Ek glo almal het die baie lang naweek terdeë geniet of jy nou met Jannie tuisbly se motortjie gery het en of jy sommer lekker die langpad aangedurf het om van die stad se gewoel te ontsnap.

Week 4 van die akademiese kwartaal mag dalk korter wees as gevolg van die langnaweek, maar dit was beslis nie rustiger gewees nie aangesien die wintersportwedstryde en –toernooie asook WP-proewe (netbal en rugby) die week in volle swang afgeskop het. Ek is saam met julle opgewonde om te sien hoe ons in ‘n kort tydperk ‘n aktiewer sportkultuur by ons skool geskep het. Ek staaf dit deur die volgende statistiek: vanaf Woensdag, 03 Mei, tot Saterdag, 06 Mei, neem ons Jannies 456 keer aan wintersportwedstryde en -toernooi deel. Met julle as ouers/voogde se inkoop, samewerking en ondersteuning is daar nou vir elke wintersportspan ‘n B-span wat kan kompeteer en vir die heel eerste keer is daar C-spanne vir die o.7-, o.8-, o.11-, 0.12- en o.13-netbalspanne. Die deelname is ongelooflik en ons kan as ‘n skoolgemeenskap baie trots daarop wees om te sien dat ons Jannies meer aktief is, lekker hard oefen, maar in dieselfde asem ook pret het. Die idee is nie dat ons nou besluit het om ‘n sportskool te word nie. Die idee is egter deelname en balans. Die spreekwoordelike vlagskip by ons skool waarop ons vir ‘n geruime tyd baie trots is, is die akademie. Ons visie is om ook sport en kultuur op dieselfde vlak van uitnemendheid te bring. Verhoogde sportdeelname bring weer ander uitdagings soos byvoorbeeld dat ons sukkel om genoeg afrigters vir al die wintersportspanne te bekom. Dus versoek ek ouers/voogde om te oorweeg om te help met afrigting van die wintersportspanne. Ons benodig veral hulp by die junior netbalspanne. Ongelukkig kan jy nie by die ouderdomsgroep waar jou kind betrokke is, help met afrigting nie. Kontak my gerus indien jy graag by afrigting betrokke wil raak en sodoende ‘n waardevolle bydrae lewer.

Graag sluit ek af met die volgende stelling rakende sukses, ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe en sien julle by al die sportwedstryde en –toernooie oor die naweek.

“As jy dink jy is verslaan, dan is jy …

As jy dink jy durf nie, dan kan jy nie …

As jy graag wil wen, maar dink jy kan nie, dan is dit ‘n uitgemaakte saak, jy sal nie …

Sukses begin met ‘n mens se wil.

Dit is alles net ‘n denkpatroon.

Die wenner van die lewe se geveg gaan nie altyd na die vinniger of sterker persoon nie,

maar gouer of later is die suksesvolle persoon die een wat dink hy/sy kan!’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF