Kategorie: Algemeen
Week 9 het afgeskop met die graad 4 – 6-leerders wat ook met die Junie-eksamens begin het. Die grondslagfase leerders is reeds besig met hul tweede en finale week van formele assesserings. Baie dankie aan al die ouers/voogde en onderwysers wat so mooi help om die stresvlakke en spanning tydens die eksamen in toom te hou sodat dit nie die oorhand kry nie. Ons woon en leef in ‘n land waar ons daagliks bewustelik en onbewustelik stres en angs as gevolg van beurtkrag, misdaad, verkeer, korrupsie en uitdagende ekonomiese tye ervaar. Ons kinders word ongelukkig hieraan blootgestel en daarom is dit belangrik dat ons kollektief seker maak dat ons kinders nie addisionele angs en stres ervaar nie.
Vanaf Maandag, 05 Junie, het die buitemuurse sportprogram in skooltyd net na die aflê van die daaglikse eksamens plaasgevind. Die doel daarvan om nog steeds met sportoefeninge gedurende die eksamentyd voort te gaan is tweeledig: eerstens geniet die leerders dit terdeë om direk na ‘n lang eksamensessie uit die klas te kom, die vars lug te geniet en aktief te wees wat sommer ook help met hul algemene geestelike welsyn. Tweedens help die program om hulle fiks te hou asook om hul spelpeil langer te handhaaf, veral met ‘n 3 weke vakansie wat voorlê. Daar is die afgelope kwartaal so hard gewerk om fiksheidsvlakke te verbeter en effektiewe spelpatrone te implementeer en indien ons sportoefeninge vanaf die begin van die eksamens sou stop plus die vakansie wat voorlê, beteken dit dat daar amper 7 weke van geen oefeninge sal plaasvind nie. Dit is vir my belangrik dat ons leerders veral tydens die eksamens aktief bly, want dit hou hulle besig en neem hul aandag weg van die stres en angtigheid wat tydens formele assesserings ervaar word.
So tussen die eksamen en die leer het ons o.13A-netbalspanne op Saterdag, 03 Junie, as B-Liga wenners uit die stryd getree. Ons het in die finale teen Laerskool Totius gespeel. Dit was ‘n spanningsvolle wedstryd en na halftyd het ons slegs met 5 – 4 voorgeloop. Ons o.13A-dogters speel ‘n titaniese tweede helfte en stap 12 –7 met die louere weg. Baie geluk aan hul toegewyde afrigter, juf Ischké, wat al vir ‘n geruime tydperk baie ekstra tyd met haar span spandeer. Hierdie selfde span was ook die B-liga wenners vir o.12A gedurende 2022. Dit is werklik ‘n merkwaardige prestasie en graag wil ons ook juff. Shahneé en Sharon hartlik bedank wat haar en die dogters so getrou as deel van die afrigterspan ondersteun het. Baie dankie aan al die o.13A-netbalouers wat wedstryd na wedstryd selfs in baie koue en ongure weer hul dogters so lojaal ondersteun en aangemoedig het.

Die afgelope twee weke het die graad 7’s spoggerig hul tegnologietake vir my in my kantoor kom voorlê. Hulle het in groepe gewerk en moes ‘n selfoontoring bou wat esteties in ‘n woonbuurt opgerig kan word. Die kreatiwiteit van ons graad 7’s het my weereens stom geslaan. Baie geluk en dankie aan hul juf. Suné Alberts met die kreatiewe projek. Ons graad 1’s het beslis nie vir die graad 7’s terug gestaan nie en aangedring om hul pragtige robotte wat hul tydens robotika gebou het, met trots vir my te kom wys. Wonderlik om te sien dat selfs ons graad 1’s die vrymoedigheid het om hul spogwerk met my te kom deel. Die dae dat kinders bang was vir die skoolhoof se kantoor is lankal verby en dit is vir my belangrik dat ons leerders moet weet dat hulle belangrik is en altyd welkom in my kantoor is.

Verder wil ek net om verskoning vra vir enige moontlike ongerief wat ouers/voogde tans ervaar met die aankope van die nuwe skooldrag. Daar is egter geldige redes waarom die voorrade nie altyd beskikbaar of vinnig genoeg beskikbaar is nie. Wees verseker dat ons saam met die klerebank werk om die probeem aan te spreek.
Graag sluit ek af met die volgende stelling van Amy Weatherly en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe.
“Some people could be given an entire field of roses and only see the thorns in it,
Others could be given a single weed and only see the beautiful wildflower in it.
Perception is a key component to gratitude and gratitude is a key component to joy!’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Sien gerus die beskrywing en foto’s hier onder vir ‘n voorbeeld van die leerders se winterdrag (grondslagfase se foto’s sal binnekort gepubliseer word). Volg hierdie skakel vir die die kleredrag webblad op ons webtuiste. Sweetpakke is in produksieproses. Hierdie jaar mag leerders nog meer informele skooldrag dra a.g.v. infasering van skooldrag. Vanaf 2024 sal korrekte skooldrag verpligtend vir almal wees.
Grondslagfase (Gr. 1 – 3)
Dogters
- Langmou wit en donkerblou hemp
- Sweetpak (top en broek)
- Wit sokkies en tekkies OF kaalvoete OF donkerblou plakkies
- “Soft Shell” baadjie (vir addisionele hitte)
Seuns
- Langmou wit en donkerblou hemp
- Sweetpak (top en broek)
- Wit sokkies en tekkies OF kaalvoete OF donkerblou plakkies
- “Soft Shell” baadjie (vir addisionele hitte)
Intermediêre en Senior fase (Gr. 4 – 7)
Dogters
- Langmou wit en donkerblou hemp
- “Soft Shell” baadjie
- Geruite rompie / donkerblou rompie OF donkerblou langbroek
- Swart sykouse OF donkerblou lang sokkies met wit strepies
- Swart skoolskoene OF donkerblou plakkies OF kaalvoete
Seuns
- Langmou wit en donkerblou hemp
- “Soft Shell” baadjie
- Khaki langbroek OF donkerblou kortbroek
- Donkerblou lang sokkies met twee wit strepies
- Swart skoolskoene OF donkerblou plakkies OF kaalvoete

Mei-maand, ‘n baie besige maand by ons trotse skool het skielik die trekpas gekry met Junie wat so stilletjies haar opwagting gemaak het. Junie-maand bring ook die koue en nat weer soos die seisoene draai en ons is so dankbaar vir die wonderlike reën wat die afgelope tyd wyd verspreid oor ons land val.
Saterdagaand, 27 Mei, het ons jaarlikse veilingsdinee by die ikoniese Pienk Dame, naamlik die Mt. Nelson Hotel plaasgevind. Al die kaartjies was vir die glans- en fondsinsamelingsgeleentheid uitverkoop. Die gaste was elegant en deftig vir die spesiale geleentheid getooi. MC du Toit, een van ons ouers, het soos in die verlede as afslaer opgetree. Hy het die 41 lotte binne ‘n kort tydjie verkoop en nie eens die Stormers se misrabele vertoning teen Munster kon sy en die gaste se geesdrif demp nie. Dit is dan my eer en voorreg om bekend te maak dat daar tydens die veiling ‘n enorme R1,25m ingesamel is. Dit het al ons verwagtinge oortref, veral met die huidige ekonomiese toestande in ag geneem. Graag wil ek ook die geleentheid gebruik om al ons gaste en veral ons ouers wat op die aand ‘n finansiële bydrae gemaak het, hartlik te bedank vir hul finansiële hulp om LS Jan van Riebeeck na nog hoër hoogtes te neem. Daar is darem nie net ‘n spogveiling gehou nie, maar ook lekker saam gekuier en gedans. Die onthaalsaal van die Mt. Nelson was uiters stylvol voorberei. Die samesyn was kosbaar en die spreekwoordelikge goeie gevoel van die skoolgemeenskap was feitlik tasbaar. Baie dankie aan ons Voorsitter van die Opvoedingstrust en die Beheerraad, naamlik Merwe Scholtz vir sy dinamiese leiding en puik toespraak wat die doel van die spesiale aand mooi in konteks geplaas het. Laat my ook toe om die reëlingskomitee bestaande uit Odette Faling, Freda Theron, Mari Kushner, Martie Viljoen en Joanita du Toit weereens hartlik te bedank en geluk te wens met ‘n onvergeetlike aand. Groot dankie ook aan ons afslaer, MC du Toit, wat hom puik van sy taak gekwyt het. Sien gerus later vandag die foto’s, geneem deur Annene van Eeden, op die Kiek.

Hierdie week het die Junie-eksamen vir die gr. 7’s begin asook die assesserings vir die Grondslagfase. Volgende week begin die Gr. 4 – 6 ook met hul eksamen en wens ek al ons leerders en personeel voorspoed toe. Eksamen verhoog ongelukkig stresvlakke by leerders en dit filter ook deur na die gesinne. Graag versoek ek julle as ouers/voogde om ons as personeel te help om die stresvlakke en spanning tydens die eksamen te beheer sodat dit nie die oorhand kry nie. Stres tot ‘n eksamen is ‘n natuurlike reaksie en as dit reg aangewend en bestuur word, kan dit ook voordelig wees. Probeer gerus die volgende wenke om jou kind/ers se eksamenstres en jou moontlike eie angstigheid daaroor hok te slaan:
- Berei betyds voor. Help jou kind/ers om ‘n studierooster op te stel wat jou kind/ers genoeg tyd gee om ook te ontspan en vroeg saans in die bed te spring sodat hulle genoeg slaap inkry.
- Skep ‘n rustige en ontspanne atmosfeer vry van enige stressors by die huis vir jou kind/ers om te leer.
- Skep ‘n toegewyde studieruimte met behoorlike beligting en vry van geraas.
- Skep ‘n emosionele band met jou kind/ers dat hulle nie voel dat hulle die eksamenpad alleen stap nie. Vra vir hulle hoe die eksamen was en spreek positiewe woorde uit. Laat hulle verstaan dat julle vir hulle nog steeds baie lief sal wees, ongeag die uitslae en hulle beslis nie op grond daarvan sal beoordeel nie.
- Help jou kind/ers om ‘n gewoonte aan te kweek dat hulle die regte skryfbehoeftes en die regte toerusting vir die dag in pak.
- Vermy gejaagdheid en om hulle op die nippertjie soggens voor die eksamen by die skool af te laai, want dit maak leerders angstig.
So tussen die eksamen en die leer speel ons o.13A-netbalspanne op Vrydagmiddag, 02 Junie, in die liga-uitspeeltoernooi te LS Gene Louw. Ons wens ons dogters en hul afrigter, juf. Ischké, alle voorspoed toe en ons hou styf duimvas. Ons o.10A- en o.11A-netbalspanne se uitspeel is na kwartaal 3 verskuif.
Baie geluk aan die Skoolhoof van HS Jan van Riebeeck, Pieter Rademeyer, en sy vrou Jana met die geboorte van hul pragtige seun op 31 Mei. Dit gaan baie goed met beide ma en seun. Mag Nikolaas vir julle sommer hope vreugde bring en mag God sy lewe ryklik seën!
Baie geluk aan die volgende leerders en hul ouers met hul onderskeie merkwaardige prestasies:
- Emma van Biljon – WP-Kleure o.13 Netbal
- Cara Stoltz – WP-Kleure o.11 Netbal
- Abigail Fourie – Sy is gekies om deel van die opera Tosca te wees wat later vanjaar by die Kunstekaap aangebied gaan word.
- Pieter Rademeyer – behaal 8ste plek tydens die ATKV semi-finale uitdunne vir die Wes-Kaap Gr. 4 – 5 leerders. Sy onderwerp was die volgende: “Kinders kan nie meer behoorlik luister nie”
- Jacques du Toit – behaal 4de plek tydens die ATKV semi-finale uitdunne vir die Wes-Kaap Gr. 4 – 5 leerders. Sy onderwerp was die volgende: “‘n Mens hoef nie altyd na reëls te luister nie”

Graag sluit ek af met die volgende stelling en wens vir julle ‘n wonderlike naweek en sterkte met die eksamens toe.
“Wees jy die rede dat iemand vandag glimlag.’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Daar is ongelukkig weer kopluise onder enkele leerders gewaar. Kyk asb. by die huis in jou kind se hare vir enige ongewenste gaste.
Indien daar tydens skooltyd luise in jou kind se hare gewaar word, sal ons jou kontak sodat jy jou kind kan kom haal. Leerders wat kopluise het, mag eers weer skool toe kom nadat die luise heeltemal verwyder is.
Wenke:
- Indien jy wil voorkom dat jou kind kopluise kry, kan jy voorkomende sjampoe by bv. Dischem of Clicks koop.
- Indien jy luise in jou kind se kop gewaar, koop ‘n sjampoe wat spesifiek luise en nete doodmaak.
- Maak seker jy lees die instruksies van die luissjampoe.
- Dit help ook om ‘n luiskammetjie te koop om nete en luise uit te kam.
- Was jou kind se beddegoed om ontslae te raak van nete en luise wat moontlik daarop agtergebly het.
Hiermee ‘n vriendelike versoek dat ons ouers/voogde en au pairs asseblief vir ons sal help om die gemerkte aflaaisones (drop & go) agter by die skool te eerbiedig. Ons het geglo dat die nuwe padverflyne en afgebakende parkeerareas die vloei van verkeer sou vergemaklik, maar dit kan net werk as almal hul samewerking in die verband gee en mekaar respekteer.
By voorbaat dankie
Naas Beets
SKOOLHOOF
Die wintersportprogram vir kwartaal 2 begin so stadig maar seker einde se kant toe staan met ‘n besige sportprogram agter die rug. Verlede naweek het ons o.7 – o.13 netbal- en rugbyspanne aan die jaarlikse driehoekige wintersportdag by Hoërskool Goudini te Rawsonville deelgeneem. Dit was ‘n prentjiemooi, sonnige herfsdag en ons is heerlik met plattelandse gasvryheid bederf. Ons spanne het weereens puik gevaar en waar ons tradisioneel jaar in en jaar uit redelik swaar teen veral Laerskool F.D. Conradie getrek het, het ons vanjaar die spreekwoordelike bordjies behoorlik verhang. Ek is besonders trots op ons spelers en afrigters se onberispelike gedrag op en af van die veld en baie dankbaar vir ouers wat ons so getrou ondersteun. Ek glo dat elke gesin nou na afloop van al die baie wedstryde en toernooie kan begin asem skep en ook in die proses gereedmaak vir die eksamen en assesserings wat voorlê. Sportoefeninge eindig volgende week, maar ons beplan om weer sportoefeninge gedurende skooltyd net na afloop van die eksamens/assesserings te hê om seker te maak ons leerders bly fiks en gereed vir kwartaal 3 se sport wat voorlê.
Ek glo julle het al opgelet dat ons sportpersoneel die afgelope jaar soveel meer tyd aan sport spandeer het. Die resultate spreek vanself. Ongelukkig het ons skool nie ‘n eenvormige sportdrag vir die afrigters soos wat ander skole se afrigters tydens westryde en toernooie dra nie. Ons is besig om dringend hieraan aandag te skenk. Ons benodig egter hulp in hierdie verband veral met die borgskap vir die sportdrag van afrigters. Die borgskap(pe) is onderhandelbaar, maar dit behels gewoonlik ‘n twee jaar kontrak en die borg(e) kan dan saam met ons besluit hoe hy/sy/hulle hul firma se embleem op die sportdrag wil aanbring. Indien julle kan help, kontak my gerus.
Op Woensdagaand, 24 Mei, bied ons skool ‘n suksesvolle Ma-dogteraand aan. Die Ma en Dogter-kombinasie gassprekers, naamlik Karin van Wyk (voormalige mev. SA-finalis en Mrs Africa Global asook voorkomskonsultant en motiveringspreker) en Mienke Koegelenberg (mediese dokter en ‘fellow’ van dr. Izolde Heydenrich (dermatologie) was ongelooflik inspirerend. Hulle het behoorlik die gehoor geboei met die onderwerp ‘Ons Storie’. Die opkoms van ma’s en dogters was baie goed en ‘n heerlike aand van samesyn was kosbaar vir ons Ma-dogter verhoudings. Baie dankie aan Marinda en haar span wat die spesiale geleentheid gereël het. Ek het die voorreg gehad om dit vir ‘n baie klein rukkie by te woon, maar kon nie langer bly, want soos die dogters vir my vra: “Meneer, wat soek jy hier? Dit is dan ‘n ‘girls night only’.”
Saterdag, 27 Mei, geskied natuurlik ons jaarlikse veilingsdinee by die ikoniese Pienk Dame, naamlik die Mt. Nelson Hotel. Hierdie geskiedkundige hotel boei al gaste sedert 1899 en sodra jy die perseel binnegaan, ervaar jy die gevoel van glans en ontspanning wat dit die perfekte venue vir ons veilingsdinee maak. Ek wil al die gaste by voorbaat hartlik bedank wat die glansgeleentheid gaan bywoon asook hul bereidwilligheid om hul hande diep in hul sakke te steek om ons skool finansieel te ondersteun. Fondse geïn word direk in projekte geploeg om onder andere die infrastrukture by die skool asook die IKT-leer en onderrig aan te spreek. Volg gerus die volgende skakel wat uitbeeld watter projekte reeds afgehandel is. Hierdie projekte is d.m.v. die veilingsfondse en ouerbydraes befonds. Fondse sal ook vir toekomstige projekte aangewend word. Laat my ook toe om die reëlingskomitee bestaande uit Odette Faling, Freda Theron, Mari Kushner, Martie Viljoen en Joanita du Toit hartlik te bedank vir al hul deeglike beplanning en harde werk om die sukses van die veilingsdinee te verseker. Daar is 41 lotte wat opgeveil gaan word. Gelukkig is ons baie bevoorreg om MC du Toit aan die stuur van sake te hê wat as afslaer gaan optree.
Graag sluit ek af met die volgende stelling en wens ek vir julle ‘n wonderlike naweek toe.
“As die lewe jou ‘n honderd redes gee om te huil,
wys die lewe jy het ‘n 101 redes om te glimlag.’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Ons versoek dat ouers asb. vir hul kind(ers) addisionele peuselhappies skool toe inpak bo en behalwe die snoepiekos wat leerders ontvang. Indien daar beurtkrag voor eerste pouse is, veroorsaak dit dat leerders somtyds vir die eerste keer eers tweede pouse hul kos wat bestel is, ontvang. Ons sien ‘n duidelike behoefte tydens klastyd dat leerders se konsentrasie en gedrag a.g.v. honger en bloedsuiker wat daal, geaffekteer word. Ons waardeer hierdie samewerking.
Ek skop graag af om Hoërskool Jan van Riebeeck hartlik geluk te wens met die puik musiekblyspel van ‘Matilda’ wat vanaf 8 – 13 Mei 2023 by die Baxter-teater aangebied is. Ek en my vrou het die voorreg gehad om Matilda op Vrydagaand, 12 Mei, te gaan kyk op uitnodiging van die Hoërskool. Net soos die vorige jaar se produksie naamlik “Hairspray” het mnr. Pieter Rademeyer en sy span vanjaar weer ‘n produksie van ‘n hoë standaard aangebied. Baie geluk ook aan Danielle Boshoff (gr. 6) wat haar rol met oorgawe vertolk het. Ons is saam met jou ouers baie trots op jou. Ek besef ook dat daar baie harde werk, tyd en opoffering ingegaan het om so ‘m meesterstuk op die planke te bring. Ek glo dat die blootstelling van ‘n professionele produksie al die deelnemers besonders verryk het.
Terwyl sportwedstryde en toernooie ons skoolgemeenskap sommer lekker besig hou, het daar op Saterdag, 13 Mei, van ons leerders aan die solosang Eisteddfod deelgeneem. Ons leerders is baie talentvol en het puik gevaar. Baie dankie aan juf. Helecia en mnr. Ben wat die solosangdag by ons skool hanteer het asook al die voorbereiding wat daarmee gepaardgegaan het.
Ek glo en vertrou dat al ons mammas en oumas in ons skoolgemeenskap op Sondag, 14 Mei, vir Moedersdag tot in die afgrond bederf is. Ons wil hiermee weer vir al ons mammas eerbiedig vir die belangrike rol wat hulle binne ons skoolgemeenskap speel asook al die opofferinge wat hulle as ma’s tot voordeel van hul kinders en gesin maak. Ek glo moeders is die spreekwoordelike gom wat gesinne en gemeenskappe bymekaar hou, veral onder moeilike omstandighede.
Week 6 is ook afgeskop met die uitrol van ‘n leesintervensieprogram waar ons ons leerders wil aanmoedig om meer te lees. Die doel van die program is tweeledig, eerstens om die leeskultuur by die skool te hervestig en tweedens om ons leerders te help om met begrip te lees. Om met begrip te lees en daarna kennis toe te pas, raak al hoe meer van ‘n uitdaging. Hierdie vaardigheid word in alle leerareas benodig. Hoe beter ‘n leerder se leesvermoë is, hoe beter vind leer plaas. Die aanvraag na ekstra individuele hulp en leesondersteuning word al hoe meer. Daarom dat ons skool besluit het om ‘n leesintervensieprogram saam te stel wat deur die hele skool gevolg sal word. Hiermee versoek ek dat ons dit as ‘n kollektiewe poging sien waar julle as ouers/voogde ons onderwysers sal help deur jul kinders aan te moedig om meer gereeld te lees. Doen dit deur byvoorbeeld self vir jou kinders ‘n storie te lees. Julle sal verbaas wees hoe kinders dit geniet as ‘n volwassene vir hulle ‘n goeie storie lees.
Op Donderdag, 11 Mei, het ek die voorreg gehad om ons o.13A-seunshokkiespan tuis in aksie teen LS Sunningdale te sien. Ons hokkieseuns het puik gevaar en hul opposisie met 7 – 1 uitoorlê. Baie geluk aan juf. Shahneé en haar span met die puik vertoning. Die res van ons hokkiespanne het ook puik gevaar en vir ‘n sogenaamde klein skooltjie boks ons spreekwoordelik ver bo ons gewigsafdeling. Baie geluk ook aan die o.13A-dogtershokkiespan onder leiding van mnr. Leon wat hul wedstryd 5 –1 gewen het asook die o.13B-span wat 1 – 0 gewen het. Ons rugbspanne het op Woensdag, 17 Mei, teen LS Sunningdale tuis gespeel en weereens puik uitslae gelewer. Baie geluk aan die o.11A-span wat 19 – 0 en die o.13A-span wat 29 – 12 in gure weer gewen het. Ek nooi julle gerus uit om ons netbal-, hokkie- en rugbywedstryde te kom kyk en julle sal aangenaam verras wees met die kwaliteit spel wat ons leerders week in en week uit op dis. Hierdie is ‘n groot pluimpie vir al ons onderwysers en afrigters wat bereid is om die ekstra myl te loop.
Graag sluit ek af met die volgende stelling rakende die pad na sukses. Ek wens vir julle ‘n wonderlike sportnaweek toe en sien uit om julle by die droehoekige rugby en netbal sportdag te HS Goudini in Rawsonville te sien.
“Success is often achieved by those
who don’t know that failure is inevitable.”
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Ons wil graag ‘n kort stap inwerk so voor die eksamen vir die meerderheid leerders begin. Die roete wat ons beoog om te stap, begin in Houtbaai en ons sal slegs rondom 2 ure stap – kort genoeg vir leerders wat graag die res van die dag wil gebruik om te leer. Voltooi asb. die vorm indien julle belangstel om saam te stap.
- Tyd: 09:00 – ongeveer 11:00
- Beginpunt: Houtbaai, af by Suikerbossie, draai regs na Sandy Bay parkeerarea
- Moeilikheidsgraad: Maklik tot Gemiddeld
- Bring saam: Eetgoed, water, hoed, stapskoene
Week 5 is die eerste vol akademiese week in ‘n lang tyd met al die lekker langnaweke agter die rug. Week 5 is weereens ook gekenmerk met ‘n uiters besige sportprogram. Soos ek verlede week in nuusbrief nr. 4 genoem het, het ons Jannies in week 4 (vanaf Woensdag, 03 Mei, tot Saterdag, 06 Mei,) 456 keer aan wintersportwedstryde en -toernooie deelgeneem. Die hoogtepunt van die week se sportuitslae tot en met saktyd is verseker die 7 – 5 wen van ons o.13A-rugbyspan op Woensdag, 10 Mei, tuis teen die o.13A-span van Laerskool Kenridge. Welgedaan aan die seuns en die afrigters mnre. Erick en André. Baie geluk ook aan ons netbalspanne wat week in week uit uitstekend presteer. Doen jouself ‘n guns en kom kyk gerus na die wedstryde van die o.12A- en o.13A-netbalspanne. Ek is baie trots met die wyse waarop ons leerders en hul afrigters hulself op en van die sportveld handhaaf.
Graag wil ek van die geleentheid gebruik maak om die Hoërskool Jan van Riebeeck wat hul massa-reünienaweek wat vanaf 5 – 7 Mei aangebied het, hartlik geluk te wens met ‘n puik georganiseerde geleentheid. Baie dankie aan mnr. Pieter Rademeyer en sy span wat ons by hul sportnaweek betrek het. Ons netbalspanne (o.7 – o.13) het weereens puik gevaar. Ons o.11-rugbyspan het ongelukkig teen Hoërskool Vredenburg verloor, maar ons o.13A-span was op die dag net te sterk vir hul opposisie.
Op Vrydag, 05 Mei, het ons ‘n baie spesiale verjaarsdag by ons skool gevier. Juf. Helecia word 65 jaar jonk en sy vier haar 53ste verjaarsdag by Laerskool Jan van Riebeeck, want sy is ‘n oud-Jannie vanaf gr. 1. Dit is werklik ‘n merkwaardige prestasie en sy herdenk haar spesiale geboortedag saam met Elise Theron (gr. 2) wat op die dag agt jaar geword het.
Verlede Vrydag, 05 Mei, het ons leerders en personeel aan die Internasionale Pantoffeldag deelgeneem. Leerders moes ‘n klein finansiële bydrae maak en kon dan hul gunsteling pantoffels skool toe dra. Dit het tot baie opwinding gelei en die leerders het met die mees interessante pantoffels by die skool opgedaag. Tydens die dag is meer as R3 000 ingesamel. Hiermee gaan komberse aangekoop word wat op 7 Junie aan bejaardes in die Ysterplaat omgewing wat baie behoeftig is, uitgedeel word.
Ons liefdadigheids- en omgeeprojekte het ook die oorhandiging van skryfbehoeftes op Woensdag, 10 Mei, aan Laerskool Prestwich ingesluit. Die skryfbehoeftes is gedurende kwartaal 1 ingesamel en daar is ook twee splinternuwe oorhoofse projektors vir Laerskool Prestwich wat een van ons susterskole is wat ons ondersteun, oorhandig. Baie dankie aan al die ouers wat skryfbehoefteskenkings gemaak het asook Stepanie le Roux en Ria Hertzog, wat die Alive Foundation verteenwoordig, vir die skenking van die twee oorhoofse projektors vir hul gr. 7-klasse. Mnr. Samodien, die skoolhoof van Laerskool Prestwich, dra sy dankwense aan ons skoolgemeenskap oor.
Graag sluit ek af met die volgende stelling rakende die pad na sukses. Ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe en geniet al die skoolsport wat oor die naweek plaasvind.
“Daar is twee dinge in ons lewe waaroor ons totale beheer het:
Dit is ons houding (attitude) en ons poging (effort).’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Alle graad 5 – 7-dogters en hul ma’s word uitgenooi om hierdie lekker gemaklike, informele gespreksaand saam met ons by te woon. Ma- en Dogter (Karin en Minke) kom gesels oor die kompleksiteit van hierdie verhouding veral in dié spesifieke ouderdomsgroep. Minke, ‘n mediese dokter, sal ook oor die algemene ontwikkeling (kop, emosies, liggaam) van dogters vanaf jong kind tot tiener gesels. Hier kry ma en dogter kans om verder oor al die ‘ongemaklike’ dingetjies te gesels. Daar is altyd iets nuut vir almal om te leer en wat is nou lekkerder as ‘n ‘girls night out’. Kaartjies word deur Karri verkoop.
Indien jy en jou dogter die aand gaan bywoon, stuur asb. ‘n ma-dogter foto van julle twee voor 19 Mei aan marinda@jvrprim.co.za.
Foto’s en Karri sluit Maandag, 22 Mei.

Marietjie Steyn van die Groote Kerk sal op Donderdag, 18 Mei, tydens die eerste periode (07:45 – 08:15) ‘n Hemelvaartdiens in die saal lei. Ouers is baie welkom om dit by te woon! Die byeenkoms sal vrywillig vir leerders wees – daar sal toesig gereël word vir diegene wat in die klas bly. ‘Jannies vir Jesus’ sal dus nie daardie Donderdagoggend plaasvind nie.
Ek glo almal het die baie lang naweek terdeë geniet of jy nou met Jannie tuisbly se motortjie gery het en of jy sommer lekker die langpad aangedurf het om van die stad se gewoel te ontsnap.
Week 4 van die akademiese kwartaal mag dalk korter wees as gevolg van die langnaweek, maar dit was beslis nie rustiger gewees nie aangesien die wintersportwedstryde en –toernooie asook WP-proewe (netbal en rugby) die week in volle swang afgeskop het. Ek is saam met julle opgewonde om te sien hoe ons in ‘n kort tydperk ‘n aktiewer sportkultuur by ons skool geskep het. Ek staaf dit deur die volgende statistiek: vanaf Woensdag, 03 Mei, tot Saterdag, 06 Mei, neem ons Jannies 456 keer aan wintersportwedstryde en -toernooi deel. Met julle as ouers/voogde se inkoop, samewerking en ondersteuning is daar nou vir elke wintersportspan ‘n B-span wat kan kompeteer en vir die heel eerste keer is daar C-spanne vir die o.7-, o.8-, o.11-, 0.12- en o.13-netbalspanne. Die deelname is ongelooflik en ons kan as ‘n skoolgemeenskap baie trots daarop wees om te sien dat ons Jannies meer aktief is, lekker hard oefen, maar in dieselfde asem ook pret het. Die idee is nie dat ons nou besluit het om ‘n sportskool te word nie. Die idee is egter deelname en balans. Die spreekwoordelike vlagskip by ons skool waarop ons vir ‘n geruime tyd baie trots is, is die akademie. Ons visie is om ook sport en kultuur op dieselfde vlak van uitnemendheid te bring. Verhoogde sportdeelname bring weer ander uitdagings soos byvoorbeeld dat ons sukkel om genoeg afrigters vir al die wintersportspanne te bekom. Dus versoek ek ouers/voogde om te oorweeg om te help met afrigting van die wintersportspanne. Ons benodig veral hulp by die junior netbalspanne. Ongelukkig kan jy nie by die ouderdomsgroep waar jou kind betrokke is, help met afrigting nie. Kontak my gerus indien jy graag by afrigting betrokke wil raak en sodoende ‘n waardevolle bydrae lewer.
Graag sluit ek af met die volgende stelling rakende sukses, ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe en sien julle by al die sportwedstryde en –toernooie oor die naweek.
“As jy dink jy is verslaan, dan is jy …
As jy dink jy durf nie, dan kan jy nie …
As jy graag wil wen, maar dink jy kan nie, dan is dit ‘n uitgemaakte saak, jy sal nie …
Sukses begin met ‘n mens se wil.
Dit is alles net ‘n denkpatroon.
Die wenner van die lewe se geveg gaan nie altyd na die vinniger of sterker persoon nie,
maar gouer of later is die suksesvolle persoon die een wat dink hy/sy kan!’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Daar is ongelukkig weer kopluise onder enkele leerders gewaar. Kyk asb. by die huis in jou kind se hare vir enige ongewenste gaste.
Indien daar tydens skooltyd luise in jou kind se hare gewaar word, sal ons jou kontak sodat jy jou kind kan kom haal. Leerders wat kopluise het, mag eers weer skool toe kom nadat die luise heeltemal verwyder is.
Wenke:
- Indien jy wil voorkom dat jou kind kopluise kry, kan jy voorkomende sjampoe by bv. Dischem of Clicks koop.
- Indien jy luise in jou kind se kop gewaar, koop ‘n sjampoe wat spesifiek luise en nete doodmaak.
- Maak seker jy lees die instruksies van die luissjampoe.
- Dit help ook om ‘n luiskammetjie te koop om nete en luise uit te kam.
- Was jou kind se beddegoed om ontslae te raak van nete en luise wat moontlik daarop agtergebly het.
Belangrike Datums
maart 2026
april 2026
mei 2026
junie 2026
julie 2026
augustus 2026
september 2026
oktober 2026
november 2026
desember 2026
