Die wintersportprogram vir kwartaal 2 begin so stadig maar seker einde se kant toe staan met ‘n besige sportprogram agter die rug. Verlede naweek het ons o.7 – o.13 netbal- en rugbyspanne aan die jaarlikse driehoekige wintersportdag by Hoërskool Goudini te Rawsonville deelgeneem. Dit was ‘n prentjiemooi, sonnige herfsdag en ons is heerlik met plattelandse gasvryheid bederf. Ons spanne het weereens puik gevaar en waar ons tradisioneel jaar in en jaar uit redelik swaar teen veral Laerskool F.D. Conradie getrek het, het ons vanjaar die spreekwoordelike bordjies behoorlik verhang. Ek is besonders trots op ons spelers en afrigters se onberispelike gedrag op en af van die veld en baie dankbaar vir ouers wat ons so getrou ondersteun. Ek glo dat elke gesin nou na afloop van al die baie wedstryde en toernooie kan begin asem skep en ook in die proses gereedmaak vir die eksamen en assesserings wat voorlê. Sportoefeninge eindig volgende week, maar ons beplan om weer sportoefeninge gedurende skooltyd net na afloop van die eksamens/assesserings te hê om seker te maak ons leerders bly fiks en gereed vir kwartaal 3 se sport wat voorlê.

Ek glo julle het al opgelet dat ons sportpersoneel die afgelope jaar soveel meer tyd aan sport spandeer het. Die resultate spreek vanself. Ongelukkig het ons skool nie ‘n eenvormige sportdrag vir die afrigters soos wat ander skole se afrigters tydens westryde en toernooie dra nie. Ons is besig om dringend hieraan aandag te skenk. Ons benodig egter hulp in hierdie verband veral met die borgskap vir die sportdrag van afrigters. Die borgskap(pe) is onderhandelbaar, maar dit behels gewoonlik ‘n twee jaar kontrak en die borg(e) kan dan saam met ons besluit hoe hy/sy/hulle hul firma se embleem op die sportdrag wil aanbring. Indien julle kan help, kontak my gerus.

Op Woensdagaand, 24 Mei, bied ons skool ‘n suksesvolle Ma-dogteraand aan. Die Ma en Dogter-kombinasie gassprekers, naamlik Karin van Wyk (voormalige mev. SA-finalis en Mrs Africa Global asook voorkomskonsultant en motiveringspreker) en Mienke Koegelenberg (mediese dokter en ‘fellow’ van dr. Izolde Heydenrich (dermatologie) was ongelooflik inspirerend. Hulle het behoorlik die gehoor geboei met die onderwerp ‘Ons Storie’. Die opkoms van ma’s en dogters was baie goed en ‘n heerlike aand van samesyn was kosbaar vir ons Ma-dogter verhoudings. Baie dankie aan Marinda en haar span wat die spesiale geleentheid gereël het. Ek het die voorreg gehad om dit vir ‘n baie klein rukkie by te woon, maar kon nie langer bly, want soos die dogters vir my vra: “Meneer, wat soek jy hier? Dit is dan ‘n ‘girls night only’.”
Saterdag, 27 Mei, geskied natuurlik ons jaarlikse veilingsdinee by die ikoniese Pienk Dame, naamlik die Mt. Nelson Hotel. Hierdie geskiedkundige hotel boei al gaste sedert 1899 en sodra jy die perseel binnegaan, ervaar jy die gevoel van glans en ontspanning wat dit die perfekte venue vir ons veilingsdinee maak. Ek wil al die gaste by voorbaat hartlik bedank wat die glansgeleentheid gaan bywoon asook hul bereidwilligheid om hul hande diep in hul sakke te steek om ons skool finansieel te ondersteun. Fondse geïn word direk in projekte geploeg om onder andere die infrastrukture by die skool asook die IKT-leer en onderrig aan te spreek. Volg gerus die volgende skakel wat uitbeeld watter projekte reeds afgehandel is. Hierdie projekte is d.m.v. die veilingsfondse en ouerbydraes befonds. Fondse sal ook vir toekomstige projekte aangewend word. Laat my ook toe om die reëlingskomitee bestaande uit Odette Faling, Freda Theron, Mari Kushner, Martie Viljoen en Joanita du Toit hartlik te bedank vir al hul deeglike beplanning en harde werk om die sukses van die veilingsdinee te verseker. Daar is 41 lotte wat opgeveil gaan word. Gelukkig is ons baie bevoorreg om MC du Toit aan die stuur van sake te hê wat as afslaer gaan optree.

Graag sluit ek af met die volgende stelling en wens ek vir julle ‘n wonderlike naweek toe.

“As die lewe jou ‘n honderd redes gee om te huil,
wys die lewe jy het ‘n 101 redes om te glimlag.’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF