Week 5 is die eerste vol akademiese week in ‘n lang tyd met al die lekker langnaweke agter die rug. Week 5 is weereens ook gekenmerk met ‘n uiters besige sportprogram. Soos ek verlede week in nuusbrief nr. 4 genoem het, het ons Jannies in week 4 (vanaf Woensdag, 03 Mei, tot Saterdag, 06 Mei,) 456 keer aan wintersportwedstryde en -toernooie deelgeneem. Die hoogtepunt van die week se sportuitslae tot en met saktyd is verseker die 7 – 5 wen van ons o.13A-rugbyspan op Woensdag, 10 Mei, tuis teen die o.13A-span van Laerskool Kenridge. Welgedaan aan die seuns en die afrigters mnre. Erick en André. Baie geluk ook aan ons netbalspanne wat week in week uit uitstekend presteer. Doen jouself ‘n guns en kom kyk gerus na die wedstryde van die o.12A- en o.13A-netbalspanne. Ek is baie trots met die wyse waarop ons leerders en hul afrigters hulself op en van die sportveld handhaaf.

Graag wil ek van die geleentheid gebruik maak om die Hoërskool Jan van Riebeeck wat hul massa-reünienaweek wat vanaf 5 – 7 Mei aangebied het, hartlik geluk te wens met ‘n puik georganiseerde geleentheid. Baie dankie aan mnr. Pieter Rademeyer en sy span wat ons by hul sportnaweek betrek het. Ons netbalspanne (o.7 – o.13) het weereens puik gevaar. Ons o.11-rugbyspan het ongelukkig teen Hoërskool Vredenburg verloor, maar ons o.13A-span was op die dag net te sterk vir hul opposisie.

Op Vrydag, 05 Mei, het ons ‘n baie spesiale verjaarsdag by ons skool gevier. Juf. Helecia word 65 jaar jonk en sy vier haar 53ste verjaarsdag by Laerskool Jan van Riebeeck, want sy is ‘n oud-Jannie vanaf gr. 1. Dit is werklik ‘n merkwaardige prestasie en sy herdenk haar spesiale geboortedag saam met Elise Theron (gr. 2) wat op die dag agt jaar geword het.

Verlede Vrydag, 05 Mei, het ons leerders en personeel aan die Internasionale Pantoffeldag deelgeneem. Leerders moes ‘n klein finansiële bydrae maak en kon dan hul gunsteling pantoffels skool toe dra. Dit het tot baie opwinding gelei en die leerders het met die mees interessante pantoffels by die skool opgedaag. Tydens die dag is meer as R3 000 ingesamel. Hiermee gaan komberse aangekoop word wat op 7 Junie aan bejaardes in die Ysterplaat omgewing wat baie behoeftig is, uitgedeel word.

Ons liefdadigheids- en omgeeprojekte het ook die oorhandiging van skryfbehoeftes op Woensdag, 10 Mei, aan Laerskool Prestwich ingesluit. Die skryfbehoeftes is gedurende kwartaal 1 ingesamel en daar is ook twee splinternuwe oorhoofse projektors vir Laerskool Prestwich wat een van ons susterskole is wat ons ondersteun, oorhandig. Baie dankie aan al die ouers wat skryfbehoefteskenkings gemaak het asook Stepanie le Roux en Ria Hertzog, wat die Alive Foundation verteenwoordig, vir die skenking van die twee oorhoofse projektors vir hul gr. 7-klasse. Mnr. Samodien, die skoolhoof van Laerskool Prestwich, dra sy dankwense aan ons skoolgemeenskap oor.

Graag sluit ek af met die volgende stelling rakende die pad na sukses. Ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe en geniet al die skoolsport wat oor die naweek plaasvind.

“Daar is twee dinge in ons lewe waaroor ons totale beheer het:
Dit is ons houding (attitude) en ons poging (effort).’’

Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF