So kom die 2de laaste week van die kwartaal asook die eksamen tot ‘n einde. Ek glo dat heelwat ouers/voogde saam met hul kinders ‘n sug van verligting gegee het toe die laaste vak op Woensdag, 14 Junie, geskryf is. Die antwoordstelle is amper klaar gemerk, deeglike moderering geskied en punte word verwerk sodat ons op Vrydag, 23 Junie, die dag wat die skole sluit, vir elke leerder sy/haar rapport kan gee.

Graag wil ek spesifiek die leerders bedank en gelukwens met hul deeglike voorbereiding vir die eksamen asook die besonderse werketiek wat hulle dwarsdeur die jaar handhaaf. Hartlike dank aan ons ouers/voogde wat hul kinders so mooi en lojaal die afgelope twee weke tydens die eksamen/assessering ondersteun het om net hul beste te doen.

Vanaf Maandag, 05 Junie, het die interim buitemuurse sportprogram in skooltyd, net na die aflê van die daaglikse eksamens plaasgevind. Die doel om nog steeds met sportoefeninge gedurende die eksamentyd voort te gaan, was tweeledig: eerstens geniet die leerders dit terdeë om direk na ‘n lang eksamensessie uit die klas te kom, die vars lug te geniet en aktief te wees wat sommer ook help met hul algemene geestelike welsyn. Tweedens help die program om hulle fiks te hou asook om hul spelpeil langer te handhaaf veral met ‘n welverdiende 3 weke-vakansie wat voorlê. Daar is die afgelope kwartaal so hard gewerk om fiksheidsvlakke te verbeter, effektiewe spelpatrone te implementeer en indien ons sportoefeninge vanaf die begin van die eksamens sou stop plus die vakansie wat voorlê, beteken dit dat daar amper 7 weke van geen oefeninge sou plaasvind nie. Dit is vir my belangrik dat ons leerders veral tydens die eksamen aktief bly, want dit hou hulle besig en neem hul aandag weg van die stres en angstigheid wat tydens formele assesserings ervaar word.

Op Dinsdag, 13 Junie, het die gr. 4’s Engels Eerste Addisionele Taal geskryf en om sommer ‘n bietjie pret te hê en die eksamenangs in bedwang te hou, kon die leerders soos hul gunsteling Roald Dahl-karakter aantrek en op die dag eksamen skryf. Hulle het pragtig gelyk en die Engelse vraestel sommer maklik kaf gedraf.

Op Donderdag, 15 Junie, is die sportklere vir die Suid-Kaap Sporttoer in die saal oorhandig. Groot was die verrassing toe Scarra Ntubeni (Stormers rugbyspeler) die toerklere aan die toerspelers kom oorhandig het. Dit het die geleentheid baie spesiaal gemaak. Verder het die o.12A-Netbalspan wat ook die toer gaan mee maak hul eie gelukbringer vir die toer bekend gestel, naamlik Janneke. Baie dankie aan Ria Hertzog wat die spesiale gelukbringer se klere in ‘n japtrap aan mekaar geslaan het. Die toergroep is baie opgewonde oor die 5-dae toer na die Suid-Kaap. Hulle vertrek Maandag, 19 Junie, en keer op Vrydag, 23 Junie, terug. Baie dankie aan die toerorganiseerder, Leon Hanekom, wat die fantastiese toer beplan en gereël het. Die toer sluit ook die besoek aan heelwat bekende toeriste-attraksies in die Suid-Kaap in. Verseker gaan ons leerders hul gate uit geniet. Ek wens vir hulle ‘n voorspoedige en genotvolle toer toe.

Dit is dan my voorreg om die 2023 Hoofdogter en Hoofseun bekend te maak na afloop van die verkiesing op Woensdag, 14 Junie. Baie geluk aan Mieke Huysamen en Jan-Willem Silvis.

Graag sluit ek af met die volgende ware stelling van Henri Frederic Amiel rakende dankbaarheid en wens vir julle ‘n wonderlike langnaweek toe.

“Thankfulness is the beginning of gratitude.
Gratitude is the completion of thankfulness.
Thankfulness may consist merely of words.
Gratitude is shown in acts.”

Vriendelike groete
Naas Beets