Vanjaar poog ons ‘n groter fokus op Groei-ingesteldheid (‘Growth Mindset’). Al gewonder watter boodskappe jy jouself vertel indien sukses jou die heeltyd ontwyk? Mense met vaste groei-ingesteldheid glo dat hul intelligensie en vaardighede eienskappe is waarmee hulle “gebore is” en dat dit nie kan verander nie. Mense met hierdie tipe oortuiging word maklik ontmoedig en hulle is geneig om weg te skram van moeilike take of uitdagings. Navorsing het bewys dat mense met ‘n groei-ingesteldheid glo dat jy jou intelligensie kan uitbrei/ontwikkel deur vaardighede aan te leer en dat jy met meer oefening en moeite die uitdaging mettertyd sal baasraak.

Ons doel met groei-ingesteldheid is om ‘n skoolgemeenskap te ontwikkel wat deursettingsvermoë, wilskrag, empatie, goeie kennis oor jouself, ‘n behoefte aan leer en ontwikkeling en ‘n ingesteldheid van groei, uitleef. Om regtig jouself te wees, moet ons ruimte vir ontwikkeling skep. Navorsing toon dat breinontwikkeling slegs kan plaasvind indien uitdagende take aangepak word. Dus wil ek julle versoek om jou kind/ers onder jou wakende oog ‘n kans te gee om ‘n bietjie te waag en selfs te misluk terwyl hulle nog jonk is sodat die spreekwoordelike groei-ingesteldheid se ‘spiere’ kan oefen. Vertel vir jou kinders dat bekendes soos Albert Einstein, Walt Disney, Steve Jobs, Michael Jordan en Oprah Winfrey verskeie mislukkings ervaar het. Hulle het egter nooit tou opgegooi of weggestap van hul drome nie. ‘n Mens leer dikwels die belangrikste lewenslesse wanneer jy misluk. Ek sê gereeld vir ons sportspanne dat ‘n mens eintlik net leer wanneer jy eers verloor. Kollektief moet ons, ons kinders leer dat om te verloor of te misluk deel van die lewe is, maar belangrik dat solank jy daaruit iets leer en nie moed opgee nie, sukses jou sal volg.

Op Vrydag, 03 Februarie 2023, het ons o.13A-krieketspan vanaf 16:00 ‘n middag-aand wedstryd teen LS Kampsbaai by die Conradieveld gespeel. Die wedstryd was egter van korte duur aangesien ons hulle vir slegs 38 lopies uitgeboul het. Ons het die lopies binne 8 beurte afgeslaan. Baie geluk aan die span en hul afrigter, mnr. Warren, met die puik oorwinning. Op Maandag, 06 Februarie 2023, het die interskole atletiekbyeenkoms te HS Jan van Riebeeck se velde plaasgevind. Ons atlete het puik gevaar en 18 atlete is deur na die volgende rondte. Baie dankie aan mnr. Leon en sy span vir al die puik reëlings. Die afgelope week het daar ook verskeie tennis- en krieketwedstryde plaasgevind. Die sportprogram is in volle swang en ek versoek al ons leerders om aan ten minste een somersport deel te neem.

Baie dankie aan juf. Andri wat op Saterdag, 04 Februarie 2023, die inligtingsessie rakende redenaars met al ons belangstellende leerders en hul ouers gehou het. Redenaars leer die leerders om hul verbale- en nie-verbale kommunikasievaardighede te verbeter, effektiewe navorsing te doen, denkprosesse te ontwikkel om mense van hul standpunt te oortuig en laaste maar nie die minste nie, help dit met selfvertroue.

Graag sluit ek af met die volgende aanhaling oor groei-ingesteldheid deur Roger Crawford en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe:

“Being challenged in life is inevitable,
Being defeated is optional”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF