Kategorie: Algemeen
Roete: Beginpunt is onder die kabelkarretjie, die beginpunt van Indiavenster. Ons gaan ‘n ent daarmee op en dan op ‘n kontoerpad. Die plan is om na die grot – Andy’s Cave – te stap.
Tyd: Ons vertrek 14:10 van die skool af. Die duur van die stap sal later bevestig word, maar sal nie lank wees nie.
Moeilikheidsgraad: Die eerste deel is opdraend, maar omdat dit nie ver is nie, sal beginners dit steeds kan doen, ons kan dit stadig vat.
Vandag vier ons “#Bok-Friday” en versoek ons al ons leerders, personeel en ouers/voogde om elke Vrydag vanaf 08 September tot die einde van die kwartaal ‘n springboktrui, of ‘n springbok t-hemp of iets groen en goud aan te trek as ‘n kollektiewe poging om die Bokke tydens die 2023 Rugby Wêreldbeker in Frankryk te ondersteun. Soos ons Springbokkaptein, Siya Kolisi sê: “We are in it together and together we are stronger”. Ons wil deel van die nasionale inisiatief wees om bankvas agter die Bokke te staan in ‘n poging om hul titel van 2019 te verdedig en geskiedenis te maak as die eerste land wat vier wêreldbekers verower het. Ek glo almal sien daarna uit om te sien hoe twintig internasionale spanne sake gaan uitspook om vanjaar as die wêreldkampioene bekroon te word.
Op Vrydag, 01 September, is ons akademiese week op ‘n hoogtepunt afgesluit met die gewilde kaskarresies wat op die mini-sportveld agter die skool plaasgevind het. Ons leerders het omtrent die akademiese week terdeë saam met die personeel geniet en ons het leerders die geleenthede gebied om op ander kreatiewe maniere te leer terwyl hulle hope pret het. Ek glo dat die KUNS om ‘n Jannie te wees na afloop van die spesiale week bemeester is.

Ons eerste sportnaweek teen LS Welgemoed het vanaf 01 – 02 September weg plaasgevind. Alhoewel ons dit net as ‘n einde van die seisoen-sportdag gesien het, het dit wel as ‘n interskole-naweek vir die Blessies gedien. Op Vrydag, 01 September, het ons hokkiespanne teen hulle deelgeneem en bietjie “houe gevat”, maar opvallend was die manier hoe ons Jannies, die afrigters en personeel, saam met ouers die verloor-uitslae op die spreekwoordelik ken gevat het. Ek was so trots om te sien dat die Jannies deurgaans oor die naweek met wen of verloor altyd beleefd was, geglimlag het en te alle tye puik sportmangees getoon het. Die naweek was weereens ‘n bewys van die spesiale verhouding tussen leerder en onderwyser, tussen leerder en leerder asook tussen onderwyser en ouer. Selfs een van die Welgemoed-mammas het my genader om ons leerders en personeel se gedrag en sportmangees te komplimenteer. Daar is min skole wat ons unieke etos en kultuur het. Op Saterdag, 02 September, het die momentum tydens die netbal- en rugbywedstryde egter na ons kant geskuif met ons senior netbalspanne wat puik oorwinnings behaal het.

Verskoon dat ek die o.11- en o.13-rugbywedstryde uitlig, maar hier was beslis die Dawid teen Goliat situasie a.g.v. beserings en siektes van sleutelspelers wat nie op die dag kon speel nie. Beide wedstryde was uiters spanningsvol en luidkeels deur leerders, ouers en afrigters aangemoedig. Die o.11’s wen 8 – 7 met ‘n strafdoel van buite die kwartgebied wat deur Carter (kaptein) verdoel is. Ons o.13A’s speel sonder vier sleutelspelers wat ongelukkig beseer en/of siek was. Die span speel egter die wedstryd van hul lewe. Hulle het absoluut vir mekaar gespeel en hul lywe letterlik op die spel geplaas, want hul wou ‘n punt op die dag bewys. Die o.13A’s wen die titaniese stryd met 22 – 14 en laat ons almal in ekstase met hul vasberadenheid en deursettingsvermoë. Baie geluk aan al ons spanne, ons puik en toegewyde afrigters asook ons ondersteunende ouers wat deur dik en dun by ons staan. Glo vir my dat hierdie spesiale vertonings deur sportspanne nie sommer elke dag gebeur nie en almal wat daar teenwoordig was, sal getuig dat dit kosbaar was en ons sal dit nog vir baie lank onthou. Die hoogtepunt was natuurlik toe al ons hokkie- en netbalspelers saam met die rugbyspelers en personeel ‘n kringetjie gemaak het om dit te vier. Ek kon myself nie keer nie en het self by die kringetjie aangesluit en die Jannie-Bom liedjie saam met die spelers gesing. Dit was so spesiaal en as ‘n trotse skoolhoof het ek vir ‘n oomblik amper emosioneel geraak, want ons skool is so geseënd in baie opsigte.
Op Maandag, 04 September, het die bekende motiveringspreker, Lynette Beer (Seeds of Inspiration), ons personeel kom toespreek as deel van personeelontwikkeling asook om die akademiese week met die personeel af te sluit. Lynette is ‘n formidabele dame wat die vermoë het om enige uitgeputte, afgematte en oorlaaide personeel binne een sessie so positief te inspireer dat hulle gevoel het of hulle sopas van ‘n heerlike lang vakansie teruggekeer het. Sy het veral gefokus op die feit dat die mens in die algemeen vergeet om sy/haar dankbaarheidsbril daagliks op te sit, want dit is net te maklik om te kla, negatief te wees en te kritiseer. Sy het verder gefokus op gesindheid en die feit dat jou eie gedagtes jou geestelik en emosioneel kan inspireer of dat dit jou na donker en negatiewe plekke kan dryf. Ons het elke dag twee eenvoudige keuses m.a.w. 1) ons sien al die uitdagings as geleenthede met ‘n silwer randjie of 2) ons laat toe dat negatiwiteit ons totaal insluk. Soos ek in my vorige nuusbriewe al gemeld het, leef ons in ‘n land vol negatiewe situasies soos byvoorbeeld korrupsie, beurtkrag, misdaad, stakings, verkeer, swak dienslewering, nadelige wisselkoerse, ens. en dit opsigself kan baie maklik tot negatiewe gedagtes en angs bydra. Dis juis hieroor waar ons onsself met positiewe mense moet skaar en positiewe dinge uitspreek. Dit is dan ook ons kollektiewe verantwoordelikheid om ons leerders/kinders positief te hou en hulle, die jeug, te motiveer dat hulle instrumenteel in die toekoms moet wees om die land ten goede te verander. Ons woon nog steeds in een van die mooiste stede in die wêreld en beleef elke dag eindelose genade. Ons moet net die moeite doen om die dankbaarheidsbril op te sit en die ‘pragtige’ wêreld saam met ons leerders/kinders aan die anderkant van die lens raak te sien.

Twee Vrydae terug, 25 Augustus, het ons aan die jaarlikse WOW-Spelkompetisie deelgeneem. Ons leerders het puik gevaar en weereens stof in die ander groter skole se oë geskop. 19 uit die 20 van die leerders wat deelgeneem het, het deurgedring na die provinsiale rondte wat môre in Stellenbosch plaasvind. My beste wense vergesel hulle.
Graag sluit ek af met die onderstaande aanhaling van G.K. Chesterton met die fokus op dankbaarheid en positiewe denke. Ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe.
“When it comes to life
the critical thing is whether you take it for granted
or take them for gratitude!”
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Vandag vier ons Loslitdag. Loslitdag is vir die eerste keer in 1995 gevier. Hierdie toonaangewende en bewusmakingsinisiatief is ten bate van mense met gestremdhede. Ons moedig dus vandag ons leerders, ouers en personeel aan om iets unieks (so bont en kleurvol moontlik) aan te trek en in die proses ook ‘n klein donasie (plakker @ R20) te maak wat ons dan vir ‘n organisasie wat vir persone met gestermdhede help, skenk. Hiermee kan ons dan as skoolgemeenskap ons klein gebaar van dankbaarheid en omgee betoon. Ons tema vanjaar is “share a smile”. ‘n Glimlag kos nie ‘n sent nie; ek daag ons skoolgemeenskap uit om dit daagliks vir ander mense te gee en so skep ons ‘n beter wêreld.
Op Vrydag, 25 Augustus, het die jaarlikse en gewilde Ouma- en Oupadag plaasgevind. Oumas en Oupas het van heinde en verre gekom om die spesiale dag saam met hul kleinkind(ers) by ons pragtige skool te geniet. Die hoogtepunt van die dag was beslis die insiggewende toespraak deur ons gasspreker, naamlik Elsabé Daneel. Elsabé is nie net ‘n formidabele vrou en aktrise nie, maar ook ‘n ouma by ons. Die dag is verder opgekikker met smaaklike lekkernye om aan te smul terwyl ons deur die gr. 7-leerders met drinkgoed bedien is. Groot dankie aan Marinda en haar span wat die dag onvergeetlik gemaak het.
Dit was ‘n groot eer en voorreg om al ons oumas en oumas by ons skool te ontvang, hulle te ontmoet en die dag saam met hulle te kon spandeer. Ons moet nooit vergeet dat Oumas en Oupas die spilpunte is van die familie tussen die verlede en hede veral wanneer dit kom by familie-erfenis, tradisies en die oordra van stories oor die jare heen. Ek salueer al ons oumas en oupas vir die belangrike rol wat hulle in ons skoolgemeenskap speel. Hulle is vir ons leerders veral in vandag se veranderde lewe belangrike mentors en rolmodelle en natuurlik ook hul helde. Graag wil ek sommer namens ons leerders en ouers/voogde vir al ons oumas en oupas hartlik bedank vir hul onverdeelde aandag, liefde, toegeneentheid en omgee. Oumas en Oupas is baie spesiaal en hulle moet dit nooit vergeet nie. My beste wense vergesel hulle!
Hierdie afgelope week vier ons akademiese week en fokus ons op die KUNS om ‘n Jannie te wees! Die doel van die akademiese week is juis om ons leerders blootstelling te gee wat juis nie tydens ‘n normale akademiese week plaasvind nie. Hulle het die geleenthede gekry om aan die volgende aktiwiteite en aanbiedinge deel te neem:
- Die KUNS van Karate – Gr. 1-3
- Die KUNS van Joga – Gr. 5-7
- Die KUNS van Pilates – Gr. 4
- Die KUNS van Entrepreneurskap – Gr. 7
- Die KUNS van algemene gesondheid – Gr. 1-3
- Die KUNS van redenaars
- Die KUNS van goeie velsorg – Gr. 5-7
- Die KUNS om jou tande te versorg – Gr. 1-3
- Die KUNS van omgee
- Die KUNS om gesond te leef – Gr. 5-7
- Klimaat – ‘n KUNS op sy eie – Gr. 5-7
- KUNS van leierskap – Gr. 6-7 en personeel
- KUNS van modeparade – Gr. 7
- Die KUNS van toekomstige vaardighede – personeel
- Die KUNS om sensoriese integrasie aan te spreek – personeel
- KUNS om talente te ontwikkel – Jannies Talent
- Die KUNS van klassieke musiek – Gr. 1-3
- Die KUNS van houtwerk – Gr. 4
- Die KUNS om kunstig te wees – Gr. 2
- Die KUNS om pret te hê – Gr. 1-7 (Kaskarresies)
- Die KUNS om jouself te verdedig – Gr. 5-7

Die bogenoemde aktiwiteite en aanbiedinge is juis gereël om ons leerders blootstelling op ‘n ander vlak van leer te gee. Leer hoef nie noodwendig in die tradisionele sin van die woord byvoorbeeld slegs in die klaskamer plaas te vind nie. Daarom het die leerders aan nuwe, kreatiewe aktiwiteite deelgeneem om hulle juis te inspireer om buite die spreekwoordelike boksie te dink. Baie dankie aan al ons ouers wat die afgelope week as gasspekers opgetree het. Dinsdagmiddag het Jonty Thomson (‘n ouer by die skool) die onderwyspersoneel toegespreek as deel van die akademiese week oor leierskap. Hy noem onder andere dat onderwysers almal leiers is en leiers inspireer ander mense om te groei en ‘n beter weergawe van hulself te wees. Sy aanbieding was merkwaardig en ons gaan poog dat hy een aand ook ons ouers toespreek. Ons is so bevoorreg om julle kundigheid in die skool aan te wend en wat ‘n wonderlike voorreg vir ons leerdes om na hulle eie ouers te kon luister. Hierdie akademiese week kan nie plaasvind indien dit nie deeglik beplan en gereël is nie, dus laat my toe om vir Marinda en haar span hartlik te bedank en geluk te wens met ‘n fantastiese en inspirerende akademiese week wat vir ‘n lang tydjie by die leerders en personeel sal bly.
Woensdagaand, 30 Augustus, is die jaarlikse en gewilde Jannies Talent-aand gehou. Weereens laat ons talentvolle Jannies ‘n mens stomgeslaan staan met hul unieke talente en selfvertroue. Ek wil elke deelnemer baie gelukwens met hul puik optrede. In my oë was julle almal wenners! Baie geluk aan die volgende leerders wat op die aand as trofee-wenners aangewys is:
- André Marais
- Armand Coetzer
- Jean-Jacques Rossouw


Baie dankie aan die OOV onder leiding van Coreen Scholtz wat vir ons die drank en spyse hanteer het. Laat my ook toe om die organiseerder, naamlik Helecia Groenewald, hartlik te bedank met die puik en gesellige aand. Dit was ook ‘n nostalgiese aand, aangesien Helecia na 32 jaar van ongebroke diens by ons skool aan die einde van die jaar aftree. Groot dankie ook aan Ben wat verantwoordelik was vir die professionele verfraaiing van die saal en die voorportaal.
In die vorige nuusbrief het ek verwys na Frank van der Walt (gr. 6) se opname in die WP o.12-rugbygroep wat die komende September-vakansie te Riversdal gaan deelneem. Graag deel ek dat hy hierdie afgelope week vir die WP o.12A-Span gekies is. Dit is die eerste keer sedert 2013 dat ons skool ‘n WP-Skole rugbyspeler oplewer. Baie geluk ook aan die trotse ouers, naamlik Franci en Nel, ons is saam met julle trots op sy prestasie.

Baie geluk ook aan al ons leerders wat op Vrydag, 25 Augustus, aan die jaarlikse WOW-Spelkompetisie deelgeneem het. Ons leerders het puik gevaar en weereens stof in die ander groter skole se oë geskop. 19 uit die 20 leerders wat deelgeneem het, het deurgedring na die provinsiale rondte in Stellenbosch wat op Saterdag, 09 September, gaan geskied.
Baie dankie aan Stephanie le Roux van Alive Foundation wat gereël het dat van ons leerders en personeel gratis oogtoetsing ondergaan het en in die proses ook brille ontvang het. Ons leerders en personeel se dag is beslis gemaak toe Stephanie dit die afgelope week kom aflewer het.

Graag sluit ek af met die onderstaande aanhaling met die fokus op “Die KUNS om ‘n Jannie te wees”. Ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe. Sterkte aan al die spanne wat oor die naweek aan sportwedstryde teen Laerskool Welgemoed deelneem.
“The artist is not a special kind of person;
rather each person is a special kind of artist!”:
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Die Burger het twee keer per jaar ‘n Skole Spogblad en ons wil graag iets van Jan van Riebeeck plaas. Ons gaan foto’s van leerders gebruik om met ‘n paar aktiwiteite en prestasies by JvR te spog. Indien jy nie graag wil hê ‘n foto van jou kind moet in die koerant verskyn nie, stuur asb. ‘n e-pos aan suzaan@jvrprim.co.za of ‘n Skooler-boodskap op die Algemeen kontakgroep voor Woensdag, 6 September.
Die bylaag sal in Die Burger van 11 September verskyn.
Ek probeer normaalweg nie om al die fokus in my weeklikse nuusbriewe rakende skoolsport te hou nie, maar ek glo dat ek my plig sal versuim indien ek nie die afgelope Interskole teen Laerskool Dirkie Uys te Moorreesburg uitsonder nie.
Al die opwinding, positiewe energie en afwagting, en glo vir my daar was baie, het begin op Maandag, 14 Augustus, met die afskop van die Geesweek. Die spreekwoordelike kersie op die koek was die ‘Groot Brag’ wat Vrydagoggend vanaf 09:00 – 10:00 in die saal plaasgevind het. Vanjaar het die geeskomitee ‘GROOT’ gegaan en almal se verwagtinge oortref met die omvang van die ‘Groot Brag’. Dis begin met ‘n spesiale video waarin al die personeel hul onderskeidelike dansies uitvoer as deel van die geesvang asook om ons leerders sterkte vir die Interskole toe te wens. Dit is weereens ‘n bewys van die goeie gees wat onder die personeel heers asook hul omgee karakter wat baie kosbaar is. Die Hoërskool Jan van Riebeeck was ook deel van die funksie en onder leiding van hul Interskole-rasieleiers het ons sommer heerlik in die saal saamgesing en behoorlik geesgevang. Baie dankie aan mnr. Rademeyer wat ook die verrigtinge bygewoon het. Na afloop van die voorstelling van ons eerste spanne is daar ‘n baie spesiale video aan ons leerders vertoon waarin verskeie Protea-netbal- en -hokkiespelers asook Springbokke ons spanne sterkte vir die naweek toegewens het. Cheslin Colbie en Manie Libbok was deel van die video en dit was net eenvoudig die hoogtepunte vir die meeste leerders. Ek wens ons het genoeg spasie in die saal gehad om ook ons ouers te nooi om saam met ons die ongelooflike funksie te kon ervaar. Graag bedank ek die Geeskomitee onder leiding van juf. Shahneé wat eenvoudig ons wildste verwagtinge rakende geesweek en ‘Groot Brag’ oorskry het. Ek glo dat ons leerders hierdie ‘Groot Brag’ vir nog baie jare sal onthou. Ek is vas oortuig dat as jy nie tydens die ‘Groot Brag’ geesgevang het nie, sal daar bittemin goed in die wêreld wees wat jou sal laat geesvang.
Ons wintersportspanne het deur die bank goed oor die 2 dae van interskole presteer met die hokkiewedstryde wat op Vrydag, 18 Augustus, en die rugby- en netalwedstryde wat op Saterdag, 19 Augustus, plaasgevind het. Dit is altyd lekker vir ons stadsbewoners om die pad na die platteland te vat en vanjaar as gevolg van die goeie winterreën was die landskap en omgewing idilies mooi. Die kontras tussen die jong groenkoringlande, die blaarlose wingerde en geel kanola-lande maak die rit na Moorreesburg die moeite werd. Verfrissend was die heerlike plattelandse gasvryheid en ons is al twee dae met met ope arms deur hul leerders en ouers ontvang. Selfs die weer het saamgespeel en kon ons lekker meeding tydens die sonnige dae en heerlik smul aan smaaklike lekkernye wat net die platteland kan bedien. Laat my toe om al ons eerste spanne (dogtershokkie, seunshokkie, netbal en rugby) hartlik geluk te wens met hul puik oorwinnings. Soos ek dit verstaan het die eerste spanne oor die naweek geskiedenis gemaak aangesien dit nog nie voorheen gebeur het nie en veral nie weg nie. Tellings en uitslae is beslis nie al waaroor interskole gaan nie, maar eerder oor sportmansgees, deursettingsvermoë, spanwerk, toets van jou karakter en die geleentheid vir ons leerders om nuwe vriende te maak. Natuurlik is ek baie trots op die suksesvolle naweek, maar ek is meer trots op ons leerders se gedrag op en van die veld af, hoe hulle sportmansgees uitleef asook hoe hulle die opposisie met die grootste respek hanteer het. Ons as skoolgemeenskap kan uiters trots op ons leerders en afrigters vir hul onberispelike gedrag wees terwyl daar baie druk op beide is. Baie dankie aan die massa ouers wat die interskole ondersteun het. Dit was so lekker om julle daar saam met jul kinders te sien. Wel gedaan Laerskool Jan van Riebeeck! Mag ons alyd nederig bly, maar nog steeds voortbou op ons suksesse om van krag-tot-krag te gaan.
Graag sluit ek af met die onderstaande aanhaling van sukses deur Hans W Thomasz en ek wens vir almal ‘n wonderlike naweek toe. Mag al ons oumas en oupas die spesiale dag vandag by die skool geniet en baie dankie dat julle moeite doen om jul kleinkind/ers se dag te maak. Sterkte aan al die spanne wat oor die naweek aan sport deelneem asook aan al ons leerders wat aan Eistedfodd en WOW-spelfees deelneem.
“Work hard and achieve your dreams!
Enjoy success,
but always stay humble!’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Leerders gaan tydens Akademiese Week sport in skooltyd beoefen. Daar sal dus geen sport na skool wees nie. Maandag, 4 Sept, verdaag die skool vroeër a.g.v. ‘n personeelopleiding.
Maandag, 28 Aug.:
Netbal / Rugby
12:00 – 13:00
o.7 – o.9
Dinsdag, 29 Aug.:
Hokkie
11:30 – 12:30 (o.7 – o.9)
13:00 – 14:00 (o.10 – o.13)
Woensdag, 30 Aug.:
Netbal / Rugby
11:30 – 12:30 (o.7 – o.9)
13:00 – 14:00 (o.10 – o.13)
Maandag, 4 Sept.:
Skool verdaag vroeër
12:45 (graad 1 – 3)
13:00 (graad 4 – 7)
Die skool het ‘n platform waarop ons foto’s van skoolaktiwiteite deel. Indien jy nog nie daarop ingeteken het nie, of graag ‘n e-poskennisgewing wil ontvang wanneer ons iets geplaas het, volg gerus hierdie skakel vir instruksies: JvR-Kiek
Die afgelope week is daar sommer behoorlik gees gevang vir die afskop van die interskole vandag met hokkie teen LS Dirkie Uys te Moorreesburg. Die Geesweek het met groot opwinding op Maandag, 14 Augustus, afgeskop met die volgende temas en aktiwiteite vir elke dag:
-
- Maandag: Bloudag
- Dinsdag: Barbiedag

- Woensdag: ‘’Mismatch’’ dag asook onderwysers wat teen die ouers netbal en raakrugby gespeel het. Die leerders het luidkeels hul ouers asook die onniespanne aangemoedig, maar dit tog moeilik gevind vir watter span hulle nou eintlik moes ondersteun. Dit was groot pret en graag wil ek al die ouers hartlik bedank wat die tyd gemaak het om aan die wedstryde deel te neem en in die proses dit baie spesiaal vir die leerders te maak. Baie geluk aan ons pappas wat die raakrugby teen ons manspersoneel gewen het, maar ongelukkig moes ons mammas tweede viool teen ons netbaljuffies speel.



- Donderdag: “Crazy Hat” dag
- Vrydag: Oranjedag asook die “Big Brag”
Verder versier die leerders hul klaskamerdeure vir die interskole en daar is daagliks pryse uitgedeel vir die leerders met die mees oorspronklike kleredag om die onderskeidelike temas uit te beeld.
Op Vrydagaand, 11 Augustus, het die jaarlikse Quiz-aand alias die Bring-en-Raai-aand plaasgevind. Hierdie gewilde, sosiale geleentheid op die skoolkalender was weer vanjaar die spreekwoordelike wenner. Daar was nie plek vir ‘n muis of sal ek eerder sê vir ‘n rot in die saal nie en die bekende akteur, Beer Adriaanse, was aan die stuur van sake. Hy het hom uitstekend van sy taak gekwyt. Ek het die voorreg gehad om self die vasvrae-aand by te woon en opvallend was die opwinding en ongelooflike gees wat onder ons ouers geheers het. Indien jy die gewilde Bring-en-Raai-aand gemis het, maak beslis seker dat jy dit volgende jaar bywoon terwyl jy jou eie spys en drank kan geniet. Baie geluk aan Kees Snijders en sy span wat twee jaar in ‘n ry die spesiale trofee verower het. ‘n Spesiale dankie aan Karien Zulch wat elke jaar vir ons die gewilde geleentheid reël.
Alhoewel daar heelwat sport- en kultuuraktiwiteite (Koor & Eisteddfod) die afgelope tyd plaasgevind het, bly akademie nog steeds ons kernbesigheid. Ons gr. 4 – 7-onderwysers werk hard om ons eie akademiese materiaal op Teams te ontwikkel. Ek is baie dankbaar vir ons dinamiese IKT-span onder leiding van Marié Cruywagen wat saam met ons onderwysers werk om tegnologie te gebruik om die gr. 4 – 7-leerders se leerervaring verder te verryk. Verder is daar op Saterdag, 12 Augustus 2023, ‘n wiskundekamp vir ons gr. 6 en 7-leerders vanaf 08:30 – 17:00 by die skool deur Leon Hanekom en Andri de Villiers aangebied. Die doel van die wiskundekamp is drieledig, dit sluit eerstens die vaslegging van belangrike wiskundige beginsels in, tweedens om ‘n liefde vir Wiskunde verder te inspireer en derdens om pret te hê terwyl hulle wiskundige kennis en –vaardighede uitgebrei word. Tydens die dag is daar ook in goeie gees gekompeteer en die volgende wenners is as volg aangewys:
- Wenspan vir die dag was die Leeus (Katia van Wyk, Stella Lamprecht, Michel-Georges Delpierre en Anna Louw)
- Kahoot – beste prestasie: Willem Burger
- Snelvuur – beste prestasie: Wiillem Burger
- Woordsomme – beste prestasie: Katia van Wyk
- Algehele beste prestasie: Willem Burger
Baie dankie aan Leon en Andri wat seker maak ons gr. 6 & 7-leerders geniet Wiskunde as ‘n belangrike leerarea asook om ‘n hoë standaard van Wiskunde-onderrig te verseker.
Graag sluit ek af met die onderstaande uitdaging en ek wens vir almal ‘n wonderlike interskole-naweek toe. Ek hoop om almal vandag of môre by die interskole raak te loop. Geniet gerus die interskole saam met jou kind/ers. Dit is vir my belangrik dat ons leerders ook pret moet hê wanneer hulle aan sportwedstryde en toernooie deelneem. Onthou: die spel gaan oor die kinders en nie oor ons as ouers of afrigters nie. Mooi naweek!
“BE HAPPY
Not because everything is good
but because you can see the good in everything.’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Beste Huppelland- & Graad 1 & 2-ouers
Ons eerste ouerpraatjie dié jaar geskied 17 Augustus deur Dr. Jenny Rose. Sy is ‘n Kliniese Sielkundige wat in kinders spesialiseer. Gaan lees gerus meer deur die volgende skakel te volg.
Die praatjie kan ongelukkig weens die bouery nie in die klubhuis plaasvind nie. Hierdie jaar sal dit in die Laerskool se skoolsaal wees. Die kaartjies sal op Karri teen R100 pp te koop wees en sluit ‘n glasie wyn in. Die praatjie sal stiptelik om 18:30 begin. Ouers kan van 17:45 by die skoolsaal vergader, ‘n glasie wyn drink en sosialiseer.
Dr. Jenny Rose se praatjie sal oor die volgende handel:
– Emosionele ontwikkeling
– Hoe om jou kind se gedrag te verstaan
– Dissipline tuis
Ons sien almal geweldig uit om na haar te luister en wag al lank om haar by Huppelland te verwelkom!
Groete
Die Huppellandspan
Belangrike Datums
maart 2026
april 2026
mei 2026
junie 2026
julie 2026
augustus 2026
september 2026
oktober 2026
november 2026
desember 2026



