Februarie-maand het die afgelope week skielik sy onverwagse opwagting gemaak en onmiddellik dink ‘n mens waarheen het Januarie dan nou so vinnig verdwyn. Weereens kom ons tot die besef dat tyd spreekwoordelik verby vlieg en vir niemand wag nie. Dus beveel ek aan dat indien jy nog iets spesiaal beplan om te doen, moenie wag nie, doen dit sommer dadelik!

Graag wil ek almal bedank vir al die mooi verjaardagwense wat ek ontvang het. Ek het op Saterdag, 28 Januarie, saam met die ouer- en kindsportdag verjaar, maar is reeds vanaf Vrydag, 27 Januarie, tot in die afgrond deur die leerders en personeel bederf. Dit is seker die lekkerste voordeel van skoolhoof wees om veral deur die leerders bederf te word. Ek wens julle kon die spesiale dag saam met my beleef. Dit was kosbaar en sal my altyd by bly. Suné Alberts (gr. 7-juffrou) verjaar ook op Saterdag, 28 Januarie, en ons twee het heerlik saam met al die leerders wat ook daardie dag verjaar, feesgevier. Dit was verblywend om te sien hoeveel ouers het saam met hul kinders opgedaag om aan die sportdag deel te neem. Nie eers die gure weer kon die opgewondenheid en gees gedemp nie. Ek glo natuurlik dat die koeler weer en ligte reën wat uitgesak het, was ‘n bedekte seën, want dit het al die warm gespeelde liggame help afkoel. Hierdie sportdag gaan beslis ‘n jaarlikse instelling op die 2de Saterdag van die nuwe akademiese jaar word. Hierdie geleentheid was die perfekte geleentheid vir leerders, ouers en personeel om sommer lekker gees te vang en die jaar op ‘n hoogtepunt af te skop. Groot dankie aan die personeel wat as beamptes en spelers opgetree het asook registrasies en die snoepieverkope hanteer het.

Op Dinsdag, 31 Januarie 2023, het ons leerderraad hul balkies tydens die weeklikse saalbyeenkoms ontvang. Baie dankie aan hul ouers wat die spesiale geleentheid bygewoon het om die balkies vir hul kinders aan te steek. Ons beste wense vergesel die leerderraad vir hul belangrike rol as leiers in ons skool.

Die afgelope week het ons ook met wedstryde vir krieket en tennis begin. Graag wil ek melding van ons uitstekende tennisuitslae op Woensdag, 01 Februarie, maak. Ons eerste seunstennisspan het LS Durbanville se eerste seunspan met 4 – 2 gewen. Ons 2de seunstennisspan wen LS Van Riebeeckstrand met 5 – 1. Welgedaan spelers en afrigters.

Maandag, 06 Februarie 2023, geskied die interskole atletiek by Hoërskool Jan van Riebeeck se velde. Sterkte aan al ons atlete en afrigters. Baie dankie aan Leon Hanekom wat aan die stuur van sake by die interskole staan.

Dit is dan my voorreg om die volgende drie oud-Jannies wat as die gr. 8-lede van die VRL by Hoërskool Jan van Riebeeck verkies is, hartlik en trots geluk te wens:

  • Helene Greeff
  • Sebastian Senekal
  • Albert Griesel

Laat my ook toe om die skoolhoof, Pieter Rademeyer, en sy personeel hartlik geluk te wens met hul puik matriekuitslae van 2022. Drie van hul volgende vakke het landswyd die Top 20 plekke behaal:

  • Fisiese Wetenskap – 8ste plek
  • Wiskunde – 10de plek
  • Afrikaans – 11de plek.

Pieter ontvang op 16 Februarie 2023 ‘n spesiale nasionale toekenning in Centurion vir sy skool se puik matriekuitslae. Ons is saam met Hoërskool Jan van Riebeeck trots op die merkwaardige akademiese prestasies en wens Pieter en sy personeel ‘n wonderlike en suksesvolle 2023 toe. Baie geluk met die puik werk en suksesse van die afgelope tyd!

Ons oud-leerders presteer ook in ander skole en graag wil ons Lizaan Swartz wat as die 2023 Hoofdogter en Edward Bock wat as ‘n prefek te Hoërskool De Grendel verkies is, voorspoed toewens.

Graag sluit ek af met die volgende aanhaling oor groei-ingesteldheid deur Samual Johnson en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe:

“Great works are performed not by strength, but by perseverance!”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF