Kategorie: Algemeen
Jannies vir Jesus vind elke Donderdagoggend van 07:15 – 07:45 in die saal plaas. Ons sing eers lekker saam en dan bring ds Marietjie Steyn van die Groote Kerk of een van die onderwysers ‘n boodskap. Dit is baie van ons Jannies se gunsteling oggend van die week. Alle gr. 1-7-leerders en hul ouers is welkom! ‘n Spesiale dankie aan Isabella en Izzy in gr. 7 wat aangebied het om te help met die tegniese aspek. Ons het ook ‘n Jannies vir Jesus WhatsApp-groep binne die skool se Community gestig waarby ouers kan aansluit en so ook toestemming gee dat hul kind(ers) dit kan bywoon.
“Jy is uniek en spesiaal… Jy kan enige iets bereik as jy regtig wil…”
Bekende woorde vir elke ouer. Maar, ten spyte van hierdie voortdurende pogings van ouers se kant af om hul kinders beter oor hulself te laat voel, word ‘n ouer byna daagliks gekonfronteer met ‘n moedelose, ongelukkige kind wat voel hy of sy is nie goed genoeg nie.
Daar is ongelukkig min bewyse dat hierdie voortdurende gerusstelling deur ‘n ouer enige verskil gaan maak in hoe kinders hulself gaan beleef wanneer hulle – weg van hul ouers – met hindernisse, teleurstellings en uitdagings gekonfronteer word.
Navorsing bevestig dat werklike selfvertroue slegs gekweek kan word wanneer jy jou kind toelaat om sélf oplossings te vind en om sélf hindernisse in die oë te kyk. Dit is híérdie kinders wat uiteindelik (al is die ouers nie daar nie) die wêreld kan trotseer. Soms is dit al manier hoe kinders hul eie persoonlike sterkpunte kan leer ken.
Kinders met selfvertroue weet hulle mag misluk, maar glo ook in hul eie vermoë om “terug te bons” en weer te probeer. Natuurlik geskied hierdie veerkragtigheid binne ‘n raamwerk van betrokke en ondersteunende ouers.
Moedig dus jou kind van kleins af aan om hul omgewings te verken, in hulself te glo en as hulle val, op te staan, knieë af te stof en aan te gaan.
– MARIKE BADENHORST, OPVOEDKUNDIGE SIELKUNDIGE
‘n Hartlike welkom terug by ons trotse skool. Groot opwinding saam met hoë energievlakke het op Woensdagoggend, 17 Januarie 2024, tydens die opening van die skool na die heerlike somervakansie, geheers. Ons graad 1’s is spesiaal met ope arms deur die nuwe leerderraad ontvang en sonder trane na hul onderskeie klaskamers vergesel. Dit was so lekker om ook al ons leerders en ouers/voogde te verwelkom, blad te skud, drukkies te gee en sommer net lekker te gesels oor die wonderlike vakansie asook die opwindende jaar wat voorlê.

Laat my toe om veral ons nuwe leerders en ouers/voogde hartlik by die LS Jan van Riebeeck-familie te verwelkom. Ek weet julle sal sommer vinnig inskakel en deel word van ‘n dinamiese en omgee-skoolgemeenskap. Ons is baie trots om te sê ons het ‘n goeie skool en as nuwe ouers/voogde sal julle dit nou eerstehands ervaar. Vir my is ‘n goeie skool soos ‘n gesonde en ‘n pragtige boom. Soos dit groei, sink dit sy wortels diep in die plaaslike en vrugbare grond; dit pas by die omliggende klimaat en plantegroei aan; sy takke verdik vir ondersteuning en versprei vir maksimum blootstelling aan die son. Dit maak sy eie kos; dit genees sy eie wonde; en op sy tyd bring dit vars blare, bloeisels en vrugte voort. Mag ons spreekwoordelik vir nog baie jare ‘n gesonde boom wees waar ons seker maak die boom kry genoegsame skoon water, voldoende kunsmis en alle dooie takke word sorgvuldig gesnoei sodat daar nuwe en sterk takke sal groei om die skool te ondersteun.
Ek vertrou almal het ‘n heerlike vakansie en ‘n Geseënde Kerstyd saam met familie en vriende geniet. Ek glo almal se spreekwoordelike batterye is ten volle herlaai en slaggereed om die nuwe jaar aan te pak. Sterkte ook met al die nuwe jaar voornemens! Volgens nuttelose statistieke in die verband, volhou slegs 15% van mense aan hul nuwe jaar voornemens, maar dalk bewys ons hulle vanjaar verkeerd.
Dit is dan ‘n riem onder die hart om met julle te deel dat al ons personeel veilig terug is na die lang vakansie, uitgerus en gereed om jul kinders te onderrig en te ondersteun om te verseker dat elke Jannie sy/haar skooljaar terdeë sal geniet. Ons streef daarna dat elke leerder sy/haar volle potensiaal bereik teen die tempo waarteen elke leerder individueel ontwikkel. Laat my ook toe om die volgende nuwe personeel asook waarnemende personeel hartlik by die JvR-familie te verwelkom:
- Rolene van Zyl (Hoof: Kultuur en Musiek)
- Anika le Roux (Gr. 4)
- Mariëtte Herholdt (Gr. 3 – aflos in Michelle Compion se plek)
- Anene Loots (Gr. 2 – aflos in Maricqe Coetzer se plek)
- Lize Terblanche (Gr. 1)
- Michelle Eeken (Gr. 1 – aflos in Nicola Potter se plek)
- Liezel Theron (Gr. R)
- Madri Greyling (Gr. 00 – aflos in Magdel Fourie se plek)
- Carla Basson (Gr. 00)
- Lia-Marié Mudini (Huppelland: Nasorghoof)
Maak asseblief seker dat jy volgende week op Dinsdagaand, 23 Januarie 2024, vanaf 18:00 die bekendstellingsfunksie en inligtingsaand by die skool bywoon sodat julle ook al jul kinders se nuwe opvoeders asook ander nuwe personeel kan ontmoet. Die program vir die aand werk as volg:
- 18:00 – Inligtingsgesprek met klasonderwyser in die klaskamer soos deur opvoeders gereël. Benut assseblief dié geleentheid om jou kind se leeromgewing te sien en die roetines/ stelsels binne-in die klas te verstaan. Ons gaan ook die akademiese verwagtinge vir die graad deurgee. Die opvoeders moet egter direk na afloop van die vergadering in die saal wees vir die bekendstellingsfunksie. Individuele afsprake sal op ‘n latere stadium met ouers gemaak word sodra die basislynassesserings voltooi is.
- 18:45 – Almal verdaag saal toe vir ons algemene inligtings- en bekendstellingsvergadering. Na afloop van die bekendstellingsfunksie sal heerlike etes geniet word. Ek sien baie uit na die heerlike samewyn.
Neem asseblief kennis dat ons vanjaar weer vroeër met ons sportoefeninge begin. Die atletiekspan het alreeds vanaf Woensdag, 17 Januarie, begin oefen ter voorbereiding van die Interskole atletiekbyeenkoms wat op 06 Februarie plaasvind. Die somersport-buitemuurse program skop dan amptelik op Maandag, 22 Januarie 2023, af. Hou asseblief Saterdagoggend, 27 Januarie 2024, oop waartydens ons ‘n informele ouer-kind sportdag by die Conradieveld gaan aanbied. Daar sal ook heerlike verversings te koop wees. Die doel hiervan is om pret saam met jou kind te hê terwyl ouers ook die geleentheid kry om sommer mekaar beter te leer ken en saam die jaar behoorlik af te skop met lekker geesvang en opwinding.
Die musiekprogram skop ook op Maandag, 22 Januarie 2024, onder leiding van juf. Rolene van Zyl, nuwe hoof van Musiek en Kultuur, af. Kontak gerus vir juf. Rolene indien jou kind musiekonderrig wil ontvang of in musiek belangstel. Ons poog om vanjaar aktief die kultuur-spyskaart vir ons leerders uit te brei asook om met Hoërskool Jan van Riebeeck in dié verband saam te werk. Nuwe musiekinstrumente waaraan ons leerders vanaf vanjaar blootgestel gaan word, sluit onder andere die saksofoon in.
Dit is dan ook my voorreg om met julle te deel dat ons beplan om vanjaar ons leerontwikkelingsentrum onder bestuur van juf. Marietjie op te gradeer en uit te brei om ons leerders met spesifieke uitdagings beter te ondersteun en te bemagtig. Dit behels onder andere die sentralisering van ondersteuningsdienste in een gang met meer moderne en goed toegeruste lokale waar ons al die terapeute en leerontwikkelingspersoneel akkommodeer. Stephen Hitchcock (argitek en ouer by ons skool) is tans besig om die planne en kosteberaming te finaliseer.
Deel van die projek behels ook die installering van spesiale tafeltjies en stoeltjies wat op strategiese plekke in die gange geplaas is, waar leerders met toestemming van hul onderskeie opvoeders, kan gaan sit en op hul eie werk of lees. Dus kan ‘n leerder wat op ‘n stadium die klassituasie angstig ervaar daar gaan sit en onder toesig van sy opvoeder voortgaan met sy/haar werk. Hierdie tafels en bankies is dan ook ideaal vir die gebruik deur tutors/fasiliteerders wat gedurende skooltyd leerders akademies ondersteun. Die hele leerderontwikkelingsprojek word moontlik gemaak deur Mari Kushner en haar ma Annalise Basson. Ek wil graag hulle asook Whitey Basson hartlik bedank vir die ruim borgskap asook die passie waarmee hulle help om saam met Stephen die projek te bestuur. Baie dankie Mari en Annalise vir julle kosbare tyd, betrokkenheid en die ongelooflike passie om ‘n verskil in kinders se lewens te maak.

Graag sluit ek af met die volgende aanhaling van deur Ralph Waldo Emerson rakende nuwe jaar voornemens en wens julle ‘n wonderlike en voorspoedige 2024 toe. Geniet saam met jou kind/ers hul nuwe graad en leerervaring. Mag julle ‘n heerlike naweek geniet.
“Always do what you are afraid to do”.
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Dinsdagaand, 23 Januarie, om 18:00 is ons Ouerinligtingsaand.
- Ouers gaan 18:00 by hul kinders se klasse bymekaarkom en beweeg daarna na die saal vir die inligtingsessie.
- Oudergewoonte sal Stan se “Foodtruck” weer na afloop van die inligtingsessie regstaan met voorafbestelde etes en sal daar ook ‘n SnapScan-kroeg beskikbaar wees.
- Kosbestellings sal binnekort op Karri beskikbaar wees en moet ten laaste teen Vrydag, 19 Januarie, geplaas word.
Vandag sluit die skole in die Wes-Kaap vir ‘n welverdiende vakansie vir die leerders na ‘n lang akademiese jaar. Skole sluit egter ‘n dag vroeër as wat geskeduleer is, want dit is te danke aan die Springbokke se geskiedkundige oorwinning oor die All Blacks om die rugbywêreldbeker vir ‘n rekord vierde keer te verower. Die Bokke het ons so trots gemaak en weereens bewys dat daar plek vir uitnemendheid in ons pragtige land is.
Verlede week is al die gr. 4 – 7-prysuitdelings suksesvol afgehandel om erkenning vir ons leerders vir hul harde werk en toewyding te gee. Ons unieke wyse van erkenning gee, veral vir die akademie, maak my gerus dat ons die regte aanslag het en dat daar ‘n plek vir akademiese erkenning en uitnemendheid is. Ons poog as personeel om vir ons leerders ‘n voorbeeld te stel deur alles wat ons as skool aanpak, met uitnemendheid te doen. Baie geluk aan die volgende Top 10 akademiese graad 7-leerders vir hulle harde werk en toewyding:
- Katia van Wyk (Dux leerder 2023)
- Lida-Mari Bosman
- Liza Hertzog
- Karlien van der Walt
- Gemma de Vries
- Stella Lamprecht
- Ruben Oosthuizen
- Mieke Nel
- Jan-Willem Silvis
- Sofia Newton
Graag wil ek ook vir mnr. Leon en sy span hartlik gelukwens met vanjaar se puik kleure-atletiekbyeenkoms wat op Woensdag, 06 Desember, (velditems) en Vrydag, 08 Desember, (Baanitems) plaasgevind het. Die atletiekdag het reeds Vrydagoggend vroeg om 07:15 met die tradisionele optogte om die baan begin. Die onderskeie kleurhuise se areas op die pawiljoen was merkwaardig versier en dit alles te danke aan ons graad 7-ouers wat reeds dou voor dag daarmee begin het. Opvallend was die ‘lekker’ gees wat reeds met die aanvang van die ongelooflike dag teenwoordig was en die hele dag geheers het. Ons leerdes se stemme was hees gesing en later het ons lekker musiek gespeel waarop hulle saam met personeel, ouers/voogde gedans het. Dit was baie spesiaal om te sien hoe ons onderwysers saam met ouers op die ritme van die musiek gedans het. Ek is vanjaar 3 jaar by die merkwaardige skool betrokke en dit was volgens my die beste atletiekdag sedert ek by die skool aangesluit het. Die meerderheid van leerders en hul ouers/voogde het tot 15:45 na afloop van die prysuitdeling gebly. Baie geluk aan die huis van Blou wat die geesbeker verower het en Huis Oranje wat vanjaar die atletiek oorheers het. Baie geluk aan die volgende atlete met hul uitsonderlike prestasie:
- Victrix Ludorum jnr (o.10 – o.11): Cato Terblanche
- Victor Ludorum jnr (o.10 – o.11): Rafa Lamprecht
- Victrix Ludorum jnr (o.12 – o.13): Jana Olivier
- Victor Ludorum jnr (o.12 – o.13): Delmar Benecke wat 3 rekords op die dag verbeter het.

Ons neem oor die laaste week stelselmatig afskeid van die gr. 7-leerders. Ons het op Maandag, 11 Desember, ‘n spesiale afskiedsaal vir die gr. 7’s saam met hul ouers/voogde gehou. Daarna het hul tradisioneel met hul skoolklere in die swembad gespring. Hulle finale sokkie is dan ook op Maandagaand om 18:00 in die saal aangebied. Baie dankie aan al die ouers wat met die opmaak en verfraaiing van die saal vir die spesiale sokkie betrokke was. Baie geluk aan die gr. 7’s met jul pragtige 2023 Jaarboek. Dit sluit ‘n spesiale bladsy in van elke gr. 7-leerder met iets spesiaal oor haar of homself. Kostelik is die babafoto van elke gr. 7-leerder in vergelyking met hul hedendaagse foto. Hierdie pragtige jaarboek is te danke aan Kerala Allewell, Annabel Potgieter, Lida-Mari Bosman, Katia van Wyk, Karlien van der Walt, Mia Smith, Emma Jonker en Gemma de Vries.

Ons beste wense vergesel die gr. 7’s vir hul nuwe reistog na die hoërskool en mag hulle hul hoërskoolloopbaan net so geniet soos by ons. Onthou my boodskap: Droom groot en as iemand dit durf waag om te sê dat julle te groot droom dan moet julle vir hulle sê dat hulle dalk te klein droom. Julle is ‘n merkwaardige groep leerders met ‘n blink toekoms wat voorlê. Ons gaan julle baie mis. Hou aan om ‘n positiewe verskil in mense se lewens te maak deur net jouself te wees.
2023 was ‘n ongelooflike suksesvolle jaar vir Laerskool Jan van Riebeeck. Die hoogtepunte is legio en ons skool het in alle opsigte merkwaardig presteer. Dit kon slegs gebeur met toegewyde leerders, personeel en effektiewe skoolbestuur, ondersteunende ouers/voogde en ‘n dinamiese Beheerraad. Sukses beteken nie net altyd prestasies nie, want die karakter en omgeehart van ons skoolgemeenskap is prysenswaardig en uniek. Ek is baie trots op ons personeel wat jaar-in en jaar-uit die spreekwoordelike ekstra myl tot voordeel van ons leerders loop. Baie dankie aan die EXCO (skoolbestuur) vir jul leeue-aandeel in die effektiewe bestuur van die puik skool. Laat my ook toe om my regterhand, naamlik Marinda (adjunkhoof) te bedank vir haar harde werk en lojale ondersteuning die afgelope jaar.
Lees gerus my jaarverslag vir 2023 wat bondig opsom wat ons as skool die afgelope jaar vermag het.
Graag sluit ek af en wens vir julle’n welverdiende vakansie toe van lekker rus en ontspan saam met vriende en familie. Mag elkeen van julle ‘n Christusfees vol vreugde, vrede en liefde ervaar saam met al die spesiale mense in jou lewe. Mag 2024 voorspoedig wees vol nuwe avonture, vrede en hoop!
Julle moet asseblief veilig reis en sien julle D.V. 17 Januarie 2024 wanneer die skool weer sy deure vir 2024 oopmaak.
Vriendelike Vakansie-groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
- Neem kennis dat ons van vandag af op WhatsApp of e-pos met ouers sal kommunikeer.
- Aangesien leerders gister uitgevind het in wie se klas hulle volgende jaar is, kan julle ook nou by die klasgroepe aansluit.
- Maak asb. seker dat jy voor die skool in Januarie open by die Community aansluit.
- Ten minste een persoon per gesin moet deel van die Community wees.
- Stuur gerus ‘n WhatsApp aan Suzaan se skoolnommer vir die uitnodiging-skakel na die Community: 0674354050
Volg die skakel vir die skoolfooie van 2024.
Hierdie afgelope week was weereens propvol opwindende aktiwiteite wat onder andere prysuitdelings, atletiek, “sing-songs”, “water slides”, klas- en graadpartytjies, ens. ingesluit het.
Hierdie week het die jaarlikse prysuitdelings onderskeidelik vir graad 4 tot 7 plaasgevind. Graag fokus ek eers op die graad 4 en 5-prysuitdelings aangesien die saktyd vir die weeklikse nuusbrief te vroeg in die week is, om ook die prysuitdelings vir graad 6 en 7 in te sluit. Ek sal wel in volgende week se nuusbrief daaroor terugvoering gee. Die graad 4 en 5-prysuitdelings het op ‘n manier informeel, maar tog uiters stylvol plaasgevind. Prysuitdelings is op beste van tye ‘n sensitiewe en kontroversiële onderwerp van bespreking en ek wil julle die waarborg gee dat ons as skoolbestuur baie begrip daarvoor het. Ek glo dat ons skool die erkenningsproses so verfyn het dat ons dit regkry om erkenning aan presteerders te gee sonder om die ander leerders te na te kom. Ons neem dit egter nog ‘n stappie verder en gee vir elke leerder ‘n persoonlike en unieke erkenning in die saal. Ons fokus beslis nie net op ons presteerders nie en wil graag ons leerders te alle tye beskerm, maar ons besef ook dat dit ons plig as ‘n laerskool is om ons leerders te bemagtig vir die hoërskool asook die grootmenswêreld wat voorlê. Daar was baie hoogtepunte tydens die prysuitdelings, maar opvallend was die leerders se toejuiging tydens die bekendmaking van die akademiese presteerders. Baie van die top 10 akademiese leerders was aangenaam verras met die aankondiging van hul name en het dit glad nie verwag nie. Dit is ‘n riem onder die hart om te sien dat ons leerders mekaar se prestasies vier en dit is so spesiaal wat ons skool op nog ‘n manier uniek maak. Hierdie trotse oomblikke sal ek verewig koester en bevestig net weer dat daar ‘n plek vir akademiese erkenning is op die voorwaarde dat ‘n skool waardegedrewe moet wees en ‘n spesiale etos van omgee en respek omhels.

Op Sondagaand, 04 Desember, om 19:00 het beide ons junior- en senior kore vir die tweede agtereenvolgende naweek tydens kerssangdienste opgetree en die keer in die pragtige NG Kerk, Drieankerbaai. Beide kore het hul puik van hul taak gekwyt en weereens ons ouers/voogde en al die Drieankerbaai kerkgangers betower met die sing van pragtige kersliedere. Baie dankie aan ons mammas wat gehelp het om ons leerders as Josef, Maria, die wyse manne en engele aan te trek wat die aand verder ekstra spesiaal gemaak het.

Op Woensdag, 06 Desember, het die velditems van ons jaarlikse kleure-atletiek by die Hoërskool se velde plaasgevind. Baie dankie aan mnr. Leon vir al die puik reëlings asook ons personeel wat toegewyd hul stasies beman en ons atlete aangemoedig het. Graag wil ek ons ouers/voogde bedank wat tyd by die werk afgeknyp het om die dag te ondersteun en luidkeels hul kind/ers aan te moedig om net hul beste te doen. Die pragtige uitsig vanaf die hoërskool se velde met die ikoniese Tafelberg, Leeukop en Seinheuwel as agtergrond het beslis gehelp om almal se gemoed te lig en die jaar op ‘n hoë noot af te sluit.

Laat my ook toe om Gerhard Conradie hartlik te bedank wat die afgelope week sy span mense gestuur het om die mini-sportveld agter die skool kompos asook ‘n bolaag sand toe te dien. Baie dankie Gerhard, ons het groot waardering.

Volgende week is die laaste skoolweek vir 2023 en sluit die skool op Dinsdag, 12 Oktober, vir almal om 10:30. Ek hoop en vertrou dat almal vandag se kleure-atletiek (baanitems) sal geniet. Ek sien uit om julle daar te sien.
Graag sluit ek af soos oudergewoonte met my bietjie pitkos en gebruik die volgende aanhaling deur Roy T. Bennet oor dankbaarheid. Mag julle ‘n wonderlike naweek saam met jul gesin, vriende en/of familie geniet.
“When one has a grateful heart,
Life is so beautiful!’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
- Indien jy sukkel om by die skool se WhatsApp Community aan te sluit d.m.v. die skakel wat in Skooler gestuur is, stuur asb. ‘n WhatsApp aan Suzaan se skool WhatsApp-nommer sodat sy die skakel na die Community direk vir jou kan aanstuur: 0674354050
- Sodra jy by die Community aangesluit het, sal dit in jou WhatsApp chats lê. Jy kan ook die Community in WhatsApp oopmaak deur op die Communities-ikon bo-aan (Android) of onderaan jou skerm (iPhone) te kliek. Die ikon is egter nie in WhatsApp Business beskikbaar nie.
- Android:
- iPhone:

- Android:
- Indien jy graag ‘n boodskap per WhatsApp aan ‘n onderwyser wil stuur, gaan asb. na die groep waarby daardie onderwyser betrokke is en kyk in die groep se besonderhede vir sy/haar nommer. Die onderwysers is die Admins in die relevante groepe. Baie onderwysers het ‘n skool selfoonnommer en verkies om daarop boodskappe vanaf ouers te ontvang eerder as hul privaat WhatApp. Respekteer dit asb. deur eerder die nommer van die onderwyser wat in die Community is, te gebruik.
- Vir verdere riglyne, volg gerus die skakel.
Met dagbreek vanoggend besef ek met ‘n skok dat dit vandag die eerste dag van Desembermaand is en dit beteken dat Kersfees om die draai is! Waar het die kosbare tyd so vinnig heen gevlieg? In terme van die skool is die antwoord voor die hand liggend: dit was ‘n besondere jaar, ‘n besige jaar propvol opwindende akademiese-, kulturele- en sportaktiwiteite, en wanneer daar ook pret betrokke is, dan vlieg tyd behoorlik verby!
Gister het die finale eksamens vir die gr. 4 – 7-leerders uiteindelik tot ‘n einde gekom en ek glo ons huisgesinne het ‘n sug van verligting gegee, want huishoudings kan weer ‘normaal’ en stresvry funksioneer. Alhoewel die rapporte nog nie gefinaliseer is nie, wil ek graag vir julle die versekering gee dat ons leerders puik tydens hul finale eksamens gevaar het. Ek was so bevoorreg om self die afgelope week aktief by die modereringsproses betrokke te wees. Baie dankie aan ons onderwysers wat so deeglik die antwoordstelle merk om seker te maak die leerders ontvang hul regmatige punte. Laat my ook toe om die modereringspan hartlik te bedank vir die belangrike rol wat hulle speel om seker te maak dat die eksamenpunte volledig en akkuraat is wat ons benodig vir die prysuitdelings vir gr. 4 en 5 wat op Dinsdag, 05 Desember, en vir gr. 6 en 7 op Donderdag, 07 Desember, plaasvind.
Ek het begrip dat prysuitdelings altyd kontroversieël sal wees, maar wees verseker dat die skool prysuitdelings met die grootste respek en omsigtigheid hanteer. Net soos ons weekliks erkenning aan sport- en kultuurprestasie in die saal en nuusbrief gee, wil ons ook graag erkenning vir leerders wat akademies hard werk en presteer gee, want akademie is darem ons kernbesigheid. Ons neem deurdagte besluite rakende die proses van erkenning aan presteerders gee sonder om die ander leerders te na te kom. Ons fokus beslis nie net op ons presteerders nie en wil graag ons leerders te alle tye beskerm, maar ons besef ook dat dit ons plig as laerskool is om ons leerders te bemagtig vir die hoërskool asook die grootmenswêreld wat voorlê.
Op Sondagaand, 26 November, om 19:00 het beide ons junior- en senior koor in die pragtige NG Tamboerskloof Kerk tydens die jaarlikse kerssangdiens opgetree. Beide kore het hul puik van hul taak gekwyt en al die kerkgangers betower met hulle pragtige kersliedere. Dit was nog een van daardie trotse oomblikke wat ek die afgelope jaar ervaar en weereens besef het wat ‘n wonderlike voorreg ek het om as skoolhoof van dié merkwaardige skool op te tree. Ons sien baie uit na nog ‘n kerssangdiens, die keer by die Drieankerbaai, NG Kerk wat op Sondagaand, 03 Desember, om 19:00 plaasvind. Indien jy die eerste kerssangdiens uitgemis het, dan is dit nou jou kans om dit eersterangs te ervaar. Sien julle Sondagaand.
Op Dinsdag, 28 November, het die gr. 4-leerders Engels geskryf en kon hulle soos hul gunsteling karakter uit hul letterkundeboek (The Foolish King) skool toe aantrek. die gr. 4-leerders het pragtig gelyk en spoggerig in hul kostuums rondgeloop. Baie dankie juf. Marianne vir die wonderlike inisiatief! Dit maak eksamen pret en help sommer ook om in die proses eksamenangs te verminder.

Ons skoolgemeenskap het werklik so baie om voor dankbaar te wees, dus sluit ek af met ‘n bietjie pitkos en gebruik die volgende aanhaling deur Antonia Montoya oor dankbaarheid. Mag julle ‘n wonderlike naweek sonder enige eksamenstres saam met jul gesin, vriende en/of familie geniet.
“Find gratitude in little things
and your well of gratitude will never run dry.’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Liewe Ouer/Voog
Neem asseblief kennis van die onderstaande boodskap van die “Friends of Tamboerskloof Association” (FOTA)
FOTA wil graag belanghebbendes in die area bewus maak van die voorgestelde ses verdieping woonstelblok-ontwikkeling “The Aloe” bo die “Swiss Tennisclub” op die hoek van Leeukop en Quarry Hill. Julle kan meer inligting oor die projek en die beswaarproses kry by https://tinyurl.com/fotadocs.
Neem asseblief kennis dat alle besware teen 11 Desember aangeteken moet word.
Baie dankie vir julle dringende aandag.
Ons gr. 4 – 6-leerders het die afgelope week op Dinsdag, 21 November, ook met hul finale eksamens begin en dit eindig op Donderdag, 30 November. Die grondslagfase se finale assesserings vir die jaar is gedurende die afgelope twee weke afgehandel, gemodereer en punte is verwerk. Hiermee wil ek ons toegewyde grondslagfase opvoeders en hul klasassistente hartlik bedank vir hul leeue-aandeel in die suksesvolle afhandeling van die akademiese jaar.
Die jaarlikse prysuitdelings vir die Grondslagfase het op Donderdag, 23 November, plaasgevind. Baie geluk aan al ons wonderlike grondslagfase leerders wat op die dag die nodige erkenning vir hul harde werk, toewyding en puik prestasies ontvang het. Julle is almal presteerders wat ons baie trots maak! Baie dankie aan al die ouers/voogde wat in groot getalle die onderskeie prysuitdelings bygewoon het en in die proses dit baie spesiaal vir hul kind/ers gemaak het. Prysuitdelings vir gr. 4 en 5 geskied op Dinsdag, 05 Desember, en vir gr. 6 en 7 op Donderdag, 07 Desember.
Op Donderdagaand, 16 November, om 18:00 het die inligtingsaand vir gr. 7-ouers van 2024 in die saal plaasgevind. Graag wil ek juf. Charlene (gr. 7-Graadhoof) en haar span hartlik bedank vir die puik aanbieding waartydens die onderskeie vakonderwysers aan die ouers voorgestel is, die gr. 7-kurrikulum met nuwe vakke is verduidelik, besprekings rakende kampe, sokkies, roomysverkope, fondsinsamelingsprojekte, konsert, afskeid aan die einde van die jaar, ens. is in detail hanteer. Ons ouers/voogde het die sessie baie insiggewend ervaar en met geruste harte uit die saal gestap met die wete dat hul kinders volgende jaar vir hul laaste laerskooljaar weer in goeie hande sal wees.
Baie geluk aan Louise en haar Huppellandspan met die uitstekende jaarlikse konsert wat op Vrydagaand, 17 November, in die skoolsaal plaasgevind het. Dit is beslis ‘n hoogtepunt op die Huppellandkalender en is so goed deur die ouers/voogde en familie ondersteun. Die leerders en hul onderskeie opvoeders het die afgelope twee weke baie hard geoefen om die sukses van die aand te verseker.
Ons is verder ook trots op Jan Kas met sy merkwaardige aanlyn aankope platform wat sedert die amptelike opening ongelooflik deur ons ouers/voogde ondersteun word. Ons is nou in ‘n posisie om ons nuwe gemaklike skooldrag onmiddellik aan ons leerders te voorsien. Suzaan kan amper nie voorbly met die bestellings nie en ons moes noodgedwonge nog voorraad bestel om ons ouers/voogde te bedien. Ek glo julle het ook die nuwe aanwysingsborde vir Jan Kas gesien wat beslis sal help sodat almal maklik hul pad na die ligging van ons nuwe klerewinkel sal vind.
Ons innige meegevoel gaan aan die familie van Charl Theron, voormalige voorsitter van ons Beheerraad, wat onverwags die week afgesterwe het. Mag ons gebede die familie tydens die moeilike tyd dra. Ons dink ook aan mnr. Oosthuizen in hierdie tyd, aangesien hy en Charl vir ‘n baie lang tyd ‘n hegte vriendskap gedeel het.
Graag sluit ek af met ‘n bietjie pitkos en gebruik die volgende aanhaling deur Mandy Hale oor die belangrikheid van ‘n positiewe gesindheid. Mag julle ‘n wonderlike naweek saam met jul gesin, vriende en/of familie geniet.
“A great attitude becomes a great day,
which becomes a great month,
which becomes a great year,
which becomes a great life.’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Belangrike Datums
maart 2026
april 2026
mei 2026
junie 2026
julie 2026
augustus 2026
september 2026
oktober 2026
november 2026
desember 2026

