Die afgelope week is daar sommer behoorlik gees gevang vir die afskop van die interskole vandag met hokkie teen LS Dirkie Uys te Moorreesburg. Die Geesweek het met groot opwinding op Maandag, 14 Augustus, afgeskop met die volgende temas en aktiwiteite vir elke dag:

    • Maandag: Bloudag
    • Dinsdag: Barbiedag
    • Woensdag: ‘’Mismatch’’ dag asook onderwysers wat teen die ouers netbal en raakrugby gespeel het. Die leerders het luidkeels hul ouers asook die onniespanne aangemoedig, maar dit tog moeilik gevind vir watter span hulle nou eintlik moes ondersteun. Dit was groot pret en graag wil ek al die ouers hartlik bedank wat die tyd gemaak het om aan die wedstryde deel te neem en in die proses dit baie spesiaal vir die leerders te maak. Baie geluk aan ons pappas wat die raakrugby teen ons manspersoneel gewen het, maar ongelukkig moes ons mammas tweede viool teen ons netbaljuffies speel.

  • Donderdag: “Crazy Hat” dag
  • Vrydag: Oranjedag asook die “Big Brag”

Verder versier die leerders hul klaskamerdeure vir die interskole en daar is daagliks pryse uitgedeel vir die leerders met die mees oorspronklike kleredag om die onderskeidelike temas uit te beeld.

Op Vrydagaand, 11 Augustus, het die jaarlikse Quiz-aand alias die Bring-en-Raai-aand plaasgevind. Hierdie gewilde, sosiale geleentheid op die skoolkalender was weer vanjaar die spreekwoordelike wenner. Daar was nie plek vir ‘n muis of sal ek eerder sê vir ‘n rot in die saal nie en die bekende akteur, Beer Adriaanse, was aan die stuur van sake. Hy het hom uitstekend van sy taak gekwyt. Ek het die voorreg gehad om self die vasvrae-aand by te woon en opvallend was die opwinding en ongelooflike gees wat onder ons ouers geheers het. Indien jy die gewilde Bring-en-Raai-aand gemis het, maak beslis seker dat jy dit volgende jaar bywoon terwyl jy jou eie spys en drank kan geniet. Baie geluk aan Kees Snijders en sy span wat twee jaar in ‘n ry die spesiale trofee verower het. ‘n Spesiale dankie aan Karien Zulch wat elke jaar vir ons die gewilde geleentheid reël.

Alhoewel daar heelwat sport- en kultuuraktiwiteite (Koor & Eisteddfod) die afgelope tyd plaasgevind het, bly akademie nog steeds ons kernbesigheid. Ons gr. 4 – 7-onderwysers werk hard om ons eie akademiese materiaal op Teams te ontwikkel. Ek is baie dankbaar vir ons dinamiese IKT-span onder leiding van Marié Cruywagen wat saam met ons onderwysers werk om tegnologie te gebruik om die gr. 4 – 7-leerders se leerervaring verder te verryk. Verder is daar op Saterdag, 12 Augustus 2023, ‘n wiskundekamp vir ons gr. 6 en 7-leerders vanaf 08:30 – 17:00 by die skool deur Leon Hanekom en Andri de Villiers aangebied. Die doel van die wiskundekamp is drieledig, dit sluit eerstens die vaslegging van belangrike wiskundige beginsels in, tweedens om ‘n liefde vir Wiskunde verder te inspireer en derdens om pret te hê terwyl hulle wiskundige kennis en –vaardighede uitgebrei word. Tydens die dag is daar ook in goeie gees gekompeteer en die volgende wenners is as volg aangewys:

  • Wenspan vir die dag was die Leeus (Katia van Wyk, Stella Lamprecht, Michel-Georges Delpierre en Anna Louw)
  • Kahoot – beste prestasie: Willem Burger
  • Snelvuur – beste prestasie: Wiillem Burger
  • Woordsomme – beste prestasie: Katia van Wyk
  • Algehele beste prestasie: Willem Burger

Baie dankie aan Leon en Andri wat seker maak ons gr. 6 & 7-leerders geniet Wiskunde as ‘n belangrike leerarea asook om ‘n hoë standaard van Wiskunde-onderrig te verseker.

Graag sluit ek af met die onderstaande uitdaging en ek wens vir almal ‘n wonderlike interskole-naweek toe. Ek hoop om almal vandag of môre by die interskole raak te loop. Geniet gerus die interskole saam met jou kind/ers. Dit is vir my belangrik dat ons leerders ook pret moet hê wanneer hulle aan sportwedstryde en toernooie deelneem. Onthou: die spel gaan oor die kinders en nie oor ons as ouers of afrigters nie. Mooi naweek!

“BE HAPPY
Not because everything is good
but because you can see the good in everything.’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF