Met dagbreek vanoggend besef ek met ‘n skok dat dit vandag die eerste dag van Desembermaand is en dit beteken dat Kersfees om die draai is! Waar het die kosbare tyd so vinnig heen gevlieg? In terme van die skool is die antwoord voor die hand liggend: dit was ‘n besondere jaar, ‘n besige jaar propvol opwindende akademiese-, kulturele- en sportaktiwiteite, en wanneer daar ook pret betrokke is, dan vlieg tyd behoorlik verby!

Gister het die finale eksamens vir die gr. 4 – 7-leerders uiteindelik tot ‘n einde gekom en ek glo ons huisgesinne het ‘n sug van verligting gegee, want huishoudings kan weer ‘normaal’ en stresvry funksioneer. Alhoewel die rapporte nog nie gefinaliseer is nie, wil ek graag vir julle die versekering gee dat ons leerders puik tydens hul finale eksamens gevaar het. Ek was so bevoorreg om self die afgelope week aktief by die modereringsproses betrokke te wees. Baie dankie aan ons onderwysers wat so deeglik die antwoordstelle merk om seker te maak die leerders ontvang hul regmatige punte. Laat my ook toe om die modereringspan hartlik te bedank vir die belangrike rol wat hulle speel om seker te maak dat die eksamenpunte volledig en akkuraat is wat ons benodig vir die prysuitdelings vir gr. 4 en 5 wat op Dinsdag, 05 Desember, en vir gr. 6 en 7 op Donderdag, 07 Desember, plaasvind.

Ek het begrip dat prysuitdelings altyd kontroversieël sal wees, maar wees verseker dat die skool prysuitdelings met die grootste respek en omsigtigheid hanteer. Net soos ons weekliks erkenning aan sport- en kultuurprestasie in die saal en nuusbrief gee, wil ons ook graag erkenning vir leerders wat akademies hard werk en presteer gee, want akademie is darem ons kernbesigheid. Ons neem deurdagte besluite rakende die proses van erkenning aan presteerders gee sonder om die ander leerders te na te kom. Ons fokus beslis nie net op ons presteerders nie en wil graag ons leerders te alle tye beskerm, maar ons besef ook dat dit ons plig as laerskool is om ons leerders te bemagtig vir die hoërskool asook die grootmenswêreld wat voorlê.

Op Sondagaand, 26 November, om 19:00 het beide ons junior- en senior koor in die pragtige NG Tamboerskloof Kerk tydens die jaarlikse kerssangdiens opgetree. Beide kore het hul puik van hul taak gekwyt en al die kerkgangers betower met hulle pragtige kersliedere. Dit was nog een van daardie trotse oomblikke wat ek die afgelope jaar ervaar en weereens besef het wat ‘n wonderlike voorreg ek het om as skoolhoof van dié merkwaardige skool op te tree. Ons sien baie uit na nog ‘n kerssangdiens, die keer by die Drieankerbaai, NG Kerk wat op Sondagaand, 03 Desember, om 19:00 plaasvind. Indien jy die eerste kerssangdiens uitgemis het, dan is dit nou jou kans om dit eersterangs te ervaar. Sien julle Sondagaand.

Op Dinsdag, 28 November, het die gr. 4-leerders Engels geskryf en kon hulle soos hul gunsteling karakter uit hul letterkundeboek (The Foolish King) skool toe aantrek. die gr. 4-leerders het pragtig gelyk en spoggerig in hul kostuums rondgeloop. Baie dankie juf. Marianne vir die wonderlike inisiatief! Dit maak eksamen pret en help sommer ook om in die proses eksamenangs te verminder.

Ons skoolgemeenskap het werklik so baie om voor dankbaar te wees, dus sluit ek af met ‘n bietjie pitkos en gebruik die volgende aanhaling deur Antonia Montoya oor dankbaarheid. Mag julle ‘n wonderlike naweek sonder enige eksamenstres saam met jul gesin, vriende en/of familie geniet.

“Find gratitude in little things
and your well of gratitude will never run dry.’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF