Mei-maand, ‘n baie besige maand by ons trotse skool het skielik die trekpas gekry met Junie wat so stilletjies haar opwagting gemaak het. Junie-maand bring ook die koue en nat weer soos die seisoene draai en ons is so dankbaar vir die wonderlike reën wat die afgelope tyd wyd verspreid oor ons land val.

Saterdagaand, 27 Mei, het ons jaarlikse veilingsdinee by die ikoniese Pienk Dame, naamlik die Mt. Nelson Hotel plaasgevind. Al die kaartjies was vir die glans- en fondsinsamelingsgeleentheid uitverkoop. Die gaste was elegant en deftig vir die spesiale geleentheid getooi. MC du Toit, een van ons ouers, het soos in die verlede as afslaer opgetree. Hy het die 41 lotte binne ‘n kort tydjie verkoop en nie eens die Stormers se misrabele vertoning teen Munster kon sy en die gaste se geesdrif demp nie. Dit is dan my eer en voorreg om bekend te maak dat daar tydens die veiling ‘n enorme R1,25m ingesamel is. Dit het al ons verwagtinge oortref, veral met die huidige ekonomiese toestande in ag geneem. Graag wil ek ook die geleentheid gebruik om al ons gaste en veral ons ouers wat op die aand ‘n finansiële bydrae gemaak het, hartlik te bedank vir hul finansiële hulp om LS Jan van Riebeeck na nog hoër hoogtes te neem. Daar is darem nie net ‘n spogveiling gehou nie, maar ook lekker saam gekuier en gedans. Die onthaalsaal van die Mt. Nelson was uiters stylvol voorberei. Die samesyn was kosbaar en die spreekwoordelikge goeie gevoel van die skoolgemeenskap was feitlik tasbaar. Baie dankie aan ons Voorsitter van die Opvoedingstrust en die Beheerraad, naamlik Merwe Scholtz vir sy dinamiese leiding en puik toespraak wat die doel van die spesiale aand mooi in konteks geplaas het. Laat my ook toe om die reëlingskomitee bestaande uit Odette Faling, Freda Theron, Mari Kushner, Martie Viljoen en Joanita du Toit weereens hartlik te bedank en geluk te wens met ‘n onvergeetlike aand. Groot dankie ook aan ons afslaer, MC du Toit, wat hom puik van sy taak gekwyt het. Sien gerus later vandag die foto’s, geneem deur Annene van Eeden, op die Kiek.

Hierdie week het die Junie-eksamen vir die gr. 7’s begin asook die assesserings vir die Grondslagfase. Volgende week begin die Gr. 4 – 6 ook met hul eksamen en wens ek al ons leerders en personeel voorspoed toe. Eksamen verhoog ongelukkig stresvlakke by leerders en dit filter ook deur na die gesinne. Graag versoek ek julle as ouers/voogde om ons as personeel te help om die stresvlakke en spanning tydens die eksamen te beheer sodat dit nie die oorhand kry nie. Stres tot ‘n eksamen is ‘n natuurlike reaksie en as dit reg aangewend en bestuur word, kan dit ook voordelig wees. Probeer gerus die volgende wenke om jou kind/ers se eksamenstres en jou moontlike eie angstigheid daaroor hok te slaan:

  • Berei betyds voor. Help jou kind/ers om ‘n studierooster op te stel wat jou kind/ers genoeg tyd gee om ook te ontspan en vroeg saans in die bed te spring sodat hulle genoeg slaap inkry.
  • Skep ‘n rustige en ontspanne atmosfeer vry van enige stressors by die huis vir jou kind/ers om te leer.
  • Skep ‘n toegewyde studieruimte met behoorlike beligting en vry van geraas.
  • Skep ‘n emosionele band met jou kind/ers dat hulle nie voel dat hulle die eksamenpad alleen stap nie. Vra vir hulle hoe die eksamen was en spreek positiewe woorde uit. Laat hulle verstaan dat julle vir hulle nog steeds baie lief sal wees, ongeag die uitslae en hulle beslis nie op grond daarvan sal beoordeel nie.
  • Help jou kind/ers om ‘n gewoonte aan te kweek dat hulle die regte skryfbehoeftes en die regte toerusting vir die dag in pak.
  • Vermy gejaagdheid en om hulle op die nippertjie soggens voor die eksamen by die skool af te laai, want dit maak leerders angstig.

So tussen die eksamen en die leer speel ons o.13A-netbalspanne op Vrydagmiddag, 02 Junie, in die liga-uitspeeltoernooi te LS Gene Louw. Ons wens ons dogters en hul afrigter, juf. Ischké, alle voorspoed toe en ons hou styf duimvas. Ons o.10A- en o.11A-netbalspanne se uitspeel is na kwartaal 3 verskuif.

Baie geluk aan die Skoolhoof van HS Jan van Riebeeck, Pieter Rademeyer, en sy vrou Jana met die geboorte van hul pragtige seun op 31 Mei. Dit gaan baie goed met beide ma en seun. Mag Nikolaas vir julle sommer hope vreugde bring en mag God sy lewe ryklik seën!

Baie geluk aan die volgende leerders en hul ouers met hul onderskeie merkwaardige prestasies:

  • Emma van Biljon – WP-Kleure o.13 Netbal
  • Cara Stoltz – WP-Kleure o.11 Netbal
  • Abigail Fourie – Sy is gekies om deel van die opera Tosca te wees wat later vanjaar by die Kunstekaap aangebied gaan word.
  • Pieter Rademeyer – behaal 8ste plek tydens die ATKV semi-finale uitdunne vir die Wes-Kaap Gr. 4 – 5 leerders. Sy onderwerp was die volgende: “Kinders kan nie meer behoorlik luister nie”
  • Jacques du Toit – behaal 4de plek tydens die ATKV semi-finale uitdunne vir die Wes-Kaap Gr. 4 – 5 leerders. Sy onderwerp was die volgende: “‘n Mens hoef nie altyd na reëls te luister nie”

Graag sluit ek af met die volgende stelling en wens vir julle ‘n wonderlike naweek en sterkte met die eksamens toe.

“Wees jy die rede dat iemand vandag glimlag.’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF