Ek probeer normaalweg nie om al die fokus in my weeklikse nuusbriewe rakende skoolsport te hou nie, maar ek glo dat ek my plig sal versuim indien ek nie die afgelope Interskole teen Laerskool Dirkie Uys te Moorreesburg uitsonder nie.

Al die opwinding, positiewe energie en afwagting, en glo vir my daar was baie, het begin op Maandag, 14 Augustus, met die afskop van die Geesweek. Die spreekwoordelike kersie op die koek was die ‘Groot Brag’ wat Vrydagoggend vanaf 09:00 – 10:00 in die saal plaasgevind het. Vanjaar het die geeskomitee ‘GROOT’ gegaan en almal se verwagtinge oortref met die omvang van die ‘Groot Brag’. Dis begin met ‘n spesiale video waarin al die personeel hul onderskeidelike dansies uitvoer as deel van die geesvang asook om ons leerders sterkte vir die Interskole toe te wens. Dit is weereens ‘n bewys van die goeie gees wat onder die personeel heers asook hul omgee karakter wat baie kosbaar is. Die Hoërskool Jan van Riebeeck was ook deel van die funksie en onder leiding van hul Interskole-rasieleiers het ons sommer heerlik in die saal saamgesing en behoorlik geesgevang. Baie dankie aan mnr. Rademeyer wat ook die verrigtinge bygewoon het. Na afloop van die voorstelling van ons eerste spanne is daar ‘n baie spesiale video aan ons leerders vertoon waarin verskeie Protea-netbal- en -hokkiespelers asook Springbokke ons spanne sterkte vir die naweek toegewens het. Cheslin Colbie en Manie Libbok was deel van die video en dit was net eenvoudig die hoogtepunte vir die meeste leerders. Ek wens ons het genoeg spasie in die saal gehad om ook ons ouers te nooi om saam met ons die ongelooflike funksie te kon ervaar. Graag bedank ek die Geeskomitee onder leiding van juf. Shahneé wat eenvoudig ons wildste verwagtinge rakende geesweek en ‘Groot Brag’ oorskry het. Ek glo dat ons leerders hierdie ‘Groot Brag’ vir nog baie jare sal onthou. Ek is vas oortuig dat as jy nie tydens die ‘Groot Brag’ geesgevang het nie, sal daar bittemin goed in die wêreld wees wat jou sal laat geesvang.

Ons wintersportspanne het deur die bank goed oor die 2 dae van interskole presteer met die hokkiewedstryde wat op Vrydag, 18 Augustus, en die rugby- en netalwedstryde wat op Saterdag, 19 Augustus, plaasgevind het. Dit is altyd lekker vir ons stadsbewoners om die pad na die platteland te vat en vanjaar as gevolg van die goeie winterreën was die landskap en omgewing idilies mooi. Die kontras tussen die jong groenkoringlande, die blaarlose wingerde en geel kanola-lande maak die rit na Moorreesburg die moeite werd. Verfrissend was die heerlike plattelandse gasvryheid en ons is al twee dae met met ope arms deur hul leerders en ouers ontvang. Selfs die weer het saamgespeel en kon ons lekker meeding tydens die sonnige dae en heerlik smul aan smaaklike lekkernye wat net die platteland kan bedien. Laat my toe om al ons eerste spanne (dogtershokkie, seunshokkie, netbal en rugby) hartlik geluk te wens met hul puik oorwinnings. Soos ek dit verstaan het die eerste spanne oor die naweek geskiedenis gemaak aangesien dit nog nie voorheen gebeur het nie en veral nie weg nie. Tellings en uitslae is beslis nie al waaroor interskole gaan nie, maar eerder oor sportmansgees, deursettingsvermoë, spanwerk, toets van jou karakter en die geleentheid vir ons leerders om nuwe vriende te maak. Natuurlik is ek baie trots op die suksesvolle naweek, maar ek is meer trots op ons leerders se gedrag op en van die veld af, hoe hulle sportmansgees uitleef asook hoe hulle die opposisie met die grootste respek hanteer het. Ons as skoolgemeenskap kan uiters trots op ons leerders en afrigters vir hul onberispelike gedrag wees terwyl daar baie druk op beide is. Baie dankie aan die massa ouers wat die interskole ondersteun het. Dit was so lekker om julle daar saam met jul kinders te sien. Wel gedaan Laerskool Jan van Riebeeck! Mag ons alyd nederig bly, maar nog steeds voortbou op ons suksesse om van krag-tot-krag te gaan.

Graag sluit ek af met die onderstaande aanhaling van sukses deur Hans W Thomasz en ek wens vir almal ‘n wonderlike naweek toe. Mag al ons oumas en oupas die spesiale dag vandag by die skool geniet en baie dankie dat julle moeite doen om jul kleinkind/ers se dag te maak. Sterkte aan al die spanne wat oor die naweek aan sport deelneem asook aan al ons leerders wat aan Eistedfodd en WOW-spelfees deelneem.

“Work hard and achieve your dreams!
Enjoy success,
but always stay humble!’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF