Kategorie: Algemeen
Die klasbraai is ‘n lekker geleentheid om mekaar te leer ken. Kom geniet die aand Vrydag saam met ons!
Plek: Conradieveld, Huppelland
Tyd: 18:00 – 22:00
Bring saam: Jou eie vleis, bykosse en drankies OF piekniekmandjie
Daar sal braaidromme en hout beskikbaar wees. Ouers kan in graadverband by die eerste drom die naaste aan die hek begin, m.a.w. die drom naaste aan die hek is graad 1 s’n en die verste een is graad 7 s’n.
Dit is met groot opgewondenheid dat ons ons nuwe Sportorganiseerder, mnr. Rashard Fuller (Gibbs), voorstel. Rashard is die seun van die bekende kriekietspeler, Herschel Gibbs. Hy en sy verloofde, me Renate van Wyk, wat ook in die onderwys is, trek aan die einde van Maart Kaapstad toe om by ons aan te sluit. Rashard speel self krieket en is tans kaptein van die Glenvista Krieket Klub. Hy het ook op ‘n stadium semi-professioneel rugby gespeel en het op skool SA Champs gehardloop.
Rashard is goed bekend met laerskoolsport en bring goeie ervaring saam met hom. Hy het by verskeie seunsprivaatskole krieket, rugby en sokker afgerig, asook LO aangebied. Hy was die Hoof van Seunssport by The Kings College Preparatory School en is tans werksaam by Christchurch Preparatory College waar hy vir Graad 1 – 12 LO gee, sportkoördineer en Direkteur van Rugby is, asook die eerste rugby- en krieketspanne afrig. Rashard is baie lief vir kinders en is opgewonde om ‘n liefde en passie vir sport by ons Jannies te kweek.
Verlede Sondag het ons skoolgemeenskap met skok verneem van die tragiese afsterwe van juf. Raché se man, Calvin. Hy was in ‘n motorfietsongeluk op pad terug huis toe. Dit is hartverskeurende nuus van die jong getroude paartjie wie se lewe in ‘n oogwink verander het. Ons gedagtes en gebede bly by haar en die familie om vertroosting tydens die moeilike tyd te vind. Weereens word ons ontnugter dat die lewe geen waarborge het nie. Niemand kan die toekoms voorspel nie daarom moet ons elke dag voluit leef en die kosbare tyd saam met geliefdes koester en vier. Baie dankie aan al haar klasouers wat vanuit die staanspoor uitgereik het om haar te help en te ondersteun.
Op Vrydag, 10 Februarie 2023, het ons op ‘n baie warm somersdag ‘n suksesvolle senior swemgala aangebied. Die weer het perfek saamgespeel en die koel swembadwater was ‘n heerlike lafenis vir ons swemmers aangesien die kwik teen 13:00 amper 36 grade Celcius bereik het. Baie geluk aan die swemmers wat na afloop van die gala bekers ontvang het!

Die Mountain Bike Club onder leiding van deur Breakaway Rides bied ‘n wonderlike geleentheid aan ons kinders. Kyk gerus na hulle advertensie aan die onderkant van die nuusbrief.
Laat my ook toe om al ons ouers, voogde, oumas en oupas wat die gala bygewoon het om hul kind/ers en kleinkinders te ondersteun, hartlik te bedank. Dit is ‘n riem onder die hart om te sien hoe ons ouers, voogde en grootouers ons leerders in alle opsigte ondersteun. Baie dankie aan mnr. Leon wat die gala gereël het asook ons Hoof van Swem, juf. Izél saam met al die personeel wat as beamptes opgetree het. Graag wil ek een van ons ouers uitsonder, naamlik Christo Benecke, wat elke jaar bereid is om as tydhouer op te tree. Baie dankie, Christo, ons waardeer jou tyd!
Dinsdag, 14 Februarie 2023, het ons leerders en personeel spesiaal saam Valentynsdag gevier. Die dag het afgeskop met ‘n saalbyeenkoms en al ons leerders en personeel het spesiaal rooi, pienk en/of wit aangetrek. Tradisioneel word die dag gevier waar geliefdes hul liefde vir mekaar bewys deur geskenke, blomme of kaartjies aan mekaar te gee. Ek besef die dag is tipies kommersieel van aard, maar tog is dit belangrik vir ons leerders om ‘n dag van liefde en omgee te vier. Dit sluit op ‘n manier by ons kernwaarde van OMGEE aan. Ons kinders word groot in ‘n era en wêreld waar alles resultaatgedrewe is. Ons vergeet dat ons kosbaarste kommoditeite nie in die bank is nie en dat liefde alle kwaad oorwin. Ek hoop en vertrou dat julle ook op Valentynsdag tot in die afgrond bederf is en mag ons die krag van liefde daagliks uitleef om die wêreld ‘n beter plek te maak.
Verder wil ek ouers/voogde wat leerders in graad 4 – 7 het vriendelik versoek om nie te versoek dat jul kind/ers op ‘n Vrydag van skool verskoon moet word omdat julle wil ‘n langnaweek daarvan maak nie. Vrydae is periode 1 en 2 spesifiek uitgesit vir toetse en die assesseringsdatums is op die kalender beskikbaar. Siektetoets word op Dinsdae direk na skool geskryf. Leerders wat Vrydae toetse mis, as gevolg van siekte moet dus die toets op die daaropvolgende Dinsdag skryf. Baie dankie vir jul samewerking in die verband.
Graag sluit ek af met die volgende aanhaling oor groei-ingesteldheid en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe:
“Challenges are what makes life interesting.
Overcoming them is what makes life meaningful”
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Gereelde vrae:
- As ek op die Messages balkie kliek, sien ek net ‘n paar kontakgroepe en onder Assignments net sekere opdragte. Hoe sien ek alles?:
Langsaan die opskrif Messages en Assignments is daar ‘n pyltjie wat na regs wys. Kliek daarop om alles te sien en nie net die mees onlangse inligting nie. Indien jy meer as een kind in die skool het, kan jy die kontakgroepe of take wat op elke kind van toepassing is onder sy/haar profiel sien. Sien op die skermgrepe hier onder watter pyltjie watter skerm oopmaak.
- Ek het meer as een kind in die skool. Hoe sien ek my ander kind(ers) se profiel(e)?Jy kan jou ander kind(ers) se profiel(e) en kontakgroepe sien deur op die pyltjie langsaan jou kind se naam bo-aan die toep te kliek en ‘n ander kind se naam te kies.

3. Ek wil graag met ‘n spesifieke onderwyser op Skooler kommunikeer:
Onder Messages gaan jy al die kontakgroepe sien wat op jou van toepassing is. Wanneer jy ‘n boodskap aan een van daardie groepe stuur, ontvang die admin van die spesifieke groep die boodskap. As jy bv. met jou kind se wiskundeondewyser wil praat, kan jy op jou kind se wiskundegroep ‘n boodskap stuur. Ander ouers sal nie jou boodskap kan sien nie.
4. Ek lees my boodskappe, maar die kennisgewing (getal) langs die groep wil nie weggaan nie:
Soms is dit belangrik dat onderwysers moet kan opvolg as ouers nie ‘n boodskap gelees het nie en skakel hulle die “Request Read Confirmation” funksie aan. Jy moet dan bevestig dat jy dit gelees het deur “Confirm” te kliek sodra jy dit gelees het. Die onderwyser kan dan sien dat jy bevestig dat jy die boodskap gelees het en die kennisgewing wat aandui dat daar ‘n ongeleesde boodskap is, sal wegval.
Ons wil graag ons Jannies se goeie prestasies tydens saalbyeenkoms op ‘n Dinsdag in die kollig plaas. Ons benodig julle (as ouers/voogde) se hulp hiermee. Enige sertifikate, medaljes of trofees moet asseblief op ‘n Maandag by juffrou Michelle Compion (gr. 3) se klas ingehandig word. Indien dit nie Maandag by haar is nie, sal dit oorstaan na die volgende Dinsdag. Dit moet asseblief duidelik as volg gemerk wees:
- Naam en van;
- Waarvoor die leerder die prestasie ontvang het
Baie dankie vir die samewerking!
Ons neem Dinsdag, 21 Februarie, klas- en individuele foto’s.
Ons is bewus dat nie alle leerders tans dieselfde skooldrag het nie aangesien ons hierdie jaar in ‘n oorgangsfase is. Indien jou kind reeds die nuwe skooldrag dra, beveel ons aan dat hy/sy dit aantrek. Indien nie, wil ons vra dat leerders sportdrag dra.
Kliek asb. op die skakel vir ‘n nuusbrief vanaf die WKOD.
Vanjaar poog ons ‘n groter fokus op Groei-ingesteldheid (‘Growth Mindset’). Al gewonder watter boodskappe jy jouself vertel indien sukses jou die heeltyd ontwyk? Mense met vaste groei-ingesteldheid glo dat hul intelligensie en vaardighede eienskappe is waarmee hulle “gebore is” en dat dit nie kan verander nie. Mense met hierdie tipe oortuiging word maklik ontmoedig en hulle is geneig om weg te skram van moeilike take of uitdagings. Navorsing het bewys dat mense met ‘n groei-ingesteldheid glo dat jy jou intelligensie kan uitbrei/ontwikkel deur vaardighede aan te leer en dat jy met meer oefening en moeite die uitdaging mettertyd sal baasraak.
Ons doel met groei-ingesteldheid is om ‘n skoolgemeenskap te ontwikkel wat deursettingsvermoë, wilskrag, empatie, goeie kennis oor jouself, ‘n behoefte aan leer en ontwikkeling en ‘n ingesteldheid van groei, uitleef. Om regtig jouself te wees, moet ons ruimte vir ontwikkeling skep. Navorsing toon dat breinontwikkeling slegs kan plaasvind indien uitdagende take aangepak word. Dus wil ek julle versoek om jou kind/ers onder jou wakende oog ‘n kans te gee om ‘n bietjie te waag en selfs te misluk terwyl hulle nog jonk is sodat die spreekwoordelike groei-ingesteldheid se ‘spiere’ kan oefen. Vertel vir jou kinders dat bekendes soos Albert Einstein, Walt Disney, Steve Jobs, Michael Jordan en Oprah Winfrey verskeie mislukkings ervaar het. Hulle het egter nooit tou opgegooi of weggestap van hul drome nie. ‘n Mens leer dikwels die belangrikste lewenslesse wanneer jy misluk. Ek sê gereeld vir ons sportspanne dat ‘n mens eintlik net leer wanneer jy eers verloor. Kollektief moet ons, ons kinders leer dat om te verloor of te misluk deel van die lewe is, maar belangrik dat solank jy daaruit iets leer en nie moed opgee nie, sukses jou sal volg.

Op Vrydag, 03 Februarie 2023, het ons o.13A-krieketspan vanaf 16:00 ‘n middag-aand wedstryd teen LS Kampsbaai by die Conradieveld gespeel. Die wedstryd was egter van korte duur aangesien ons hulle vir slegs 38 lopies uitgeboul het. Ons het die lopies binne 8 beurte afgeslaan. Baie geluk aan die span en hul afrigter, mnr. Warren, met die puik oorwinning. Op Maandag, 06 Februarie 2023, het die interskole atletiekbyeenkoms te HS Jan van Riebeeck se velde plaasgevind. Ons atlete het puik gevaar en 18 atlete is deur na die volgende rondte. Baie dankie aan mnr. Leon en sy span vir al die puik reëlings. Die afgelope week het daar ook verskeie tennis- en krieketwedstryde plaasgevind. Die sportprogram is in volle swang en ek versoek al ons leerders om aan ten minste een somersport deel te neem.

Baie dankie aan juf. Andri wat op Saterdag, 04 Februarie 2023, die inligtingsessie rakende redenaars met al ons belangstellende leerders en hul ouers gehou het. Redenaars leer die leerders om hul verbale- en nie-verbale kommunikasievaardighede te verbeter, effektiewe navorsing te doen, denkprosesse te ontwikkel om mense van hul standpunt te oortuig en laaste maar nie die minste nie, help dit met selfvertroue.
Graag sluit ek af met die volgende aanhaling oor groei-ingesteldheid deur Roger Crawford en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe:
“Being challenged in life is inevitable,
Being defeated is optional”
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
- 2 Maart 2023
- R300 vir volwassenes
- Kinders kom verniet
- Kaartjies op Karri te koop
- Deure open vanaf 17:00 en die vertoning begin om 19:00
- Kosstalletjies beskikbaar:
- Bestellings vir etes kan vooraf geplaas word. Kies asseblief op Karri wat jy wil bestel en maak jou betaling. Op die aand van die konsert sal julle die etes van die stalletjie kan afhaal mits jy jou kosplakker/s wys. Jy sal jou kosplakkers op die aand van die konsert by die ingang ontvang. Jou naam en bestelling sal op ‘n lys wees. Stap net na die gemerkte tafeltjie – ‘kosplakkers’.
- Opsies beskikbaar die aand wat vooraf bestel moet word en betaalbaar is op Karri:
- Chicken Strips & Fries R75
- Chicken Burger & Fries R115
- Beef Burger & Fries R135
- Poké Bowl R165 (Norwegian salmon, radish, pickled red onion, carrots, cucumber, sushi rice, pickled ginger, edamame beans, nori and a lemon soy dressing)
- Falafel burger & Fries R90
Julle is welkom om vriende en familie te nooi. Julle kan namens hulle op Karri betaal.

Wenke:
- Indien jy meer as een kind in die skool het, kan jy jou ander kind(ers) se profiel(e) en boodskap groepe sien deur op die pyltjie langsaan jou kind se naam bo-aan die toep te kliek en ‘n ander kind se naam te kies.
- Wanneer jy ‘n “assignment” met ‘n aangehegsel van ‘n onderwyser af kry, kliek op die Assignment opskrif onderaan met die pyltjie om die aanhegsels te sien.
- Indien jy tans nie ‘n Skooler kennisgewing (notifications) op jou selfoon ontvang nie, volg asb. die volgende stappe:
- Tik op die menu icon links bo in die Skooler toep.
- Kies ‘Settings’ in die opsielys.
- Tik op ‘Test’ langs die ‘Test push notifications’ opsie.
- Indien jy nie die toets kennisgewing van Skooler ontvang nie, maak asb. seker dat Skooler kennisgewings in jou selfoon se kennisgewing settings aangeskakel is.
- Indien jy steeds hiermee sukkel, stuur gerus ‘n e-pos na suzaan@jvrprim.co.za.

Kennisgewings:
- Ons is tans besig om die sportgroepe in Skooler op te stel. Sodra dit binne die volgende week afgehandel is, sal die sportboodskappe in Skooler ontvang word.
- Ons is ook besig om al die datums in die Skoolerkalender te laai. Gebruik gerus intussen nog die ou Google Kalender of Webdagboek om al die datums te sien.
- Enige persoonlike besonderhede wat deur die loop van ‘n week in myJvR verander is, word Vrydagoggende na die Skooler platform opgelaai. Maak dus asseblief seker dat jou kontakbesonderhede in myJvR altyd op datum is.
Februarie-maand het die afgelope week skielik sy onverwagse opwagting gemaak en onmiddellik dink ‘n mens waarheen het Januarie dan nou so vinnig verdwyn. Weereens kom ons tot die besef dat tyd spreekwoordelik verby vlieg en vir niemand wag nie. Dus beveel ek aan dat indien jy nog iets spesiaal beplan om te doen, moenie wag nie, doen dit sommer dadelik!
Graag wil ek almal bedank vir al die mooi verjaardagwense wat ek ontvang het. Ek het op Saterdag, 28 Januarie, saam met die ouer- en kindsportdag verjaar, maar is reeds vanaf Vrydag, 27 Januarie, tot in die afgrond deur die leerders en personeel bederf. Dit is seker die lekkerste voordeel van skoolhoof wees om veral deur die leerders bederf te word. Ek wens julle kon die spesiale dag saam met my beleef. Dit was kosbaar en sal my altyd by bly. Suné Alberts (gr. 7-juffrou) verjaar ook op Saterdag, 28 Januarie, en ons twee het heerlik saam met al die leerders wat ook daardie dag verjaar, feesgevier. Dit was verblywend om te sien hoeveel ouers het saam met hul kinders opgedaag om aan die sportdag deel te neem. Nie eers die gure weer kon die opgewondenheid en gees gedemp nie. Ek glo natuurlik dat die koeler weer en ligte reën wat uitgesak het, was ‘n bedekte seën, want dit het al die warm gespeelde liggame help afkoel. Hierdie sportdag gaan beslis ‘n jaarlikse instelling op die 2de Saterdag van die nuwe akademiese jaar word. Hierdie geleentheid was die perfekte geleentheid vir leerders, ouers en personeel om sommer lekker gees te vang en die jaar op ‘n hoogtepunt af te skop. Groot dankie aan die personeel wat as beamptes en spelers opgetree het asook registrasies en die snoepieverkope hanteer het.


Op Dinsdag, 31 Januarie 2023, het ons leerderraad hul balkies tydens die weeklikse saalbyeenkoms ontvang. Baie dankie aan hul ouers wat die spesiale geleentheid bygewoon het om die balkies vir hul kinders aan te steek. Ons beste wense vergesel die leerderraad vir hul belangrike rol as leiers in ons skool.
Die afgelope week het ons ook met wedstryde vir krieket en tennis begin. Graag wil ek melding van ons uitstekende tennisuitslae op Woensdag, 01 Februarie, maak. Ons eerste seunstennisspan het LS Durbanville se eerste seunspan met 4 – 2 gewen. Ons 2de seunstennisspan wen LS Van Riebeeckstrand met 5 – 1. Welgedaan spelers en afrigters.
Maandag, 06 Februarie 2023, geskied die interskole atletiek by Hoërskool Jan van Riebeeck se velde. Sterkte aan al ons atlete en afrigters. Baie dankie aan Leon Hanekom wat aan die stuur van sake by die interskole staan.
Dit is dan my voorreg om die volgende drie oud-Jannies wat as die gr. 8-lede van die VRL by Hoërskool Jan van Riebeeck verkies is, hartlik en trots geluk te wens:
- Helene Greeff
- Sebastian Senekal
- Albert Griesel
Laat my ook toe om die skoolhoof, Pieter Rademeyer, en sy personeel hartlik geluk te wens met hul puik matriekuitslae van 2022. Drie van hul volgende vakke het landswyd die Top 20 plekke behaal:
- Fisiese Wetenskap – 8ste plek
- Wiskunde – 10de plek
- Afrikaans – 11de plek.
Pieter ontvang op 16 Februarie 2023 ‘n spesiale nasionale toekenning in Centurion vir sy skool se puik matriekuitslae. Ons is saam met Hoërskool Jan van Riebeeck trots op die merkwaardige akademiese prestasies en wens Pieter en sy personeel ‘n wonderlike en suksesvolle 2023 toe. Baie geluk met die puik werk en suksesse van die afgelope tyd!
Ons oud-leerders presteer ook in ander skole en graag wil ons Lizaan Swartz wat as die 2023 Hoofdogter en Edward Bock wat as ‘n prefek te Hoërskool De Grendel verkies is, voorspoed toewens.
Graag sluit ek af met die volgende aanhaling oor groei-ingesteldheid deur Samual Johnson en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe:
“Great works are performed not by strength, but by perseverance!”
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Met verandering kom spanning. Hierdie ontwikkelingsproses skep fantastiese groeigeleenthede. Ons het gedurende 2022 die behoefte identifiseer om ons skoolgemeenskap te help om veranderinge en uitdagings beter te hanteer deur ‘n groei-ingesteldheid te ontwikkel.
Die WKOD het ‘n baie oulike ‘growth mindset’ program ontwikkel waarby ons as loodskool hierdie jaar betrokke is. Natuurlik sal ons meer as verwag doen en hierdie platform gebruik om alle fasette van skool te integreer. Ons doel is om ‘n skoolgemeenskap te ontwikkel wat deursettingsvermoë, wilskrag, empatie, goeie kennis oor jouself, ‘n behoefte aan leer en ontwikkeling en ‘n ingesteldheid van groei, uitleef. Om regtig jouself te wees, moet ons ruimte vir ontwikkeling skep. Navorsing toon dat breinontwikkeling slegs kan plaasvind indien uitdagende take aangepak word.
Ons streef daarna om leerders se ingesteldheid te vernuwe sodat hulle …
- nie bang sal wees om foute te maak nie – om waagmoed te toon;
- vrae sal vra al klink dit ‘dom’;
- nie bekommerd sal wees oor hoe hulle sal ‘lyk’ indien ‘n nuwe vaardigheid/projek aangepak word nie;
- probeer – al voel dit asof hy/sy nie ‘kan’ nie;
- uitdagings aanvaar / aangryp;
- allerhande metodes vind om ‘n probleem op te los
- positiewe gesprekke met ‘self’ voer
- ingesteldheid om te leer en te ontwikkel
- daagliks nuwe konsepte en vaardighede aan te leer

Met hierdie oulike karakters (Brein, Katie en Mojo) sal ons die leerders se aandag gevestig hou om in ons doel te slaag.

Maak gerus van hierdie ingesteldheid tuis ook gebruik sodat ons spoedig ‘n algehele omgewing van ‘ek kan nog nie nou nie, maar ek sal nog kan’ kan skep.
Belangrike Datums
februarie 2026
maart 2026
april 2026
mei 2026
junie 2026
julie 2026
augustus 2026
september 2026
oktober 2026
november 2026
desember 2026


