Vandag vier ons Loslitdag. Loslitdag is vir die eerste keer in 1995 gevier. Hierdie toonaangewende en bewusmakingsinisiatief is ten bate van mense met gestremdhede. Ons moedig dus vandag ons leerders, ouers en personeel aan om iets unieks (so bont en kleurvol moontlik) aan te trek en in die proses ook ‘n klein donasie (plakker @ R20) te maak wat ons dan vir ‘n organisasie wat vir persone met gestermdhede help, skenk. Hiermee kan ons dan as skoolgemeenskap ons klein gebaar van dankbaarheid en omgee betoon. Ons tema vanjaar is “share a smile”. ‘n Glimlag kos nie ‘n sent nie; ek daag ons skoolgemeenskap uit om dit daagliks vir ander mense te gee en so skep ons ‘n beter wêreld.

Op Vrydag, 25 Augustus, het die jaarlikse en gewilde Ouma- en Oupadag plaasgevind. Oumas en Oupas het van heinde en verre gekom om die spesiale dag saam met hul kleinkind(ers) by ons pragtige skool te geniet. Die hoogtepunt van die dag was beslis die insiggewende toespraak deur ons gasspreker, naamlik Elsabé Daneel. Elsabé is nie net ‘n formidabele vrou en aktrise nie, maar ook ‘n ouma by ons. Die dag is verder opgekikker met smaaklike lekkernye om aan te smul terwyl ons deur die gr. 7-leerders met drinkgoed bedien is. Groot dankie aan Marinda en haar span wat die dag onvergeetlik gemaak het.

Dit was ‘n groot eer en voorreg om al ons oumas en oumas by ons skool te ontvang, hulle te ontmoet en die dag saam met hulle te kon spandeer. Ons moet nooit vergeet dat Oumas en Oupas die spilpunte is van die familie tussen die verlede en hede veral wanneer dit kom by familie-erfenis, tradisies en die oordra van stories oor die jare heen. Ek salueer al ons oumas en oupas vir die belangrike rol wat hulle in ons skoolgemeenskap speel. Hulle is vir ons leerders veral in vandag se veranderde lewe belangrike mentors en rolmodelle en natuurlik ook hul helde. Graag wil ek sommer namens ons leerders en ouers/voogde vir al ons oumas en oupas hartlik bedank vir hul onverdeelde aandag, liefde, toegeneentheid en omgee. Oumas en Oupas is baie spesiaal en hulle moet dit nooit vergeet nie. My beste wense vergesel hulle!

Hierdie afgelope week vier ons akademiese week en fokus ons op die KUNS om ‘n Jannie te wees! Die doel van die akademiese week is juis om ons leerders blootstelling te gee wat juis nie tydens ‘n normale akademiese week plaasvind nie. Hulle het die geleenthede gekry om aan die volgende aktiwiteite en aanbiedinge deel te neem:

  • Die KUNS van Karate – Gr. 1-3
  • Die KUNS van Joga – Gr. 5-7
  • Die KUNS van Pilates – Gr. 4
  • Die KUNS van Entrepreneurskap – Gr. 7
  • Die KUNS van algemene gesondheid – Gr. 1-3
  • Die KUNS van redenaars
  • Die KUNS van goeie velsorg – Gr. 5-7
  • Die KUNS om jou tande te versorg – Gr. 1-3
  • Die KUNS van omgee
  • Die KUNS om gesond te leef – Gr. 5-7
  • Klimaat – ‘n KUNS op sy eie – Gr. 5-7
  • KUNS van leierskap – Gr. 6-7 en personeel
  • KUNS van modeparade – Gr. 7
  • Die KUNS van toekomstige vaardighede – personeel
  • Die KUNS om sensoriese integrasie aan te spreek – personeel
  • KUNS om talente te ontwikkel – Jannies Talent
  • Die KUNS van klassieke musiek – Gr. 1-3
  • Die KUNS van houtwerk – Gr. 4
  • Die KUNS om kunstig te wees – Gr. 2
  • Die KUNS om pret te hê – Gr. 1-7 (Kaskarresies)
  • Die KUNS om jouself te verdedig – Gr. 5-7

Die bogenoemde aktiwiteite en aanbiedinge is juis gereël om ons leerders blootstelling op ‘n ander vlak van leer te gee. Leer hoef nie noodwendig in die tradisionele sin van die woord byvoorbeeld slegs in die klaskamer plaas te vind nie. Daarom het die leerders aan nuwe, kreatiewe aktiwiteite deelgeneem om hulle juis te inspireer om buite die spreekwoordelike boksie te dink. Baie dankie aan al ons ouers wat die afgelope week as gasspekers opgetree het. Dinsdagmiddag het Jonty Thomson (‘n ouer by die skool) die onderwyspersoneel toegespreek as deel van die akademiese week oor leierskap. Hy noem onder andere dat onderwysers almal leiers is en leiers inspireer ander mense om te groei en ‘n beter weergawe van hulself te wees. Sy aanbieding was merkwaardig en ons gaan poog dat hy een aand ook ons ouers toespreek. Ons is so bevoorreg om julle kundigheid in die skool aan te wend en wat ‘n wonderlike voorreg vir ons leerdes om na hulle eie ouers te kon luister. Hierdie akademiese week kan nie plaasvind indien dit nie deeglik beplan en gereël is nie, dus laat my toe om vir Marinda en haar span hartlik te bedank en geluk te wens met ‘n fantastiese en inspirerende akademiese week wat vir ‘n lang tydjie by die leerders en personeel sal bly.

Woensdagaand, 30 Augustus, is die jaarlikse en gewilde Jannies Talent-aand gehou. Weereens laat ons talentvolle Jannies ‘n mens stomgeslaan staan met hul unieke talente en selfvertroue. Ek wil elke deelnemer baie gelukwens met hul puik optrede. In my oë was julle almal wenners! Baie geluk aan die volgende leerders wat op die aand as trofee-wenners aangewys is:

  • André Marais
  • Armand Coetzer
  • Jean-Jacques Rossouw

Baie dankie aan die OOV onder leiding van Coreen Scholtz wat vir ons die drank en spyse hanteer het. Laat my ook toe om die organiseerder, naamlik Helecia Groenewald, hartlik te bedank met die puik en gesellige aand. Dit was ook ‘n nostalgiese aand, aangesien Helecia na 32 jaar van ongebroke diens by ons skool aan die einde van die jaar aftree. Groot dankie ook aan Ben wat verantwoordelik was vir die professionele verfraaiing van die saal en die voorportaal.

In die vorige nuusbrief het ek verwys na Frank van der Walt (gr. 6) se opname in die WP o.12-rugbygroep wat die komende September-vakansie te Riversdal gaan deelneem. Graag deel ek dat hy hierdie afgelope week vir die WP o.12A-Span gekies is. Dit is die eerste keer sedert 2013 dat ons skool ‘n WP-Skole rugbyspeler oplewer. Baie geluk ook aan die trotse ouers, naamlik Franci en Nel, ons is saam met julle trots op sy prestasie.

Baie geluk ook aan al ons leerders wat op Vrydag, 25 Augustus, aan die jaarlikse WOW-Spelkompetisie deelgeneem het. Ons leerders het puik gevaar en weereens stof in die ander groter skole se oë geskop. 19 uit die 20 leerders wat deelgeneem het, het deurgedring na die provinsiale rondte in Stellenbosch wat op Saterdag, 09 September, gaan geskied.

Baie dankie aan Stephanie le Roux van Alive Foundation wat gereël het dat van ons leerders en personeel gratis oogtoetsing ondergaan het en in die proses ook brille ontvang het. Ons leerders en personeel se dag is beslis gemaak toe Stephanie dit die afgelope week kom aflewer het.

Graag sluit ek af met die onderstaande aanhaling met die fokus op “Die KUNS om ‘n Jannie te wees”. Ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe. Sterkte aan al die spanne wat oor die naweek aan sportwedstryde teen Laerskool Welgemoed deelneem.

“The artist is not a special kind of person;
rather each person is a special kind of artist!”:

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF