Vandag vier ons “#Bok-Friday” en versoek ons al ons leerders, personeel en ouers/voogde om elke Vrydag vanaf 08 September tot die einde van die kwartaal ‘n springboktrui, of ‘n springbok t-hemp of iets groen en goud aan te trek as ‘n kollektiewe poging om die Bokke tydens die 2023 Rugby Wêreldbeker in Frankryk te ondersteun. Soos ons Springbokkaptein, Siya Kolisi sê: “We are in it together and together we are stronger”. Ons wil deel van die nasionale inisiatief wees om bankvas agter die Bokke te staan in ‘n poging om hul titel van 2019 te verdedig en geskiedenis te maak as die eerste land wat vier wêreldbekers verower het. Ek glo almal sien daarna uit om te sien hoe twintig internasionale spanne sake gaan uitspook om vanjaar as die wêreldkampioene bekroon te word.

Op Vrydag, 01 September, is ons akademiese week op ‘n hoogtepunt afgesluit met die gewilde kaskarresies wat op die mini-sportveld agter die skool plaasgevind het. Ons leerders het omtrent die akademiese week terdeë saam met die personeel geniet en ons het leerders die geleenthede gebied om op ander kreatiewe maniere te leer terwyl hulle hope pret het. Ek glo dat die KUNS om ‘n Jannie te wees na afloop van die spesiale week bemeester is.

Ons eerste sportnaweek teen LS Welgemoed het vanaf 01 – 02 September weg plaasgevind. Alhoewel ons dit net as ‘n einde van die seisoen-sportdag gesien het, het dit wel as ‘n interskole-naweek vir die Blessies gedien. Op Vrydag, 01 September, het ons hokkiespanne teen hulle deelgeneem en bietjie “houe gevat”, maar opvallend was die manier hoe ons Jannies, die afrigters en personeel, saam met ouers die verloor-uitslae op die spreekwoordelik ken gevat het. Ek was so trots om te sien dat die Jannies deurgaans oor die naweek met wen of verloor altyd beleefd was, geglimlag het en te alle tye puik sportmangees getoon het. Die naweek was weereens ‘n bewys van die spesiale verhouding tussen leerder en onderwyser, tussen leerder en leerder asook tussen onderwyser en ouer. Selfs een van die Welgemoed-mammas het my genader om ons leerders en personeel se gedrag en sportmangees te komplimenteer. Daar is min skole wat ons unieke etos en kultuur het. Op Saterdag, 02 September, het die momentum tydens die netbal- en rugbywedstryde egter na ons kant geskuif met ons senior netbalspanne wat puik oorwinnings behaal het.

Verskoon dat ek die o.11- en o.13-rugbywedstryde uitlig, maar hier was beslis die Dawid teen Goliat situasie a.g.v. beserings en siektes van sleutelspelers wat nie op die dag kon speel nie. Beide wedstryde was uiters spanningsvol en luidkeels deur leerders, ouers en afrigters aangemoedig. Die o.11’s wen 8 – 7 met ‘n strafdoel van buite die kwartgebied wat deur Carter (kaptein) verdoel is. Ons o.13A’s speel sonder vier sleutelspelers wat ongelukkig beseer en/of siek was. Die span speel egter die wedstryd van hul lewe. Hulle het absoluut vir mekaar gespeel en hul lywe letterlik op die spel geplaas, want hul wou ‘n punt op die dag bewys. Die o.13A’s wen die titaniese stryd met 22 – 14 en laat ons almal in ekstase met hul vasberadenheid en deursettingsvermoë. Baie geluk aan al ons spanne, ons puik en toegewyde afrigters asook ons ondersteunende ouers wat deur dik en dun by ons staan. Glo vir my dat hierdie spesiale vertonings deur sportspanne nie sommer elke dag gebeur nie en almal wat daar teenwoordig was, sal getuig dat dit kosbaar was en ons sal dit nog vir baie lank onthou. Die hoogtepunt was natuurlik toe al ons hokkie- en netbalspelers saam met die rugbyspelers en personeel ‘n kringetjie gemaak het om dit te vier. Ek kon myself nie keer nie en het self by die kringetjie aangesluit en die Jannie-Bom liedjie saam met die spelers gesing. Dit was so spesiaal en as ‘n trotse skoolhoof het ek vir ‘n oomblik amper emosioneel geraak, want ons skool is so geseënd in baie opsigte.

Op Maandag, 04 September, het die bekende motiveringspreker, Lynette Beer (Seeds of Inspiration), ons personeel kom toespreek as deel van personeelontwikkeling asook om die akademiese week met die personeel af te sluit. Lynette is ‘n formidabele dame wat die vermoë het om enige uitgeputte, afgematte en oorlaaide personeel binne een sessie so positief te inspireer dat hulle gevoel het of hulle sopas van ‘n heerlike lang vakansie teruggekeer het. Sy het veral gefokus op die feit dat die mens in die algemeen vergeet om sy/haar dankbaarheidsbril daagliks op te sit, want dit is net te maklik om te kla, negatief te wees en te kritiseer. Sy het verder gefokus op gesindheid en die feit dat jou eie gedagtes jou geestelik en emosioneel kan inspireer of dat dit jou na donker en negatiewe plekke kan dryf. Ons het elke dag twee eenvoudige keuses m.a.w. 1) ons sien al die uitdagings as geleenthede met ‘n silwer randjie of 2) ons laat toe dat negatiwiteit ons totaal insluk. Soos ek in my vorige nuusbriewe al gemeld het, leef ons in ‘n land vol negatiewe situasies soos byvoorbeeld korrupsie, beurtkrag, misdaad, stakings, verkeer, swak dienslewering, nadelige wisselkoerse, ens. en dit opsigself kan baie maklik tot negatiewe gedagtes en angs bydra. Dis juis hieroor waar ons onsself met positiewe mense moet skaar en positiewe dinge uitspreek. Dit is dan ook ons kollektiewe verantwoordelikheid om ons leerders/kinders positief te hou en hulle, die jeug, te motiveer dat hulle instrumenteel in die toekoms moet wees om die land ten goede te verander. Ons woon nog steeds in een van die mooiste stede in die wêreld en beleef elke dag eindelose genade. Ons moet net die moeite doen om die dankbaarheidsbril op te sit en die ‘pragtige’ wêreld saam met ons leerders/kinders aan die anderkant van die lens raak te sien.

Twee Vrydae terug, 25 Augustus, het ons aan die jaarlikse WOW-Spelkompetisie deelgeneem. Ons leerders het puik gevaar en weereens stof in die ander groter skole se oë geskop. 19 uit die 20 van die leerders wat deelgeneem het, het deurgedring na die provinsiale rondte wat môre in Stellenbosch plaasvind. My beste wense vergesel hulle.

Graag sluit ek af met die onderstaande aanhaling van G.K. Chesterton met die fokus op dankbaarheid en positiewe denke. Ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe.

“When it comes to life
the critical thing is whether you take it for granted
or take them for gratitude!”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF