Ek skop graag af om Hoërskool Jan van Riebeeck hartlik geluk te wens met die puik musiekblyspel van ‘Matilda’ wat vanaf 8 – 13 Mei 2023 by die Baxter-teater aangebied is. Ek en my vrou het die voorreg gehad om Matilda op Vrydagaand, 12 Mei, te gaan kyk op uitnodiging van die Hoërskool. Net soos die vorige jaar se produksie naamlik “Hairspray” het mnr. Pieter Rademeyer en sy span vanjaar weer ‘n produksie van ‘n hoë standaard aangebied. Baie geluk ook aan Danielle Boshoff (gr. 6) wat haar rol met oorgawe vertolk het. Ons is saam met jou ouers baie trots op jou. Ek besef ook dat daar baie harde werk, tyd en opoffering ingegaan het om so ‘m meesterstuk op die planke te bring. Ek glo dat die blootstelling van ‘n professionele produksie al die deelnemers besonders verryk het.

Terwyl sportwedstryde en toernooie ons skoolgemeenskap sommer lekker besig hou, het daar op Saterdag, 13 Mei, van ons leerders aan die solosang Eisteddfod deelgeneem. Ons leerders is baie talentvol en het puik gevaar. Baie dankie aan juf. Helecia en mnr. Ben wat die solosangdag by ons skool hanteer het asook al die voorbereiding wat daarmee gepaardgegaan het.

Ek glo en vertrou dat al ons mammas en oumas in ons skoolgemeenskap op Sondag, 14 Mei, vir Moedersdag tot in die afgrond bederf is. Ons wil hiermee weer vir al ons mammas eerbiedig vir die belangrike rol wat hulle binne ons skoolgemeenskap speel asook al die opofferinge wat hulle as ma’s tot voordeel van hul kinders en gesin maak. Ek glo moeders is die spreekwoordelike gom wat gesinne en gemeenskappe bymekaar hou, veral onder moeilike omstandighede.

Week 6 is ook afgeskop met die uitrol van ‘n leesintervensieprogram waar ons ons leerders wil aanmoedig om meer te lees. Die doel van die program is tweeledig, eerstens om die leeskultuur by die skool te hervestig en tweedens om ons leerders te help om met begrip te lees. Om met begrip te lees en daarna kennis toe te pas, raak al hoe meer van ‘n uitdaging. Hierdie vaardigheid word in alle leerareas benodig. Hoe beter ‘n leerder se leesvermoë is, hoe beter vind leer plaas. Die aanvraag na ekstra individuele hulp en leesondersteuning word al hoe meer. Daarom dat ons skool besluit het om ‘n leesintervensieprogram saam te stel wat deur die hele skool gevolg sal word. Hiermee versoek ek dat ons dit as ‘n kollektiewe poging sien waar julle as ouers/voogde ons onderwysers sal help deur jul kinders aan te moedig om meer gereeld te lees. Doen dit deur byvoorbeeld self vir jou kinders ‘n storie te lees. Julle sal verbaas wees hoe kinders dit geniet as ‘n volwassene vir hulle ‘n goeie storie lees.

Op Donderdag, 11 Mei, het ek die voorreg gehad om ons o.13A-seunshokkiespan tuis in aksie teen LS Sunningdale te sien. Ons hokkieseuns het puik gevaar en hul opposisie met 7 – 1 uitoorlê. Baie geluk aan juf. Shahneé en haar span met die puik vertoning. Die res van ons hokkiespanne het ook puik gevaar en vir ‘n sogenaamde klein skooltjie boks ons spreekwoordelik ver bo ons gewigsafdeling. Baie geluk ook aan die o.13A-dogtershokkiespan onder leiding van mnr. Leon wat hul wedstryd 5 –1 gewen het asook die o.13B-span wat 1 – 0 gewen het. Ons rugbspanne het op Woensdag, 17 Mei, teen LS Sunningdale tuis gespeel en weereens puik uitslae gelewer. Baie geluk aan die o.11A-span wat 19 – 0 en die o.13A-span wat 29 – 12 in gure weer gewen het. Ek nooi julle gerus uit om ons netbal-, hokkie- en rugbywedstryde te kom kyk en julle sal aangenaam verras wees met die kwaliteit spel wat ons leerders week in en week uit op dis. Hierdie is ‘n groot pluimpie vir al ons onderwysers en afrigters wat bereid is om die ekstra myl te loop.

Graag sluit ek af met die volgende stelling rakende die pad na sukses. Ek wens vir julle ‘n wonderlike sportnaweek toe en sien uit om julle by die droehoekige rugby en netbal sportdag te HS Goudini in Rawsonville te sien.

“Success is often achieved by those
who don’t know that failure is inevitable.”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF