Verlede Sondag het ons skoolgemeenskap met skok verneem van die tragiese afsterwe van juf. Raché se man, Calvin. Hy was in ‘n motorfietsongeluk op pad terug huis toe. Dit is hartverskeurende nuus van die jong getroude paartjie wie se lewe in ‘n oogwink verander het. Ons gedagtes en gebede bly by haar en die familie om vertroosting tydens die moeilike tyd te vind. Weereens word ons ontnugter dat die lewe geen waarborge het nie. Niemand kan die toekoms voorspel nie daarom moet ons elke dag voluit leef en die kosbare tyd saam met geliefdes koester en vier. Baie dankie aan al haar klasouers wat vanuit die staanspoor uitgereik het om haar te help en te ondersteun.

Op Vrydag, 10 Februarie 2023, het ons op ‘n baie warm somersdag ‘n suksesvolle senior swemgala aangebied. Die weer het perfek saamgespeel en die koel swembadwater was ‘n heerlike lafenis vir ons swemmers aangesien die kwik teen 13:00 amper 36 grade Celcius bereik het. Baie geluk aan die swemmers wat na afloop van die gala bekers ontvang het!

Die Mountain Bike Club onder leiding van deur Breakaway Rides bied ‘n wonderlike geleentheid aan ons kinders. Kyk gerus na hulle advertensie aan die onderkant van die nuusbrief.

Laat my ook toe om al ons ouers, voogde, oumas en oupas wat die gala bygewoon het om hul kind/ers en kleinkinders te ondersteun, hartlik te bedank. Dit is ‘n riem onder die hart om te sien hoe ons ouers, voogde en grootouers ons leerders in alle opsigte ondersteun. Baie dankie aan mnr. Leon wat die gala gereël het asook ons Hoof van Swem, juf. Izél saam met al die personeel wat as beamptes opgetree het. Graag wil ek een van ons ouers uitsonder, naamlik Christo Benecke, wat elke jaar bereid is om as tydhouer op te tree. Baie dankie, Christo, ons waardeer jou tyd!

Dinsdag, 14 Februarie 2023, het ons leerders en personeel spesiaal saam Valentynsdag gevier. Die dag het afgeskop met ‘n saalbyeenkoms en al ons leerders en personeel het spesiaal rooi, pienk en/of wit aangetrek. Tradisioneel word die dag gevier waar geliefdes hul liefde vir mekaar bewys deur geskenke, blomme of kaartjies aan mekaar te gee. Ek besef die dag is tipies kommersieel van aard, maar tog is dit belangrik vir ons leerders om ‘n dag van liefde en omgee te vier. Dit sluit op ‘n manier by ons kernwaarde van OMGEE aan. Ons kinders word groot in ‘n era en wêreld waar alles resultaatgedrewe is. Ons vergeet dat ons kosbaarste kommoditeite nie in die bank is nie en dat liefde alle kwaad oorwin. Ek hoop en vertrou dat julle ook op Valentynsdag tot in die afgrond bederf is en mag ons die krag van liefde daagliks uitleef om die wêreld ‘n beter plek te maak.

Verder wil ek ouers/voogde wat leerders in graad 4 – 7 het vriendelik versoek om nie te versoek dat jul kind/ers op ‘n Vrydag van skool verskoon moet word omdat julle wil ‘n langnaweek daarvan maak nie. Vrydae is periode 1 en 2 spesifiek uitgesit vir toetse en die assesseringsdatums is op die kalender beskikbaar. Siektetoets word op Dinsdae direk na skool geskryf. Leerders wat Vrydae toetse mis, as gevolg van siekte moet dus die toets op die daaropvolgende Dinsdag skryf. Baie dankie vir jul samewerking in die verband.

Graag sluit ek af met die volgende aanhaling oor groei-ingesteldheid en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe:

“Challenges are what makes life interesting.
Overcoming them is what makes life meaningful”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF