‘n Hartlike welkom terug by ons trotse skool. Groot opwinding saam met hoë energievlakke het op Woensdagoggend, 17 Januarie 2024, tydens die opening van die skool na die heerlike somervakansie, geheers. Ons graad 1’s is spesiaal met ope arms deur die nuwe leerderraad ontvang en sonder trane na hul onderskeie klaskamers vergesel. Dit was so lekker om ook al ons leerders en ouers/voogde te verwelkom, blad te skud, drukkies te gee en sommer net lekker te gesels oor die wonderlike vakansie asook die opwindende jaar wat voorlê.

Laat my toe om veral ons nuwe leerders en ouers/voogde hartlik by die LS Jan van Riebeeck-familie te verwelkom. Ek weet julle sal sommer vinnig inskakel en deel word van ‘n dinamiese en omgee-skoolgemeenskap. Ons is baie trots om te sê ons het ‘n goeie skool en as nuwe ouers/voogde sal julle dit nou eerstehands ervaar. Vir my is ‘n goeie skool soos ‘n gesonde en ‘n pragtige boom. Soos dit groei, sink dit sy wortels diep in die plaaslike en vrugbare grond; dit pas by die omliggende klimaat en plantegroei aan; sy takke verdik vir ondersteuning en versprei vir maksimum blootstelling aan die son. Dit maak sy eie kos; dit genees sy eie wonde; en op sy tyd bring dit vars blare, bloeisels en vrugte voort. Mag ons spreekwoordelik vir nog baie jare ‘n gesonde boom wees waar ons seker maak die boom kry genoegsame skoon water, voldoende kunsmis en alle dooie takke word sorgvuldig gesnoei sodat daar nuwe en sterk takke sal groei om die skool te ondersteun.

Ek vertrou almal het ‘n heerlike vakansie en ‘n Geseënde Kerstyd saam met familie en vriende geniet. Ek glo almal se spreekwoordelike batterye is ten volle herlaai en slaggereed om die nuwe jaar aan te pak. Sterkte ook met al die nuwe jaar voornemens! Volgens nuttelose statistieke in die verband, volhou slegs 15% van mense aan hul nuwe jaar voornemens, maar dalk bewys ons hulle vanjaar verkeerd.

Dit is dan ‘n riem onder die hart om met julle te deel dat al ons personeel veilig terug is na die lang vakansie, uitgerus en gereed om jul kinders te onderrig en te ondersteun om te verseker dat elke Jannie sy/haar skooljaar terdeë sal geniet. Ons streef daarna dat elke leerder sy/haar volle potensiaal bereik teen die tempo waarteen elke leerder individueel ontwikkel. Laat my ook toe om die volgende nuwe personeel asook waarnemende personeel hartlik by die JvR-familie te verwelkom:

  • Rolene van Zyl (Hoof: Kultuur en Musiek)
  • Anika le Roux (Gr. 4)
  • Mariëtte Herholdt (Gr. 3 – aflos in Michelle Compion se plek)
  • Anene Loots (Gr. 2 – aflos in Maricqe Coetzer se plek)
  • Lize Terblanche (Gr. 1)
  • Michelle Eeken (Gr. 1 – aflos in Nicola Potter se plek)
  • Liezel Theron (Gr. R)
  • Madri Greyling (Gr. 00 – aflos in Magdel Fourie se plek)
  • Carla Basson (Gr. 00)
  • Lia-Marié Mudini (Huppelland: Nasorghoof)

Maak asseblief seker dat jy volgende week op Dinsdagaand, 23 Januarie 2024, vanaf 18:00 die bekendstellingsfunksie en inligtingsaand by die skool bywoon sodat julle ook al jul kinders se nuwe opvoeders asook ander nuwe personeel kan ontmoet. Die program vir die aand werk as volg:

  • 18:00 – Inligtingsgesprek met klasonderwyser in die klaskamer soos deur opvoeders gereël. Benut assseblief dié geleentheid om jou kind se leeromgewing te sien en die roetines/ stelsels binne-in die klas te verstaan. Ons gaan ook die akademiese verwagtinge vir die graad deurgee. Die opvoeders moet egter direk na afloop van die vergadering in die saal wees vir die bekendstellingsfunksie. Individuele afsprake sal op ‘n latere stadium met ouers gemaak word sodra die basislynassesserings voltooi is.
  • 18:45 – Almal verdaag saal toe vir ons algemene inligtings- en bekendstellingsvergadering. Na afloop van die bekendstellingsfunksie sal heerlike etes geniet word. Ek sien baie uit na die heerlike samewyn.

Neem asseblief kennis dat ons vanjaar weer vroeër met ons sportoefeninge begin. Die atletiekspan het alreeds vanaf Woensdag, 17 Januarie, begin oefen ter voorbereiding van die Interskole atletiekbyeenkoms wat op 06 Februarie plaasvind. Die somersport-buitemuurse program skop dan amptelik op Maandag, 22 Januarie 2023, af. Hou asseblief Saterdagoggend, 27 Januarie 2024, oop waartydens ons ‘n informele ouer-kind sportdag by die Conradieveld gaan aanbied. Daar sal ook heerlike verversings te koop wees. Die doel hiervan is om pret saam met jou kind te hê terwyl ouers ook die geleentheid kry om sommer mekaar beter te leer ken en saam die jaar behoorlik af te skop met lekker geesvang en opwinding.

Die musiekprogram skop ook op Maandag, 22 Januarie 2024, onder leiding van juf. Rolene van Zyl, nuwe hoof van Musiek en Kultuur, af. Kontak gerus vir juf. Rolene indien jou kind musiekonderrig wil ontvang of in musiek belangstel. Ons poog om vanjaar aktief die kultuur-spyskaart vir ons leerders uit te brei asook om met Hoërskool Jan van Riebeeck in dié verband saam te werk. Nuwe musiekinstrumente waaraan ons leerders vanaf vanjaar blootgestel gaan word, sluit onder andere die saksofoon in.

Dit is dan ook my voorreg om met julle te deel dat ons beplan om vanjaar ons leerontwikkelingsentrum onder bestuur van juf. Marietjie op te gradeer en uit te brei om ons leerders met spesifieke uitdagings beter te ondersteun en te bemagtig. Dit behels onder andere die sentralisering van ondersteuningsdienste in een gang met meer moderne en goed toegeruste lokale waar ons al die terapeute en leerontwikkelingspersoneel akkommodeer. Stephen Hitchcock (argitek en ouer by ons skool) is tans besig om die planne en kosteberaming te finaliseer.

Deel van die projek behels ook die installering van spesiale tafeltjies en stoeltjies wat op strategiese plekke in die gange geplaas is, waar leerders met toestemming van hul onderskeie opvoeders, kan gaan sit en op hul eie werk of lees. Dus kan ‘n leerder wat op ‘n stadium die klassituasie angstig ervaar daar gaan sit en onder toesig van sy opvoeder voortgaan met sy/haar werk. Hierdie tafels en bankies is dan ook ideaal vir die gebruik deur tutors/fasiliteerders wat gedurende skooltyd leerders akademies ondersteun. Die hele leerderontwikkelingsprojek word moontlik gemaak deur Mari Kushner en haar ma Annalise Basson. Ek wil graag hulle asook Whitey Basson hartlik bedank vir die ruim borgskap asook die passie waarmee hulle help om saam met Stephen die projek te bestuur. Baie dankie Mari en Annalise vir julle kosbare tyd, betrokkenheid en die ongelooflike passie om ‘n verskil in kinders se lewens te maak.

Graag sluit ek af met die volgende aanhaling van deur Ralph Waldo Emerson rakende nuwe jaar voornemens en wens julle ‘n wonderlike en voorspoedige 2024 toe. Geniet saam met jou kind/ers hul nuwe graad en leerervaring. Mag julle ‘n heerlike naweek geniet.

“Always do what you are afraid to do”.

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF