “Education is the most powerful weapon which you can use to change the world’’.

Dit is dan ook my eer en voorreg om met julle te deel dat juf. Ischké (netbalhoof) gedurende die Junie-vakansie haar Protea-kleure as nasionale netbalskeidsregter verwerf het. Welgedaan Ischké! Ons is baie trots op jou en dankbaar vir alles wat jy vir netbal by ons skool tot voordeel van ons netbaldogters doen.

Die buitemuurse program het ook die week volstoom afgeskop terwyl die gure weer vir ons verskeie uitdagings gebied het om met die sportoefeninge voort te gaan. Sterkte aan die o.9 – o.13 hokkiespanne wat vanaf vanmiddag en môre aan Laerskool Stellenbosch se hokkietoernooi deelneem.

Graag sluit ek dan af met die volgende stelling van Andy Andrews rakende die lewe en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe.

“Life itself is a privilege
But to live life to the fullest, well that is a choice.’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF