Week 9 het afgeskop met die graad 4 – 6-leerders wat ook met die Junie-eksamens begin het. Die grondslagfase leerders is reeds besig met hul tweede en finale week van formele assesserings. Baie dankie aan al die ouers/voogde en onderwysers wat so mooi help om die stresvlakke en spanning tydens die eksamen in toom te hou sodat dit nie die oorhand kry nie. Ons woon en leef in ‘n land waar ons daagliks bewustelik en onbewustelik stres en angs as gevolg van beurtkrag, misdaad, verkeer, korrupsie en uitdagende ekonomiese tye ervaar. Ons kinders word ongelukkig hieraan blootgestel en daarom is dit belangrik dat ons kollektief seker maak dat ons kinders nie addisionele angs en stres ervaar nie.

Vanaf Maandag, 05 Junie, het die buitemuurse sportprogram in skooltyd net na die aflê van die daaglikse eksamens plaasgevind. Die doel daarvan om nog steeds met sportoefeninge gedurende die eksamentyd voort te gaan is tweeledig: eerstens geniet die leerders dit terdeë om direk na ‘n lang eksamensessie uit die klas te kom, die vars lug te geniet en aktief te wees wat sommer ook help met hul algemene geestelike welsyn. Tweedens help die program om hulle fiks te hou asook om hul spelpeil langer te handhaaf, veral met ‘n 3 weke vakansie wat voorlê. Daar is die afgelope kwartaal so hard gewerk om fiksheidsvlakke te verbeter en effektiewe spelpatrone te implementeer en indien ons sportoefeninge vanaf die begin van die eksamens sou stop plus die vakansie wat voorlê, beteken dit dat daar amper 7 weke van geen oefeninge sal plaasvind nie. Dit is vir my belangrik dat ons leerders veral tydens die eksamens aktief bly, want dit hou hulle besig en neem hul aandag weg van die stres en angtigheid wat tydens formele assesserings ervaar word.

So tussen die eksamen en die leer het ons o.13A-netbalspanne op Saterdag, 03 Junie, as B-Liga wenners uit die stryd getree. Ons het in die finale teen Laerskool Totius gespeel. Dit was ‘n spanningsvolle wedstryd en na halftyd het ons slegs met 5 – 4 voorgeloop. Ons o.13A-dogters speel ‘n titaniese tweede helfte en stap 12 –7 met die louere weg. Baie geluk aan hul toegewyde afrigter, juf Ischké, wat al vir ‘n geruime tydperk baie ekstra tyd met haar span spandeer. Hierdie selfde span was ook die B-liga wenners vir o.12A gedurende 2022. Dit is werklik ‘n merkwaardige prestasie en graag wil ons ook juff. Shahneé en Sharon hartlik bedank wat haar en die dogters so getrou as deel van die afrigterspan ondersteun het. Baie dankie aan al die o.13A-netbalouers wat wedstryd na wedstryd selfs in baie koue en ongure weer hul dogters so lojaal ondersteun en aangemoedig het.

Die afgelope twee weke het die graad 7’s spoggerig hul tegnologietake vir my in my kantoor kom voorlê. Hulle het in groepe gewerk en moes ‘n selfoontoring bou wat esteties in ‘n woonbuurt opgerig kan word. Die kreatiwiteit van ons graad 7’s het my weereens stom geslaan. Baie geluk en dankie aan hul juf. Suné Alberts met die kreatiewe projek. Ons graad 1’s het beslis nie vir die graad 7’s terug gestaan nie en aangedring om hul pragtige robotte wat hul tydens robotika gebou het, met trots vir my te kom wys. Wonderlik om te sien dat selfs ons graad 1’s die vrymoedigheid het om hul spogwerk met my te kom deel. Die dae dat kinders bang was vir die skoolhoof se kantoor is lankal verby en dit is vir my belangrik dat ons leerders moet weet dat hulle belangrik is en altyd welkom in my kantoor is.

Verder wil ek net om verskoning vra vir enige moontlike ongerief wat ouers/voogde tans ervaar met die aankope van die nuwe skooldrag. Daar is egter geldige redes waarom die voorrade nie altyd beskikbaar of vinnig genoeg beskikbaar is nie. Wees verseker dat ons saam met die klerebank werk om die probeem aan te spreek.

Graag sluit ek af met die volgende stelling van Amy Weatherly en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe.

“Some people could be given an entire field of roses and only see the thorns in it,
Others could be given a single weed and only see the beautiful wildflower in it.
Perception is a key component to gratitude and gratitude is a key component to joy!’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF